← Table of contents
Martjie

XI.

Reading edition

Nie elke awend, na die awendmaal, bly Roelof in die huiselike kring: hy trek hom baie-maal terug om rustig in sy kamer hom te wy aan skryfwerk, mee na huis gebring, of aan ’n boek; en nie beseffend, blykbaar, hoe hy dan ’n leegheid nalaat in die kleine kring om d’awendlamp. Dan kom die wens by Martjie somtyds op —sy weet nie waarom nie— dat hy tog maar vir altyd weg mag bly! Die somer-aand is swoel; en ope, wyd, staan deure en rame, bundels lamplig strooiend buite-toe, tot diep in d’eike-blare. ’n Ligbaan val daar ook uit Roelofs venster, reguit oor die werfgras, op en oor die muurtjie van die tuin, die rose-struike treffend daar, en as gevange eind’gend in ’n rose-tros, ferwélig donker-rooi, bo almal, hoog, warmgloeiend teën die donker van die nag. In skaad’wee van die roseboompies, agter in die tuinpad, staan ’n bank; daar ’s iets daarop wat roer.... Dis Martjie: vroeg in d’awend reeds had sy haar kamer opgesoek. Maar swaar en stikkend was die lug, gevlug was sy na buite, asem soekend in die tuin. Màg sy, mag sy deur die struike heen haar oog laat gaan na Roelofs kamer, oor die werf? Ag, waarom nie? die raam en deur is wyd geopen vir die koelte, en sy hoor haar ma is daar, hoewel sy haar nie daarvandaan gewaar: iefd’ryk-sorgend bring tant’ Mieta so vir Roelof baie-maal ’n koppie melk, en bly ’n rukkie in sy kamer dan met hom gesels —’n moeder ook vir hom, nie minder as vir Martjie, haar eie kind. Die plaasvolk kom na huistoe uit die dorp, ’n deuntjie singend by die hees geluid van hulle konsertina, trappend op die maat; en as hul oor die baan van lamplig tree, wat val uit Roelofs kamer, draai die hoofde ’n oënblik om en word hul groet gehoor: „Naand basie!” Sonder op te kyk het Roelf die groet beantwoord; steunend op sy hand-palm rus sy hoof, sy oog gebonde in aandag op die vloer, wyl ou tant’ Mieta iets vertel.— Aan éen kant, op sy hoof en skouer, straal die lamplig helder. Martjie stoot die takkies van die rose eenkant toe, dat sy hom kan gewaar; en hongerig asof sy hom nie elke dag ontmoet, verslind sy hom in stilte met haar oog. Weeklaënd-hees „ha-ha” die konsertina nog van ver en begelei die krekie-sang —geluide wat nog meer aan Martjie laat gevoel dat sy alleen is, heeltemal, omslote in die donker, en vergeet—, O, heerlik met die saligheid alleen, wat opbruis in haar boesem, sterker golwend elke oënblik nou. Sy kan nie meer bly sit nie, spring meteens oorend en wandel snel die tuinpad op en neer tot bowe by die ou prieel, haar wange koelend teen die druiwe-loof, en drink, met lippe ope wyd, die koele naglug, teug op teug. Sy voel ’n drukking, pynlik, op haar bors; en op haar knieë sak sy neer meteens, haar hande op haar bors, haar oë na die sterre bo,— en magteloos, half biddend, half belydend, net soos een gevange in die krag-greep van ’n reus, ontbéwe aan haar lippe net die woorde: „God,.... ’k het lief!”.... ......................... Dis laat!.... Hoe lang sou ’t wel kan wees dat sy daar in die paadjie sit, alleen? Sy weet nie.... strykend met haar handjie oor haar voorhoof staan sy op, en voel so kalm en rustig as sinds maande nie.... Die ligte is oral uit, en alles slaap op Uitkyk reeds. Sy stap die paadjie af, die tuinhek uit, die sware skaad’wee van die eike deur, en loop die woning om na agter en bereik haar kamers buitedeur.

Illustration from Martjie
Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings