Note 1 — Monomotapa en Ofir.
Reading edition
Baie lank het die geloof bestaan dat in die noordelike binnelande van Suid-Afrika die groot ryk Monomotapa geleë was, en van die Kaap uit is poginge aangewend om met die vors daarvan in verbinding te tree. Op kaarte word sy ryk aangedui en soms met talle van stede versier. Die Portugese bronne werp ’n interessante lig op die oorsprong van hierdie legende. Toe die Portugese in die begin van die sestiende eeu by Sofala ’n neersetting gestig het, het hulle veral met die Makaranga-Kaffers in aanraking gekom. Hulle beskrywe die stam noukeurig, en die hoof daarvan noem hulle Monomotapa of Benomotapa. Ons het hier waarskynlik te doen met ’n tietel of uitroep waarmee die Kaffers hulle koning vereer het; volgens gissinge, gebaseer op hedendaagse Bantoe-dialekte, kon dit heer van die berg of hy wat roof beteken het1; die Portugese het dit egter met keiser2 vertaal. Hierdie verkeerde vertaling, tesame met ander oordrewe voorstellinge van die groot uitgestrektheid en rykdom van Monomotapa se land, het die genoemde legende laat ontstaan; en Monomotapa is naderhand die naam van ’n keiserryk.