XII.
Reading edition
Sy voel haar weer vanmôre heeltemal haarself van vroeër dae lughartig, onbeswaard, en byna onverskillig teënoor Roelf. Sy kan haarselwe nie verstaan, gedenkend die beroering van gist’r-aand: Die weelde is dit, van selfgenoegsaamheid, versekerd van besitting groot en ryk —bo alle twyfel nou ge-openbaar— van liefde so oorstelpend dat daarnéwens alles is verkleind, selfs hy, vir-eers, die oorsaak van die vlam —onwetend van sy skuld. Te groot is in haar bors die skat, oormoedig gun sy sig die rykaards spel, wat speels sy rykdom van hom stoot in heerlik-onbestemd besef, dat hy in tydgenoegsaamheid kan wag op groter vreug, wat so gebêre bly vir dae wat kom. Dis waar en onmiskenbaar nog, helaas, dat Roelf geen roering voel soos sy. Maar magteloos had sy haar mee laat sleur in storremdraaiing van die skoon verrukking, wat meteens op haar was afgekom, en op sigselwe waar en salig was —die toekoms ongeag. Eén vir ene kom en gaan die dae en laat die vuur bedaar van elke roering, selfs die edelste, van elke drif of hoë gevoel; en nugter loer die werk’likheid weer in en vra: of dit waarskynlik is of dat ten uitvoer is te bring. Dit kan nie anders nie: die koel gelykmatigheid van Roelofs daëliks doen, dieselfde nog soos altyd, moet vir haar weer elke keer terugvoer tot haar twyfel, tot die rand van wanhoops donker afgrond; huiwerend ontruk sy aan die aanblik telkens weer haar oog, en voel of in haar are al haar bloed terugstroom na haar hart Met stil-weemoedig laggie dink sy nou terug aan d’eerste dae toe hul mekaar leer ken het, toe haar hart alreeds die soet geheim ontdek het en sig had verraai, in klein beroering eers van onrus, waarvan sy die grond nie wis nie. Aldag in die sonnetjie te sit van ’n mooi paar oë, daarby nog die gunsteling van pa en „goeie kind” van ma —daar’s menig jonkman wat dit Roelf beny. En hy sou doof moet wees en blind om nie die praatjies te verstaan en nie die laggies raak te sien wat oweral, en min of meer bedek, ’n teer verhouding onderstel wat tussen hom en Martjie sou bestaan. Ja, baie minder sou voldoende wees bemoeisug te laat glo dat tussen hulle twee die sakie klaar beklonke is. Martjie is nie minder, in die kring van haar bekendes, ’n mikpunt reeds geword van kleine plaëry; en onoortuiënd is haar woord as sy, verleë, ontken. Geskok voel sy haar eers deur al die praatjies, onheilig rakend aan haar hartsgeheim, dog oorsaak dat haar oog allengs aan nugtre blik gewen, en sy die vraag haarselwe durf te stel, skoon huiwerend nog: „sal ooit my liefde word beantwoord, „word ek eens „die vrou van Roelf, of nooit?!” Is ergens in die buurt of dorp ’n aandparty, waar elke jonkman word verwag ’n noointjie mee te bring, dan is daar nooit ’n ander een aan Roelofs arm as Martjie. Dikwels dink sy by haarself dat hy uit pligbesef vir haar maar altyd neem En welverstaanbaar is dit ook dat so’n gereëld samegaan met haar die mening sterk, dat hul verhouding so is as die wêreld dink, en tog, helaas, so ver van waarheid is. Pynlik is ’t vir haar, en hinderlik; en as hy, op ’n dag, haar weer kom vra om mee te gaan, verstout sy haar die wedervraag te doen, of hy nie ’n ander sou wil neem— hoewel sy lank al het gemerk dat hy, so min as aan haarself, gehegtheid het betoon aan een van al die nooiens wat hy ken. „Wat?” seg hy, „en dink jy dan dat ek „my noointjie somaar in die steek laat staan, „dat ’n ander een „haar weghaal voor my neus?” En so maak hy lughartig sig weer daarvan af, soos altyd sy manier maar is. Die woordjies so gedagteloos en lossies uitgebring deur hom: „my nooi”, vertoon die afstand juis aan haar, die peilloos diepe kloof wat hulle skei.
