Monomotapa en Ofir.
Reading edition
[
Inhoud
]
INLEIDING.
Die Portugese stigtinge by Sofala en verder na die binneland toe, langs die Sambesie op, was die gevolg veral van hulle ywer om die fabelagtige goudmyne, waarvan hulle gerugte verneem het, te ontdek. Die goudstof wat die Kaffers na die kus gebring het, was vir hulle ’n bewys van die gegrondheid van die gerugte. So kry hulle ’n taamlik vae kennis van die ruïenes suid van die Sambesie, waarvan Simbabwe vandag die bekendste is en wat hulle reeds in verband met ’n oer-oue goudontginning deur vreemde veroweraars gebring het.
[
Inhoud
]
MONOMOTAPA EN OFIR.

Die Simbabwe-toring, van die ooste.
Die ander deel van die land, by die Cuamarivier en verder na binne toe, is meestal bergagtig, met bome bedek, deur riviere besproei en aangenaam geleë, en is dus digter bevolk; en Benomotapa woon gewoonlik daar. Daar dit so dig bevolk is, vermy die olifante hierdie deel en soek die reeds genoemde vlaktes op, waar hulle in troppe loop byna soos koeie. En dit kan ook nie anders wees nie, want dit word gewoonlik onder die Kaffers beweer dat vier- of vyfduisend olifante elke jaar omkom; en hierdie bewering word bevestig deur die groot hoeveelheid ivoor wat van daar uit na Indië gestuur word.
Die ander myne wat verder van Sofala af lê, nl. tussen ’n honderd en tweehonderd uur, is in die distrikte Boro en Quiticuy; en in hierdie myne en die reeds genoemde riviere wat die land besproei, word groter korrels goud gekry, party in rotsare en party skoongewas deur die winterstortvloede; en dus is dit hulle gewoonte om in die somer in die stil rivierwater te duik, en veel goud word gevind in die modder wat hulle opbring.…
Daar die land ryk aan goud is, kon ’n groot hoeveelheid verkry word as die mense hebsugtig was; maar hulle is so lui om daarna te soek, of liewer hulle begeer dit so min, dat een van dié neërs al baie honger moet wees voordat hy daarvoor sal grawe.…
Die feite skyn aan te dui dat een of ander vors wat in besit van die myne was, die bou van die forte beveel het .… en dat hy, met verloop van tyd en omdat sy eie koninkryk so ver verwyderd was, later sy gesag hier verloor het.…
Die bewoners van hierdie gebied is gewoonlik swart, met kroeserige hare; maar hulle is meer intelligent as dié van Mosambiek, Kilwa en Melinde.… Die gewone klere van almal bestaan uit stukke katoen, wat hier gemaak word of uit Indië kom; en daaronder is sommige van sy en gouddraad gemaak en tot twintig krusado’s elk werd, maar sulke klere word deur die edelliede en die vroue gedra. En al is Benomotapa koning van die land en heer van almal; en al is sy vroue ook in dié klere gekleed, mag geen stof van vreemde maaksel sy persoon raak nie, maar al sy klere moet in die land gemaak word, want die vrees bestaan dat vreemde handewerk hom aan boosaardige invloede kan blootstel.
Hierdie koning, wat ons Benomotapa of Monomotapa noem, is soos ’n klein keiser onder ons; want dit, volgens hulle, is die betekenis van die naam. In sy hofhouding is geen groot vertoon nie … want die grootste versieringe in sy huis is katoendoeke in die land geweef.… Sy mense bedien hom op die knie; en een proe sy kos, nie voor nie, maar nadat hy geëet het, van wat oorbly. As hy drink of hoes, moet almal wat teenwoordig is, hom iets goeds toewens; en waar die gelukwens gehoor word, vlie dit rond van mond tot mond, sodat die hele stad weet dat die koning gedrink of gehoes het.…
Die Benomotapa het offisiële musiek van hulle eie soort, waar hy ook mag wees—selfs in die veld onder ’n boom; en daar is ook vyfhonderd grapmakers onder ’n kaptein, wat by beurte buitekant die huis waar hy slaap, wag hou. Die koninklike insignia is ’n klein harkie met ’n steel van ivoor, wat hy altyd in sy gordel dra en wat vrede beteken en aandui dat almal die grond mag bewerk en die vrugte van die aarde geniet; en hy dra ook nog een of twee asgaaie, wat reg en die verdediging van sy mense voorstel.
Op die top van hierdie berg staan nog oorblyfsels van ou mure en klip-gemesselde bouvalle, wat duidelik aantoon dat hier vroeër huise en sterk geboue was, soos in die hele Kafferland nie te sien is nie; want selfs die paleis van die koning is van hout en word met klei gesmeer en met strooi gedek. Die inboorlinge van hierdie streke, veral party van die oudste More, beweer dat hulle voorouers ’n tradiesie nagelaat het dat hierdie ou geboue ’n faktory van die koningin van Skeba was en dat van hier af ’n groot hoeveelheid goud na haar gebring is. Dit is op die Cuama-riviere tot in die Indiese Oseaan vervoer, dan in skepe langs die kus van Etiopië tot by die Rode See, verder in dié see op tot aan die kuste van die gebied wat aan Egipteland grens. Hier is die goud ontskeep en is oor land na die hof van die koningin van Skeba gebring, want, sê hulle, sy was koningin en heerseres oor ’n groot deel van Etiopië bokant Egipte; en langs die Rode See het sy haar vlote gestuur vir die goud van hierdie riviere. Ek betwyfel dit nie erg nie, want volgens die opvatting van sommige van ons ernstige skrywers het die koningin van Skeba oor die deel van Etiopië wat bokant Egipte lê, geregeer.…

Simbabwe, van die ooste.
Ander, weer, sê dat dit die bouvalle is van ’n faktory van koning Salomo en dat hy hier handelaars gehad het, wat ’n groot hoeveelheid goud uit die streke gekry het; hulle het dit dan op dieselfde riviere na die Indiese Oseaan vervoer en in skepe verder tot in die Rode See; op die kus van Arabië naby Sues het hulle dit aan wal gebring en oor land na Jerusalem, ’n reis van omtrent tagtig uur. Hulle beweer ook dat die goud van Ofir wat koning Salomo gekry het, van Fura of Afura gekom het, dat daar weinig verskil is tussen Ofir en Afura, en dat die naam in die lang verloop van tyd ’n verandering ondergaan het.
Die reis moes ’n lang tyd in beslag geneem het, want die weg was toe nog nie so goed bekend soos nou nie, en hulle het ook nie sulke goeie skepe gehad nie.…. Buitendien veroorsaak die winde hier baie oponthoud vir die skepe, want langs die hele kus van Etiopië waai slegs twee winde, een uit die ooste en een uit die weste, elkeen ses maande lank; en hulle word moessons genoem.… Dit is dus begryplik dat die reis, soos in die Heilige Skrif aangegee, drie jaar kon geduur het.…. ’n Ander bewys dat die vloot van koning Salomo miskien na die kus van Etiopië gekom het om goud by Fura te kry, is dat dit ook edelgesteentes, hout vir die tempel, ape en poue saamgeneem het—want al dié dinge word op die kus gevind. By Sofala word pêrels uitgehaal, en daar is ook kosbare hout.…. En ofskoon ek geen poue gesien het in die streke langs die kus nie, moet daar in die binnelande van hul wees, want ek het Kaffers gesien met pouvere op hulle kop. Daar is ontsaglik baie aapsoorte, en van die goud sal ek nie eens praat nie.
[
Inhoud
]