XXXVII.
Reading edition
Die see! die see! Mens is hy nie wat op die strand kan staan, Onder die skyn van dagson of die maan, Sy voete deur die brander-water nat, Sy siel tot in sy diepste dieptes sat Van vrede en van vreugde, en nie gee Eerbied en eer en liefde aan die see. Die magtige, die woeste, wilde see, Die sagte, strelende, spelende moeder-see. Die see wat ongebore is, Die see wat onvergaanbaar is, Die see wat alles wen en hou, Die see wat met sy strande trou, En ewig, ewig, ewigdeur Die wêreld wat hy spoel, vergeur. O see, o trotse oseaan, wat woel Van Yslands ys-verdedigde berge af, Om met lou water oor die strand te spoel Waar silwerwit die skulpe-sand Die vloer maak vir die silwerstrand Waarteen die sagte branders bruis Eentonig op en af die rotse teen, Gelaai met bamboesgras Waaroor die seeskuim reën. O see, wat lok en trek En in jou kinders liefde wek— Hartstogtelike liefde, sterker in sy mag As liefde vir die roem, vir plig, vir eer— ’n Liefde groter, reiner, meer As die aantrekkingskrag Wat die Natuur aan al wat lewe hou, Gegee het, een vir een, Tot mense-vloek of -seën, Om jaar op jaar nuwe lewe te ontvou. O see, o moeder, teer en sterk en trou, Groet t’rug vir hom wat bring sy eerste groet aan jou!