IV.
Reading edition
Die Volkslied!? En so vroeg al in die môre? Ja, dit is die afgesproke teken, Martjie staan al lang daarop te wag. Nie nodig ook die sweep se klap, sy ’s lank al aangekleed en klaar. Gelag en sang kom van die hek se kant, ’n vrolik jongspan wag haar daar op bok-wa, vol gelaai. Twee jonkmans spring daar van die relings af en storrem op die hekkie toe in wedstryd, uitgelate, die voetpad op in ylend-snelle vaart— wie of die eerste daar sal wees! Martjie staan al by die voordeur klaar met kappie helderwit, en toegestrik teen môre-kou. Glimlaggend knik sy met haar hoof ’n groet terug, op daardie twee se môre-groet en buiing, speels-oordrewe. Sy wys hul daar ’n mandjie, by die deur, wat mee moet gaan. Gejuig begroet haar by die wa. Haar twee geleiers maak, aan d’agterkant, met hande saamgevoeg, ’n trappie waar sy op kan staan, en die wat op die wa is, neem haar hand; so word sy opgelig, en vooroor val sy byna in die wa, op die wat daar al sit! ’n Juigkreet is die laaste groet aan Uitkyks woning, half geborge nog in skaad’wees van die nag,— en verder gaan die piekniek-wa. Tweekeer word die volkslied nog gehoor, voor wonings wat nog slaap, om die te wek wat mee moet gaan. Die span is nou voltallig, en die trek is berge toe. Hul ’s op die bult, en plots’ling word hul oog getroffe deur die môre-son, oor verre vlakte-soom net opgeduik,— met drie hoera’s begroet; en kyk, dis net of hy vir hul ’n ogie knip en blye dag beloof. Die bok-wa gooi sy skaad’wee lang-gerek op harde pad. En lieflik lag die vlakte na omhoog, deur môre-dou se dampe —luierend hier en daar in leegtes— as gedra op weerklank van die verre hane-kraai. Uitgespan is reeds die wa as Martjie eers van Roelf ’n môre-groet en handdruk kry. Hy was nie een van daardie twee gewees wat haar kom haal het by die deur: bésig het sy hom gesien met diere en tuig, en toe hy op die wa sy sitplek neem was sy al daar; van ver, so tussen al die ander uit, het hy maar net na haar geknik; en heel-pad langs het hy genoeg’lik met die nooi gesels wat naas hom sit. In bonte ry sit almal op die gras, die maaltyd sal begin. Naas Roelof is ’n plekkie oop, maar Martjie loop verby of sy dit glad nie sien, en kies ’n plekkie aan die ander kant. Is ’t wraak, of moedwil, in die snelle blik wat sy hom werp vandaar? Hoe ’t ook mag wees, op hom is ’t glad verloor: hy ’s besig met ’n bottel oop te maak, die meisie naas hom te bedien; as Martjie nog bewys moet hê dat hy haar moedwil glad nie het gemerk, dan lewer hy dit self, want, kyk, daar spring hy op en wip die gras-perk oor na haar, en, op haar skouer tikkend, sê hy: „kom, ou sus, „laat ek jou glasie vir jou vul.” Sy blik is openhartig, reguit kyk sy oog in hare, en bruisend tintel net alleen die piekniekdag se vreug daarin as hy laat volg: „en netnou kom ek vir jou haal, ou sus, „ons twee is maters by die meule-spel.” Na so’n ontwaap’ning kan sy wel nie anders nie as met ’n glimlag toegee aan sy wens. Hy ’s weg alweer van haar, na oorkant van die kring, om nog ’n leë glasie vol te skink. „Stilte daar! ’n voordrag word gegee.” Die voordraer het al pos gevat in middel van die kring; maar almal lag en praat en hoor nie hoe hy reeds die naam van sy gediggie noem. Maar Martjie het die naam gevang, en weet dat daardie vers ’n spotgediggie is op een wat sig belaglik maak. Is ’t Martjie alleen wat merk hoe Roelof nou meteens verby die voordraer loop en snel ’n woordjie fluister in sy oor? Sarie Drost is iemand sonderling in alles wat sy doen, in elke trekkie kom sy haas ooreen met daardie noointjie in die vers beskrewe, en Sarie is vandag ook hier. Roelf, onseker of die voordraer wel sy wenk sal volg, die versie sal laat staan, is snel na Sarie toe gestap en vraag haar om met hom ’n wandeling te maak, soos ander reeds al doen— van ete opgestaan. Daar ’s stilte nou, en Roelof hoor van ver dat hy, wat voor sal dra, ’n ander versie noem as d’eerste keer; en, Sarie opmerksaam makend, stel hy voor aan haar om op die gras te sit en eers met hom die voordrag aan te hoor. Onafgebroke is Martjies oog op hom, in stilte, so van ver; bewond’ring lê daar in die blik, so groot asof sy daad —beleefdheids-diens aan Sarie Drost betoon, deur Sarie-self en deur die gaste ook nie opgemerk— ’n heldedaad van d’ allergrootste is. Die dag is om en almal word weer tuis gebring. Met Martjie saam stap Roelf by Uitkyk van die wa. Ná ete sal hy dorp toe stap, alleen, van-aand die laaste keer, want môre, eind’lik, is die dag gekom dat hy op Uitkyk intrek neem, na sy belofte aan oom Koot gedaan.— Sy buitekamer staan al klaar, met sorg vir hom berei. Dis stil op stoep, die nag hang swaar in digte eike-lower, breë stamme eenkant net verlig waar lamplig uit die rame stroom; en uit die ope voordeur gly oor stoep ’n baan van lig, vèr-strekkend oor die werf se gras, tot waar die swarte donker dit verswelg. Oom Kootjie sit voor ope raam te lees, die bybel-blaaie hel verlig, en volgend met sy vinger elke reël: met vrome aandag nog ’n keer die woord, die skone woord herhalend wat hom flus getref het toe hy vir almal saam, die aand-diens het gelei. En by die tafel ook, met hoof gebuie in stilte, oor die handwerk wat sy doen, hoor ou tant’ Mieta aan. Onvermoeid nog na die dag se tog in berge en veld, kuier Martjie en Roelf op stoep, in awendkoelte. Vertrouelik, asof hy nader sig aan haar wil voel het hy haar arm geneem; maar ná ’n rukkie, plots’ling, net of hy na iets wou buk, het hy haar weer gelos. En al te goed het sy gemerk dat hy die plan ekspres maar het bedag om van haar af te raak. In stilte vra sy aan haarselwe: wáarom tog? Elke keer gaan hul die ope raam verby en oor die ronding van die boom se stam gly stil hul skaad’wee. Fluist’rend praat die twee, om ou oom Koot sy stotend lese nie te steur. Dit word vir Roelof tyd,— verbygaand by die voordeur stap hy in om aan tant’ Mieta en oom Koot goeienag te sê. „Tot môre, Roelfie,” sê oom Koot, „dan is jy eind’lik onse huisgenoot.” Martjie stap met hom die treedjies af om mee te gaan tot aan die hekkie van die werf. Sy het van-aand maar min gepraat, werktuig’lik antwoord géwend as hy so, by kuier heen en weer op stoep, haar iets gesê het of gevra; en droomverlore stap sy nou ook nog so met hom saam. Hul ’s by die hekkie voor sy weet; en as hy haar ’n hand tot afskeid gee en sê: „die laaste keer,” dan hou sy in haar handjie nog sy vingers vas ’n oënblik.... Opskrikkend, plots’ling, los sy gou die jonkmans hand en sê gejaag, met laggie baie verleë: „maar kyk vir my, „is ek dan mal om so meteens te dink „dat jy vir altyd gaan, „en môre kom j’ eers regtig....” „Martjie, Martjie!” antwoord Roelf gemaak-bestraffend;—en dan is hy weg, verdwene in die nag, op ligte tred en snel, ’n vrolik deuntjie fluitend op sy gang. Glansend-wit, ’n oënblik, vertoon sig in die lamplig voor die deur die slanke beeld van Martjie, as sy snel die treedjies opstap en oor stoep na binne gaan, die voordeur sluitend vir die nag. In sware mantel duik die nag nog dieper weg, gewieg as op die naklank, sterwend-ver, van bybelwoorde flus gehoor, en op die koorgesang van kikkers in die slote al-omheen. En hoor, dis net of uit die sfere bo ’n fluist’ring van die sterre ruis, sig mengend met die koorgesang beneë, tot lied van vrede en rus.... Martjie is kwaad en met haarselwe ontevree; met hand-ruk driftig-snel het sy haar tjalie op ’n stoel gegooi en stap haar kamer op en neer: Wáarom het sy haar ge-èrg gevoel van-môre op die wa toe Roelf so min na haar het omgekyk; en watter reg had sy om te verwag dat hy nou juis naas haar ’n plekkie op die bok-wa in sou neem? Nee, had hy dit wèl gedaan dan was sy juis miskien ge-èrg om so ’n handeling, daar, voor oë van die hele piekniek-skaar, want maklik word so iets verkeerd bedui. En hoe verspot van haar, toe hy van-aand soos ander dae haar wou groet, te dink of droom dat hy vir altyd afskeid neem, en so sy hand in hare vas te hou! O, foei, en wat gedagte het hy wel van haar gekry? Sy, in die huishou so bekend, en oral, dat sy steeds in dink en doen so helder is en klaar! Vanwaar dan die vergissing so meteens? Martjie vind op al die vrae geen antwoord nie; en opgewonde van verwarring nog en ergernis lê sy haar eind’lik op haar bed te rus. Maar éen ding staan by haar nou vas: sy sal hom môre daad’lik goed laat merk dat daardie handdruk van van-aand maar net vergissing was en tog volstrek geen plan van haar kant nie om hom tot naad’ring te beweeg.
