XIII.
Reading edition
Op Soetlands-vlei is bruilof. Stoffies trek omhoog in al die paaie, dis karre wat op weg is na die fees. Uitkyks kapkar is ook een daarvan. Die beste perde van die stal is ingespan vandag, en tuie blinkend in die son. Van ver alreeds word karre en perde oor en weer herken. En doeke by die raampies uitgewuif bring groete reeds vooruit van vrinde, aan vrinde langtyd nie gesien. En daar waar paaie uitloop in mekaar word stil gehou om soene met mekaar te wissel eers en hande-groet, dan gaan die reis weer verder aan. Tafels staan gedek op Soetlands-vlei se werf, in koele skaad’wee, alles van die beste is daar op wat d’Afrikaanse huisvrou kan berei, gebakke, vrugte en blomme in bonte mengeling. Maar seker is die skoonste nog van al: die blosend-lief gesiggies, tawwertjies, soos blomme self met held’re somerkleure, ryklik rondgestrooi al tussen-deur die swarte drom van mense— laggies hupp’lend deur die praatgebrom, die grappies spattend hier en daar, en handjies blank en fyn wat help om rond te dien. Die vrolik-gulle lag van Roelf word nou en dan bo almal uit gehoor. Hy maak of hy die korswil nie verstaan wat doel op hom en Martjie. Wag, die ergste kry hy nog te hoor: In d’eetsaal is die gaste nou byeen, ’n glasie word getik en stilte aangevra vir iemand wat ’n woord wil praat. Die sprekers woorde is maar baie gewoon: hy wens die ouerpaar en bruid en bruidegom geluk, maar laat dan daarop volge: „vrinde, „dis wel waarlik te verstaan „dat so baie mooi gesiggies „as ons hier vandag „versameld sien „wel maklik menig jonkman kan beweeg „om ook ’n plan te maak.... „en ’k dink ek kan jul wel „verseek’ring gee „dat ons nie al te lang meer hoef te wag „om nogmaals so’n fees te vier”.... Gelag gaan op, en onderbreek die sprekers woord, wyl ieders oog op Roelof is gerig en hande-kloppies op sy skouer val. ’n Oënblik staan hy glad verbluf al-eer hy ’n laggie op kan wek om hom te red; maar klankloos is die laggie, kort en leeg. In ope-staande deur, net agter haar, is Martjie, op die sprekers woord, verdwene in ’n kamer, ongemerk en snel, vergeefs dat hoofde en oë sig nou beur om haar te soek. En in die kamer bly sy tot die uur van huistoe-gaan. Op t’rugreis na die plaas, is ’t wel opmerklik stil van-aand in ou oom Koot se kar. En twee wat op die agterbankie sit is bly dat ’t reeds so laat is en hul nie mekaar kan sien. Maar al te ongewoon is Roelofs swye vir oom Koot, hy draai hom om na agter toe: „maar wat is ’t dan met julle twee van-aand?” Roelf probeer aanhoudend sig te red met praatjie of grap, maar ’t wil van-aand nie vlot nie. Na ’n rukkie sê oom Kootjie weer: „my skepsels! maar het julle twee „dan rusie met mekaar gemaak?” En ’n eindjie verder: „Ma, so waar die kêrel sit ’n slaap, „hy het, so by-me-siel, „’n dop te veel gesteek! „Of sit hul in die donker stil te vry?” Dis laat al as die kar op Uitkyk kom, Roelf is agter uit gespring en loop na vore om die hek te open, dat oom Koot daar deur kan ry. Hy sluit dit weer en roep van ver aan almal goeie nag terwyl hy na sy kamer stap. Die plaasvolk is geroep deur Jaftas blaf en kom reeds nader om die kar en perde te versorg. En nog een het haar kamer gou gesoek, maar nie om rus of slaap te vind, al het sy haar ook haastig uitgekleed, die kêrs geblus en op haar bed haar uitgestrek. O, ’t klop so in haar hoof en in haar bors!.... Met woeste ruk het sy meteens die dekens afgegooi, en sit oorend.... die blou-wit maanlig straal die venster in en val op haar. Sy’s op, en voor haai tafel nou; sy was haar hande en gesig. en kyk na buite. Haelwit oor die waenhuis-géwel gly die maanlig. Tuingereedskap staan in klompies teen die muur, as rustend na die arbeid van die dag. En op die hard gelykte, breed en leeg, van d’agterplaas twee jonge boompies naas mekaar, elk éne by sy ronde skaad’wee-kol, beweëloos.... In Martjies oë lyk dit alles tog so onverskillig-dom, verlate, en met niks of niemand mee-gevoelend. Saggies en werktuiglik open sy die binnedeur wat uit haar kamer lei, en sluip op blote voete in die gang, nie wetend waar sy heen wil gaan. Gevoelloos is ook alles daar en leeg, in skeem’ring stil-geheimsinnig. Dof-glimmend staar die deure-knoppe haar onvrindlik aan net of hul vra: „wat soek jy hier”. Sy’s in haar kamer weer, en op haar bed terug, die maanlig op haar witte nag-gewaad, haar hande om die katel-knop geklem, haar voorhoof op haar hande neergebuig. En fluist’rend in die stilte van die nag, ontval haar lippe ’n klag, verwytend half: „O, wáarom tog nie, Heer, O, wáarom nie?!”
