← Table of contents
Uit ou Reisbeskrywinge

Die Dood van Francisco d’Almeida.

Reading edition

[

Inhoud

]

INLEIDING.

Op 1 Maart 1510 het die Portugese onderkoning, Francisco d’ Almeida, wat met ’n vloot op die terugreis na Portugal was, met ’n vyftigtal van sy aansienlikste manne op die strand van die Tafelbaai in ’n geveg met die Hottentotte gesneuwel. Hy was ’n belangrike persoon en kan naas Vasco da Gama en Alfonso d’Albuquerque genoem word as een van die stigters van die Portugese koloniale ryk in Indië. In die groot seeslag voor Diu in 1509 het hy die Mohamedaanse seemag in die Ooste verpletter; en sy beroemde opvolger, d’Albuquerque, kon toe van hierdie verswakking van die vyand gebruik maak en deur die besetting van die belangrikste strategiese punte ’n vaste basis aan die Portugese mag in Indië gee.

Dit spreek vanself dat die dood van die onderkoning groot opskudding in Portugal verwek het; en die gebeurtenis word deur verskillende beriggewers breedvoerig vermeld. Die beskrywinge is, wat besonderhede betref, taamlik uiteenlopend; en hierin word miskien weerspieël die toestand van totale verwarring en magteloosheid waarin die Portugese gedurende die geveg verkeer het. Die beskrywing wat hier volg, is dié van Joano de Barros (1496–1570), die grootste Portugese historikus van daardie tyd. Theal het uittreksels uit sy Asia in Records of S.E. Africa, VI, blss. 1 vv., afgedruk en vertaal. Die leser word daarheen verwys—veral na blss. 298 vv. In II, blss. 45 vv., is die beskrywing van Correa; in V, blss. 399 vv., dié van De Castanheda; en in III, blss. 134 vv., dié van De Goes. ’n Vergelyking van die verskillende berigte met mekaar openbaar groot afwykinge.

[

Inhoud

]

DIE DOOD VAN FRANCISCO D’ALMEIDA.

By die onderkoning was toe juis verskillende persone wie se diensbodes dieselfde mishandeling van die neërs ondervind het, veral een met die naam Fernando Carrasco, ’n bediende van Jorge de Mello; en hulle was so kwaad dat hulle die onderkoning beweeg het om die neërs in hulle dorp te gaan straf. Hy het ingewillig, nie so seer omdat hy self kwaad was nie, maar om die adellike here te bevredig, ofskoon sommige van hulle teen die aanval was, soos b.v. dom Lourenço de Brito, Jorge de Mello en Martin Coelho.

Die dorpe was ’n bietjie verder op as die plek waar die skepe geanker was, en die volgende dag, om die afstand te voet te verkort, het die bote dus met omtrent ’n honderd-en-vyftig man, die fleur van die hele geselskap, langs die kus tot digby die dorpe gevaar. Hulle het daar aan wal gestap; en die onderkoning het aan sy skipper, Diogo d’Unhos, bevel gegee om daar in die skuite te wag en nie van die plek af weg te gaan nie. Dit wil waarlik skyn asof sy gees hom voorspel het in welke verskriklike nood hulle na die skuite sou uitsien, en asof die bedruktheid waarmee hy die onderneming begin het, ’n voorteken van sy laaste uur was; want ná sy inwilliging aan die versoek van die edelliede wat hom aangespoor het, was al sy woorde en dade soos dié van iemand wat die dood verwag. Toe hy b.v. uit die skip in die boot klim, sê hy, om te wys dat hy teen sy sin gaan: „Waarheen neem julle my sestig jare?”

Dood van d’Almeida.
Dood van d’Almeida.

Dood van d’Almeida.

Uit Van der Aa se Gedenkwaardigste Zee- en Land-Reysen.

(Foto A. E. Elliot.)

Hiervan was hulle so oortuig dat toe dom Joano in Arsilla ’n aanval op ’n paar dorpe wou maak … en die inwoners, omdat dit winter was en baie gereent het, nie graag wou saamgaan nie, vier van hulle ’n plan gemaak het en ’n jongkêrel gekry het om by die poort van die stad skoene teen mekaar te klop nes dom Joano daardeur ry, want hulle wou hom so keer. Maar dom Joano het deur die plan gesien, en hy het geweet dat die kêreltjie van ’n man kom wat in ’n neerlaag ’n goeie gebruik van sy bene kon maak.

Hy roep hom dus toe: „Loop sê vir jou baas dat sy straf vir wat jy nou doen, alleen sal wees dat hy sal moet saamkom; en op hierdie tog sal sy bene vir hom van meer nut wees as daardie skoene.” Daarop ry hy toe welgemoed verder; en die lis het hy geduie as ’n voorspelling van die oorwinning, wat hy inderdaad behaal het.

Die onderkoning daarenteen het nie van die skoengeklop ’n grap gemaak nie, en met teësin en in ’n treurige stemming het hy sy reis voortgesit. … En daar is mense wat beweer dat die siel van die mens so deur die bedruktheid of opgewektheid wat hy voel, vooraf weet wat met hom gaan gebeur; en in hierdie geval het g’n halfuur verbygegaan nie, of die slegte voorbodes van die onderkoning was verwesenlik.

Net toe hulle die neërdorp intrek, het Fernando Pereira, die seun van Reimano Pereira, gesneuwel. Party sê dit was ’n ongeluk, want hy was in een van die hutte; en een van ons manne wat buitekant was, het hom daarin gehoor, en in die gedagte dat dit ’n neër was, het hy sy spies ingestoot en hom deur die lyf gesteek. Toe die onderkoning hiervan hoor, sê hy: „As my moeilikhede met Fernando Pereira begin, dan sal dit met nog meer ophou;” en hy het bevel gegee dat die manskappe dadelik teruggeroep moes word.

Die gros van die geselskap het egter reeds deur ’n groot deel van die dorp gegaan en kom terug met ’n aantal koeie en kinders, wat hulle in die huise gekry het. Daarop verskyn toe omtrent tagtig neërs; met die eerste skrik het hulle gaan wegkruip, maar nou was hulle klaar om vir die behoud van die kinders die dood te trotseer. Toe Lourenço de Brito sien hoe woes hulle aanstorm en waarom hulle dit doen, skree hy vir dié wat die kinders wegvoer: „Laat die kalwers staan, want die koeie kom agter hulle aan; en hulle bulk nie, hulle brul.” En ofskoon party van ons mense toe die kinders laat loop het en die armsalige buit van die dorp neergegooi het, was die neërs reeds so woedend dat hulle oor alles heenspring en ons hoofmag aanval.

Hulle roep die beeste, wat aan dié soort van oorlogmaak gewend is, en begin om vir hulle te fluit en met tekens te stuur; en agter die vee beskut val hulle toe ons mense aan met hardgebrande hout-werpspiese. Party val gewond neer en is deur die beeste vertrap; en daar die meeste sonder skilde was en alleen lanse en swaarde gehad het, kon hulle in dié soort van vegtery nie veel uitrig nie, terwyl die neërs tussen die beeste uit met onmiddellike gevolg hulle wapens teen ons manskappe slinger. Hulle val so veg-veg terug en kom uitgeput by die plek waar Diogo d’Unhos volgens die bevel van die onderkoning met die skuite moes gewag het; maar hulle was nie daar nie, want ’n storm het opgekom, en die see was so onstuimig dat hy verplig geword het om die bote terug te neem tot naby die skepe; waar ons mense dus verwag het om skuiling te kry, het hulle die dood gevind.

Hulle sak weg in die seesand en was totaal magteloos en kon hulle nie beweeg nie, terwyl die neërs op hulle afstorm so lig en rats dat hulle na voëls lyk, of liewer na die beule van Satan. Hulle werp hul op die edelliede, wat uit liefde vir die onderkoning nog ’n bietjie weerstand gebied het, want die gemene volk het met die eerste buit vooruit gehardloop. Die treurigste was dat sommige gewondes, wat nie in die los sand kon loop nie, in die water vaste grond gaan soek het en dit met hulle bloed bevlek het.

Om nou te sluit—dit was die noodlottigste gebeurtenis wat in die koninkryk plaasgevind het, want die neërs was eenhonderd-en-sewentig in getal, en ons mense eenhonderd-en-vyftig, die edelste uit die vloot. Van hierdie het meer as vyftig, waaronder twaalf kapteins, op die strand omgekom, doodgegooi met stokke en klippe, en dit nogal uit die hande nie van reuse of gewapende manne nie, maar van dierlike neërs—die laagste op die hele kus; en al hulle verhewe moed en verstandige bedrywigheid, wat hulle so dikwels in Indië en baie ander plekke in skitterende krygsdade vir God en hulle koning vertoon het, het hulle hier niks gebaat nie. Slegs ’n kort entjie pad en ’n bietjie sand het hulle tot onmag verswak, sodat ons met waarheid kan sê dat hierdie twee dinge die vernaamste oorsaak van hulle dood was, want baie was so magteloos dat hulle neergeval het, en die neërs het hulle weerstandloos met groot strandklippe die hoofde verbrysel.….

Van dié wat ontkom het, was byna almal met dieselfde primitiewe wapens gewond, en die wonderlikste van al die wonde was dié van Jorge Lopes Bixorda, die eienaar van die skip Santa Cruz. Sy skedel was met ’n klip ingeslaan, en die gat op die naat was groot genoeg om ’n eier te bevat; en toe die stukke been verwyder is, kon ’n mens sy harsings sien klop. Dit was nie moontlik om hom aan boord skip gesond te maak nie. Maar gelukkig het ’n hen begin lê, en ’n neërin het ’n kind gekry; en met haar melk en die eiers van die hen is hy verpleeg, en die wond het genees.

Jorge de Mello, wat vir die sorg van die vlugtelinge verantwoordelik was ná hulle terugkeer, het die gewondes na die skepe vervoer en het daarop teruggegaan na die strand om die dooies te begrawe. Toe hy kom waar die lyk van die onderkoning lê, totaal ontkleed—want die wêreld wou dat hy dit selfs sonder ’n doodshemp moes verlaat—, was hulle droefheid so groot om hom daar in dié ellendige toestand te sien dat dié wat daarby gestaan het, liewer met hom in die dood sou gegaan het as om die eerbiedwekkende en beroemde man daar so te moet aanskou. Jorge de Mello het hom en die ander op die woeste kus begrawe en het teruggekeer na die skepe. Hy het die anker gelig en die reis na hierdie koninkryk voortgesit, waar, ná sy behoue aankoms, die hele land oor die noodlottige gebeurtenis in rou gedompel is.

[

Inhoud

]

Notes in this chapter

Note 1 · Op die terugvaart uit Indië het die Portugese die kus van Natal tot aan die Kaap, en veral die laaste stuk daarvan, as die allergevaarliksteNote 2 · Die teenswoordige Tafelbaai het sy eerste naam Aguada de Saldanha (die waterhaalplek van Saldanha) in 1503 gekry, toe ’n groot Portugese vloNote 3 · Arsilla en Asamor is twee hawestadjies op die weskus van Morokko. Die Portugese het in dié streke gesag uitgeoefen. Hulle verowering van MorNote 4 · Koning Manuel het Francisco d’Almeida van sy bevel in die Ooste onthef en dit aan Alfonso d’ Albuquerque oorgedra. D’ Almeida het egter nog Note 5 · Lourenço d’Almeida, die seun van die onderkoning, het in 1508 in ’n seeslag teen die Mohamedaanse vloot naby die teenswoordige Bombaai gesneNote 6 · In Mosambiek het [die onderkoning] vier-en-twintig dae vertoef, want ’n lekkasie in die Belem moes reggemaak word. Van daar het hy sy reis vNote 7 · Daar hulle water nodig gehad het en die Aguada de Saldanha2, waarvan ons reeds geskrywe het en waar skepe water kon inneem, naby die Kaap waNote 8 · Later toe hulle langs die strand loop, sê hy daar is sand in sy skoene, en hy vra vir Joano Gonçalves, sy lyfbediende, om hulle uit te trek;Note 9 · In hierdie moeilike tyd, toe iedereen vir homself gesorg het, kom Jorge de Mello by die onderkoning, en hy vind hom min of meer verlate, wanNote 10 · In die tussentyd het daar reeds geval Pedro Barreto de Magalhaens, Lourenço de Brito, Manuel Telles, Martin Coelho, Antonio do Campo, Franci
Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings