← Table of contents
Uit ou Reisbeskrywinge

Note 2 — Die Dood van Francisco d’Almeida.

Reading edition

Daar hulle water nodig gehad het en die Aguada de Saldanha2, waarvan ons reeds geskrywe het en waar skepe water kon inneem, naby die Kaap was, het hy aan die stuurmanne bevel gegee om hom daarheen te bring. Om nou die manskappe ’n bietjie ontspanning te verskaf ná die eentonigheid van die see, het hy sommige wat met die watervate aan land gegaan het, toegelaat om met die neërs, wat op die strand hulle verskyning gemaak het sodra die skepe geanker was, handel te drywe. Die neërs het heeltemal eie geword met ons mense en vee aan hulle verruil vir stukke yster en doek, wat hulle hoog waardeer; en ’n paar van ons kêrels het toe verder verlof gekry om met die inboorlinge na hulle dorpe toe te gaan byna ’n uur van daar. Op hierdie ekspediesie het die neërs van party messe gesteel en ook ander dinge, waarin hulle sin gehad het. Om hierdie brutaliteit te wreek het een van die kêrels, Gonçalo, ’n diensbode van die onderkoning, twee van die neërs met hom saamgevoer onder die voorwensel dat hulle van die goed moes dra wat hy gekoop het; maar hulle was huiwerig om saam te kom, want hulle was agterdogtig en het gevrees dat sy bedoeling nie suiwer was nie. Toe wou hy hulle met geweld dwing, maar hulle gooi die goed neer en het hom so toegetakel dat hy met stukkende tande en ’n gesig vol bloed voor die onderkoning verskyn het.

Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings