XXIII.
Reading edition
In kring staan al die waens gelaer— ’n Kraalmuur teen die vuur se lig, Met elke tussen-opening dig Met doringboomtakke aan mekaar. En Ouma, wit gerimpel, gee ’n Knikkie teen die duister: „Kyk, Die maanlig op die wolke lyk Amper soos maanlig op die see.” Die kleinspan het vir Oupa beet En soebat: „Oupa, toe, vertel!” Maar Ouma: „Kinders, moet nie kwel Vir Oupa, want hy wil vergeet.” En hy, die langbaard halfpad wit, Sê: „Nee, vrou, ek sal nooit vergeet! Kom, kinders, julle wat wil weet Iets van die see, hier om my sit.” En klein en groot skuif nader voor Te luister na wat Oupa sê; En soos die osse en veetjies lê, Lê half die laer om aan te hoor, As af en toe die rooibos-hout Vooruitgestoot word dieper in, Om groter vuur en vlam te win, En boontoe skiet sy vonke goud.