Note 11 — Monomotapa en Ofir.
Reading edition
Daar is ander myne in ’n distrik, wat Toróa11 genoem word, of ook die Koninkryk Batua12. Hier regeer ’n vors met die naam Burrom, ’n vasaal van Benomotapa; en sy gebied grens aan die bo-gemelde uitgestrekte vlaktes. Hierdie myne is die oudste van dié wat in die land bekend is. Hulle lê almal in die groot vlakte, en in die middel daarvan is ’n vierkantige fort13, van binne en buite gemessel en van verbasend groot klippe gebou; en dit skyn asof geen kalk gebruik is om hulle aan mekaar te heg nie. Die muur is meer as vyf-en-twintig span wyd, en die hoogte is na eweredigheid nie so groot nie. Bo-oor die deur van hierdie gebou is ’n opskrif, wat enkele geleerde Moorse koopmanne, wat daarheen gegaan het, nie kon lees nie; en hulle kon die geaardheid van die skrif ook nie bepaal nie. Hierdie gebou is amper deur heuwels omring, en bo-op hulle is nog ander ook van sulke klippe en sonder kalk opgerig; en een van hulle is ’n toring meer as twaalf vaam hoog.