XL.
Reading edition
Soos ’n slang wat daar kronkel En gly en verdwyn As die son op hom fonkel En die goud oor hom skyn, So skitter en bewe die blits, en die donder gee luid ’n refrein. Almagtige winde Dwaal rond op die vlei— Hul vreet wat hul vinde En breek wat hul kry, Op wilde verwoesting gerig, van die skuld van vergelding bevry. Dof donkerblou bande Versluier die nag; Die berg se ver rande Is swart in hul prag, En swarter die stormswanger wolke belaai met die onweer se mag. Dit bars en dit kraak, En die hemel skiet vuur: Die wolke neem wraak Op die middernag-uur— En die wêreld is moeg van die worstel, en sat van die stryd die Natuur.