← Table of contents
Dingaansdag

XLV.

Reading edition

„Slaan dood die towernaars! Slaan algar dood, En trek hul buite, dat die koningstad Nie deur hul bloed bevuil word nie en skuld Van bloed hier op die Olifant se stad In later jare rus nie.” En die woord— Die vonnis oor wie gister vrinde was— Was skaars uit, of die moord’naars gryp hul prooi; En mes en vuis en hand teen assegaai En wrede kierie veg, soos wanhoop kan, Of heldemoed wat sonder houvas kamp. So moet hy voel wat in ’n see-spelonk Deur towersoete water wat hom streel In rimp’lende liefkosing om sy lyf, Genotvol swem, en plots’ling word omhels Deur slym-gesmeerde, klouende seekat-bande Wat bloed en krag met elke krimp verdruk En worsteling hoop’loos maak. So moet hy voel Wat wanhoopvol die sneeu-lawiene sien kom, En links nòg regs kan uitweg kry vir vlug. Verskeur, vermink, onmagtig meer te stry, Word een vir een die kraalstad uitgesleep En heuwel-toe geruk, om daar te smaak Die laaste teug wat wrede mart’ling bied— ’n Beker bitter soos die bitter gal En hiesop wat die Heiland in sy tyd Op Golgotha geproe het aan die kruis. Die heuwel toe, en op die heuweltop, As laaste snik gesnik is, laaste teug Van die blou suiwer lug is ingehaal, En laaste hartkrimp laaste polsslag baar, En die verminkte liggaam sonder voelte Genadeloos gemartel en ontsiel is, Die lyke neergelê as aasvoël-prooi En teken van die lang-oorpeinsde wraak— Soos Saul se lyk wat teen die hoë muur Gehang het vir die wraaksug van Beth-San.

Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings