XVI.
Reading edition
Maande en maande was daar reeds gerug van oorlog. Almal was die praat daaroor gewend; en elke ene het sy weg gegaan soos voor die tyd. En altyd werd die vraag gewoë weer en weer: sou’t kom of nie? Die vrese en die hoop het beurt om beurt mekanders plek geneem,— en baie het sig reeds gerus gestel. Maar plots’ling is die kans ten slegste omgeslaan; die vyand soek die stryd, geen mense-hand kan nou nog keer. Bedrywigheid is oral en gewoel. Te wapen! is die kreet. Leeftog word versamel en verpak. Van mens en dier word diens geverg. Die treine is vol. Banier en sang gelei die jonge burgers uit. En snikke, uit die skare, onderbreek die afskeids vroom gebed, en seënwense. Roelof kom nie uit nie. Wat sou’t wees? ’n Week gaan om, ’n twede, na die dag dat hy gesê het dat hy weer terug sou wees. ’n Briefie kom daar eind’lik met berig dat hy met d’eerste klomp was mee-gegaan, en op die grense hom bevind: Oënbliklik was hy met sy perd tot krygsdiens opgeroep, en baie werksaam sinds die eerste dag. Daar kon nie aan gedink word om nog eers na huis terug te kom. Die huis is stil op Uitkyk, net asof daar ene uit begrawe is. Met ywer is tant’ Mieta weer aan werk gegaan, om oorvloed van gebak en alles wat maar lekker is gereed te maak en weg te stuur aan hom, „haar kind”. En klere moet hy hê en warme dek. Sy het nie rus nie, nag of dag. En as die grootste drukte nou bedaar, en sy weer tyd het om te dink, moet Martjie en oom Kootjie baie-maal gewaar hoe sy in stilte, as sy dink dat hul nie sien nie, ’n traan van kommer uit haar oë droog. As Martjie ’t merk, die eerste keer, dan tref ’t haar skokkend: wat! sou ma dan waarlik dink dat hul vir Roelf nie weer sal sien nie? Nee, aan so iets het sy self nog nooit durf dink. Sou ’t moontlik wees? Sy kan ’t nie glo nie, nee! Maar van die dag af is daar in haar bors ’n wurmpie wat daar vreet, en op haar jong gelaat ’n trek van sorg, en in haar oog ’n blik van onrus bring. Vlugtig was sy afskeid daardie dag, sy maters was daarby, van oog tot oog en siel tot siel het niks gepraat. ’t Was nie anders of hy toe maar net ’n groet tot weersiens had gegee. En ’t sou die laaste groet kan wees van hom? van hom, besitter van haar hart en wese! Nee!! Haar lewe was hy, elke dag, ten spyte van die kloof wat haar van hom moes skei, sy wese so met hare saamgeweef dat sy so min haar kan verbeel in eie bestaan haarselwe te verlies as hom. Sal hy verdwyn in eew’gheids duisternis so sonder woord of teken eers aan haar? Sal sy hom eendag soek—sy weet nie waar— en sal hy as ’n vreemde wees wat haar nie ken; sal sy hom soek en nie kan vinde? O! Dan sal sy selfs te midde van ’n skaar van hemellinge eensaam voel, soos ene in die eew’ge kou alleen, van d’hemelruim. Die eerste offers is geval in vryheidskamp; die droewe mare hang op straat en plein. In klompies staan die mense, hier en daar en fluist’rend word gepraat van die, wat almal het geken en nooit die strate van hul dorpie weer sal mag betree. En ’t lyk of elk een aan die ander vra: O, wat het ons begin, en waar sal d’einde wees?! Op Uitkyk kom berig dat Roelf verwond is in die slag....! Daar’s stilte in die kleine kring; in drie paar oë wel die trane op van dank, dat wreder slag hul is gespaar. Maar deur die trane breek ’n glimlag heen van trots! Die wond is nie van veel beduidenis en Roelf laat weet dat hy in weinig weke weer hersteld sal wees. Die weke kom en gaan, die lange maande, een vir een. En soos ’n blits uit wolke, onweer-swaar, kom senuwee-skokkend keer op keer berig, van stryd en dood. Op Uitkyk is die rus verdwyn, oom Kootjie, ook, verdrietig nog daarby dat ouderdom hom bind aan huis en haard. Dis sondagmôre en gure winterweer, maar vroeg is reeds tant’ Mieta en oom Koot na dorp gery, deur niks was hul te keer nie want daar is ’n diens vandag vir die wat staan, en sterwe op die veld van eer. Martjie is allénig tuis gebly. Sy’s voor die venster, buitetoe haar oog gerig. En grys en driestig is die winterdag: in lange rye lê die wolke, swaar gebank, eenselwig-vaal en roerloos, of hul so nog honderd jaar kan draal in trage rus —die folterpyne onge-ag van harte wat daar kwyn, van harte wat daar ween en bid om sonneskyn. Die wind wil maar gaan lê, want moeg gesug is reeds die oue eike voor die deur. Net nou en dan kom nog ’n snikkie ná, as teën die ruit ’n dooie blaartjie tik. Starend-wyd is Martjies oog in vèr gedagtes heeltemal verloor: sy dink aan hom. En onverklaarbaar is die raadsel nog vir haar hoekom hy tog haar liefde het versmaad, sy dink daar elke dag nog aan. Sy dink daaraan hoe sy gesien het soms dat hy ’n stryd te strye had, asof hy in ’n weif’ling staan. En eendag, by ’n wending van haar hoof, so onverwags, het sy sy oog gevang, op haar gerig, vol trane en medely!.... Dis net of in haar oog meteens ’n flikkering is ontwaak, sy’s opgestaan en kuier snel die kamer op en neer, soos iemand met ’n plan wat nie kan wag nie: „wáarom had hy trane in sy oog „vir my? „wáarom, wáarom het hy my verstoot? „Ek sal, ek mag, „ek moet dit weet! „O, dat ek sou kan dink dat ek „te laat kan wees „om dit van hom te hoor! „Wat is dit wat my sê „dat ek geen dag verlore moet laat gaan „maar spoed moet maak? „Hoe het ek tog so lang nog hier kan bly!” By tuiskoms van tant’ Mieta en oom Koot is Martjie besig, by haar kas, haar klere uit te soek. Haar plan is gou vertel: sy sluit haar aan by die ambulans, die eerste wat weer gaan; verpleegsters word gevra, sy kan nie meer op haar laat wag, haar diens, as dogter van haar land, word ook geverg. Tant’ Mieta is bly, dat sy na Roelfie gaan, haar „kind”. Die moeder-oog het lang gewaar hoe Martjies hart aan hom gegéwe was. En welgetroos dat eenmaal sou gebeur wat ook haar moederhart verlang, het sy maar stil gewag, vertrouend op die tyd. Sy weet ook wel wat jonge harte is; en wat sou dan kan hinder dat die twee mekander vind?
