← Table of contents
Martjie

X.

Reading edition

Lyk dit of die lot of noodlot soms nog dralend rond-tas na die plan van ons bestemming, is eenkeer d’eerste stoot gegee, dan volg die twede dikwels gou daarná: „Maar wat is dit met julle twee van-aand?” Dis ou tant’ Mieta wat dit vra want Martjie en Sannie is van-aand nie in te hou nie. Martjie voel ’n opgewondenheid wat prikk’lend haar van hoek tot kante jaag: opbruisend woel ’n lewe in haar bloed soos sy nog nooit geken het nie, asof sy ’n lus gevoel om alles met haar hande aan te gryp —te frommel deur mekaar, en roekeloos die bande af te gooi van selfbedwang. Hul fluister met mekaar ondeuënd, die twee, en nou en dan kom uit die ver kombuis ’n lagbui onbedaarlik; ja, dis wel bewys dat iets gebrou word wat met sorg vir Roelf bedek word en hom nie veel goeds voorspel. Die awend-ete staan op tafel klaar en almal neem hul plaas. Martjie deel die pannekoeke uit en gee die borde rond aan tafel. Sy en Sannie kan met moeite hul lag bedwing —dis anders wel gewoonte, as die twee eers reg op stryk is. Roelof, nes die ander, het alreeds sy pankoek opgerol, ’n stukkie afgesny en opgehap; maar ’t lyk of hy nie vorder nie: hy kou en kou en skuif die happie met sy tong van links na regs en weer terug.... Hy buk sy hoof, om op sy bord sy pannekoek noukeurig te beskou. En, nes ’n stortvloed wat ’n dam verbreek, wat nie meer uit kan hou nie, bars nou Martjie en Sannie al-meteens in tomeloos geskater los: in Roelofs pannekoek het hul ’n ronde lap van linne ingebak! Hy lag met hulle hart’lik saam en moet beken dat hul hom goed het beet geneem. Oom Kootjie sê: „Maar hoor, „jul jonkmans van vandag is darem swak, „in my dae moes ’n nooi dit tog probeer „om my so’n streek te speel,— „so waar het sy ’n soen gekry!” Van menigeen, wat aars’lend nog ontbeer, maak so’n woord meteens ’n held: Gevaarlik is die lig wat plotseling aan Roelofs oog ontskiet, ’n oënblik weifel hy, maar voordat iemand regtig weet wat nou gebeur, is hy reeds agter Sannies stoel, sy arm geslae om haar hoof, en op haar wang gee hy ’n ferme soen! Martjie is opgespring, en na die deur slaan sy op vlug! Maar ou oom Koot is klaar, en met sy arm keer hy haar voor; ’n oënblik nog, en Roelf het haar gepak, haar arme in sy sterke greep geklem en magteloos, en op haar frisse lippe, rood en vol, druk hy ’n soen! Albei het die slagveld nou ontvlug en Roelf het baas gebly. Hy neem sy stoel weer in —oor eie kordaatheid baie verbaas, bedremmeld en terneergeslae nou dat hy bemerk hoe ver hy is gegaan. Goedkeurend klop oom Kootjie op sy skouer: „Roelfie, ’t het my altyd maar gelyk „of jy te stadig is, „maar nou het ek gesien dat jy „gesny is uit die ou soort hout— „dis reg so, man!” As Martjie weer die ander môre vroeg die eetsaal binne kom vind sy vir Roelf reeds daar en yw’rig besig: naas sy bord het hy ’n stuk papier, en teken iets met potlood daarop aan, so besig dat hy selfs nie merk hoe sy die kamer binnekom, —of sou hy maar so maak? Dis net of sy ’n skok gevoel en op die drumpel moet bly staan: wat! is dan in hom, sinds wat daar gister het gebeur, so gansegaar en niks verander nie?! „Môre ou sus,” sê hy meteens, as sy reeds reg-oor hom haar stoel geneem het, maar van sy skrywe kyk hy nog nie op en bly nog so ’n rukkie spraak’loos sit. Met snelle handbeweging skuif hy nou papier en potlood weg en kyk haar in haar oë aan: „Ou sus, maar waarom kry ek dan „van-môre glad geen koppie koffie nie?” Martjie voel ’n rukkie in haar asem, snel-verleë is haar laggie as sy moet gewaar dat sy eers nou haar tafel-plig gedenk. Sy gryp die koffiekan en skink sy koppie vol; en dis vir haar ’n baie groot verligting as sy sien dat hy met brood en boter besig is en nie die blossie merk wat op haar wange vlugtig vlam;— maar half het sy ’n gedagte dat hy dit ekspres nie wil gewaar. Hoewel hy openhartig is en vrolik bly hy maar vir haar ’n raadsel: hoofskuddend, by homselwe, of pratend, as daar niemand by is nie, en somtyds stil in diep gepeins. Maar gou is altyd weer die skaad’wee weg en is hy weer homselwe, meestetyds vóor iemand iets kan merk. Martjie is haarself nie meer, sy voel haar op ’n weg gestoot waar sy nie meer op kan terugkeer nie. Vergeefs is elke dag haar moeite om, in praat en doen, vir Roelf dieselfde weer te wees soos vroeër. Ja, maar as sy aan haar selwe vra op watter tyd die „vroeër” terug moet sien dan weet sy nie, want duid’lik is dit tog vir haar dat reeds die eerste keer van hul ontmoeting sy al reeds nie meer haarselwe het gevoel. Maar nou moet sy daarby nog ondervind hoe sy ook tot haar ouers en haar vrinde en tot haar werk geworde is soos een wat vreemd is. Wonderlik is in ons lewe, ja, die kérings-punte, as ons moet gewaar dat so meteens ’n nuwe siel die leisels het geneem van al ons dinke en gevoel, en ons op duiselhoogte het geplaas van saligheid, vanwaar ons oog sig plots’ling kan verbeel in d’afgrond van die smart te kyk.

Illustration from Martjie
Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings