← Table of contents
Martjie

IX.

Reading edition

Uitkyks naaste bure woon nie al te ver nie, ’n spruitjie is die grens; aan d’owerkant daar lê die woning. Die oudste dogter van die huis is Sannie, Martjies skoolkam’raad uit vroeër dae; baie maal kom sy ’n middag of ’n aand na Uitkyk oor en bly die nag dan daar. Sannie is al lang ’n goeie vriendin van Roelof ook. Menigmaal met Martjie saam, of ook allénig, het hy haar gaan haal of huistoe weer gebring. Dis weer so’n Sondagmiddag op die plaas by Sannies ouers, Roelf en Martjie was die middag daar en staan nou op vertrek. Sannie is op Martjies wenk haar kamer ingegaan en kom terug, met kappie op haar hoof, om saam te wandel. Weldra is die drie op pad na d’oorkant toe, die ene agter d’ander in die paadjie deur die gras,— agterste is Roelf. Soos altyd as die twee mekaar ontmoet is Martjie en Sannie nou teen Roelf ’n bondgenootskap weer verbind van terge. Sprank’lend huppel, langs die ry, die plaag-skerts, heen en t’rug-gekaats van d’een na d’ander, stootlaggies sonnig-helder tussenin, —geming met woorde en grappies. So, mekander volgend, stap hul aan, die spruitjie naad’rend. Oor hul klere gly die sonne-kolle, wat die blare bo op hulle deur laat val. Roelof voel hom teen die twee nie opgewas nie; stingels pluk hy van die lange gras, asgaaie-worpe mikkend dan daarmee op rugge en arme—roserooi en sag deur witte somerkleedjies skeem’rend. „Sannie kyk,” sê Martjie, „hier het hy „die ander middag amper ingeval,”— en met haar handjie wys sy op ’n plek waar Roelf se voet het uitgegly, net bo die stroom: Die brug is net ’n boomstam oor die spruit, aan weersy in ’n mikhout vas-gelê, en raaklings oor die water gaande,— breed en ondiep is die spruitjie hier. „Nou kyk,” sê Martjie aan Sannie, „hier, waar hy nie reg-op kon bly staan, „sal ek, met oë toe, „my drie keer in die rondte draai.” En, met haar arme uitgesprei, voeg sy die daad ook by die woord.... ’n Roep van skrik! sy wankel, alkant grypend om haar heen, sy val! Maar Roelf is by en het haar om haar middel vas in sterke arm. Maar op die boomstam kan hy ook homself nie staande hou, hy gaan met Martjie val, hy voel dit, O! Eén plan is net nog oor met snel beraad gryp hy dit aan: hy spring!.... Daar staan hy in die water nou met haar, tot aan sy knieë in die stroom, maar sy daarbowe, droog, en veilig in sy arme nog —haar arme om sy skouer vasgeklem. En Sannie lag dat sy so kannie-meer tot sy ook amper van die steg af val! Stadig oor die klippe nou stap Roelf met Martjie kant toe, —sy van skrik bekome, nou sy voel dat niks te vrees is nie. En Sannetjies uitbundig-luid geskater werk op die twee aansteeklik sodat hul ook saam begin te lag. Die water stoot teën Roelofs bene op, versigtig oor die klippe set hy goed sy voete vas. Sou ’t wees dat nou die skrik begin op Martjie ná te werk? want gouer gaan haar asem, gouer steeds namate Roelf met haar al nader vorder na die kant; en aan sy bors kan hy ook voel hoe, altyd meer, haar laggie hygend word en stoterig. Sannie sit al oorkant op die gras en kan nie meer van die lag. Roelf is uit die water nou, en set vir Martjie op haar voete neer, by Sannie op die gras. Wat is hom tog oorkom? Sy lag is nie meer vrolik-ongedwonge en luid, soos elke dag. Meteens is tans die vrolikheid by Sannie, as by Roelf, verstom, want plots’ling eindig Martjies hik’rig laggie in ’n snik so luid en pynlik-skokkend asof selfs die vrolik sonnetjie daarvoor moet skrik! Maar gou-gou het sy haar herstel, nog voor die ander angstig haar kan vra wat sy makeer. En laggend, naas mekaar, stap hul na huis. Roelf is na sy kamer afgedraai om droë klere aan te trek. Deur Sannie word die voorval by die huis met geur en kleur vertel. Martjie het sig op ’n stoel laat val, gejaag gaan altyd nog haar bors; sou ’t wees van skrik of van vermoeienis? Haar wange gloei, en van haar ma af draai haar oë weg, en bo haar asem is haar stem, as sy verklaar: „O, ma, ek het tog so geskrik!”

Illustration from Martjie
Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings