XIV.
Reading edition
Die dag daarna as Roelf sy kamer uitstap en die woonhuis nader, om sy oggendmaal te gaan gebruik, staan voor die stoep die kapkar, ingespan en klaar om weg te gaan. Martjie kom die voordeur haastig uit en tref hom by die treedjies aan. Blykbaar het sy nie verwag hom nog te sien of spreek. Sy’s wrewelig, en voel dat op haar wang ’n kleurtjie haar verraai; terwyl sy moeite doen haar laggie tot ’n aldags-plooi te dwing. Sy groet hom, met ’n uitleg, haastig-weg dat sy gaan kuier by tant’ Hannie Ras. Sy was al op van-môre vroeg en het haar ma vertel hoe sy reeds lang tant’ Hannie ’n kuier het beloof, en gister by die bruilof het tant’ Hannie haar gevra tog nou nie langer uit te stel. So kom sy dan van-môre tot die plan om daad’lik maar te gaan; en om die perde nie te veel die warmte te laat voel, sou sy maar vroeg vertrek: Op Uitkyk is dit heeltemal die reël dat Martjie so die perde en die kar tot haar beskikking het. En Roelof voel net dankbaar dat hy haar van-môre nie aan tafel reg-oor hom sal sien soos elke dag. Martjie het die plan bedenk, om gras eers te laat groei oor daardie oom se aanspraak by die fees van gister. Roelof ken sy al genoeg om wel te weet dat dit nie al te lang sal hoef te duur, dewyl hy nie meer voel as dat onwaarheid is gevoed, waar tussen hom en haar tog niks bestaan. Maar hoe dit haar getref het, nee, dit, voel sy, sal hy nooit besef of weet. Veertien dae sou haar kuier duur, maar nou’liks is ’n week verby of Martjie is op Uitkyk weer terug. Tant’ Mieta vra haar, eers van al, of ou tant’ Hannie haar dan nooit te ete het gegee— so maer het sy geworre. Roelof druk haar handjie hartelik; „welkom tuis, ou sus, „maar, alla wêreld, ons het jou gemis!” Waar en gul en openhartig nog, soos altyd, is sy woorde en manier,— maar haat’lik byna tog vir haar: bewysend hoe sy, onbegrepe nog, ’n vreemd’ling in sy boesem bly. En tog, met vlugtig opslag, blits haar oog in syne, asof, teën alle hoop en wete in, ’n dieper sin sig daar sou laat gewaar van wat hy sê. Maar ag, ’n halwe oënblik is genoeg vir haar om te verstaan dat sy vir hom „ou sus” net is gebly, en niks as dit alleen. Martjie weet nie waarom sy ’n stil verwagting had dat daardie kuier by tant’ Hannie tog verligting of verandering aan sou bring. Maar alles is soos altyd nog: die vrae is nog daar, en knaend nog die ou verlange na ’n skoon besit wat hare nie mag wees. En tog kom af en toe ’n glimlag haar verras in weemoeds-uur, en vra sy aan haarself of pa en ma wel ooit die rykdom het geken wat haar besitting is. Dan weer, meteens, bevind sy haar op boodskap weg, na Roelf, maar keer terug op halfpad, omdat sy nie weet wat sy hom eintlik het te sê— en voel haar dan soos een verstote in haar armoed, en verlaat. Martjie het nog nooit haarself gevra of Roelofs aansien by die mense haar bewoge het om hom te eer en lief te hê. Dat hy die eer en aansien moet gewin en dat sy, baie-maal, nou hier dan daar, ’n woord van lof moet hoor op hom— sy voel maar net dat alles so moet wees, dat net so goed die son op middernag kan skyn as dat ’t anders is; en in haar oë lê ’n kalme blik wat sê: „Ek weet dit al; „is dit maar al wat julle het te sê „van hom? „O, myne is hy, „en meer as een van julle s’n, „hy’s myne alleen!”
