← Table of contents
Dingaansdag

XXVI.

Reading edition

WOLRAAD WOLTEMADE.

Nou ja, jul wil ’n storie hê! Wees stil dan, kinders—tjoepstil, hoor! Ek sal vir julle ’n storie sê— ’n Ware storie van ons land. Julle is al groot en het verstand En sal Oom nie met gekskeer stoor. Want luister! Wat ek nou vertel, Is iets wat ons geslag moet weet— Iets waarop nooit ’n mens kan skel, Wat julle kinders moet onthou— Veral in so’n tyd soos nou As alles somar word vergeet. Sy naam was Woltemade—ja, Onthou die man se naam maar goed! As iemand later vir jou vra: „Hoe heet dié kêrel weer, ou boet?” Sê: „Wolraad Woltemade, man, Het so sy lewe uitgespan.” Ek het op daardie strand gestaan Waarteen die see so gulsig stry; En bowe het die dowwe maan Sy half verstikte glans versprei Oor geel en goud en perlemoen— Daar het ’n held sy plig gedoen. Ons het so baie helde nie Dat ons daar een van op kan gee— Veral ’n man so groot as dié, Wat deur sy lewe daardie see Gekoop het en homself as pand Gegee het vir ons váderstrand. As oor jou kop die koeëls gons En om jou heen die slagveld kraak, En kruit en stof en rook ’n dons Oor jou en al jou maters maak, Dan kan jy lig die bobaas speel En jou ’n egte held verbeel. Wat dink jy aan die Toekoms dan? Wat steur jy jou aan Klaas of Piet? Jan Rap se maat staan selfs sy man As Kaffers blaas en Finghoes skiet. Met Kaffers, Finghoes, Makketees— Dis maklik om ’n held te wees. Maar as dit in jou rustyd kom, As oor die see ’n stormwind waai, As teen die strand die branders brom En selfs die vaste rotse swaai, ’n Pikswart nag die wêreld oor— Dan is die saak wat anders, hoor! Dan moet jy waarlik dapper wees, Tot in jou murg, tot in jou siel, Om sonder sidder, sonder vrees, Jou eie skouers teen die wiel Wat in die modder sit, te beur En sonder hulp te trek daardeur. Dan gaat dit amper net so hard, So opdraand as ’n mens dit kry Wat in die wêreld staan apart En moedersiel alleen opsy Die skorriemorrie teen hom het— Dan is om held te wees geen pret. Maar tog, ek stel die mens daarbo— Ja bo Jan Rap se maat of Piet Wat net aan heldedade glo As Kaffers blaas en Finghoes skiet; Hy is ’n egte held wat weet Gevare wat Jan Rap vergeet. Dis lankal gelede, al lank, en die jaar en die dag—nou ja Dis tog nie so veel van belang, die datum, die dag en die jaar— Maar goed, dit was voor jou geboorte, Jan Spens; en as jy my nou vra Hoe lank vóór, dan sê ek ek weet nie—jy moet my maar glo, want dis waar. Jan Kompanjie was toe ons bobaas; die Engelsman was nog nie hier; En Soutrivier—ag dis so lankal—was regtig ’n waterrivier. En bo in ou Papendorpstrate het deftige ooms geflankeer En sedig en statig gesanik oor handel, die huis, en die weer. Hoe bont was dit in die ou dae! Jou broek was van blougroen ferweel, Jou hoed was so groot soos ’n emmer; jou baadjie soos kerrie so geel; Die aias was algar uit Indië; die tee was ’n egte Sjinees; En Malie se volkies was algar, soos Malie, nog slafies gewees; En oor die ou driemaste-skepe het nog die ou driekleur gewaai. Net een is nou nog soos hy toe was—dit is die ou blouwaterbaai. Genoeg dat jul weet dit was anders.—Nou goed. Op ’n aand in die jaar Toe het dit geblits en gedonder—’n mens word daar amper van naar. En daar in die baai het die branders, so hoog soos ’n mied ná die oes, Die hele boel skepe en skuitjies getakel en byna verwoes. En vlak in die see was ’n seilskip—Jong Thomas, ek glo, was sy naam— Gestrand op ’n rots onder water, deur kranse van water omraam. Toe was daar ’n nare bohasie; die mense die maak ’n lawaai— En reg ook: die ou Jong Thomas was propvol met mense gelaai. En groot was die skeur in sy voorkant—so groot dat hy netnou moes sink; En kom daar geen hulp vir die mense, dan moet man en muis maar verdrink. Die Jong Thomas was ’n skip Solied van bou, met elke rib Gespyker vas en dig geteer Om see se terge te trotseer, Wat sonder skroom van oos na wes, Van noord tot suid deur elke bres Van brander of van seegolf spring En al sy mense veilig bring Net na die plek waar hul moet wees— ’n Skip wat sonder sku of vrees Al baie male deur die see Geseil het met sy mense mee. ’n Skip is soos ’n mens: sy lewe Is hom vir ewig nie gegewe, En eenmaal kom ’n dag of nag Wanneer die dood sy aandeel wag. Ons is nie op die wêreld hier Net soos ’n muggie of ’n mier, Waarop geen mens ooit agting stel, Waaroor geen siel hom ooit sal kwel. Die mier of muggie is vir ons Net maar ’n goggatjie wat gons— ’n Korreltjie wat lewendig Rondspartel in die skemerlig En oorkruip oor die steilste rand— Die afgrond van ’n greintjie sand. En vir die see is elke skip ’n Kleinigheid; en elke klip— Die kleinste ook—kan in die see Vir elke skip ’n doodsteek gee. Hoor hoe die donder kraak En die weerklank dreun oor die see! Hoor, daar’s ’n stem tussen hael en reën! Hoor hoe die mense skree! Help! Daar is vyftig meer— Help! En ’n kind daarby! Is dit ’n vrou se stem wat klink, Of net die gekreun van die wind wat drink Water en hael as ’n blitsstraal blink As dit wolke en water sny? Hoor jy nie, man, hoe die mense kerm En hoe die arm goed gaan te keer? Wie van ons, wie, sal hul nou beskerm? Hier op die strand waar die see so stoom— Hier, wie is hier wat sy hand sal reik? Algar die mense die staan en kyk. Daardie een bidde, want hy is vroom; Hierdie een vloek, want hy weet nie raad. Wie sal gaan help? Daar’s kans vir jou— Jy wat so dapper is, jy wat hou So baie oordag van ’n heldedaad. Niemand.. Dit is mos die Heer se wil.... Wat kan ons maak? Daar’s niemand klaar. Hoog slaat die see, en ons weet dis waar: Iemand wat waag, dié loop gevaar Nooit weer t’rug na die strand te kom Anders as lyk as die see weer stil Blou en groen en slaperig is. Nou is dit steeks, en dit gaap en gis. ’n Man is ’n mens en mos nie ’n vis— En ’n vis moet hy wees of ’n voël wat vlie, Om deur te kom na die mense daar. Wie sal dit waag? Kom sê dit, wie? Wie is vir doodgaan kant en klaar? Jy nie wat bidde, al is jy vroom; Jy nie wat vloek nie: jy is te laf. Ja, as dit mooi weer is, dan blaf Al die keffertjies rondom oom. Nou is dit storm, en ’n mens moet dink Nie aan homself, maar aan kind en vrou. Jy is nie klaar nie: dis niks vir jou As hier in die water ’n mens verdrink! Niemand sal gaan nie.. Maar wag, daar links Kom Wolraad aan op sy skimmelhings. Vorentoe, vorentoe, strand-toe, strand-toe, Bollemakiesie die branders oor! Vorentoe, vorentoe, land-toe, land-toe, Amper verdrink, en half versmoor! Die water suis, en gis en bruis, Die blits vlam oor die see, Die lang seebamboes buie en breek, Die wilde branders slaat en steek, Die woeste wind speel mee. Groen, donkergroen soos skemergroen Nog voor die sterre blink, Of soos die varkblomloof geboen Deur dou wat dagbreek skink— Blou donkerblou, soos wolke-blou Waarin die donder stoom, Of soos diep water in ’n kloof Waar nag nog altyd droom— Só is die see tot aan die lyn Waar see en lug kom trou, Hieronder donkerblou en groen, Daarbowe groen en blou. En as die wolke swig, dan breek Die slinger-bliksem los, En see en hemel word ineens In goud en glans gedos. En oor die kraak van branders knal Die donder oor die see, Tot Tafelberg se kranse dreun En Duiwelskop dreun mee. Die laaste af! Die mense roep: „Daar is nog ander daar!” Die water dreig, die skimmel hyg— Wie trots die doodsgevaar? Nie jy wat praat, nie jy wat bid, Nie jy wat staan en bewe! Dis Wolraad weer wat nog ’n keer Die Dood se woeste mag trotseer Met wat hy het—sy lewe. Kom op, ou skimmelhings, kom op! Nog eenmaal deur die see! Nog een gered, dan kan jy rus! Nog eenmaal deur die see! Die buikgord vaster vasgetrek— Dan weer die branders in, Die skuim en seegras deurgeswem Om vorentoe te win. Die hoë branders deur, ou maat, Swem skip-toe, skimmel, swem! Daar in die verte by die skip, Daar klink ’n vrou se stem. Dis pikswart donker oor die see; Die wind die gaan te keer; ’n Bliksemstraal maak silwer-blink Die bokant—daar ’s hy weer!— En dan weer in die donker weg. Ons hou ons asem; ag, Van hings en ruiter niks te sien, En orals net die nag! Maar weer ’n bliksemstraal se lig Wys Wolraad by die skip: Ons hoor hom roep: „Net een maar, een!” Nog voor die lig verglip. ’n Sarsie uit die wolke bars En dreun die wêreld deur; Die weerlig verf die hele baai Met goud- en silwerkleur. ’n Tikkie tyd wat ure skyn, Genoeg om te gewaar Hoe om die held die mense woel, Hoe oor die skip die branders spoel, Hoe ná die doodsgevaar. Maar ag, die dof lantêrenskyn Word deur die see geblus, En skip en skimmelhings verdwyn In duister nag gesus. ’n Nare tyd voor weer die blits Die oog ’n kans kan gee— En ag, dan wys dit net die skip En net die woeste see! Daar is geen spoor van held of hings: Die Dood het weer gewin, En lewe-gulsig oor die strand Bruis weer die branders in.

Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings