← Table of contents
Dingaansdag

X.

Reading edition

Ek wag hom in my kamer waar ek woon Met smart, wat siekte seerder maak, as maat; Ek wag hom sonder haat, En sonder afguns, want ek weet my loon Sal hy betaal tot op die laaste toe; En hoe Sal loon my toekom—doodsloon wat ek win Deur harde lewenswerk, dag uit, dag in, En deur die bange nagte—as ek nie Vooruit akkoord gemaak het met sy mag Vir dit of dat? Is gans my siel van lig en lewe sat En smagtend na sy rus, Wat droomloos, ongestoor, my siel sal kus— Soos ’n groot, stil, swart seekoegat wat sag Die droë, dooie blare van die boom Wat oor die water droom, Op sy deur-wind-gerimpelde vlakte sus, Oneindig op en neer, Oneindig heen en weer, Totdat die droë, dooie blare sink, Verrot, vergaan, vermink, Weg in die water, wat hul krag sal los Om krag opnuut te skenk aan struik en bos Wat deur die water nuwe lewe kry? Ook so met my. Die dood sal my beloning gun. Sy krag Sal myne insluk om daarvan te gee Hernude krag en onbereikb’re vree, Waarteen die donker van die swartste nag, Die sterkste vyand, en die stoutste vrees, Nie meer kan seëvier nie; en my gees Sal amen sê as eind’lik ek moet hoor Die oproep: „Dit is tyd! Kom, eer jou siel versmoor!” Ek wag hom op die veld waar lente pryk In volle rykdom van verdubbelde groen; Waar koel die môre-wind die vlaktes soen, Voordat die blou bereik Sy dagtriomf van teerste malagiet, Waardeur die strale skiet Tot op die suiwer prag van blomme en gras. Dit was vir my—dit was ’n Koningsland belaai met koningsprag. Die blye sonskyn en die louter lig Wat vlam op my gesig; Die liewe, wilde, opgesnuifde krag Van geure-wierook oor die hele vlei; Die ruik van heuning orals uitgesprei; Die argloos-weeld’rig lewe-worst’ling hier Waar alles hoogty vier; Die bor’lend-propvol kleurgevlekte glans Teen elke bult en krans, Was myne, myne! Wat my siel kon hou, Was vir my! En ek wou Dit alles herberg gee hier in my hart, In kamers toe nog net bewoon deur smart. Ek wou dit burgerreg verleen— Òf alles òf maar een Daarvan, sover ek kon; en dan tevrede Was ek met gister en met hede— Tevrede om te wag totdat hy sê: „Jy het genoeg geniet. Wat hierso lê, Is maar die skadu van wat ginds verrys. Ek sal jou wondere wys Waarby jou hede niks is. Kom met my En proe die rykdom wat jou siel hiernamaals kry.” Ek wag hom waar nòg vrind nòg vyand vra My siel om liefde of liefdelose haat; Waar, wat ek ook moet dra— Òf haat òf liefde—, net maar woorde is Waarmee my hart nie twis Of oorlog maak nie, as van goed en kwaad Ek onbewus en onverskillig neem Wat ek as mens geregtig is te erf Van lewenslus voordat my siel versterf— Voordat, van vreug vervreem, Wat siel is in my sugtend, eensaam staan, En huiwerig vir ’n onheil onbekend Ver in ’n sterlose, onbegrensde nag, Waar kille koue slaan Teen my van elke kant waar ek my wend Om steun te vinde vir verstikte krag. Groet God, en gee die lewe wat verleng Word tot daar nie meer lewe is nie, prys Vir iets wat groter skyn—die gees wat meng Met elke gees, onskuldig, of bedek Met vuilnis wat die fierste roem bevlek, Tot liefde volle vergifnis eis. So wag ek hom totdat hy eenmaal wink En vrindelik, of met vyandskap, my hand In syne gryp, en, as my son versink, My wegruk na die veraf dodeland, En langs die pad my aflei waar voorheen Kind, koningskind, en koning, op sy tyd Gewandel het, en leen My sterkte as ek stap; en ek, gewy Aan hom, sal seën vinde as ek staan Omring deur algar wat voorheen gegaan, Voorheen geworstel het, en aan hom gee Alles wat hier op aard my siel ontroof van vree. Ek wag hom waar die vreedsame gesin Sy dagelikse gang geduldig gaan; Waar huiselike vlyt en deugde win ’n Vrede ruim genoeg vir een Wat wyer roem versmaad En bo oorwinning kies ’n vredeseën. En waar die liefde wat nòg woord nòg daad Verag om louter liefde te betoon Aan wat hy liefhet, woon. Hier voor die ope huisdeur, waar die wind Die vrolike weergalm bring Van veraf veldkanaries, bly-gesind, Wat met die klaaglied van die kwê-voël ming En met die dowwe gons wat brombye maak, Hier besig met hul taak Van blom tot blom, waar die seringboom strooi ’n Bont tapyt die grond oor, en die hooi Sy heuninggeur die wêreld vrylik skink— Hier waar die sonskyn blink Op wasige druiwe wat die ou priëel Se rankende wynstokstamme jaarliks teel— Hier wag ek hom, vergrys, miskien, en lam, My lewensvonk verdoof, om nooit tot vlam Weer op te vlieg nie; of nog sterk en fris, Met liggaam en gees wat niks nie mis, Met planne vir die toekoms, fondamente Waarop paleise nog gebou moet word, Met liefde en genot nog uit op rente, En meer daarby, ryk as ’n man kan wees, Strydlustig, met die lendene omgord. Weet ek hy kom, of weet ek nie—dis een. Vir kennis of geen kennis, sal ek vrees? Vir iets wat welkom is, en wat as seën My voorkop kus as in die skemerlig Die Dood my eind’lik groet, gesig teen my gesig?

Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings