INHOUD. (continued 2)
Jan F. E. (Jan François Elias) Celliers translation
—Ek is seker dat sy onder die invloed staan van die bedriegster, wat vir Alida aan haar broer wil plak.
Sy kyk na die kaptein, wat sit en praat met meneer Delourens en meneer Landeau, en sy sien dat hy ook deur die raam na die twee meisies kyk, en sy dink:
—Ja, dit is maar so—dáár lê die gevaar.
Mevrou Delourens is maar min gewend om na te dink en verwerp alle bedenkinge wat haar gesag sou kon verswak. Sy vra nie eens of die toekoms van Alida nie miskien veilig sou wees as dit toevertrou word aan die man van eer nie, en of dit nie selfs haar plig sou wees om Alida aan hom te gee nie in geval die tere hart van haar dogter onwillekeurig aan hom geheg is. Sy begryp vanself dat ’n vergelyking tussen Marcel en luitenant Marthenay ongunstig moet uitval vir laasgenoemde, want dis bekend dat hy ’n eerlose lewe gelei het met ’n seker vrouspersoon, en sy militêre loopbaan is sonder roem of toekoms. Instinkmatig verban sy die gedagte aan so ’n moontlike keus tussen die twee mans, want dit kom op die laaste oomblik ’n plan versteur waaromtrent sy ’n onherroeplike besluit geneem het, en wat sowel haar onbewuste ydelheid streel as haar nog onbewuster moederlike selfsug. Sy het vir haar dogter ’n keus gedaan soos sy vir haarself sou gedaan het, en daarom kan sy ook nie twyfel aan haar wysheid en belangeloosheid nie.
Terwyl Jan Berlier verbygaan om by die mans aan te sluit, fluister Isabella Orlandi in sy oor:
—Wel, hoe lyk hy vir jou?
—Wie?
—My aanstaande, meneer Landeau.
—So, tussenbeie.
—Hy praat min, maar al wat hy dink sê hy.
Sy lag as sy dit sê, en hy sien haar helder wit tande, en vir die twede maal merk Jan dat dit ’n valse lag is. Hy vergelyk dit by die liedjies wat ’n mens somtyds snags in die veld hoor sing deur iemand wat in sy eensaamheid bang voel. Roerloos en spraakloos verslind meneer Landeau sy aanstaande met sy oë. Blykbaar voel hy vir haar so ’n soort hartstog as deur jonkheidsverval eerder versterk as verswak word in harte wat plotseling aangetas word deur ’n gehegtheid wat hul vroeër nie geken het nie. Hy is al op rype leeftyd, swaarlywig, en sonder iets wat hom onderskei van die gewone. Hy is onhandig, en laat hom gemaklik uit die veld slaan deur die ligte en gemaklike hoflikheid wat die krag en bevalligheid uitmaak van die omgang met mense. Naas die vyf-en-twintigjarige lewenslustige en welgemanierde Jan Berlier steek sy ouderdom en sy onbeholpenheid nog meer af. Van vèr kyk hy so na Isabella, oogverblindend skoon in haar wit klere, soos ’n afgod wat hy nie durf nader nie. En Isabella self lyk of sy selfs heeltemal vergeet het dat haar miljoenêr-slaaf nog aanwesig is....
Tussen die eiketakke deur val die sonlig in die bos, tot op die grond, wat bestrooi lê met dooie blare van vroeër jare. Die twee jongmeisies loop langsaam in die voetpaadjie, leunende op mekaar, hulle gesigte nou deur die son beskyn en dan weer in die skaduwee. Die ou, dikstammige bome staan beskermend oor hulle en omsluit hulle met ’n diepe kalmte. Die blonde Alida het ’n rooskleurige rok aan. Paula haar swart hare en haar rouklere laat haar bleek gelaatskleur nog meer uitkom.
Die spel van die lig in die blare vrolik hulle op; sonder moeite hervind hulle die ou kameraadskap van hul skooldae, en nou en dan wissel hul ’n glimlag.
Maar hul merk nie dat hul albei ’n bietjie opgewonde is nie. Albei het ’n groot geheim. Alida voel net baie moedig na die gesprek met haar ma dié môre, en sy brand van verlange om, deur vertrouelike mededeling, die agting en aanmoediging te win van haar maat. Paula dink met aandoening aan haar broer en aan sy liefde, wat sy moet bekend maak.
—Paula, onthou jy nog ons skoolpraatjies van die ou dae?
—Ag, ek dink byna nooit meer daaraan nie.
—Eendag het ons van trou gepraat. Sarie Raymond, van die hoogste klas, het maar altyd dié onderwerp ingelei. En sy het toe gesê: „Ek sal nooit ’n ander neem nie as ’n ryk man van adel.” So het ons almal, om die beurt, gesê wie ons wil hê. Ek het gesê: Ek weet nie. Maar jy, Paula, ek sien nog jou mooi swart oë, wat altyd die meeste lig uitgestraal het in die donker of in die moeilikheid, en jy het gesê, net of jy al ons ydele begeertes met geringagting beskou het: Om te trou is om lief te hê, en niks anders nie. Sarie het daaroor gelag, maar ons het lus gehad om haar ’n klap te gee.
—Jy ook? vra Paula, half spottend maar nogtans liefderyk.
—Natuurlik, ek ook. Verbaas jy jou daaroor? Het jy my vanmôre gehoor, dan sou jy nie verbaas wees nie.
’n Ligte blos op haar wange gee ’n uitdrukking van opgewektheid aan haar suiwer gelaat en verhoog die skoonheid daarvan, en haar stap lyk minder sleperig en lam as gewoonlik.
Paula kyk haar aan: sy hou van Alida se aanvallige gelaatstrekke, alhoewel sy die swakkerige sagtheid daarin afkeur, maar nou is sy heeltemal verwonderd oor die nuwe vuur wat daaruit straal, en meteens het sy ’n gevoel dat haar boodskap van haar broer in goeie aarde sou kan val. Sy vra aan Alida:
—Is dit vanmôre gewees dat jy gepraat het?
—Vanmôre, ja, sê Alida ernstig, het ek geweier om te trou.
Sy sê niks meer nie, om net ’n oomblik die uitwerking van haar woorde te sien en te geniet. Daar is altyd iets aantrekliks in vir ’n jongnooi om te praat van vryers wat sy afgesê het. Maar ’n gedagte van kieser aard laat haar daarby voeg:
—Al sou jy my geheimhouding belowe, sy naam sal ek nie noem nie.
Paula het al geraai, sy glimlag en voel ’n bietjie ongemaklik. Sy beef al vir hom wat haar ’n vredeboodskap meegegee het.
—Is dit onmanierlik van my om te vra waarom jy geweier het?
Alida swyg. ’n Goue straal val deur die blare net op haar blonde hare. Sy buig haar ’n bietjie vooroor en lag soos ’n voorjaarsblom toe sy antwoord:
—Om te trou is om lief te hê, en niks anders nie.
—Jy het dus nie lief nie?
—Nee.
—Niemand nie? waag Paula te vra.
Maar Alida bloos. Is dit omdat haar natuurlike teruggetrokkenheid haar sê dat sy te roekeloos gepraat het, of skrik sy omdat sy die waarheid verdraai het?
Paula stap op haar toe en slaan haar arm om haar ranke middel. En so, van naby, in die stille skaduwee van die bos, en hoewel sy byna al haar moed verlies en skrik vir die klank van haar eie stem, fluister sy haastig haar boodskap aan Alida in:
—Jy weet nie dat Marcel jou liefhet nie. Sy hele hart is joue. Sal jy toestem om sy vrou te word? Hy verwag sy geluk alleen van jou.
Altwee is ewe bewoë en slaan hul oë neer op die dooie blare. Gelyk hef hul weer hulle hoofde op, bloos albei, en soen mekaar, in trane.
Paula herstel haar die eerste. Met ’n nuwe geneëntheid beskou sy die skone wese wat op haar skouer leun en, sonder ’n woord te praat, haar suster geword het. Alida voel haar salig in die ontroering, maar sy word bang vir die diepte daarvan, hoewel sy verlang om dit altyd te voel. Sy vrees dat sy haar strafbaar maak deur daaraan toe te gee—en tog gee sy toe. Dis haar eerste onderhoud met die liefde, en dit ope meteens haar oog vir die geheime skuilhoeke van haar siel, wat tog nog so sluimerend en kinderlik is. Haar hart gaan ope soos die rose wat ’n mens in die aand nog geslote sien en wat die volgende môre op hul oopgespreide blaartjies die hemeldou ontvang.
—Wil jy? vra Paula sag.
En eindelik antwoord Alida, met ’n stem byna onhoorbaar swak:
—Ja.
Hand in hand stap hul aan—die een luisterend na die liedjie van geluk in haar boesem, die ander haarself vergetend en genietend ten volle van dié saligheid wat vir haarself nie weggelê is nie.
—Jy is nou my suster, sê Paula. Ek het jou baie lief. Marcel verdien tog so om gelukkig te wees! Hy is tog so goed vir ons. Ek kan jou nie genoeg van hom vertel nie. Na die dood van ons vader het ons wrede dae belewe. Maar uit die verte het my broer ons bygestaan met sy krag, met sy geld.
Met gemengde vreugde hoor Alida die loftuitinge aan, en voel verleë daarna. Sy dink nie baie aan geld nie en ken nie die betekenis daarvan nie. Maar sy stel haar ’n liefderoman nie voor sonder toepaslike omgewing nie. Onbekend met die lewe, het sy ’n valse voorstelling van die grootheid en adel daarvan. En hoe sou sy dit in werklikheid tegemoet tree?
Dis maar alles vlugtige oordenkinge. Haar tevredenheid is daar nie minder om nie. Marcel het haar lief, en Paula praat so mooi met haar. Sy voel behoefte om haar moed te ondersteun, en wil haar vriendin vra omtrent die toekoms:
—En wat gaan ons nou verder doen?
—Ma sal hier na Chenée kom om jou hand te vra vir Marcel.[3] Jy moet jou ouers daarop voorberei. Jou ma het jou baie lief, en wil jou natuurlik graag gelukkig sien; en jou pa luister maklik na jou ma.
Hulle is nou in die donkerste plek van die eikebos. Alida lyk ’n bietjie besorg; sy is nou uit die glansende liefdedroom en nader die werklikheid, waarvoor sy, as vanself, ’n bietjie bangerig voel. Sy vra aan Paula:
—Sal ek moet meegaan met ... met Marcel?
As kind het sy hom so by sy voornaam genoem, en nou sy sy verloofde is, durf sy dit nie meer doen nie—net of die naam nou haar lippe brand.
—Natuurlik sal jy moet meegaan as jy sy vrou is, sê Paula verbaas.
—Ja, dis waar ook. Maar gaan hy vér weg?
—Na Algiers, in Afrika.
—O, maar dis baie vér. Ma sal daar nooit in toestem nie.
Daar kom trane in haar skone oë. Sy voel dat haar geluk haar reeds ontval.
—Miskien sal hy, om jou genoeë te doen, vereers nie na Algiers gaan nie. Maar moenie sy loopbaan bederwe nie, Alida: dit lyk vir my gevaarlik—en syne is so veelbelowend.
—Ag, jy weet, my liewe Paula, dat ek nie alte dapper is nie. Ek sal nooit ’n Kibert word nie. Maar is hy dan nie al dapper genoeg gewees nie?
Paula kan haar lag nie bedwing nie:
’n Mens is dit nooit genoeg nie. Ons wat nie met die wêreld meelewe nie, Alida, ons wat net vir ons tuis sorg—ons kan ten minste die hande sterk van ons broers, ons mans, ons seuns, deur ’n kragvolle en verstandige liefde. Laat ons toon dat ons die voorkeur gee aan manne van moed, aan manne wat nuttig werksaam is.
—Aan sulke dinge het ek nog nooit gedink nie, sê Alida.
—En jy het vir Marcel lief.
—Al is hy nie meer nuttig werksaam vir sy land nie, ek sal hom nog net so liefhê.
—Nee! sê Paula, en met gedempte stem, net of sy vir haarself alleen praat, laat sy daarop volg:
—Wat my betref, ek sou dit nooit waag om my man se lewenswerk te belemmer nie.
Alida luister nouliks na haar, sy dink by haarself, en sê:
—Aangesien hy my liefhet, kan hy dan nie met my naby sy ma en naby my ouers kom woon nie? Ons sal so gelukkig wees by mekaar! Ons het daarvoor geld genoeg.
—Dit sal hy nooit doen nie, antwoord Paula. Sy is verontwaardig en vergeet in haar trots dat sy ’n vreedsame boodskap het; sy laat daarop volg:
—Dus is jy onwillig om met hom mee te gaan?
Alida begryp die verontwaardiging en antwoord met vuur:
—O, Seker;—Ek sal hom oral volg, want ek het hom lief. Maar ek sou wel, maar....
Sy bly ’n oomblik stil, weifelend, en, met grote sagtheid in haar droefgeestige stem, fluister sy:
—Ma sal nie wil nie.
—Jou ma het jou lief, en wil jou, voor alles, gelukkig sien.
—Ongetwyfeld, maar sy wil hê dat ek naby haar gelukkig moet wees, sodat sy daar ook deel aan het. Is dit nie natuurlik nie?
Paula dink aan haar eie ma, wat al so baiemaal afskeid moes neem, en tog nooit haar kinders van hul lewensweg teruggehou het nie. Sy bly stil, en haar donker oë het hul glans verloor.
Alida neem haar hand; sy laat dit weer los en begin te ween:
—Paula, ek is tog so bang. Maar ek het jou tog so lief.
Die woord van liefde aan Paula is eintlik vir Marcel bestemd. Soos ’n ouer suster paai Paula die verdriet van ’n vreesagtige jongere.
—Daar kom iemand aan, pas op! sê sy meteens, want sy hoor iets in die droë blare roer.
—Sal hulle kan sien dat ek gehuil het?
—Nee, nie goed nie, moenie jou oë vrywe nie.
En met sagter stem sê sy nog daarby:
—Hou goeie moed en vertroue, beloof jy my dit?
—Ja, ja!
—Arme klein sus....
Alida glimlag tevrede op die liefderyke woorde.
Om ’n draai van die voetpaadjie verskyn Isabella Orlandi en Jan Berlier.
Sy praat opgewonde:
—Kyk, sê sy toe sy by die twee meisies kom, en sy wys haar linkerhand, waarop ’n robyn en ’n smarag naas mekaar skitter.
—Twee verlowingsringe!
—Twee? sê Alida, laggend.
—Ja, meneer Landeau is windmakerig en grootmoedig. As ek julle nou net nog my juwele kon laat sien! Dis ’n hele kissie vol. Ek moes iets uitsoek, maar alles was so mooi, dat ek nie wis wat om te kies nie, toe sê hy eenvoudig, met ’n swierige handbeweging: „Vat maar alles.” Om ma te plesier het ek alles maar gehou. Kyk, hier, wat ’n mooi handbrilletjie: die handvatsel daarvan is heeltemal bedek met edelstene.
—Maar jou oë is tog goed, sê Jan.
—O, dis niks, so ’n brilletjie lyk deftig en vernaam! sê Isabella, en sy maak ’n buiginkie vir hom.
Terwyl sy laggend die komedietjie uitvoer, kyk Paula na die dooie blare wat aan die voet van die groot bome lê.
Mevrou Delourens kom nou ook nader, met kaptein Kibert en meneer Landeau.
Sy is ongerus dat haar dogter so lank uitbly en het aan haar gaste voorgestel om met haar te gaan wandel in die eikebos. Sy is weer gerus, nou sy by Alida is, maar sy merk wel dat Alida se gesig rooi is en dat sy ’n bietjie bewoë is.
—Ja, dis tyd dat ons held nou moet trek, dink mevrou Delourens.
Agter haar rug hou Marcel ook sy oog op Alida gerig. Hy sien haar aan met die verlange van ’n liefde wat nog in twyfel is. Maar gou slaan hy sy oë weer neer, en hy voel op die oomblik die salige tevredenheid van ’n liefde wat nie meer twyfel nie.
Mevrou Orlandi en ou-jongjuffrou Sonjon kom nou ook by die klompie. Hulle bring Paula en Marcel weg tot by die hek; daar neem die twee afskeid.
Vlak voor die ope hek, aan die ander kant van die straat speel ’n klompie kinders in die son, voor ’n armoedige huisie; hulle hare is deurmekaar, hulle gesiggies gloei van gesondheid, en hul loop op blote voetjies. Hulle juig van plesier en maak pret en rusie met mekaar. Hulle ma stap uit op die drumpel van die deur. Sy is ’n boervrou met ’n sagaardige, dog reeds verouderde, gesig.
—Hulle is arm, sê mevrou Delourens, en altyd kom daar maar meer kindertjies. Daar is nou al sewe, en....
—Sewe kinders! hoe afskuwelik! sê juffrou Sonjon, en met afkeer draai sy om.
—Dis die Heer versoek, voeg mevrou Delourens daarby.
En mevrou Orlandi sê breierig:
—Op ’n skildery sou hul mooi lyk, maar in die werklikheid is hul net lastig en smerig.
Die boervrou het hul gehoor, en sy sê binnensmonds:
—Jul wil ook hê, maar kan nie kry nie!
En sy tel die jongste kindjie van die grond op en druk dit liefderyk teen haar bors.
Isabella lag hardop en sê aan haar aanstaande, terwyl sy hom onbeskaamd in die oë kyk:
—Nee, kyk hier, kinders wil ek nie hê nie!
Meneer Landeau trek sy mond tot ’n gemaakte glimlaggie. Die geselskap is verleë om so ’n onbewimpelde en onwelvoeglike uitlating, wat net vir mevrou Orlandi snaaks is, want sy sê:
—Nee, maar dié Isabella!
Alida gee Paula ’n kus tot afskeid. En as sy so vooroor buie, bewonder Marcel die slapperige skoonheid van haar liggaamsvorm, wat haar ’n besondere bevalligheid verleen. Naas sy liefde ontwaak die begeerte om haar te steun en te beskerm. Hy sou sy krag wil afstaan aan hierdie trektouerige kind: haar swakheid vervul hom met byna godsdienstige ontroering.
Paula is nou alleen met haar broer op die terugtog na huis. Sy liefkoos die kindertjies van die arm boervrou; hulle het hul speletjies laat staan, en staan op ’n klompie bymekaar voor die mense wat hul so bekyk, en hul het gevoel dat die oë nie met vriendskap op hulle gerig was nie.
—Arme kleingoed! sê Paula, en verontwaardiging blink nog in haar swart oë. Ons tyd kan julle nie meer verdra nie.
Die boervrou vind dit lief van Paula en sê glimlaggend:
—Wat ’n klompie, nie waar nie?—en hul groei soos kole.
—God is goed en die wêreld is groot, sê Marcel, en hy dink daaraan hoe ’n plesier sy pa altyd gehad het as hy mooi kindertjies mag sien.
—Ja, meneer Kibert. My moeder het twaalf gehad; ek het drie broers in Parys en vier in Amerika. Hulle is vèr, dis waar, maar hulle vind hul bestaan.
Die kindertjies begin met Paula te lag. Sy wys na die span vetsakkies en sê:
—Die klompie sal jou nog eendag help.
—Ja, maar nou eet hul ons net die ore van die kop. My man moet aldag sweet om die mondjies vol te hou, en ons ou geldjies kan ons in een hand toemaak.
—Het julle nie voorraad nie?
—Ja, omtrent genoeg om ’n konyntjie te kan hou!
—Hou maar goeie moed, sê Paula, goeiendag!
En in die rooi handjie van die jongste druk sy ’n silwergeldstuk wat sy gebêre het om vir haarself ’n paar handskoene te koop.
In die bos bly Paula staan en sê aan haar broer, glimlaggend:
—Jy vra my nie na nuus nie, het jy dan self met haar gepraat?
—Nee, maar ek verstaan. Sy het ja gesê, nie waar nie?
—Ja, sy het vanmôre geweier om met meneer Marthenay te trou; dis ’n geheim. Sy het jou lief. Sy is fyn. In julle lewe sal jy moet moed hê vir twee.
Hy gaan nie in op die laaste woorde van haar nie. En selfs broer en suster praat nie verder alleen met mekaar oor die saak nie. Albei het eerbied vir mekaar se innerlike gevoel van kiesheid. As hul die hek ingaan teen die aand, sê hy aan Paula:
—Jy moet dit aan ma bekendmaak, hoor: jy is my beskermengel.
—Ja, sê Paula, ek sal haar dadelik vertel.
Later in die aand, as Paula haar alles vertel het, bly mevrou Kibert ’n lang tyd spraakloos; eindelik sê sy saggies:
—Sal dit ’n geluk wees vir ons?
—Sy is so sag en lief, antwoord Paula.
En die ou vrou sê weer:
—Dat sy hom tog gelukkig mag maak! Ek sou begeer dat sy minder geld en meer moed gehad het. Maar nou hy haar liefhet, sal ons haar ook liefhê. Laat ons bid vir hulle.
Sy dink daar nie aan dat die aanvraag van haar seun miskien afgeslaan sou kan word nie.
VI. MENEER EN MEVROU DELOURENS.
Elke môre sê Alida Delourens aan haarself dat sy vandag met haar ouers sal praat oor die huwelik, waaraan sy maar net hoef te dink om oorstelp te wees van blydskap; en elke aand moet sy ondervind dat sy nog niks daaroor gepraat het nie, en dan stel sy dit maar uit tot die volgende dag. Maar haar tyd word nou baie kort, want Paula het haar gesê dat haar ma op ’n bepaalde dag sou kom om te praat.
Die aand voordat mevrou Kibert sou kom, het Alida nog nie so ver gekom om met haar ouers te praat nie. Bekommerd, val sy eers laat aan slaap, en sy staan vroeg op om kastig tyd te win. Die ure gaan een na die ander verby, en daar is vrees in haar liefdevolle hart.
Nou lê sy haar ma voor en dan weer haar pa, om hul afsonderlik te spreke te kry; maar, soos dit altyd met bangerige mense gaan, vind sy die geleentheid nooit gunstig genoeg nie.
Haar ma is nou alleen in haar kamer. Haastig stap sy daarheen, maar onhoorbaar saggies sluip sy weer ewe gou terug, want, kyk, haar ma sit nou net te skrywe: dis maar beter om netnou weer terug te kom.
Met ’n kleurtjie op haar wange, gaan sy weer haar pa soek. Hy loop in die tuin rond—maar kyk, nou staan hy weer net met die tuinman te praat.
So vind sy wel honderd kreupele verontskuldiginge om haar boodskap uit te stel. Maar nou is sy eindelik vasbeslote om na die ete te praat. Dan voel ’n mens die lekkerste, sê sy—om haar nou maar weer van blaam te suiwer.
Ongelukkig val al haar mooi planne in die water, want op slag van twaalfuur kom mevrou Orlandi as selfgenooide gas aangestap, met haar mopshondjie Pistache op haar arm—sy is nooit sonder hom nie—en begin te babbel op haar familiare Italiaanse manier:
—Ek kom tog nie ongeleë nie? Dis vir my alte naar om alleen te eet tuis. Isabella is met haar kamerbediende na die stad om haar uitrusting te koop. Ja, die trouery maak alles deurmekaar. My kop is al heeltemal op hol.
Mevrou Delourens is vol van haar, maar sy sê darem:
—Wat ’n goeie gedagte van u om te kom.
En meneer Delourens verklaar op ernstige toon:
—Voorbereidsele tot ’n huwelik is inderdaad strydig met huislike rus.
Almal gaan nou na die eetkamer. Mevrou Orlandi wys op haar hondjie en vra:
—U laat tog toe dat my liefste saam met ons aan tafel gaan?
—O seker. Ons sal nooit so wreed wees om hom van u te skei nie.
Mevrou Orlandi sit Pistache op ’n stoel naas haar. Sy begin dadelik oor hom te praat.
—My liefste het gister tog so ’n groot verdriet gehad. Ons was op besoek by die oom van Jan Berlier—my dogter haar „flirt.” Hy woon naby Chamberie, in ’n huisie wat byna begrawe is onder die rose. Die ou het goeie smaak maar min beleefdheid. Hy woon maar daar in sy tuintjie alleen, en vergeet die mense en ook sy goeie maniere. Pistache het hom vergryp aan ’n jong roosboompie; toe het die ou kêrel so kwaad geword, dat hy hom buite die hek gesmyt het. My eer het gevorder dat ek toe ook moes uitstap, en ek het dit subiet gedoen; my dogter het ek daar agtergelaat. Jan het haar in die aand huis-toe gebring, en het toe allerhande verontskuldiginge vir sy oom gemaak.
—En meneer Landeau is weg? sê mevrou Delourens, ’n bietjie geskok oor die manier waarop mevrou Orlandi haar moederlike pligte waarneem.
Met die grootste gelykmoedigheid gaan mevrou voort:
—Meneer Landeau is weg. Hy maak nou pragtige profyte. My dogter sal hom eers sien as die huweliksdag haas daar is. Hy lyk op die oog nie alte mooi nie, en Isabella het kunssmaak. Maar sy sal daar wel gewend aan raak. ’n Mens word aan alles gewend, behalwe aan lelikheid as ’n mens eers mooi was.
Sy slaak ’n diepe sug om haar verlore jeug, en buig haar gesig oor haar bord—die gesig is violet-kleurig, onder ’n dik laag poeier; dis al lank dat sy haarself nie meer durf aankyk in die spieël nie.
Die bediende bied haar ’n bordjie vrugte aan; sy kyk dit verbaas aan, en sê aan mevrou Delourens:
—Wat, is daar dan geen dessert nie?
—Nee, sê mevrou Delourens, verwonderd oor so ’n vraag.
—Dis nou vervelend.
Mevrou Delourens verbaas haar oor die aandrang om dessert, en maak ekskuus:
—Ja, liewe mevrou, u het ons nie laat weet dat u sou kom nie. Ons het nie verwag die eer te hê u vandag te ontvang nie.
—O, ja, sê mevrou Orlandi, sonder die minste verleentheid, ek is redelik wat dit betref en ek begryp u heeltemal. Maar Pistache sal dit nie verstaan nie. Hy is gewend om elke dag sy drie soorte kos te kry en sy dessert. Hy sal nou dink dat ek hom vandag straf, en hy het dit nie verdien nie.
Ongeduldig laat mevrou Delourens gou ’n wit van ’n eier opklop met suiker, en dit word aan die verafgode diertjie gegee. Almal staan op van tafel, maar die lekkerbekkige hondjie bly in die eetkamer agter, dinkende dat daar nog wat te snoep sal wees—alhoewel sy meesteres hom smekend aanroep.
Die bediende sien hom, en nou die deur goed en wel toegemaak is agter dié wat aan tafel gesit het, gee hy Pistache ’n skop, dat hy tot aan die ander end van die kamer rol. Pistache tjank en brom. Maar verbaas is hy nie: die lewe lewer vir hom aldag sulke uiterstes op, en wysgerig neem hy die afwisseling op van liefkosinge en skoppe, van voorkamer en kombuis.
Net na die ete groet meneer Delourens die dames, met ’n aansien van besigheid en vernaamheid wat ’n bietjie komiek lyk op sy „rustige” gesig, en hy gaan na sy kantoor, waar een van sy grondhuurders vir hom wag. Dis ’n kwessie van agterstallige rekeninge. Die boer vra natuurlik om korting: werkvolk is maar duur, geld is skaars, en die oes was maar baie skraal.
—Wat, skraal! sê meneer Delourens met die skynbare hardvogtigheid wat hy aanneem teenoor sy onderhorige en teenoor dié wat vir hom goed moet lewer—’n poppehardvogtigheid wat hom te meer laat sien hoe swak en niksbeduidend hy is teenoor sy vrou.
—Wat, skraal! Waar is die oes van verlede jaar? Wat het jy daarmee aangevang? Het jy dit dan nie verkoop nie?
—Ag, meneer, u weet nie hoe laag die pryse van die wyn nou is nie. Ons het dit liewers maar self opgedrink.
Meneer Delourens se geldelike belange laat hom ’n oomblik die belang van sy „rustigheid” uit die oog verloor en hy wil net kwaad word, maar daar val sy oog op ’n boek op die tafel—dit lê tussen ’n storieboek en ’n boek oor wapenskilde—en die opskrif daarvan is: Hoe om vrede te bewaar met mense. Om die opskrif alleen het hy dit gekoop, en hy lees ook nie meer as die opskrif nie, wat so strelend is vir sy aangebore rustigheid. Hy koel weer af en stuur die boer weg onder ’n hoop mooi woorde, maar sonder enige afslag te maak.
Terwyl die boer uitstap en hom bekla omdat hy niks gewin het deur die onderhoud nie, kom Alida in die kantoor van haar pa. Sy bring ’n koppie koffie, na sy smaak klaargemaak, en sy reken op die invloed van die geurende drank, wat deur meneer Delourens in ontvangs geneem word met ’n suikersoet glimlaggie. Terwyl haar pa met klein slukkies die dampende koffie geniet, gaan sy sit en staan weer op en kan nie op een plek bly staan nie. Verleë en bangerig bring sy die eenvoudige woorde uit:
—Pa, iemand sal u netnou ’n besoek kom bring.
—Dis goed, my kind. Jou ma is in die voorkamer. En wie sal dit wees?
—Mevrou Kibert, is die antwoord, op gedempte stem, wat voldoende sou gewees het om die meisie se geheim te verraai aan haar pa as hy nie al lank afstand gedaan het van sy voorregte as huisvader, en afgeleer het om sy eie kinders te verstaan nie.
—Mevrou Kibert? Maar vandat sy weduwee is, het sy niemand meer besoek nie. Dis ’n eer wat ons op prys stel.
En hy trek sy ou postuurtjie orent om aan sy waardering grote vernaamheid by te sit, en hy voeg daar nog by:
—Sy weet maar min af van geselskapsmaniere, maar sy is darem ’n goeie vrou, en haar seuns het nogal vooruitgekom.
Alida vind die loftuiting onvoldoende en sê saggies:
—Haar man het my lewe gered, pa: weet u nog van die koorssiekte wat ek gehad het?
—Ja, ja, sê hy haastig.
Hy onthou ook dat die doktersrekening nooit betaal is nie, en hy het maar min lus om op die sakie in te gaan. Sou mevrou Kibert op betaling van die ou skuld wil aandring? Nee, so veel sal sy wel nie waag nie; en veral nou, dat haar seun en dogter so vriendskaplik op Chenée ontvang word, sal sy wel ontsien om sulke goeie maatskaplike verhoudinge te bederwe deur geldpraatjies.
—Het sy gesê sy sal kom? vra hy.
—Ja, pa.
En saggies sê sy daarby:
—Mevrou Kibert kom om my ontwil.
Meneer Delourens kuier op en neer in die kamer; dis goed vir sy spysvertering—as biblioteek word die kamer maar min benut, maar wel bepaald as die plek vir dié klein gesondheidsbeweginkie; maar nou bly hy meteens staan, want dis hom nou eindelik duidelik geword dat daar iets buitengewoons in sy huis gaande is.
—Om jou ontwil? sê hy besorg.
Met die plotselinge oorhaasting van weifelende mense verbrand Alida haar skepe:
—Wil u my nie graag gelukkig sien nie, pa?
—Seker, seker! bepaald wil ons dit.
En reeds sien hy allerhande moeilikhede tegemoet wat sy rustige bestaan kan versteur, ja, selfs sy spysvertering van vandag. En tog, hy het die mooie Alida lief, haar sagtheid stem ooreen met sy eie karakter; en met plesier sou sy swakheid haar aanbid en bederwe het as hy nie in toom gehou word deur vrees vir sy vrou nie, wie se gebare en gesagvertoning hy na-aap as sy afwesig is. Verdeeld tussen so baie verskillende aandoeninge, so ingewikkeld, dat hy bang begin word en sy lamgoedige gelaat ’n harde trek aanneem, vra hy om ’n uitleg:
—Jy praat van mevrou Kibert, en dan van jou geluk—ek verstaan nie.
Alida aarsel nou nie meer nie:
—Sy kom om my hand te vra vir haar seun.
—Vir die kaptein?
—Ja.
Op swakker toon laat sy daarop volg—en in die bangerige versoek wat haar woorde uitdruk, lê die hele krag van haar liefde:
—Pa, ek smeek u, gee u toestemming aan haar, en haal ma ook oor.
Het sy die laaste woorde nie uitgespreek nie, dan sou haar pa hom laat ompraat het. Hy onthou gesproke woorde net na mekaar, soos hul kom, en die laaste woorde onthou hy altyd die beste.
—Ma omhaal! Altyd maar ma! sê hy hardvogtig, en begin weer op en neer te kuier.
Hy verseker hom eers dat die deur goed toe is en hou sy oor daarby om te luister; en gerusgesteld daaromtrent, vaar hy parmantig uit:
—Jou ma! Weet jy nie, my kind, dat my toestemming van baie meer belang is nie? Die wet sê dit—en die wet is regverdig. Daar moet maar een baas in die huis wees—en as dié baas is die huisvader aangewese!
Hy kyk gou in die spieël om te sien hoe hy lyk as hy oppermagtig is. Dit lyk of hy heeltemal die ernstige onderwerp van hul gesprek uit sy hoof verloor het, en die bewende meisie is bang om dit weer aan te roer. Moet sy nou nog bowendien die naam Marcel Kibert uitspreek? Maar meneer Delourens kom weer tot die werklikheid terug en bespaar haar ten minste so ’n hernude daad van moed; hy herhaal woord vir woord wat sy vrou eendag gesê het:
—Die jonkman is ’n held. Dié heldhaftigheid maak hom ons syne.
En sy vrou wou daarmee sê dat Marcel Kibert gerus ontvang kon word in so ’n vername kring as dié van Chenée.
Meneer Delourens bedink betyds dat hy nie sy woord moet verpand nie—daarom haas hy hom om teenbedenkinge te opper:
—Maar ek glo dat jy ’n rustige bestaan begeer, my kind. Dan moet jy nie ’n man hê wat die wêreld wil gaan oorwin nie. Jy is kalm en vreedsaam van aard. Sal die kaptein in Chamberie kom woon?
—Pa, sê Alida, dinkend aan die manhaftige woorde van Paula, ’n vrou behoort by haar man te staan en hom nie te hinder in sy roeping nie.
—Sy roeping? Nou wel, dié kan hy ook hier by ons volg. Die soldate-garnisoen van Chamberie is ’n uitgesogte. Hy word hiernatoe verplaas—dis eenvoudig genoeg. Of wel, hy neem sy ontslag. Maar hy besit niks.
Alida sê niks. Haar pa merk dat sy stille trane stort. Dit roer hom, en hy hervind sy ware aard, wat deur sy ploertigheid en afhanklikheid so lank vervals was. Hy stryk saggies met sy hand oor haar wang:
—Moenie huil nie, my kind, ek wil jou gelukkig sien.
Maar ag, die halfslagtige wilsuiting vlug meteens soos ’n voël voor die jagter, want die deur gaan oop en mevrou Delourens—eindelik ontslae van mevrou Orlandi en ongerus oor Alida, omdat sy nie teruggekom het nie—kom die studeerkamer binne. Nou kan meneer Delourens die baasagtige houdinkie—waarmee hy hom getooi het voor sy dogter—maar nie weer vind nie, en die ontroering wat hy gevoel het vir haar, het heeltemal vervlieg. As vanself neem hy die deemoedige houding aan van ’n ondergeskikte voor die bestuurder van ’n besigheid. Beroof van alle huisvaderlike moed, en besluiteloos, behalwe tot vermyding van ’n famielierusie, maak hy dat hy die kamer uitkom, met die soetsappige woorde:
—Ek laat ons dogter aan jou oor, vrou: sy wil trou, en sal daar met jou oor praat.
En aan Alida sê hy:
—Daar is jou ma nou. Bespreek maar alles met haar. Wat sy doen, is wel gedaan.
En weg is hy, voor alles daarop bedag om met die hele wêreld vrede te bewaar.
Mevrou Delourens het haar man geen antwoord gegee nie; vir die eerste maal is sy afgunstig op hom: het hy nie vertrouelike mededelinge van Alida ontvang nie? Sy het haar dogter lief met ’n uitsluitende en allesbegerende liefde, en deur die oorheersing van dié oordrewe moederliefde het sy langsamerhand, sonder dit self te weet, die gevoelige en van nature reeds trae gees van haar dogter heeltemal tot soete onderdanigheid gebring. Soos ’n besitter van eiendom, verheug sy haar in die skoonheid van haar dogter, van haar hele jong lewe; sy koester haar nog soos ’n swak pasgebore kindjie. Hoe sal ’n hart, vol frisheid en teerheid, so ’n onafgebroke toewyding nie waardeer nie, nie aangedaan word daardeur nie? Alida dwing haar om, deur gehoorsaamheid, die alles oormeesterende moeder te behaag, sy voel die moederoog altyd op haar gerig; dog die liefderyke bewaking verlam haar kragte.
Nou die deur toe is agter haar man, trek mevrou Delourens party van haar pynlike triomf; sy is reeds op haar hoede teen ’n gevaar wat sy vooruit voel, slaan albei haar arms om haar dogter, en gaan naas haar op dieselfde stoel sit. Sy soen haar en sê in haar oor:
—Dis my gravin Marthenay hierdie!
Maar Alida praat niks, en haar trane vloei maar altyddeur.
—Jy wil sy vrou word, nie waar nie? En dit het jy aan jou pa vertel, in vertroue. Niks kan my meer aangenaam wees nie. Ons sal nooit hoef te skei nie—Marthenay het my dit belowe.
Sy wil alle twyfel uitvee omtrent die waarmaking van haar plan, en sê weer:
—Hy sal hier rangverhoging kry, en so nie, wel dan neem hy eenvoudig sy ontslag! Jy het genoeg, dat julle niks hoef te doen nie; buitendien, die geselskapslewe gee werk genoeg.
Die aanhoudende trane en spraakloosheid van Alida laat haar eindelik verstaan dat haar vrees gegrond is:
Het ek my dan bedrieg, my kind? Weier jy om sy vrou te word? Kan hy jou nie behaag nie?
Ja, so is dit; Alida bevestig dit met ’n hoofbeweging, en nou weet mevrou Delourens met sekerheid dat die hart van haar dogter aan Marcel Kibert weggegee is. Sy besit selfbedwang genoeg om haar spyt te verberg; en dadelik is sy bedag op planne om ’n gebeurtenis te verydel wat sy, sonder aarseling of nadink, as ’n ramp beskou; so word sy beheers deur haar gevestigde opienie en toomlose vooroordeel en veral deur haar moederhartstog: selfsugtig en nie in staat om ’n offer te bring nie. In Alida haar oor fluister sy:
—Jy wil seker nog nie trou nie. Wou jy nog ’n bietjie by my bly? Ek wil jou tog te graag gelukkig weet—daarom sal ek toestem om jou nie langer by my te sien nie—al sal die afskeiding swaar wees, as ek maar net weet dat jy gelukkig is en ek my elke dag met eie oë daarvan kan oortuig. Maar jy antwoord nie; is dit dan iets anders?... Het jy jou miskien aan iets oorgegee sonder my toestemming, en wil jy my daarin teëgaan?
Die verwyt maak Alida nog meer bedroef. Op vleiende toon sê haar moeder verder:
—Is ek nie jou beste vriendin en vertroueling nie? Het jy geheime vir my? My liefste, dit het ek nie verdien nie. As jy meneer Marthenay nie liefhet nie, maar iemand anders, dan moet jy my dit vertel: dan kan ons saam planne maak.
Nuwe hoop word wakker in die meisie haar boesem; eindelik sê sy met ’n suggie:
—Ja ma.
—En wie dan? vra haar ma, terwyl sy haar soen: Wie het die hart van my liefste gesteel? Ek sal my oor by jou mond hou: noem my sy naam.
Sy weet goed wat die naam is, maar wil dit nogtans hoor uit die bewende lippe.
Alida kan aan sagtheid nie teenstand bied nie. Sy droog haar oë af en skokkend nog oor haar hele liggaam na die tranebui, sê sy:
—Mevrou Kibert kom netnou.... Sy sal oor my praat ... en oor haar seun....
—Die kaptein?
—Ja.
—My liefste, wat ’n smart doen jy my aan!
Sy laat Alida alleen, gaan op ’n ander stoel sit en berg haar gesig in haar hande, as wanhopend.
Alida kom om haar te troos:
—Waarom die smart, ma?
Mevrou Delourens lig haar hoof op en antwoord met die grootste droefheid in haar stem:
—Omdat ek sien dat jy my wil verlaat. Meneer Kibert sal jou vér weg neem van ons af, miskien wel na Algiers. Wie weet of hy jou nie sal vra om mee te gaan met ’n kommando nie. Dié wat so hongerig is na roem en gevaar, kan nie lank liefhê nie. Jy wat so sagaardig en vreesagtig is, hoe kan jy hom liefkry?
Sy staan voor haar ma, met neergeslae oë, en sy sê saggies:
—O, ma, ek weet tog nie, miskien omdat ek swak is ... en hy sterk.
Met haar ken op haar hand geleun, kyk mevrou Delourens haar dogter nie aan as sy haar eie uitleg gee nie:
—Ek weet hoe hy daartoe gekom het om met jou te wil trou. Die Kiberts is drie-kwart bankrot vandat die dokter die skuld goedgemaak het van sy broer, die bankier. Daar word wel vertel dat daar geen bankrot was nie, dat alles afbetaal is. Maar ’n mens weet nooit. Die selfmoord, die ruinasie—dit lyk maar alles baie lelik.... En dan die oorlog in Madagaskar! Ja! ek weet die kaptein het hom fluks gedra. Ek het hom dit ook gesê. Daarvoor kon hy my wel dankbaar wees. Maar in plaas daarvan wil hy my my dogter ontneem. Al ons soldate kry koors in Madagaskar, elke een, en ek wil nie hê dat jy ’n siek man moet kry nie. Dis my plig om daarteen te waak. O, ek wil jou net gelukkig sien. Jongmeisies soos jy ken die lewe nog nie. Julle vurige harte ontbrand te gou vir moed, heldhaftigheid, naammaak, en dan dink julle dat die bewondering liefde is. Maar dis nie dieselfde nie, my kind. Te laat sal jy dit uitvind. Mag jy daar tog voor behoed word!
So verniel en vernietig sy, met kort beslissende woorde, die geluk van Alida, terwyl sy juis dink dat sy dit bevorder. Verder en verder is die meisie teruggewyk tot in die breë vensteropening, wat haar half verberg; sy begin weer te huil, in stilte, en wring wanhopend haar hande.
Mevrou Delourens staan van die stoel op en tree nou aanvallend op:
—Ek het so gedink dat jy sin sou kry aan meneer Marthenay. Het hy nie alles wat begeerlik is nie? ’n Mooi man, ’n mooi uiterlik, geld. Hy is offisier en lyk pragtig op ’n perd. Hy dans volmaak. Ek het hom onder almal uitgesoek. En dan sal jy ook naby ons bly. Dan sal ons ook deel in jou geluk. Wil jy ons dan die deel ontneem?
—Maar, ma! sê Alida.
—Kinders is tog ondankbaar. Jy, wat ek as swakkerige kindjie so opgepas het, en weer toe jy die koorssiekte gehad het—jy wil my nou gaan verlaat.
En as versagting van die selfsugtige klag laat sy dadelik volg:
—Ag, as ek maar seker was dat jy gelukkig sou wees! Maar as ek nie by is om te waak oor jou gesondheid nie, aldag bang om te hoor dat jy siek is daar vér, altyd vresende vir jou vrede en gemak, waarvan ek my nie met eie oë sal kan oortuig nie, selfs nie teenwoordig te wees as daar miskien kindertjies gebore word nie—dit sal dan voortaan my treurige bestaan moet wees....
Alida is bewoë deur die uitstorting van moederlike toewyding en liefde, sy steek haar arms na haar moeder uit:
—Ma, ma, ek sal u nooit verlaat nie!
Mevrou Delourens werp haar in die arms van haar dogter, wenend omhels hul mekaar.
—En ek sal nooit trou nie: ek wil by ma bly.
Die halwe oorwinning het so gou gekom, dat mevrou Delourens dit as voldoende beskou, en nie meer van haar planne praat nie nog die naam noem van Marthenay.
—Ek het my liewe klein Alida weer gevind, sê sy, en druk haar kind aan haar hart. Ek het jou tog so lief. Jy weet nie hoe baie lief ek jou het nie. Ek dink dat ek jou te veel liefhet. O, ek wil jou tog so graag gelukkig sien!
So vanself kom die woorde oor haar lippe op dieselfde oomblik dat sy die hart van haar dogter breek.
Op die skouer van haar ma geleun, sien Alida nou deur die raam ’n vrou in rouklere aankom; sy loop in die laning plataanbome na die huis toe. Langsaam, gebuie, kom mevrou Kibert, vol vertroue, haar vra vir Marcel. As Alida haar so sien aankom, maak sy haar bewend los uit die omarming van haar moeder.
—Sy is nie gewaarsku nie, dink Alida. Dis nou te laat. O, die arme vrou!
Mevrou Delourens verbaas haar oor die nuwe ontroering van haar dogter en dink:
—Wat makeer haar nou nog? Sou sy ’n twede maal van gedagte wil verander?
Alida gaan weg van die venster: dis vir haar te pynlik om die ou vrou te sien, sy kan dit nie uithou nie.
—Hoe swaar sal sy tog moet ly! Ek wil nie! Ek wil nie! sê sy by haarself terwyl sy van die een stoel na die ander loop.
Haar gevoel van medelye is selfs groter as haar groot, verminkte liefde. Om die onvermydelike verdriet van die ou vrou so veel moontlik te vertraag—van die ou vrou wat alreeds krom loop onder die sware slag van die noodlot—sê sy niks van mevrou Kibert se aankoms aan haar ma nie—haar ma, wat die wrede weiering sal uitspreek. Sy hou haar ma daar in die kamer deur allerhande praatjies te maak. Haar pa sou ongetwyfeld die saak op die lange baan skuiwe, geen besliste antwoord gee nie. Soos dit met swakkelinge gaan, wat hulle tevredestel met die geringste uitkomste, probeer sy niks verder as om mevrou Kibert ’n alte skielike verdriet te bespaar, en sy erken vir haarself nie dat sy haar reeds buite staat voel om die smart self van die ou vrou af te keer nie—die smart waaroor sy die eerste gehuil het en waaroor sy altyd sal huil.
Na enige oomblikke van angstig wag, word aan mevrou Delourens berig gebring dat mevrou Kibert in die voorkamer is.
—Ek kom, sê sy. Sy soen haar dogter, wat sy ten offer gebring het, en stap die gang in. Skaars het sy die deur toegemaak of Alida, met haar hand op haar hart, loop haar agterna na die deur; maar haar hand bewe, en sy kom nie so vér dat sy die deur oop maak nie.
—Ma! roep sy, deur die geslote deur. Ek het hom lief! ek het hom lief! Sê ja, ek bid u!
Ten laaste maak sy die deur oop, maar die gang is leeg. Mevrou Delourens is al weg. Sy het wel heel duidelik die laaste, hartverskeurende beroep gehoor. Haar gewoonte om haar dogter as ’n kind te behandel wat sy moet regwys, het haar verhinder om daar enige gewig aan te heg. Bedaard, sonder iets wat haar stuit, oortuig dat sy handel soos ’n liefhebbende en vooruitsiende moeder, gaan sy mevrou Kibert ontmoet; en by die tyd dat sy die deur van die voorkamer oopmaak, het sy al in haar gedagte die uitgesogte en beleefde woorde van haar weiering agtermekaargesit.
Sodra Alida vind dat sy daar alleen is in die kamer, voel sy haar heeltemal terneergeslae. Sy bly onbeweeglik staan, hygend, skuddend van bewerasie, klaar om flou te val. Meteens druk sy haar hande teen haar hoof, loop haastig die trappe af, en vlug die huis uit in die tuin in. Sy hardloop om haar verdriet te gaan verberg onder die skaduwee van die eikebome, op dieselfde plek waar sy uit Paula haar mond gehoor het dat Marcel haar liefhet. Sy gaan sit op die dooie blare, sy wil selfs gaan lê op die sagte blare en daar só bly, sonder beweging, soos ’n roerlose en verlate ding.
Dis in die hoekie, vol misterie, waar haar jong hart sy eie jeug leer ken het, waar haar oog vir die eerste keer die skoonheid en lieflikheid van die natuur leer sien het, waar haar siel meteens die saligheid van die lewe begryp het. Reeds beskou sy die plekkie as die enigste heiligdom van haar teer bestaan, vandag afgesluit, en moedeloos dink sy aan die dood.
Sy het nooit geweet hoelank sy daar in die bos gebly het dié dag nie. Al haar trane het sy daar uitgeween. Sy het aan haarself gesê dat sy haar verloofde in gedagte trou sou bly, en aan niemand sou behoor nie, terwyl sy nie syne kon wees nie. Maar sy het nie begryp dat die belofte, aan haarself, ’n versaking inhou nie: so oordeel sy haarself dan ongeskik vir die lewendige liefde wat stryd voer en oorwin.
VII. DIE HUWELIKSAANVRAAG.
Langsaam en sukkelend kom mevrou Kibert aangestap in die laning van plataanbome. Vir dié plegtige geleentheid het sy haar nuutste swart rok aangetrek, en met besondere sorg het Paula haar hare en haar weduweesluier in orde gemaak.
—So lyk ma nou net mooi, het haar seun en dogter haar verseker toe sy voor die stoep van Maupas in die rytuig gestap het. Hoewel sy daarop teë was, het Marcel vandag vir haar ’n mooi Victoria-rytuig bestel, in plaas van hul ou rytuig.
Liefderyk knikkend met haar hoof na haar kinders, het sy vol vertroue weggegaan, soos een met ’n boodskap van vrede en geluk. Maar sy dag dat die pad baie kort was, en die vreemde perd baie vinnig. Sy wou afgeklim het voor die hek van Chenée, sodat hulle haar ongewoon deftige rytuig nie sou sien nie: dit laat haar verleë voel, net soos iemand wat opreg is en ’n leuen vertel.
—Sit my hier maar af, het sy aan die koetsier gesê, ek sal verder te voet gaan.

Langsaam en sukkelend kom mevr. Kibert aangestap in die laning van plataanbome.
So stap sy dan aan in die breë laning, leunend op haar swart sambreeltjie. Haar hart klop tog so. Ondanks haar groot lewensmoed het sy bangerig gebly: die wêreld skrik haar af. Sy beskou die wêreld as ydel en beuselagtig, maar is darem tog bang daarvoor. Haar ingebore opregtheid en braafheid is oorsaak dat sy maar min verstand het van die oordrewe modemaniere, en die alte afgelekte woorde, wat so goed berekend is om ’n selfsugtige of kwaadwillige ondergrond van ’n mens se gedagtes te verberg, of wel die leegheid daarvan, soos ’n mens ’n graf met blomme toemaak. Dan, dink sy alte baie dat sy onhandig is in haar maniere, en dit laat haar ook ongemaklik voel, nie vir haarself nie, maar vir haar seun, want vir sy geluk wil sy haar op haar ou dag nog aantreklik maak.
Weet sy dan nie vooruit wat die toekoms van haar sending sal wees nie? Kan iemand dan nalaat om met blydskap die aanvraag in te willig van haar liewe Marcel, wat hom in sy hele lewensloop so waardig betoon? Al is sy ook sy moeder, haar liefde het haar nie blind gemaak nie as sy besef wat ’n aantreklikheid daar moet uitgaan van sy lang postuur en sy fiere houding—soos ’n jong boom—,van die gebiedende manier waarop hy sy hoof dra, van sy skone, welbesnede gelaatstrekke vol wilskrag, van sy oë veral—afstotend of aanhalend na gelang sy blik hard of sag is—groen-grys oë vol lewe en so opmerklik juis van uitdrukking. Wat sy van hom weet, die arme ou moedertjie, dink sy dat alle vroue op sy gesig moet lees: die deursettingsvermoë wat met waardigheid, byna met minagting, die teenhede van die lewe dra; die daadwerklike goedaardigheid; die lewendigheid en beslistheid in woord en gebaar—tekens van ’n woelende, vooruitstrewende en ryke gees, van ’n gestaalde leiersgeaardheid. Nee! hy behoor tog nie tot die geslag van popperig-mooi heertjies, laf en voos—’n geslag wat onder éénselfde wêreldse vernis, en éénselfde mode-eenvormigheid, alle dor, selfsugtige en bankrot siele insluit. Sy, wat sy lewenskameraad sal word, om hom lief te hê, met hom te ly en te waag—sy sal nie weet wat ’n dowwe en alledaagse bestaan beteken nie; hy sal haar hart en haar gees verryk, hy sal al die bronne van haar vermoëns ontgin en haar bring tot die volledige opbloeiing wat die skoonheid uitmaak van die menslike bestaan.
Bowendien, weet mevrou Kibert dan nie van haar dogter dat haar besoek aangekondig is, en dat haar aanvraag ingewillig is nie?
So kom sy dan aan by die buitehuis van die famielie Delourens—gerus, en tog vol vrees. Sy eerbiedig Marcel se keus, hoewel dit nie ooreenkom met haar begeerte nie; en, vergetende wat sy self sou wens, wil sy haar onderwerp aan die wil van haar seun en al haar kragte inspan vir sy toekoms; sy dink daaraan dat sy binne enkele oomblikke ’n kind by sal kry in haar famielie en in haar liefde, en sy is klaar om alles vir haar te doen.
Voordat sy aan die deurbel trek, bly sy ’n rukkie staan om asem te skep en om die klop van haar hart te laat bedaar. Sy sien nie die venster waar Alida staan te huil nie—Alida, wat haar sien aankom en haar ontsteld en verslae aankyk.
In die voorkamer word sy deur meneer Delourens ontvang, en sy beskou dit as ’n goeie voorteken. Die niksbeduidende mannetjie sal haar tog onmoontlik van haar stuk kan bring en sal haar selfs in staat stel om heeltemal by haarself te kom. Na ’n paar beleefdheidswoordjies, wat hy uitstamel, sê sy, omdat sy die doel van haar koms nie langer kan verberg nie:
—U vermoed al, meneer, waarom ek na Chenée gekom het.
En sy glimlag vriendelik—fris en lief is die glimlag, selfs nog op haar ou dag, haar reine en byna nog arglose siel word daarin uitgedruk.
—Nee, mevrou, ek weet dit glad nie. Glo my, ons is baie vereerd met u besoek. Dit spyt my dat my vrou nie hier is nie.
Verleë, bang om ’n lastige verantwoordelikheid op hom te neem, kan die arme man nie op één plek bly staan nie. Hy trek hard aan die koord van die kamerbel. Die diensmeid kom binne.
—Het jy mevrou gesê daar is mense?
—Ek soek haar, meneer: mevrou is nie in haar kamer nie. Is mevrou nie miskien by die jongejuffrou in meneer se kantoor nie?
—Ja, ja! Hardloop en roep haar. En om tyd te win, herhaal hy nog ’n keer:
—Dis jammer, mevrou, dis baie jammer. Maar u sien, sy word geroep, die meid gaan haar waarsku. Sy kan nie lank wegbly nie: dit spyt my tog so dat u moet wag.
—Wat ek te sê het, meneer, gaan u net soveel aan as mevrou Delourens, sê mevrou Kibert; sy is vol van haar boodskap, kyk na die vloer en dink daar nie aan om te let op die manier waarop hy hom probeer te red nie.
Meneer Delourens spring verskrik van sy stoel op: Sal hy waarlik alleen moet staan om antwoord te gee op so ’n lastige vraag? Sal hul hom só blootstel aan die eerste aanval? Nee, maar dit kan tog nie: sy vrou moet absoluut by die onderhoud teenwoordig wees.
—Maar sy sal kom, ek is seker daarvan, sê hy gejaag-haastig. Wag asseblief net ’n bietjie, mevrou, my vrou sal tog alte jammer wees as sy u nie sien nie. En met haar sal u baie beter kan praat, natuurlik, natuurlik. Terwyl hy nog maar altyd woorde op woorde stamel, trek hy weer aan die belkoord; hy kan dit nie meer hou nie en maak die deur oop:
—Ekskuus, mevrou, ekskuus!
Net soos hy die gang wil ingaan, lig mevrou Kibert eindelik haar oë op van die vloer en gewaar hom in die beklaenswaardige, onrustige houding. ’n Man wat heeltemal weggesyfer is, is nog meer te bekla as ’n niksbeduidende man. Sy skaam haar vir sy part en dink:
—Ja waarlik, dis maar beter om te wag tot mevrou Delourens kom. Aan hierdie sukkel sal ek tog niks van belang kan sê nie.
’n Donker voorgevoel bekruip haar goeie vertroue. Sy vergelyk in stilte hierdie armsalige bog met haar eie oorlede man, wat onder geen omstandighede sy kalmte, deursig en beslistheid verloor het nie, en oombliklik alle harte tot hom getrek en gerusgestel het.
—Wat ’n verskil! dink sy meelydend, want sy kan niemand verag nie. Sy dink nie aan haarself nie, hoe sy van haar eie seuns en dogters manne en vroue gemaak het wat die lewe dapper tegemoet tree.
Solank meneer Delourens haar oorstelp met allerhande praatjies oor sy gesondheid, slaan sy ’n liefdevolle blik op ’n portret van Alida, as kind:
—Sy is maar min verander, sê sy by haarself, so skoon, so sag soos ons haar sal liefhê! Sy is fyn en swakkies, maar sy sal sterker word. Ons sal haar versorg en liefderyk behandel. Van hierdie binne-huisblom sal ons ’n fris, vry veldblom maak. . . En dit kan wees dat sy, eerder as ek, oorsaak sal wees dat hy meer tuis sal wees by ons. Ek is al oud, en elke jaar word dit vir my swaarder om altyd weer afskeid te neem.
Aan haarself beken sy wel dat sy maar ’n swak vrou is.
Daar kom mevrou Delourens eindelik binne, soos ’n warrelwind. Vresende dat haar man al alles bederwe het deur ’n onversigtige uitlating, het sy so gou as sy kon die trappe afgekom. Die besef van haar gestrenge oorheersing was nie genoeg om haar gerus te stel nie—sy weet skaars wat ’n despoot sy is.
Met talryke mooi woordjies maak sy ekskuus by mevrou Kibert dat sy so lank weggebly het. Net so gou as mevrou Kibert haar sien, verloor sy byna al haar selfvertroue. Wat kan sy vir goeds verwag van hierdie nog mooi en behaagsieke vrou, met haar alte hoë stem, wat so neerbuigend en ongevoelig klink, terwyl haar alte gemaakte beleefdheid nouliks haar trots en koudhartigheid verberg. Mevrou Kibert begryp onmiddellik hoe verskillend hul opvatting moet wees van die lewe en van ernstige sake. ’n Afgrond skei hulle van mekaar. Sy het ’n stil gevoel dat al wat vir haar gewigtig is, hier as van geen gewig sou wees nie, en dat toewyding, moed, geeskrag, werk—die ware menslike adel—netnou hul krag sal moet meet met die wêreldse oppervlakkigheid, wat sy tuis as niksbeduidend beskou het, maar waarvan sy die onrusbarende werklikheid meteens gewaar in hierdie voorkamer. Sy voel hoe arm en oud sy is, en sy roep die hulp van God in.
Onderwyl oorstelp mevrou Delourens haar nog maar altyd met beleefdheidjies en komplimentjies; en uit die bangerigheid, wat sy wel verwag het, wil sy party trek. Terwyl sy van die verdienstelikheid van seker famielies praat, neem mevrou Kibert die kans waar om met haar boodskap uit te kom:
—Hoe goed van u, mevrou, om so te praat. Ja, my seuns het goeie werk gedaan. En in belang van één van hulle, van Marcel, kom ek met u praat.
Sy dink daar nie aan dat sy op dié manier te verstaan gee dat sy nie sou gekom het as sy nie moes kom nie.
Met teerheid praat sy van Alida, uit haar hart kom die woorde:
—Marcel kon haar nie sien sonder van haar te hou nie. Hy onthou nog hoe sy hom as kind eendag gesê het: „Ek voel my so aangenaam by jou, ek wil by jou bly.” Hy dra my op om u haar hand te vra vir hom. Hy gee die versekering dat hy haar gelukkig sal maak. Sy geluk sal u vir altyd verseker.
Mevrou Delourens, anders so gou klaar met haar woorde, bly nou stil, sy wil die ou vrou op dié manier nog meer verleë maak. Dit geluk haar ook! Dog op sagmoedige toon gaan Marcel se moeder aan:
—U weet dat ons geen fortuin besit nie. My seun het daar nie aan gedink nie, omdat hy liefhet. My man het aan sy kinders meer eer as rykdom nagelaat. Dog, alhoewel hy nog jonk is, het Marcel reeds ’n skitterende verlede wat veelbelowend is vir sy toekoms.
En met waardigheid voeg sy daarby:
—Dis ook ’n fortuin.
—Ons is baie vereerd, sê meneer Delourens eindelik; daar is ’n stryd gaande by hom tussen die vrees om die goeie mevrou Kibert pyn aan te doen en die vrees om sy vrou te vererg.
Met één kyk na sy kant toe lê sy vrou hom stil-swye op. Waar bemoei hy hom mee!?
—Ja, waarlik, ons is baie vereerd, sê sy ook, met ’n berekende langsaamheid van uitdrukking. Die eer is vir ons ’n verrassing. Ons was daar nie op verdag nie.
Mevrou Kibert is verbaas, en vra haarself af:
—Het Alida waarlik versuim om met hulle te praat? .... of word ek vergek gehou?
—Die lof van u famielie hoef nie meer verkondig te word nie, sê mevrou Delourens verder, bedaard. Want ons weet, mevrou, dat u man hom geruïneer het om sy broer te red—ongelukkig kon hy nie verhinder die selfmoord en—die likwidasie nie.
Op dié manier uitgespreek, beteken die woord likwidasie dieselfde as bankrot. Mevrou Kibert voel die venynigheid van hierdie steek. Sy bring ’n boodskap van vrede en liefde, en vyandigheid tree haar tegemoet: dié onreg jaag haar bloed na haar gesig, en dit skemer voor haar oë. Sonder verder bewys weet sy van nou af dat haar saak verlore is; tog bring sy nog in:
—Maar daar was geen likwidasie nie. Kapitaal en rente—alles is uitbetaal. Daaromtrent bestaan nie die minste twyfel nie. Die eer van ons famielie is heeltemal onbevlek.
Sy dink aan die moed van haar man en aan die verlore huweliksgeld van haar arme Paula. Waar voor is al sulke opofferinge dan? Het alleen die rykdom dan die voorreg om eerbied en ontsag af te dwing?
Haar lydensbeker is nog nie heeltemal leeg gedrink nie. Met die gemak wat eie is aan die wêreldse lewe, gaan mevrou Delourens verder, koud, en met ’n glimlag op haar lippe:
—Die kaptein het ’n skitterende loopbaan gehad. Nog so jonk en nou al eretekens ontvang! Ek moet u sê dat niemand sulke verdienste meer prys nie as ek. Hoe swaar moet dit tog vir u gewees het toe hy so lank weg was in Madagaskar! Ons het tog so baie aan u gedink! Ons het u beklaag maar ook beny . . . . En is hy nou heeltemal herstel van die soort koorssiekte waarvan ’n mens so langsaam genees?
Die maat is nou vol: mevrou Kibert kan nie meer antwoord nie. As sy probeer om te praat, sal sy seker in snikke losbars. Dié allerheiligste van haar siel word aangeraak—haar kinders. Offer maar jou fortuin op om die famielienaam te red, gee jou seuns aan hul vaderland, stel hul maar bloot aan die dood—daar kom die troueloosheid en leuenagtigheid en mistrou die belangeloosheid en heldhaftigheid en verklein dit voor die askoekklompie wat die wêreld genoem word!
Maar mevrou Delourens bou op wreedaardige manier voort op haar behaalde voordeel, met speldeprikke kwel sy haar ongelukkige ontwapende slagoffer:
—Ek kan u niks met sekerheid sê nie, mevrou, voor nog teë. Ek sal u aanvraag getroulik aan my dogter oorbring, en u sal gou haar antwoord weet. Dis mos die mode nou in ons dae om jongmeisies te vra hoe hul dit graag sou wil hê. Maar ek kan wel vooruitsien dat die vooruitsig van te moet skei van my, die liewe kind skrik sal aanjaag; sy is so gewend om altyd by my te wees; ons was nog nooit van mekaar af nie. Ek bewonder u krag. Een van u dogters is sendelinge, nie waar nie? Twee van u seuns is in Asië. Die kaptein gaan na Algiers. Hoe dapper is u tog, en wat ’n voorbeeld gee u aan die moeders wat hul kinders alte liefhet!
—Dink u dan dat ek hul minder liefhet as die ander moeders? dit sou mevrou Kibert haar wil vra. Ja, so goed as ek kon, het ek al die losskeuringe gedra, en ek het daar selfs stil onder gebly, om nie die moed te ontneem aan dié wat vér van my moes weggaan om ’n groot roeping te vervul nie, in plaas dat ek hulle wou in die pad staan en beperk deur hulle by my te hou. Ek het my altyd gedwing om hulle aan te moedig tot gebruik van al hul kragte, na die wil van die Heer. En, wat u nie weet nie, mevrou, die skeiding verminder volstrek nie die liefde tussen moeder en kind nie, maar veredel en louter dit. Dit neem hul natuurlike selfsug weg en bedeel hulle met die onsterflike skoonheid van selfverloëning en opoffering, waarin vreugde en toewyding één word.
Maar dit alles sê sy nie, haar lippe bly stom. Later sou sy haar weer die minste besonderhede te binne bring van hierdie onderhoud, om al die vernederende daarvan te besef, en selfs in haar vroomheid te dink dat dit ’n straf vir haar was, omdat sy te hoogmoedig was op die deugde van haar talryke kinders.
Mevrou Delourens bly nie lank stil nie.
—Alida is van natuur wankelmoedig. Sy is nog so jonk, nog maar ’n kind. Sy het al meer aansoeke gehad, mevrou. Dis nou maar tussen ons gesê. Die voordeel van die ander is dat ons dogter nie van ons behoef weg te gaan nie. Dis iets wat swaar weeg by Alida. Adel, fortuin—alles kom daar nog by. As die kaptein tog maar wou toestem om nie weg te gaan van Chamberie, om te bedank, sodat hy naby ons kan bly, en naby u ook! Het hy dan nog nie genoeg roem behaal om tevrede te wees nie?
Mevrou Kibert staan op, en sê eenvoudig:
—Ek weet nie, mevrou; ek dank u.
Sy bedank haar vyand, wat haar so onnodig wreed gemartel het. Nog nooit het sy haar so swak en ontdaan gevoel nie.
Mevrou Delourens doen haar uitgeleide; tevrede met haar oorwinning, het sy nou jammer vir haar, en oorstelp haar met mooi woordjies oor haar gesondheid, oor haar kinders, wat help om ’n nuwe vaderland oor die see op te bou, oor Paula, so fier en skoon, wat nie genoeg by Alida kom kuier nie. Sy hou haar dogter—dus kan sy nou wel goedgeefs wees met mooi woorde. Dit lyk of sy op die allervriendelikste manier haar allerbeste vriendin na die voordeur bring. Agter haar kom meneer Delourens op ’n trippelstappie aan en kan nie genoeg klein buiginkies maak nie . . . .
As mevrou Kibert weer alleen is in die laning van plataanbome, haal sy diep asem, soos iemand wat aan ’n groot gevaar ontsnap het. Die vrou was sleg en hard vir haar. Hoe goed het sy geweet wat haar sou seermaak, in haar gevoel en in haar trots. Wat ’n valse uitleg het sy gegee aan die gebeurtenisse in mevrou Kibert haar famielie, waar die ou vrou eer op stel! Haar lewe van daaglikse, ongesiene toewyding het haar nooit geleer dat moederliefde nog makliker ’n moederhart kan verklein as verruim nie; anders sou sy wel begryp het dat dit so ’n hartsgebrek was wat mevrou Delourens daartoe beweeg om, op alle maniere, haar bedreigde geluk te verdedig, haar eie geluk, wat sy werklik aansien vir die geluk van haar dogter.
Maar sy vind nie lank troos by haarself alleen nie. Moet sy nie nou teruggaan na Maupas en die droewige nuus aan haar seun vertel nie? Die gedagte dat sy hom die smart nie kan bespaar nie, dat sy die boodskapper daarvan moet wees, laat eindelik die trane vloei wat sy so lank met moeite teruggehou het.
Die strale van die langsaam dalende son boor deur die sware loof van die bome en beskyn nog die ongeluksdag van ’n jong liefhebbende hart. Vir die eerste maal pynig dit haar om die ou tuis binne te gaan: sy weet dat sy daar afgewag word met ongeduld en vertroue.
Sy sukkel nog meer as ander dae om vooruit te kom, ontmoedig en stadig. Die dag druk swaarder op haar as sestig jare. Sy verwyt haarself so lank as sy loop: sy was te sleg; waarom kon sy Marcel se saak nie bepleit het op ’n mooier en handiger manier nie; die mense is aan komplimentjies gewend, waarom het sy nie rekening gehou met hulle gewoontes nie, waarom nie hulle eieliefde ’n bietjie gestreel nie; skik haar seun hom ook nie in die laaste tyd na die ydelheid nie; kon haar eergevoel dan nie ’n oomblikkie omgemunt word in veinsery en loftuitinge nie; sou sy haar daardeur verlaag het? Hy is so ’n skone jonkman, so mooi gemanierd, byna beroemd—waarom het sy van dit alles nie gepraat nie? Maar nee, sy is maar ’n arme ou vrou, en sy kon nie aan vleiery dink by so ’n ernstige saak nie. En dan, as sy van haarself en van haar kinders praat, voel sy die terughoudendheid van teergevoelige siele. So sterk as sy is in haar eie huis, so gou verlies sy die krag as sy oor die drempel stap. So het sy ook teenoor die onregverdigheid niks meer as trane gehad nie. Die trane—hoeveel maal het sy haar nie al gaan wegsteek om hul in stilte te stort nie, na ’n afskeid, vir ’n tydjie, of vir altyd: sou sy hul nou gaan stort voor die oë van dié wat haar onreg aandoen? Dit moet maar wees dat die Heer haar beproef en kasty omdat sy alte trots is. Dié uitleg is bevredigend vir haar geloof; sy laat dit haar welgeval, en sy ly sonder teenspraak, en in haar verslaenheid skep sy daar ’n soort van droefgeestige behae in om te herkou op haar eie deemoed en swakheid. Sy dink by haarself:
—My man! nou hy nie meer hier is nie, beteken ek niks nie. Hy was my vreugde en my krag. Had hy nog gelewe vandag, dan had alles anders gebeur. O Heer, het U my dan verlaat? Ek het my man belowe om so goed as moontlik sy plek in te neem, en kyk, ek sien ek kan nie . . . .
Haar wanhoop word haar te magtig; sy kan nie meer nie. Aan die end van die laning vra sy haarself of sy wel sterk genoeg is om aan te stap. Haar asem is op: sy moet stilstaan.
—Ek wil nie hier by hulle siek word nie, sê sy. Dis al wat sy wil, en daarom span sy haar laaste kragte nog in.
Sy sukkel nog aan tot sy by die hek uit is, en nou sy eindelik van hul grond af is, gaan sy sit op ’n hoop klippe, uitgeput. Daar gee sy haar nou oor aan haar verdriet en laat haar trane weer vloei, en sy sien nie hoe ’n klompie nuuskierige kindertjies om haar heen kom staan. Sy lig haar hoof op en hulle vlug soos ’n swerm verskrikte voëltjies. Een van hulle klop op die geslote deur van ’n huisie wat daar staan, en roep:
—Ma, ma, kom kyk, hier is ’n siek mevrou!
Die deur gaan oop en die boervrou kom uit, met haar jongste kindjie op haar arm.
—Ag! arme vrou! Maar dis waarlik mevrou Kibert! Wat makeer? ’n Pyn? Ja, dit kan somtyds so onverwags kom. Nee, niemand moet kan sê dat ek u nie wil help nie. U man het hierdie enetjie deur die koorssiekte gehaal.
En sy wys op ’n laggende klein vetsakkie. Nou sien sy dat daar trane is op die verwelkte gesig van die ou dame, en sy begryp dat dit hier nie liggaamlike pyn is nie. Uit beleefdheid vra sy niks, maar sê nog daarby:
—U goeie man wou nie geld van ons aanneem nie. Hy het arm mense liefgehad, en veral die kindertjies. Hy het altyd maar gelag. En hoe kon hy tog werk! My kleintjies was nooit bang vir hom nie—hul sou uit één bord geëet het met hom. ‚Ja, ek het ook so ’n klompie,’ het hy gesê. Dis waar, ons het baie, mevrou. Maar dis goed, ’n mens het iedereen lief soos ’n enigste seun. ’n Mens sou tog nie één wil verloor nie.
Die vriendelike woorde troos mevrou Kibert weer ’n bietjie, en sy dink:
—My man het Alida Delourens ook gered van die koors. Maar hulle het hom nie daarvoor meer geëer nie: hulle het dit vergeet. Arm mense vergeet nie so gou nie.
—Maar nou staan ek te praat in plaas van u te help! sê die boervrou. Kom binne en drink ’n koppie koffie: dit sal u weer opfris. Kom sit ’n bietjie en rus.
Mevrou Kibert staan op en neem die aangebode hand van die vrou aan. En sy antwoord:
—Dankie, ek het niks nodig nie. Die swakheid is al verby. Hoe mooi is u kindertjies. God seën hulle! Dis nie dat ek niks van jou wil aanneem nie, maar hul wag vir my tuis.
—Soos u wil, mevrou Kibert. Een van die dae bring ek u ’n dosyn vars eiers. Nee, moenie bedank nie: dit sal my so ’n plesier wees. Kom, kleinspan, gee mevrou ’n hand. Was dit nie vir u man nie, dan was daar vandag een minder, en ek bly nog altyd in u skuld.
—Dis baie goed van jou, goeiendag.
Eindelik is sy dan weer op pad na Maupas. Sy loop langsaam. Nou en dan bly sy staan om die sweet van haar voorhoof af te veeg, byna beswykend onder die treurige nuus wat sy dra. Dis laat toe sy by die huis kom. Die son gaan onder en boor sy laaste strale deur die blare van die bome.
Marcel leun op die hek en kyk in die pad af. Hy sien sy arme ou moeder pynlik-sukkelend aankom, haar gesig vuurrooi, haar rug gekromd, verouderd heeltemal. Hy hardloop na haar toe, en toe hy by haar kom, bars sy in snikke los:
—My kind, my arme kind!
Hy moet haar steun, en hy vra eenvoudig:
—Waarom het u nie weer met die rytuig teruggekom nie? U is moeg en warm. Dis baie onversigtig. Leun maar goed op my arms, ons sal stadig loop.
So help hy haar tot sy op ’n stoel sit in die voorkamer; en Paula bring ’n tjalie om oor haar skouers te hang. Daar is nog geen woord gepraat nie, en tog is alles reeds gesê. Marcel se voorhoof staan donker en sy oë gevestig, maar hy sê niks. Met die eerste oogopslag het hy alles begryp; en hoewel die slag onverwags is, is hy te fier om hom te beklaag: hy vra nie om besonderhede nie.
Sy moeder veeg haar gesig af, van die trane en die sweet. Bewende sê sy:
—Moenie jammer wees nie, dis nie die moeite werd nie.
—Hoe so? sê Paula verbaas.
—Hulle wil nie van hul dogter skei nie, en daarom glo hul dat hul haar so danig liefhet.
Paula vra:
—En Alida self?
—Ek het haar nie eens gesien nie. Sy kruip weg—of wel, hulle steek haar weg. Haar ouers was nie voorberei op my besoek nie. Hul was verbaas. Marcel moet belowe dat hy in Chamberie sal bly, dat hy sy betrekking moet neerlê as dit nodig is. Ek het wel goed gesien dat ’n Marthenay meer na hulle sin sou wees.
—Ba! sê Marcel, en sy oë skiet vonke.
En mevrou Kibert vertel van die vernederende onderhoud wat sy moes deurstaan. Marcel wil dit nie erken nie, maar hy voel baie pyn, en dit maak hom ondankbaar; hy laat haar nie uitpraat nie:
—U kon nie behoorlik u woord doen nie—dis seker. U hou nie van hulle nie en u het dit nie weggesteek nie. U verag die wêreld en u weet dit nie.
Hy het ’n houding van geringagting aangeneem; trots maak sy wond nog erger. Sy antwoord hom met sagtheid en diepe droefheid:
—Jou vader het my dié verwyt nooit gemaak nie. Maar, dis waar, ek verdien dit. Dog ek is tog alte oud om te verander, en die mense het my nie ontsien nie.
Marcel is kwaad; hy skaam hom, maar hy verlaat die kamer sonder die woord wat hy gesê het, terug te neem of te versag.
Paula het al die tyd roerloos en spraakloos bly staan. Nou sluit sy haar bedroefde moeder in haar arms en soen haar met innige liefde.
—Moenie huil nie, ma. O, hoe verag ek daardie mense. En Marcel is onregvêrdig. Dit was verkeerd van hom om u soiets te sê. Ek is vir hom ook kwaad.
En oor haar donker oë frons sy haar winkbroue. Haar ma droog haar trane af en sê:
—Nee, Paula, ons moet niemand verag nie. En wees geduldig met jou broer. Sien jy nie dat hy smart het nie? Loop soek hom.
VIII. PLANNE.
In die tuin van Maupas, waar die rose reeds verwelk, in die skaduwee van die kastaiingboom, waarvan die blare al geel word, kyk Marcel Kibert en Jan Berlier na ’n landkaart van Afrika wat op die klip-tuintafel oopgevou lê.
—Dis die pad wat ons moet neem, sê die kaptein, en hy wys met sy vinger op ’n lang streep rooi kruisies dwars oor die Saharawoestyn.
Met jeugdige geesdrif vra Jan:
—Is dit nou seker dat die kommando sal gaan?
—Ja, en ons sal twee jaar wegbly, ten minste as ’n mens vooruit sou kan sê hoelank so ’n lang en gevaarlike tog wel sou kan duur. Ek het in die stad die kommandant gesien. Met honderd of tweehonderd man gaan ons op pad. Maar ek vrees dat ons nie wegkom voor ander jaar nie. En met ernstige stem lê Marcel haarfyn uit hoe alles sal gereël word. En met breë gebare verduidelik hy sy woord oor die onbekende land, so wyd uitgestrek en eentonig, ondeurgrondelik en geheimsinnig soos die see.
Jan luister, en sy gesig neem ’n uitdrukking aan van aandag en manlike erns. Hierdie mooi, fyn jonkman, altyd vol lag en grappies, ’n liefling van die vroue van wie ’n mens by die eerste oogopslag sou sê dat hy net deug om te „flirt” en mooie meneertjie te speel in die voorkamer—hy toon, as hy eenmaal in sy natuurlike element en voor ’n ernstige onderneming geplaas word, dat hy ’n manlike geaardheid besit, ferm en vol durf. Marcel, wat hom beter ken, het dit altyd geweet; en as hy van Jan hoor praat as van ’n voorkamersoldaatjie, dan sê hy altyd: Julle ken hom nie.
Mevrou Kibert kom uit op die stoep van die huis.
—Stil! sê Marcel, en lê sy vinger op sy lippe.
—Weet sy nog nie dat ons gaan nie? vra Jan, fluisterend.
—Nee. Sy sal dit altyd nog te vroeg hoor.
Sy kyk die tuin in, maar sien die twee jonkmans nie. Sy dink dat sy heeltemal alleen is, haal haar bril af—sy het dit gebruik by een of ander handwerk—en veeg langsaam haar oë af met haar sakdoek. Sy is moeg en leun op die houttralie waartussen, soos ’n verwelkte versiering, die ontblaarde ranke van die blomme gevleg is. En in gedagte laat sy haar droefgeestige blik gaan oor die welbekende ou landskap.
Die dalende aand verf pers en rose tinte op die teer-yle lug. Die frisheid van die lug kondig die nadering aan van die najaar. Die landskap rondom laat dink aan die teer-bekoorlike glimlag van ’n sterwende meisie wat nog terugdink aan die lewe. En dit lyk of die kaal lande en bome en wingerd, nadat hul alles gegee het wat hul gehad het, nog meer sou wil gee. Onnuttig nou, het die landskap nog net sy skoonheid behou. Die bosse is half beroof van hul misterie, en die sterwende aandstrale lê flouerig, dog amper te swaar op hul geel-groen blare. Langs die muur laat ’n paar rose hul alte sware blaartjies opehang, en die sagte aandwindjie laat hul neerstryk op die grond. En bo-op die bult, swart geteken teen die goud van die aandlug, trek twee osse stadig-stadig in die ploeg—voorbereidende die oes wat nog moet kom. Oor die kalme afsterwe van die natuur sweef so die voorspelling van ’n herlewing.
’n Vallende kastaiing, bo uit die bome, laat Marcel opskrik. En as hy sy liewe ou moeder aankyk, soos sy daar leunende staan, haar gedagtes vol van haar klompie kinders oor die hele wêreld versprei, dan is dit of hy meteens besef hoe groot haar liefde moet wees; en hy voel ook die bygelowige vrees, wat ons somtyds so kan bekruip en pynig as ons dink aan die swakheid van die wat ons liefhet.
—Arme ou moedertjie! Hoe baiemaal het u al gebewe vir my lewe. En dit sal weer moet gebeur. Die landkaart hier voor my, onverskillig en spraakloos, berg die geheim van u toekomstige smarte. Vir die melk van u bors, wat my gevoed het, vir die lewe wat u lewe my gegee het, vir my gelukkige kinderjare en jongelingskap—o, wees daarvoor geseën. Ek het u lief. Maar, as ek wil weggaan, vergewe dit my!
Die beeld van ’n blonde meisie kom voor sy gees. Na die weiering het hy Alida Delourens nog nie weer gesien nie. Verskeie male het hy al die tralies oorgeklim wat die eikebome van Chenée skei van die pad. Daar, in die skaduwee, het hy vir haar gewag. Wetende dat sy hom liefhet, wil hy, tot elke prys met haar praat en haar ewige trou belowe. Die roem wat hy in verre lande sou behaal, en geduldoefening, sou haar eindelik wel aan hom gee. Maar of dit nou toeval was of iets anders, sy het nooit daar na die bos gekom nie.
Sal hy so moet weggaan? Binne weinige dae sal sy verlof om wees—hy het geweier om verlenging daarvan aan te vra—en dan moet hy teruggaan na Algiers, met Jan Berlier en sy kommando. Hy maak allerhande onmoontlike planne, hy herkou op sy onmag soos ’n jong, ongeduldige perd op sy stang.
—Ek wil nou loop, maar eers wil ek jou ma gaan groet.
—Wag nog ’n bietjie, sê Marcel. En meteens tot ’n besluit komende, sê hy, fluisterend:
—Kyk hier, ek wil met mejuffrou Delourens praat. Wil jy my help?
Daar bestaan ’n innige vriendskap tussen die twee jonkmans, iets broederliks en rustigs, gebore uit wedersydse vertroue en ooreenkoms van aard en strewe. Maar hul hartsgeheime deel hul nie mee aan mekaar nie. Dit verwonder Jan dus dat sy vriend syne nou so openbaar, al het hy dit al lank agtergekom. As beskeie toeskouer het hy die spul so aangekyk. Hy ken Marcel se wilskrag en trots; die groot hartstog boesem hom belang in, al vrees hy vir die wanhoop wat daarop kan volg—dis so iets anders as sy eie oppervlakkige vryerytjies vir tydkorting. Hy weet waaraan hy dit moet toeskrywe dat sy vriend meteens so ’n lus gekry het om met die kommando na Afrika te gaan, dat hy so ’n opgewonde verlange het na roering en werk.
Jan maak of hy van niks weet nie, en sê:
—Waarom gaan jy nie self na Chenée nie? Dis die eenvoudigste.
Marcel kyk hom deur en deur en antwoord:
—Jy weet waarom ek nie kan nie.
En na ’n oomblik stilte laat hy volg:
—Maar ek wil haar darem sien.
—Om met haar weg te loop? sê Jan, met ’n glimlaggie.
Hy wil nog probeer om daar ’n grappie van te maak, maar ’n stuurse antwoord is al wat hy kry.
—Kyk in haar oë, en jy sal nie meer so praat nie . . . . Ek moet haar absoluut sien voor ek weggaan, miskien om jarelank weg te bly. Haar geluk sowel as myne is daarmee gemoeid. Was daar van myne alleen sprake, dan sou ek met my smart kan weggaan, sonder om om te kyk. Maar sy moet gerusgestel word omtrent haar toekoms, sy moet verstaan dat die toekoms behoor aan dié wat volhou. Sy sal my vrou word, as sy wil. Ek wil haar net vra om moed te hou en te wag.
—Dis die hoogste eis, sê Jan. Hy het nie ’n alte hoë dunk van Alida haar moed nie.
—Dis die gemaklikste.
—Ja, vir jou, wat heeldag besig gehou sal word met gevare en hinderpale om te oorkom. Maar sy . . . .?
—As sy my nou liefhet? sê Marcel eenvoudigweg en daar is iets in sy stem wat alle gedagte aan eiewaan verban.
—Ja, sê Jan, en hy dink by homself: Sy weet nie wat liefde is nie. Isabella Orlandi trou met meneer Landeau omdat sy graag wil skitter. Alida Delourens sal met meneer Marthenay trou uit swakheid, en omdat haar ma begeer om nog eendag ’n adellike kleinseun te sien. Die jongmeisies van ons dae weet nie meer wat ’n groot liefde beteken nie, en niemand leer hul dit nie.
Maar hardop durf Jan dit nie te sê nie. Op die breë, ope voorhoof en in die ernstige oë van sy vriend sien hy die tekens van ’n siel deur liefde geroer.
—Wil jy haar absoluut sien?
—Absoluut!
—Jy is al so tuis by die famielie Delourens. Jy kan maklik met die dogter praat. Ek sou my suster gevra het om dit te doen as sy nog daarheen kon gaan na die . . . . weiering.
Hy moet sy trots oorwin om die laaste woord te kan uitspreek. En met ’n sekere minagting hef hy sy hoof op as hy sê:
—So ’n weiering is onregvêrdig. Ouers het geen reg om hul gesag so te laat geld tot bevrediging van hul eie vooroordeel en selfsug, en om uit ydelheid die hart van hul dogter te breek nie. Niemand het soveel eerbied vir ouerlike gesag as ek nie, maar dan moet wysheid en rede dit lei. Paula het Alida in die kerk gesien, sy was bleek en kwynend. Ek moet haar sien. Daar is geen troueloosheid in nie, geen plan om haar met minder eerbied te behandel as ek haar verskuldig is nie. Dit wou ek jou net sê voor jy my antwoord.
—Dis goed, sê Jan. Na ’n oomblik nadink sê hy verder:
—Ek wil jou eie woorde herhaal, Marcel: Kyk in haar oë, dink aan die eerlike blou oë, en vra jouself af of sy sal uitloop om jou êrens te ontmoet.
Marcel staan spraakloos, dan sê hy:
—Dis waar. Ek wil daar nie meer aan dink nie: ek sal weggaan sonder haar te sien.
Geen ander klag kom oor sy lippe nie. Maar sy vriend word aangedaan deur dié eenvoudige woorde. Alhoewel hy dink: dis ook maar beter dat hy weggaan sonder haar te sien, kry hy so jammer, dat hy tog ’n plan maak:
—Kyk, laat die saak aan my oor: ek sal jou sê as jy haar kan ontmoet. Sy sal jou sien sonder dat ek haar vooraf iets sê. Dit sal dan aan jou lê om te hou wat jy het. Dis nie ’n alte mooi manier nie, maar dié Marthenay vererg my en die Delourens-klomp is windsakke—daarom ontsien ek nie om hul ’n bietjie te fop nie.
—Jy wou my moeder nog groet, nie waar nie? Kom, ons gaan binne-toe, sê Marcel.
Mevrou Kibert en Paula sit nog aan hul handwerk, in die aandskemer. Die moeder se oog verhelder toe sy haar seun sien binnekom; maar Paula kyk nie op nie.
—Ek kom groet, sê Jan.
—Wag jy nie tot Marcel gaan nie? Gaan jy nou al weg? vra mevrou Kibert. Want sy hou van die lewenslustige jonkman en vergeet dat hy somtyds so ligsinnig kan wees. Sy is hom ook dankbaar dat hy—beter as sy self durf of kan—aan Marcel afleiding besorg van die droefgeestigheid wat hom druk soos ’n sware rou en waarvoor sy ’n soort van vrees koester.
—In drie dae tyds gaan ek aan boord, mevrou. My verlof is gouer om as dié van Marcel.
Paula lig nou haar hoof op. Jan lees in haar donker oë iets van ’n verwyt, en haar bleekheid verraai dat sy pyn ly. Maar baiemaal is ’n mens in twyfel oor wat daar spreek uit ’n oog of selfs uit ’n blos op ’n jeugdige wang. Dis van die snelle en vlugtige uitdrukkings wat vir ons ’n geheim bêre, wat ons nie graag deurgrond as dit lyk of sulke uitdrukkings ons ongunstig is of selfs ook maar verleë maak nie. Hierdie meisie met haar ernstige gesig en bedaarde bewegings, met haar skuwe bevalligheid, getuiende van groot beslistheid, trek hom aan en stoot hom af tegelyk. Hy wil haar so graag op ’n lughartige, vriendskaplike manier hoor praat; maar nou werk haar terughoudendheid verlammend op hom. Haar toejuiging en agting sou hom kan verhef en sterk maak; maar hy begryp dat hy dié agting alleen kan verdien deur groot dinge te onderneem en ’n hoë inbors te besit; en hy voel ’n inwendige vrees vir wat hy noem „die hoë dinge.” Hy is veral bang om homself ernstig af te vra waarom sy so ’n dubbelsinnige indruk op hom maak. Hoe baie menselewens gaan daar nie verby, drywende op die twyfel, sonder die geheim te wil deurgrond van die verwante gevoelens wat aan hul hele lewe ’n ander koers sou gegee het, maar waarvoor die meeste mense al vooruit bang is!
Mevrou Kibert stap ’n entjie saam met Jan, buiten-toe. By die treedjies fluister sy snel in sy oor:
—Kyk tog ’n bietjie goed na Marcel as hy later ook by julle kommando kom. Ek vra jou om dit vir my te doen, Jan.
Hy is aangedaan deur die vertroulike woorde van die ou vrou:
—Ek beloof u dit mevrou, hy is soos ’n ouer broer vir my.
Hy kyk nog ’n keer om en bewonder die fier sy-gesig van Paula in haar rouklere; sy staan op die stoep, maar sy kyk nie na hom nie, haar oë is in die verte gevestig—en die rosetinte van die najaar verbleek op die berge . . . .
Dieselfde aand gaan Jan op Chenée eet, waar hy Isabella Orlandi ontmoet. Dis kort voor haar troudag, maar nog nooit is sy so baldadig gewees, en gee sy so min om fatsoenlike maniere nie, as nou. Ondertussen doen meneer Landeau sy voordeel met die seldsame opgang van die geldmark; hy maak baie geld deur toepassing van die moderne misleidingsmiddel, en hy vry so uit die verte, deur in sy briewe kortliks maar duidelik te laat blyk hoe goed hy aangaan—hy ken wel die krag van sulke mededelinge.
Dis aand geword; en Isabella gaan by Jan sit op ’n sofa, agter ’n party varings en palme.
Jan het ’n vrou nodig om sy plan vir Marcel ten uitvoer te bring. Die plan is eenvoudig om Alida tot ’n wandeling uit te lok—op ’n afgesproke uur—na die eikebos, waar sy dan meteens vir Marcel Kibert sou aantref. Maar hy kan Alida nie vra om alleen met hom uit te gaan nie, hy moet ’n betroubare bondgenoot hê. Jan kyk skuins na Isabella, en dink:
—Hierdie een miskien, maar kan ek op haar reken?
Hy het nie ander keus nie, dus moet hy maar probeer:
—Wat dink jy van hom, sê hy, terwyl hy ’n hoofbeweging maak na die kant van Marthenay, wat voor mevrou Delourens ’n vertoning staan te maak, terwyl die arme Alida, om hom nie te sien nie, in ’n boek sit en prentjies kyk, sonder ’n blad om te slaan.
Isabella lag:
—Wie, Marthenay? Hy is Alida se meneer Landeau. Elke een het haar eie.
—Wil jy my help om hom ’n streek te speel?
—Ja, seker! Dit sal ons weer laat dink aan die blommefees se slag.
—Nou ja, kom môreagtermiddag om vieruur hiernatoe—ek sal dan hier wees.
—As jy hier is, kom ek ook; dit spreek vanself.
—Alida is ’n bietjie bleek die laaste dae, jy sal aan haar sê: „Jy moet afleiding hê, ’n bietjie meer in die buitelug gaan, jy bly te veel in die huis.” Ons neem haar na die eikebos, en, op ’n teken van my, laat ons haar daar alleen. En as jy dan iets sien, sal jy dit vir jouself hou?
—Maar ek begryp van die hele affêre niks nie.
—So moet dit ook wees.
—Sê my ten minste wie ek sal sien.
—Nuuskierige Eva! kan jy ’n geheim bewaar?
—As jy my dit vertel, ja.
—Die geheim is nie myne nie. As ek dit vertel, is ek ’n verraaier.
Sy kyk die jonkman aan met haar wellustige, skone swart oë:
—My liewe Jan, ek is nie veel werd nie, en jy reken my vir nog minder as ek is. Om jou plesier te doen, sal ek gevare tart . . . . en selfs welvoeglike maniere.
—Veral „welvoeglike maniere” as jy nie omgee nie.
—Maar seker. O, as jy wil, volg ek jou tot die end van die wêreld.
—Sonder iets te besit? vra hy, met ’n twyfelagtige glimlaggie.
Sy antwoord met ’n mat laggie, wat haar wit tande laat sien.
—Met net so min as hier op my hand is.
’n Rilling loop oor Jan se lyf, by die gewaagde onbeskaamde woorde, en hy voel ’n soort van verdriet in teenwoordigheid van die skone, verleidelike liggaam. Voordat sy haar in haar huwelik werp, soos in ’n aaklige afgrond, het sy daar ’n soort van baldadige plesier in om op die rand daarvan te baljaar.
Hy is stil, maar sy merk wel wat ’n mag sy nog oor hom uitoefen. Sy waag dit om boweop nog sy hand te neem en in Italiaans te sê—om haar onbeskaamdheid half te bemantel:
—Ek hou van jou.
Jan dink nie meer aan Marcel nie. Maar omdat sy so seker lyk van haar oorwinning, voel hy hom tot teenstand geprikkel, want in die grond van sy natuur is hy fyngevoelig, trouhartig en byna teruggetrokke. En so gee hy tog nie die antwoord wat sy verwag nie:
—So, dus sal jy meneer Landeau laat staan om vir my te neem?
Sy vind hom ’n bietjie onnosel, en sê dat hy maar net in skyn iets durf waag, dat sy danige durf net alles grootpraat is. Dog hy behaag haar om dié rede nog meer. Op die grond van haar wellustige hart voel sy selfs ook nog ’n weifeling, omdat die bederf nog maar begin—dis die oorblyfsel van haar kinderlike onskuld, en sy voel aangedaan deur die onverwagte eerbaarheid van Jan. Maar oor dié opwelling is sy gou weer heen, en haar antwoord is:
—Ek sal niks laat staan nie. Ons sal ons nie laat hinder deur die ou veertigjarige man van my nie.
En sy laat weer die dubbelsinnige laggie hoor.
Hy begryp haar en kan nie help om ’n kleur te kry nie. Dit erg haar. Deur die plante, van agter die sofa, kan hul Alida sien binnekom. Sy stap oor die vloer met starende gevestigde oë of sy in haar slaap loop. Sy het ’n rok aan van wit kamerdoek: dit staan goed by haar blonde haar. Eén oogopslag is vir Isabella genoeg om die rok in alle besonderhede op te neem. Jan het haar kwaad gemaak, en sy sê:
—Dis duur goed wat sy dra, en kyk hoe volmaak is die snit daarvan. Sal jy my net sulkes kan gee, meneertjie, as ek met jou sou trou?
—Wat, uit my klein salaris? sê hy.
—Ja, ek hou nou eenkeer van goed wat mooi is.
—Al wat blink, is nie goud nie.
—Reg so, daar is ook nog diamante en ander edelgesteentes.
Half minagtend sê hy:
—Ja, elke een draai sy rug toe aan die lewe en probeer dit te vergeet. Jou ma het haar hond, Pistache, my oom het sy rose, en jy het jou klere. Die liefde moet maar sukkelend agteraan kom.
—Dit lyk my jy word nou soet, Jan.
Jan begin nou weer oor sy plan vir môre:
—Dus sal jy jou mond hou as jy môre iets gewaar?
—Ek sweer! Is jy nou tevrede? Kom vertel my nou wat dit is.
Hy weifel eers nog, maar sê dan:
—My vriend, Marcel Kibert, het iets te sê aan Alida. Hy sal vir haar wag in die eikebos.
—So, so! sê Isabella, vol belangstelling. Maar daarby is ons nie nodig nie.
—Luister: Alida weet daar niks van nie. As sy weet, sal sy nooit gaan nie.
—So ’n stommerik!
—Sy is ’n bangerige en teruggetrokke kind.
—Ja, te nougeset. Maar sy is ryk, sy kan vir haar ’n man uitsoek. Dis in hierdie tyd ’n seldsame voorreg. Hoe sou sy nie die voorkeur kan gee aan kaptein Kibert nie, in plaas van aan die lawwe, verwaande Marthenay? Ek hou self ook baie van die kaptein—amper so veel as van jou. Net, hy maak my bang. Ek verwag altyd ’n knor van hom.
—As jy dit nou verdien?
—Ek verdien dit. Knor jy my—maar nie te hard nie. Marthenay is onnosel; en as ’n mens onnosel is, dan is hy dit vir ’n lang tyd.
Mevrou Delourens dink dat die twee nou lank genoeg alleen gesit het. Sy kom nader en vra:
—Is Alida nie by julle nie?
—Sy het uit die kamer gegaan, mevrou; maar daar kom sy net terug.
Sy gaan weg van hulle; en Jan sê haastig, om nou ’n end aan hul gesprek te maak:
—Jy moet weet dat mevrou Delourens haar dogter nie van haar weg wil laat gaan nie.
—Ag, sê Isabella. Dan sal die arme Alida met meneer Marthenay moet trou. Sy het net so veel wilskrag as ’n hoender in ’n reënbui.
En op komieke toon voeg sy daarby:
—Laat ons die ongeoorloofde liefde steun. En wat sal jy my gee vir die hulp?
—Vra, en ek sal gee.
Sy kyk hom skelmrig aan, om hom te oorwin:
—’n Soen van jou lippe, meneer.
Jan is weer in haar mag, en voleindig haar sin:
—Op joue, juffrou!
Hulle lag albei half verleë, en ming dan met die ander mense in die kamer.
IX. AFSKEID.
Dis ’n dag later, en alles gebeur soos voorsien was:
Isabella Orlandi en Jan Berlier lei Alida Delourens na die eikebos, waar Marcel haar afwag. By die draai van ’n paadjie staan Alida meteens voor Marcel. Die twee verlaat haar daar en wandel verder onder die bruingekleurde najaarsblare.