← Table of contents
Martjie

XV.

Reading edition

Roelf gaan weg, op sake moet hy uit, vier dae deur die veld. Twee ander, van sy vrinde, gaan ook mee, hul gaan te perd; ’n jag-tog sal dit wees ter-selfder-tyd. Dae lang word reeds beskuit gebak, die saëlsakke vol gemaak, die streepsak ook wat op die handperd word gelaai. Roelf is opgewonde: een en al verwagting oor die reis. Net daaroor is die praat aan tafel ook. En as hy Martjie kastig, in die kombuis, kom help met koekbak en beskuit en, meer as ander dae, haar plaag en terg, dan voel sy dat dit net die bly verwagting is van hulle reis wat hom so buitensporig maak. En op die môre van vertrek as hy, en die ander twee wat same gaan, ’n stukkie eers nog eet aan tafel by oom Koot, as hy tot afskeid haar ’n handdruk gee, O, dan het Martjie hom nog nooit so mooi gesien, in veldpak, netjies passend aan sy lyf, en bree-rand hoed wat lyk of ’t niemands hoof so mooi kan pas as syne. En in sy oë vlam ’n gloed van hartstog.... ag, die hartstog net alleen vir veld en berge.... Tant’ Mieta wil, vóor Roelof huistoe kom, sy kamer eers ’n goeie skoonmaak gee. Die werk van bed-opmaak en uitvee elke dag was altyd maar die werk van Rosie. Martjie het wel af en toe ook daar gekom, om Roelf ’n koppie koffie aan te bring, te waarsku dat die ete wag, en so nog meer. Maar nooit was sy alleen daarin, soos nou. Want alhoewel die werk ook nou aan Rosie weer was opgedra —’wyl sy sou toesig hou— so het sy tog ook self ’n voorskoot om; en ongeduldig het sy, na ’n ruk, ou Rosie weggestuur: sy sou wel alles self regeer en Rosie moet vir ounooi maar gaan help. As Rosie ’n rukkie weg is draai sy stil die sleutel in die deur, en sluit sig in. Hoe heerlik om haar daar alleen te voel! Alleen? O nee: sy wese is daar, die kamerlug hang vol daarvan, dit sweef haar teë uit die skaad’wee van die bed, dit fluister uit die lang gordyne-plooie en uit die sonligstraal wat deur die raam die tafelkleed beskyn. Omstrelend en omtastend sluit sy gees en wese haar van alkant in, bekorend soet soos iets wat sy in stilte steel, en tint’lend in haar bloed met so’n gevoel van saligheid dat sy —met hande op haar bors geklem— bly staan, onmagtig die betoow’ring haar te onttrek; ondeuend-bly geniet sy van verbode vrug uit jong verbeeldings ryke skat: ’n gode-drank, ’n drome-melodie, in liefdes skoon paleis. Daar staan die varing-plant waar hy sy sorg aan gee, sy metgesel, —bevoorreg bowe haar— sy streel die fyne blaartjies met haar hand, begiet die plantjie liefd’ryk uit die kruik, in onbestemd besef van medely met iets wat sorg en troos ontbeer. En voor die tafel staan sy stoel, daar sit hy elke dag. Sy gaan daar nou op sit en dink daarby: so sit hy op dieselfde plekkie, net waar ek hou sit! Opbruisend kom ’n blyheid haar oorstelp, haar arme slaan sy kruiselings om eie lyf en wieg haar heen en weer— ’n laggie om haar mond. Besitter voel sy haar van iets wat sy hou-vas, en niemand ooit haar kan ontroof: „Ja, net soos ek so sit hy hier, „sy hoof waar myne is, „sy hals....” ’n purper blos bedek meteens haar wange, uit die stoel spring sy oorend, verbergend in haar hande haar gelaat, haarselwe hatend.... Na ’n rukkie is nou weer die felle slae in haar bors bedaar. Sy sien ’n boeke-rakkie aan die muur; en neem ’n boek daaruit en slaan die blaaie om, verstrooid en sonder plan, en lees ’n reël hier en daar. Maar wat is dit? Sy lees aandagtig nou: „Ek mag jou nie lief hê en kan jou nie haat nie, „ek mag jou nie hou en ek kan jou nie laat nie. „O, leer my die bittere stryd te volstry. „En, ag, wat daarbinne my hart so deurknaë, „ek wil ’t nie mis nie al kan ek ’t nie draë, „die pyn wat genot is en mart’lend verlei. „Ek kan jou nie haat en mag liefde nie géwe, „so staan dit gemeld in die boek van ons lewe, „O, smart wat verdélend my hart so deursny. „Ek mag jou nie hou nie en kan ook nie skeië, „so wil ’t die sterre se wet van die tyë, „O, sê my, hoe sal ek die stryd ooit volstry. „O, eensaam herhaal ek deur nagte en daë, „vergeefs nog en ewig die swaarste van vraë, „en voed ek, genietend, die pyn wat ek ly. „Ek mag jou nie lief hê en kan jou nie haat nie, „ek mag jou nie hou en ek kan jou nie laat nie „O, leer my die bittere stryd te volstry.[1] Met aandag, meer en meer gewek, het sy die versie tot sy end gelees. Hoe treffend en hoe waar word daar die spieëlbeeld van eie siel haar voorgehou! Daar lê ’n stukkie potlood op die plank, sy neem dit in haar hand.... Sy kan ’t nie laat nie, O, sy sal, sy moet!: sy trek ’n potloodstrepie langs die vers! Sal hy dit sien! O, laat hy ’t sien! Sy is wanhopend al, sy gee nie om nie: Ja, as sy dan nie mag praat nie laat dan so sy oog geopen word; hy moet dit sien, sy wil dit hê; maar, ag, hy dink miskien dat hy dit selwe eens het aangemerk.... Sy skryf die eerste letters van haar naam daarby! Met kloppend hart set sy die boekie op sy plank terug. ’t Sou wel kan wees dat hy die boekie nie meer in sal kyk,— wat help dit dan?! Die potlood in haar handjie het ’n geur, soos alles wat hy raak of syne is. Sy vra haarself of sy alleen die lug gewaar, dan of dit slegs verbeelding is van haar; lavendel-geur is ’t nie, maar wel ’n fyn aroma, soet en aangenaam, wat uit die wese straal van die wat ons bemin. Sy berg die stukkie potlood in haar bors, dis iets van hom, sy sal dit hou vir haar.... Héwig skrik sy op, want iemand het die deur se kruk gedraai. Dis Rosie, ou-nooi stuur haar weer, en vra waar nonnie bly. Haar soete droom is uit, sy gaan, en laat die werk aan Rosies sorg.

Illustration from Martjie

Notes in this chapter

Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings