← Table of contents
Bang vir die lewe

DEEL II.

Jan F. E. (Jan François Elias) Celliers translation

I. DERTIEN AAN TAFEL.

—Ons sou miskien aan tafel kan gaan.

Meneer Delourens waag om dit te sê, met ’n bangerige stem.

Onder die geselskap van sy vrou haar oog maak hy dadelik dat hy wegkom van die vuur, waar ’n paar groot eikeblokke vlam, en hy neem die vlug na ’n alleenstaande stoel ver daarvandaan. Laggend toon mevrou Delourens dan aan haar gaste ’n almanak wat in groot syfers die datum dra: 25 Februarie.

Mejuffrou Sonjon, verdroog en verouderd, kom nader—’n mens sou sê dat die verbygaande tyd haar besonder veel belang inboesem. Maar ál waar sy aan dink, is om ’n plekkie te verower naby die vuur. Sy kom net van Rome terug: in die winter skenk sy net haar aandag aan die gestigte van die suide—waar dit warm is. Om op laasgenoemde liefdadigheidstog te kan gaan, het sy skielik die vee moet laat verkoop van ’n boer wat agterstallig was met sy betaling. Sy maak haar groot voete warm en kyk na die almanak.

—Maar dis 25 Februarie 1898! sê sy, en dis vandag 25 Februarie 1901—dis net drie jaar te laat.

Al die vrouens, behalwe Alida, kom kyk of dit so is; die almanak gaan van hand tot hand. Mevrou Orlandi hou Pistache op haar hart gedruk—’n verouderde Pistache, vet, half kaal en lelik, met half geslote ooglede oor sy tranerige oë; verwonderd en trots dat sy dit agtergekom het, roep sy uit:

—A, ek verstaan! U het die datum van u dogter haar huwelik op die almanak bewaar. Dis vandag net drie jaar gelede. Hoe vindingryk en teer is tog ’n moeder haar liefde! Dis nou net soos ek is, mevrou, ek onthou ook altyd sulke dae.

—Ek wil gerus wed, ma, sê Isabella—wat nou mevrou Landeau geword het—dat U al vergeet het wanneer ek getroud is.

—Nee maar dié Isabella! sy het tog altyd iets snaaks om te sê.

En, met alles behalwe fyne behendigheid, buig sy haar hoof oor haar mopshondjie, met ’n vloed van soet woordjies.

Mevrou Delourens—siende dat almal aan gesels is—werp ’n haastige blik op die klok, wat al kwart-voor-agt aanwys, en die afspraak was dat hul om sewenuur sou aansit.

—My gravinnetjie, het jy jou broer Clement nie vanmiddag gesien nie? vra sy aan haar dogter, wat afgetrokke en stil is.

—Nee, ma, antwoord Alida, fluisterend.

Vier of vyf maande na Marcel se vertrek was Alida—wanhopend, oorwonne, onderdanig, volgens die wyse raad van haar moeder—getroud met graaf Marthenay, wat toe luitenant was in Chamberie. Vir die derde maal word nou die verjaardag van haar „geluk” gevier. Haar bevallige jongmeisie-slapheid en slankheid was oorgegaan in neergedruktheid en maerheid. Haar helder oë, haar neergetrokke mondhoeke, getuig van ’n ingewortelde en diepe droefgeestigheid. Die suiwerheid van haar gelaatstrekke was nie verlore gegaan nie, maar deurdat haar wangbene meer uitsteek, haar neus vermaer en haar wange kleurloos is, het die vroeëre uitdrukking van jeug en onskuld plaas gemaak vir ’n aansien van pynlike gelatenheid en swakheid. Op haar gelaat dra sy die tekens van ’n marteling wat elke oomblik van haar lewe aan haar kou, en wat so seker deur haar man nooit opgemerk word nie. Om daarvan oortuig te wees, is dit genoeg om ’n oog op hom te slaan, soos hy daar agter haar staan, met sy opgeblase en puisterige gesig, die gedagtelose gesig van ’n vroegtydig afgeleefde man.

Mevrou Delourens kyk by die venster uit. Sy laat die gordyn weer val en kyk dan weer haar gaste besluiteloos aan. Almal is so aan gesels met mekaar, dat sy dink nog maar ’n bietjie te kan wag. En nie sonder bitterheid nie dink sy by haarself:

—Mevrou Orlandi, wat anders altyd te laat kom, is nou tog betyds.

Om die vuur luister al die vrouens na mejuffrou Sonjon, wat met geloofsywer vertel van die katakombe van Rome. Mevrou Orlandi—openlik haar gebrek aan morele gevoel openbarende, en onhandig om vergelykinge te maak—sê dat sy meer hou van die bouvalle van Pompeii, omdat daar sulke vermaaklike muurskilderye te sien is. Mevrou Lavernay en mevrou Ambelard—ouerige en plegstatige verskyninge—het niks te sê nie. Mevrou Delourens hou hulle aan om hulle adel, en praat altyd van hulle afkoms. Hulle is goed om die geselskap vol te maak, en meet die lewe af na die aantal uitnodiginge wat hul kry.

Hul mans is tafelskuimers van die eerste water en het iets ouderwets-deftigs oor hulle, vol vooroordele waarmee hulle maklik deur die wêreld rol, totaal onbekend met die moderne gedagtewêreld, maar met ’n ingewortelde plesierlus. Baron Ambelard, hoogrooi van kleur, hou van lekker eet; en graaf Lavernay, jonk ondanks sy wit kop, skenk al sy neerbuiende aandag aan die mooi dames. Hy kom net van die hofsittinge, en vertel aan die klompie mense om hom heen wat hy as jurielid ondervind het.

—Julle veroordeel ’n dief, maar ’n kindermoordenaarster laat jul vry, sê meneer Delourens; en, bang dat hy te veel gesê het, voeg die mannetjie daar haastig aan toe:

—Let wel, ek kritiseer u glad nie.

Meneer Lavernay lag sonder terughouding.

—My waarde heer, as ons kindermoordenaarsters sou veroordeel, dan sou ons geen diensmeisies meer kan kry nie.

—Hoe bespotlik ook, sê meneer Ambelard, om kinders te hê! ’n Mens se beurs moet eers geraadpleeg word. Wat sê u daar nou van, meneer Landeau?

Meneer Landeau beken dat hy daar geen gedagte oor het nie. Hy is miljoenêr en voer ’n verskriklike stryd in die besigheidswêreld om ’n reën van goud oor sy vrou te kan uitstort, om sodoende—soos ’n allesoortreffende tjek—haar trotse hart te win. Sy speel met hom soos ’n dieretemmer maak met ’n brullende leeu wat dreig en sy rug hoog maak. Onder voorwendsel van kinderpligte teenoor haar onverskillige ma, het sy geweier om met hom mee te gaan na Lyon; tweemaal in die week kom hy haar ’n besoek bring in die pragtige „villa” wat hy vir haar laat bou het. Sy lei hom in in die geselskappe, sy skouers is krom gebuig onder die las van sy besigheid, en sy gelaatskleur is soos lood. En daar, in die geselskappe—onderworpe en brommend—bewonder hy die bedwelmende skoonheid van Isabella, in haar element; en sonder vreugde hoor hy haar harde lag aan—die lag wat haar glansende wit tande laat sien.

Meneer Ambelard hou sy hand voor sy mond, want hy gaap van ongeduld, hy verlang na die eetmaal.

Marthenay het totnogtoe stilgebly, maar word ook nou oproerig:

—Dis Clement se skuld: hy het seker ’n ongeluk gehad met sy motorkar.

Die wysers van die horlosie staan al op agtuur.

—Hy het nog nooit ’n ongeluk gehad nie, sê meneer Delourens—wat net na rustigheid verlang.

Marthenay is nou sonder medelye:

—Hy self nog nooit nie—daar is hy te slim voor. Maar daar is genoeg wat onder sy kar verongeluk: hoenders, honde—en die ander dag ’n ou vrou ook.

—Ons het daarvoor betaal, en selfs baie duur, sê mevrou Delourens verontwaardig.

—Nou loop sy kreupel vir u geld.

Ruiterlik, en sonder bybedoeling, lê meneer Marthenay uit hoe die arm mense baiemaal die motorkarre oor hulle laat ry om geldelike vergoeding te kry.

Almal is eenstemmig in die verdediging van die modesport, behalwe juffrou Sonjon, wat teen vooruitgang is. Daar kom die jong Clement eindelik binne, uitgelate vrolik.

Sy ma beknor hom. Hy maak geen ekskuus nie en sê laggend:

—Ons het so lank versuim in die dorp. Die motorkar het uit orde geraak—’n mooi grap!

Meneer Ambelard is kwaad, hy sê by homself: ’n Mooi grap! Ons so laat wag vir die ete! Die jonkman praat gemaklik!

Die here gee elk ’n arm aan ’n dame, en almal gaan na die eetsaal. Clement gaan ander klere aantrek. Hy kom terug as die soepborde al weggeneem is. Maar met gebiedende stem vra hy sy soep, en maak glad nie gou om klaar te kom en die ander gaste nie te laat wag nie.

Die verskillende geregte volg mekaar op. Almal is weer opgewek en gesels deurmekaar. Clement het sy aptyt bevredig en brand nou van verlange om ook deel te neem aan die gesprekke en die aandag op hom te trek. Hy wag tot daar ’n oomblik stilte is, en basuin dan uit oor die tafel:

—Ek het groot nuus te vertel.

—Wat, wat? word van al kante gevra.

Maar hy het daar plesier in om hulle te laat wag, en strooi allerhande praatjies tussenin.

—Maar praat dan, sê verskillende ongeduldige stemme tegelyk.

Alle oë is op hom gerig. Maar hy wil nog ’n oomblik geniet van die opmerksaamheid wat sy nuus hom skenk. Terwyl daar nog ’n lekkerbek-gereg voorgedien word, sê mevrou Delourens nou uit naam van almal:

—Vertel nou!

Clement kan hul nou nie meer om die tuin lei nie. Hy het hul ten minste lank genoeg laat wag om sy lompheid te kan insien, maar op sy gewone growwe manier sê hy meteens:

—Nou wel! kommandant Kibert is dood.

Dit lyk byna ongepas om sulke nuus somaarso in die middel van ’n fees te gooi wat amper volmaak weelderig is—met die gloed, die ligte, die pragtige blomme en skitterende juwele, die ryke damesrokke en die opgewektheid van die geselskap. Dit moet wel ’n ongemanierde, sportbedorwe vent soos Clement wees om soiets te waag.

As die dood genoem word, dan beteken dit dat die plesier van die aand nie sal stand hou nie. En om plesier te hê op die oomblik moet ’n mens hom kan voorstel dat die plesier sal aanhou. Was dit nou nog maar iemand onbekend, wat somaar verbygegaan kon word! Maar dit is onmoontlik in die geval van kommandant Kibert: die bekendheid met sy famielie, sy persoon, en sy skitterende loopbaan hou die geselskap onvermydelik besig. Almal voel half verslae.

Isabella Orlandi is die eerste wat praat, en dis om twyfel uit te druk:

—Watter praatjies! Verlede jaar kon ’n mens soiets nog geglo het. Hy was toe met sy kommando in Afrika; deur onbekende en gevaarvolle landstreke. Maar hy is fris en gesond, en daarby beroemd teruggekom. Hy is nog maar twee-en-dertig jaar, en nou al kommandant, en met hoë eretekens. Hy is ons groot man. Julle is almal jaloers op hom—daarom wil jul op hom sit.

Sy praat op ’n opgewonde manier, skuif heen en weer op haar stoel, en kyk van links na regs, asof sy wil hê dat almal moet sien hoe kwaad sy is. Toe Clement sy nuus vertel het, het haar oog vanself op Alida geval, en sy het gesien hoe die bloed weggegaan het uit Alida haar gelaat, asof haar lewe haar verlaat; en die dodelike bleekheid gaat ook oor op haar hande, wat senueeagtig begin te bewe, en so wit is as die tafellaken.

Clement maak ’n beweging met sy hand:

—Wat jul nou ook al sê, hy is dood. Ek bewonder hom, net soos julle, maar dood is hy.

—O, vaderland! Hou jou mond! sê mevrou Orlandi—sy het meteens met skrik gesien dat hul dertien aan tafel is, en tel nog ’n keer, hopende dat sy fout gemaak het.

Plegtig klink die woord van mejuffrou Sonjon:

—Dat die Heer sy siel bewaar!

—Het hy in ons land gesterwe? vra meneer Delourens. Want die kommando is al sedert ’n paar maande terug.

Meneer Ambelard is onverskillig en eet ’n happie op wat hy vir die laaste op sy bord bewaar het. En meneer Laverney se oë rus op die mooi hals van Isabella.

Meneer Marthenay sit sy glas neer, wat hy elke keer leeg drink, en sê:

—Skaars drie weke gelede het ek kommandant Kibert nog gesien. Hy het toe by die stasie uit die trein gestap. Ek het na hom toe gegaan, maar dit het gelyk of hy my nie meer ken nie.

—Waarskynlik het hy daar niks omgegee om jou te ontmoet nie, sê Isabella. Sy kan dit nie laat nie: sy het ’n afkeer van Alida haar man; hy hou aan om hom aan te stel as haar vryer, sodra hy nie meer sy tyd verknoei met kaartspeel nie. Om die afjak nog duideliker te maak, sê sy daarby:

—Ongetwyfeld voel hy minagting vir offisiere wat hul betrekking bedank het.

Marthenay het naamlik die jaar vantevore uit die militêre diens getree.

—Ja, so is dit, sê Clement, wreed. En nou die aandag weer op hom gevestig is, gee hy ’n paar besonderhede:

—Swaer Marthenay is reg: Kommandant Kibert het verlede maand teruggekom. Hy was twee dae by sy moeder en suster op Maupas en het toe weer vertrek na die troepemag in die binnelande van Algiers.

—Ja, sê Marthenay, maar vandag het generaal Servières by die plek verbygetrek, en hy rapporteer dat die vyand die troepemag daar aangeval het.

Clement sit sy oogglasie op en kyk die gewese luitenant brutaal aan:

—Ou swaer, is dit jy? Stel jy waarlik eenkeer belang in militêre sake?

Ná nog ’n kyk na die doodsbleek gelaat van Alida, sê Isabella:

—Maar ek verstaan daar niks van nie. Hy was skaars terug van die tog oor die Saharawoestyn, wat ag-en-twintig maande of twee jare geduur het. Ná sulke togte kry hul gewoonlik baie lank verlof. Hy het dus glad geen rus geneem nie en het dadelik weer na die front gegaan? Want as hy dood is, dan het hy in ’n geveg geval.

Alida neem ’n bos blomme in haar hand en ruik daaraan, om haar bleek gesig vir die gaste te verberg.

Isabella laat eindelik die vry teuel aan die onrus wat haar nou kwel:

—En kaptein Berlier? Hy is ook terug van die Sahara. Hy het by dieselfde kommando behoor as kommandant Kibert. Is hy ook weer met hom meegegaan na die binnelande?

Het Clement Delourens aan die geluid van haar stem gehoor dat sy ongerus is? Alte dikwels al het hy moet krimp onder die spot van die jong vrou, wat niemand spaar nie; nou het hy daar ook plesier in om haar ’n bietjie te martel:

—Maar seker, Jan Berlier moet ook daar gewees het.

—Vertel nou eindelik, wat weet jy seker? sê Isabella, kwaadaardig.

Mevrou Delourens dring ook daarop aan. En Clement vertel:

—By die stadsraad van die dorp is berig gekom van die Minister dat kommandant Kibert deur die vyand doodgeskiet is by die verdediging van ’n stelling in die Sahara. Hulle het die veldwagter gestuur om die berig aan sy moeder te bring.

Daar staan ’n groot kandelaber voor mevrou Delourens, sodat sy haar dogter nie kan sien nie. Die blomme wat Alida in haar hand hou is swaar van die trane wat sy daarin ween. By die algemene opwinding merk niemand dat sy ween nie.

—Hoe het hy gesterwe? vra een van die dames.

—Aan die hoof van sy manskappe, nadat die oorwinning al behaal was—’n koeël in sy voorhoof.

Seer korrek merk meneer Delourens op:

—Dis ’n groot verlies vir die land.

—Ja, sê sy vrou—meteens welsprekend geword—ons eer sy roemryke nagedagtenis. Ons sal ’n lykdiens laat hou, so pragtig, dat die hele dorp verbaas sal staan. Dit kom ons stand toe om aan ons vaderland te laat sien hoe ware verdienste erken en vergoed moet word in ’n tyd dat middelmatigheid so algemeen is in ons nasie, wat deur afguns tot die laagste trap gesink het.

Dieselfde dag het sy die laasuitgesproke sinsnede net so gelees in die koerant.

Alida is verbaas om sulke woorde te hoor uit die mond van haar moeder en dink in haar droefheid:

—Waarom het sy dan geweier om my aan hom te gee?

En Isabella is stil, want sy dink aan Jan Berlier, omtrent wie nog niks seker is nie.

Mevrou Orlandi vergeet Pistache ’n oomblik en vra:

—Weet sy moeder al?

Almal kyk Clement aan. Met ’n losse onverskilligheid, meer eie aan sy leeftyd as aan sy ongevoeligheid, sê hy:

—Sy moet nou alles weet. Op pad na huis het ek haar verbygekom; in haar ou rytuig was sy op weg na Maupas.

Iedereen voel iets eienaardigs by dié woorde.

Dit lyk of die koue buitelug meteens binnegekom het in die gerieflike warm eetsaal. Instinkmatig staan meneer Ambelard op om te kyk of die rame wel goed sluit. ’n Rilling loop deur die geselskap—hul sien in hul verbeelding almal dieselfde. En wat hulle sien, is ’n ou vrou wat al baie harde slae in haar lewe ontvang het, en nou oor die sneeu huis-toe gaan, kalm en vreedsaam, om in haar huis die doodstyding te ontmoet.

Die onvermydelike ramp, wat nou op die oomblik miskien in hul nabyheid plaasvind, is nog meer treffend as die verre en roemryke dood van kommandant Kibert in Afrika.

’n Snik van Alida breek die doodse stilte. Met ’n met skrik bevange stem fluister Isabella:

—Nou weet sy dit.

Die moeders in die geselskap steek hul trane nie weg nie. En mevrou Delourens—gou om handelend op te tree—maak planne van roubeklag en trooswoorde aan die arme vrou, wat sy gou wil besoek.

Clement siet al die lykstasiegesigte; en hy—wat hou van vrolikheid aan tafel—siet nou dat hy ’n fout gemaak het.

Sy vader—aan ou vorme geheg—hef onwillekeurig die swaarmoedige stemming ’n bietjie op deur ’n bysaak te bespreek waaroor hy nog nie uitgepraat is nie:

—In plaas van ’n veldwagter te stuur om die nuus oor te stuur, behoort die burgemeester self na Maupas te gaan.

Meneer Ambelard trek party van die opening in die gesprek om die protes te laat hoor wat hy al lank met moeite terughou:

—Al ons hartseer sal niks aan die saak verander nie, en ons mag gerus oor iets minder treurigs gesels. Voor ek na die komedie gaan, vra ek ook altyd eers of alles gelukkig afloop. In geselskap, soos in die komedie, moet die treurigheid uitgegooi word.

Graaf Lavernay dink ook so, en so word die dooie begrawe. Die sjampanje fonkel weer in die glase soos lewende goud. Die blomme geur oor die tafel, bedek met mandjies gesuikerde vrugte. Die juwele van die vrouens skitter in die lamplig. Nie sonder genoeë voel hulle hulle weer terug in hul ou element van deftigheid en welgedaanheid wat versteur was deur ontydige slegte nuus.

Maar Alida en Isabella voel apart in hul droefheid.

Die geselskap drink op die gesondheid van die jong egpaar Marthenay—want daarvoor is hierdie fees. En dan gaan almal na die voorkamer.

Alida kon nie meer hou nie en sy vlug na die kamer van haar ma. In die donker gee sy haarself oor aan haar smart. Sy het nog die moed gehad om te glimlag toe ’n feesdronk op haar ingestel was en toe gepraat was van haar „benydenswaardige geluk.” Haar geluk! Tevergeefs soek sy dit, nou of in haar verlede; en hoe sou sy dit in die toekoms ooit vind? Met die helderheid van gedagte, wat altyd kom by die sware skokke van die noodlot, wat ons dreig te verpletter, deurleef sy weer, in haar wanhoop, haar laaste lewensjare. Snel en helder kom die beelde verby, die een na die ander—al haar droewige dae . . . .

Sy wou nie die vrou word van Marthenay nie, maar sy was magteloos teenoor haarself. In haar trourok het sy die kerk ingestap aan die arm van die man wat sy nie self gekies het nie. En daarna? Kan sy terugsien op één uurtjie van geluk, die innige, suiwere geluk wat haar kinderlike verbeelding haar voorgetower het? Die eerste tyd van haar huwelikslewe het in ’n soort van weldadige verdowing op haar neergekom, soos ’n mistigheid wat oor ’n verwoeste veld kom en die narigheid daarvan bedek. Sy het vergeet om haar hart te ondervra. Haar man het die opgeruimdheid gehad van iemand wat besig is: hy was nou en dan te perd uit, hy het sy militêre pligte trou vervul, hy het vriende ontvang, hy het partytjies gegee. Sy het haar laat aflei deur die nuwe huishoudelike sorge en deur die menigvuldige pligte van wêreldse vertoning. By gebrek aan die man van haar drome het sy ’n man wat groots is op sy fortuin, en sy gesig, ja, om die waarheid te sê, sonder fyn maniere, sonder veel verstand of geestigheid, maar met ’n gesonde maag en ’n verwaandheid waardeur hy in onophoudelike selfbewondering verkeer. Toe haar dogtertjie gebore geword het, het sy gedink eindelik haar geluk te vind en die werklikheid te vergeet.

Van dié tyd, wat nog draaglik vir haar was, gaan haar gedagtes nou oor op haar teenswoordige toestand, wat altyd duur. Deur onverwagte gebeurtenisse moes die troepemag van Chamberie verplaas word na die Verre Oos. Tevergeefs het Marthenay probeer om ’n plaasvervanger te kry: hy moes saamgaan, of sy betrekking opgee. Die vooruitsig van sy vertrek het mevrou Delourens so rasend ongelukkig gemaak, dat sy jong vrou—onversigtig genoeg—hom herinner het aan sy belofte voor hul huwelik. En as ereman het die luitenant hom opgeoffer: binne vier-en-twintig uur het hy sy bedanking ingestuur. Met welbehae het hy hom oorgegee aan sy begeerte na ’n lui-lekker lewe, wat nie moontlik was tydens sy militêre loopbaan nie. En van dié oomblik af het hy laer en laer geval. Hy het begin met al die drinkplekke te besoek. Hy het ’n getroue besoeker van die klub in die stad geword. Hy het begin dobbel en het gewen. Terwyl sy vroutjie langsaam herstellende was, na haar bevalling, het hy onterende en berugte omgang aangeknoop met ander vrouens. Alida het eendag die lae verraad agtergekom. Haar regskapenheid het ná haar huwelik dieselfde gebly. Sy het eers geleer dat daar soiets as ontrou was deur die wrede ondervinding van ontrou self. Sy het daarteen opgekom. Maar in plaas van die skuldbekentenis en berou wat sy verwag het, en wat haar vergewensgesind sou gemaak het, moes sy die volgende vernederende woorde hoor:

—Jy wou gehad het dat ek moet bedank—wel, ek het bedank. Gee net jouself die skuld as ek probeer om, op my manier, afleiding te soek ná die verlies van my betrekking. ’n Man moet iets te doen hê. Ek het my lewensdoel vir jou opgeoffer. Wat het jy my daarvoor gegee?

Die verwyte het haar laat verstom. Sy het haar toe apart gehou en opgesluit in stille smart; hoewel ongetroos, kom die houding ooreen met haar onderdanige natuur.

Verlies by die dobbelspel het verbitterend gewerk op Marthenay. Hy het toe begin drink. Onder haar oë het hy probeer om haar vriendin Isabella te verlei; en, moedeloos, het sy die afjak wat hy gekry het, met onverskilligheid aangesien. So moes sy stap vir stap die agteruitgang sien, waarvan sy miskien nog die oorsaak was. Sy kon daar nie onverskillig by bly nie, en het tog nie in staat gevoel om ’n redding te probeer wat sy reeds voor onmoontlik aangesien het nie.

Noudat Alida haar hele miserabele bestaan so weer opgehaal het, versadig van verdriet, verbaas dit haar dat sy daar so deur ly. Dis haar gewoonte om met haar gedagtes alleen te wees. Sy het al gewend geword aan die troosteloosheid daarvan. En kyk, nou het hul bitterheid vir haar nog ’n nuwe smart. Ander droefgeestige gedagtes kom in haar herinnering op, as om haar daarop te wys hoeveel skuld sy self gehad het aan haar lot. Sy dink terug aan die dag toe Paula Kibert, daar in die eikebos, haar hart laat klop het met ’n ongekende verlange. Sy sien weer die rooi sonsondergang deur die bome, en sy voel weer die hemelse ontroering in haar boesem. Sy sien hoe Marcel sy lang gestalte na haar oorbuig en van liefde praat. En nou . . . . . nou sien sy hom daar lê, in ’n verre land, in die warm son, met ’n gat in sy voorhoof, bleek en aaklig, met ’n verwytende blik op haar. O die oë vol pyn! hoe goed weet sy nog hoe hul lyk! So het hy haar aangekyk toe sy met haar misdadige swye hul geluk verwoes het. En in die donker kamer probeer sy verniet om haar gesig toe te maak en sy oë nie meer te sien nie.

Verward en bewend, rig sy smeekbede en woorde van liefde aan die dooie:

—Marcel, vergewe my. Moenie vir my so aankyk nie! Ek het nie geweet nie. Ek was nog maar ’n kind. Dis my verontskuldiging. Ja, ek was lafhartig; ek was bang om stryd te voer vir jou, om my swakheid te verdedig. Ek was bang om te wag, om lief te hê, om moeilikheid te ly, om te lewe. Maar God het my gestraf! O, hoe wreed is die straf! Moenie meer vir my so kyk nie; maak toe jou oë en vergewe my! . . . .

Sy skrik vir die klank van haar eie stem en druk haar hand op haar bors. Sy voel benoud soos op die dag toe haar kindjie gebore geword het. Uit haar verskeurde hart verrys eindelik die beeld, die kennis van die ware lewe, in al sy krag en grootheid. En met haar hele bevryde siel het sy Marcel lief, soos hy haar liefgehad het—in sy sieleadel, in sy trots. Dis deur haar dat hy—soekende om sy smart te vergeet—deur die woestyn gegaan het en daar sy roemryke dood gevind het. En miskien het hy nog aan haar gedink toe hy geval het. Ja, haar grootste begeerte is nou om te weet dat sy laaste gedagte oor haar was, al sou hy ook met minagting aan haar gedink het. Sy vergelyk haar teenswoordige bestaan met dié wat sy versmaad het; en dit spyt haar dat sy nie liewer die weduwee is van ’n held nie as om ’n minderwaardige lewe te deel met ’n man wat geen liefde kan opwek of voel nie . . . .

Die deur van die kamer gaan oop, en mevrou Delourens—ongerus dat haar dogter so lank wegbly, roep in die donker:

—Alida, is jy daar?

—Ja, wat wil u hê?

Verbaas oor so ’n onverwagte afjak, gaan mevrou Delourens weg en kom met lig terug. Sy vind haar dogter beweegloos en bleek, en sien aan haar afgedroogde wange dat sy trane gestort het. Sy gaan by haar sit en haar omarm. Maar Alida stoot haar weg. En die hart wat net moederlik alleen is, kry ’n steek.

—My liewe kind, jy het verdriet! Wat is dit dan? Ek is tog jou moeder. Wat makeer jy vanaand?

Ondanks haar lus om baas te speel—wat deur die teenstribbeling nog aangewakker word—begryp sy dat sy haar kind nou nie moet opdruk nie. Sy liefkoos en vlei haar—maar alles verniet, want as sy weer vra:

—Wat makeer jy dan vanaand? dan antwoord Alida, met ’n ferme stem, wat haar ma heeltemal nie van haar gewend is nie:

—Niks nie!

Die moeder wik en weeg twee vrae wat op haar tong brand. Eindelik—nadat sy begryp het dat die dood van kommandant Kibert wel iets met die trane te doen het, en terwyl sy nie durf om die geheim aan te roer wat sy soos iets niksbeduidends behandel het nie—vra sy:

—Is dit oor jou man?

—Ja, fluister Alida, weer teruggeval in haar swakheid.

Altwee stel hulle tevrede met die leuen, wat hul die pyn spaar om die onvermydelike verwyt van die verlede te hoor. Hulle dink oor Marcel Kibert en hulle praat oor Marthenay.

Alida kla oor haar treurige bestaan:

—Dit was verkeerd van ons om hom te vra om sy betrekking te bedank.

—Hoe seer maak jy my, my kind! Sou jy my dan wil verlaat het?

—Is dit beter dat my man my verlaat?

—Ek sou gesterf het, sê mevrou Delourens opgewonde. Jy sal tog nooit begryp hoe lief ek jou het, en hoe graag ek jou gelukkig wil maak nie!

En sy meen heeltemal wat sy sê.

Mislei deur die droewige klag van haar dogter, vind sy weer haar sekere stelling terug, wat versteur was deur die gedagte aan die gesneuwelde held. Afgaande op die ondervinding van haar eie huwelikslewe, kan sy die teleurstelling van Alida haar bestaan glad nie voel nie. Is dit dan nie die lot van die meeste vrouens nie? En het haar dogter dan nie nog as troos, wat aan so baie ander ontbreek, ’n toevlug aan die warme moederhart nie?

En in haar gedagte sien Alida ’n ander moeder, wat op hierdie selfde oomblik die bittere lydensbeker leeg drink—’n arme ou vrou, by wie sy graag sou wil wees, en waar sy sou gewees het as sy haar bestemming gevolg het. Soos swakkelinge wat in opstand kom, gaan sy die maat te buite, tot sy onregverdig word ten opsigte van haar eie moeder.

Hulle kyk mekaar aan. Eindelik begryp mevrou Delourens haar dogter, en voel ’n diepe smart. Daar is meteens ’n diepe kloof ontstaan tussen haar en haar dogter. Altwee voel die wrede openbaring. Hul verskillende geaardheid—die een heerssugtig en heeltemal oorgegee aan wêreldse vooroordele: die ander tengerig, gedwee en oorheers deur haar teerheid—die verskil val hul meteens kragtig op.

As hul ’n oomblik daarna bedaard en gearmd in die voorkamer kom, dan het niemand ’n gedagte aan die treurspel wat ’n skeiding tussen hulle gemaak het nie.

Isabella is daar, sy lei die gesprek op luide toon, parmantig, geestig, en laat haar wit tande sien. Van tyd tot tyd kyk sy almal met haat en minagting aan—haar man, haar nalopers, Marthenay, Lavernay, en veral Clement Delourens—omdat hul haar nie kan sê of Jan Berlier nog leef nie.

Sy sien dat Alida gehuil het, en beny haar die opregtheid van haar smart.

As die oomblik van vertrek daar is, en Alida met haar na die kleedkamer gaan om haar te help met haar jas, maak sy van die geleentheid gebruik om haar arms om Alida haar hals te slaan en haar eindelik oor te gee aan die ontroering wat sy al die heel aand onderdruk het. En sy laat die volgende woorde hoor—wat Alida dadelik begryp:

—My arme Alida! Hoe lafhartig is ons twee tog gewees! Ag! hoekom kan ons vanaand nie openlik ons dooie beween nie. Ons lewe het aan hulle toebehoor, en ons het geweier om hulle dit te gee. Laat ons ons ellendige bestaan beween; alles kon vir ons helder gewees het!

—Ja, sê Alida. Selfs die dooie te beween, is nou nog te verkies bo ons teenwoordige bestemming . . . .

II. DIE BOODSKAP VAN DIE VELDWAGTER.

—Ek sal teen skemerdonker terug wees, het mevrou Kibert gesê aan haar dogter toe sy die middag weggery het met die rytuig. Sy het na Chamberie gegaan om famieliesake te reël in verband met die behoud van Maupas, wat nou moontlik sal wees omdat haar kinders in Asië—Etienne en Frans—en ook Marcel, deur sy werk in Afrika, so veel sukses gehad het.

Die son is al onder, en Paula gaan op stoep om te hoor of die rytuig nog nie aankom nie. Maar alles is stil. Dis skerp koud; sy gaan haar tjalie haal, en wag.

Die landskap is met sneeu bedek, en die aandlig kleur dit met ’n rose tint—soos ’n blos van maagdelike skroomvalligheid. Die wingerd-ranke en heinings dra ’n fyn kantwerk van ryp, skitterend in die laaste sonstrale. Die bosse is kaal en bêre geen geheime meer nie, en die fyn takkies bo staan swart geteken teen die suiwere winterlug.

Paula bewonder die towerspel van die winter. Sy beef van die kou. Net soos sy die deur instap, vlie daar ’n kraai in die verte en laat sy krassende stem hoor—sy vlerke soos ’n swart vlek teen die bleekblou lug.

—Ongeluksvoël! sê Paula, maar sonder gedagte aan ’n slegte voorteken: dis mos nou die tyd vir kraaie. Omdat daar geen kos meer op die velde te kry is nie, soek hul dit in die nabyheid van die huise.

Sy sit nog twee stukke hout op die kaggelvuur in die voorkamer en sit ’n ketel water daarop. Dan gaan sy ’n glas haal, die suikerpot, ’n lepel en ’n paar suurlemoene, en sit alles op ’n tafeltjie by die vuur, terwyl sy in stilte dink:

—Ma sal koud wees as sy tuiskom. Dis helder weer en koud, en ’n mens bevries amper in die ope rytuig. Die warm vuurtjie en ’n glasie pons sal haar goed doen—arme ma!

Sy neem ’n boek en probeer om te lees, maar dit wil nie vlot nie. Die horlosie slaat sesuur. Ongerus gryp sy weer die tjalie van die stoel en gaan weer op stoep staan.

Dis nou al nag. Die sterre staan bewerig aan die klare hemelruim—net of hul koud kry. Hoewel die maan nog nie op is nie, is die gesigseinder darem nie donker nie. Dit lyk of ’n onbestemde lig van onder opgaan, en of die wit besneeude aarde die hemelruimte verlig.

Onder in die laagte sien Paula die liggies van Chamberie skitter. Sy boor met haar oë tussen die eikestamme deur waar die rytuig langs moet kom, of sy die beweënde lanterns nog nie gewaar nie. Die minste geluidjie wat die windjie aandra, hoor sy. Nou word sy bedroë deur die tiktak van ’n windmeul. Dan skrik sy meteens op as sy ’n krysende geskreeu hoor, soos ’n noodroep. Maar die skrik gaan weer weg, want sy het die fluit herken van ’n naburige fabriek. Lank bly sy so staan, leunende op die tralie oplettend en onrustig.

Marie, die ou vrou wat hulle deur goeie en kwaaie dae gedien het kom haar soek en beknor haar:

—Maar is dit nou nie dwaas nie, juffrou, om in so ’n koue buite te bly nie! Kom nou binne; u sal mevrou tog nie gouer laat kom nie.

Paula gehoorsaam sonder antwoord te gee. Sy gaan in die voorkamer om die vuur op te stook. Haar gewone moed het haar verlaat. Haar hart klop hard in haar bors. Sy probeer om haarself gerus te stel—maar dit gaan nie.

—Die ou perd draf maar stadig, sê sy. Die notarisse hou ’n mens altyd langer besig as jy gedink het.

Sy hou nou op om te probeer die ongerustheid te oorwin, wat elke minuut groter word. Selfs in die gebed vind sy geen kalmering. Daar hoor sy die voordeur oopgaan.

—Het ma gekom? vra sy, opspringend, aan ou Marie wat by die deur verbykom.

—Nee, juffrou, dis ’n man wat vra of hy die ou mevrou kan spreek.

En?

—Hy sê hy is die veldwagter en word gestuur deur die burgemeester.

—Die veldwagter? En wat wil hy hê?

Sy word nog meer ongerus en sê dat hy binnegelaat moet word. Maar sy bedwing haar en ontvang die boodskapper van die burgemeester skynbaar met die grootste kalmte.

Stug swyend en onverskillig, soos mense wat heeldag besig is met een soort harde werk, voel die man tog dat hy ’n belangrike sending te volbring het, nou hy so voor Paula staan. Op pad het hy daar nooit aan gedink nie.

Paula sê aan hom:

—My moeder is uit. Maar kan ek die boodskap aanneem?

Hy praat nie, hy voel ongemaklik, en sy swye vermeerder Paula se innerlike angs. Dan stamel hy:

—Juffrou, ek moet . . . . ek moet u vertel . . . .

Die lamplig val op sy gesig, sy sien die verleentheid en beteuterdheid daarop en gee haar oor aan haar donkerste voorgevoelens. Haastig pratend skud sy die man nou wakker uit sy verdowing:

—Maar praat, praat dan tog! Het daar ’n ongeluk gebeur? My moeder . . . . . op die pad . . . .

Sy kan nie verder nie.

—Nee, sê die man. Ek het mevrou nie ontmoet nie.

Dan bly hy weer stil.

—Maar waarvoor het jy dan gekom? As jy iets te sê het, sê dit dan, en maak gou!

Regop en fier, neem sy die toon van gesag aan, wat sy somtyds laat geld—net soos Marcel. Dié houding bring die boodskapper heeltemal van sy stukke af. Met stomheid geslae, haal hy die telegram uit sy sak en gee dit met sy groot, bewende hand aan die meisie, dan wil hy weggaan. Paula het die rooi papiertjie in haar hand. Voor sy dit nog oopvou dink sy al aan haar broer. In ’n sekonde is haar oog daarop. Ag! is al wat sy sê. Sy verfrommel die papier in haar hand en word doodsbleek. Maar sy span al haar kragte in en bly regop staan, en stort geen traan nie. Aan hierdie man, wat sy vir ongevoelig aansien, wil sy haar swakheid nie toon nie. Maar sy moet vashou aan die tafel. Dié beweging en haar bleekheid is al wat verraai wat sy voel.

’n Verskriklike stilte lê op albei.

Eindelik sê sy sonder enige beweging:

—Dis goed. Gaan nou maar weg. Dankie.

As hy omdraai om uit te gaan dink sy nog aan die wet van landelike gasvryheid en sê:

—Vra aan Marie om jou iets te drinke te gee.

Maar die man hardloop die kombuis deur en vlug asof ’n moordenaar agter hom aan is . . . . . .

—God! Is dit waar? sug Paula, nou sy alleen is. Sy wankel na die skoorsteenmantel, hou met twee hande daaraan vas om te bly staan, maar sak neer op ’n stoel. Sy beef oor haar hele lyf. Sy stryk haar hand oor haar oë, wat geen traan stort nie en verdwaald rondkyk, asof sy die verskriklike toneel wil uitsluit wat haar voorstaan. Daar voor haar, op die kamertapyt, sien sy haar broer lê, met ’n gat in sy voorhoof, waaruit sy edel bloed, sy lewe, wegvloei. O die ernstige gelaat, droefgeestig maar fier, welbewus van sy lot, soos sy dit altyd gesien het na die weiering van Alida; en nou sien sy dit weer, maar die oë is nou onsiende, roerloos, starend—skoon is die gelaat, en kalm in die dood!

Saggies roep sy: Marcel! Marcel! en verberg haar gesig in haar hande. Maar daar kom geen trane om haar smart te verlig nie. Haar broer, vir wie sy soveel verering gehad het, op wie sy so trots was, is dood, dood! Tien-, twintigmaal herhaal sy die woord om al die vreeslikheid daarvan te deurgrond. Dood, die held van die skone oorwinninge! Op twee-en-dertigjarige leeftyd is die heldhaftige en selfopofferende jong lewe afgesny. O, hoe min was hy aan die lewe geheg! Al lank het hy daar met geringagting op neergesien; was die ontmoeting met ’n banghartige meisie nie genoeg om hom alle lewenslus te ontroof nie? En onwillekeurig roep Paula al die herinneringe terug wat vir haar voortekens was van sy naderende dood: Dit was daardie glimlag vol vertroue wat sy die aand op sy lippe gesien het toe hy haar sy hartsgeheim geopenbaar het. Dit was dié onverskillige handbeweging wat hy gemaak het toe hul die sombere waarskuwing van die uile gehoor het ná sy laaste onderhoud met Alida. Dit was ook—toe hul die dag van sy vertrek daar op die boomstam in die bos gesit het—die sagte, wonderlike afgetrokkenheid wat hy laat blyk het toe hy gepraat het van sy toekoms. Jare al, van dié aand dat hy Alida die laaste gesien het, dra hy die dood in hom om. Nooit het hy weer haar naam genoem nie. Nooit het hy weer gesinspeel op sy liefde vir haar nie. Maar hy het alle geloof in die lewe verloor . . . . . . En op die geliefde gelaat, wat sy in haar verbeelding met innige deelneming aanskou, ontdek Paula ’n diep-tevrede rustigheid, onversteurbaar, altyddurend. En meteens gee sy ’n luide skree, val knielend neer en ween.

—Ja, dink sy, jy rus in vrede. Ons liefde was vir jou nie genoeg nie. En ons het jou tog so liefgehad, Marcel. Jy het nooit geweet hoe lief ek jou gehad het nie. Ek was nie in staat om jou dit te sê nie, maar mijn hart was vol van jou. Waarom het die dood my nie weggeneem in plaas van jou nie? Ek is tog onnuttig!

Daar’s ’n ander onrus nog, waaraan sy maar liewer nie nou wil dink nie, maar dit voleindig die verwarring van haar gees: Marcel het ’n maat by hom gehad, in die slag . . . .

Meteens spring sy op:

—As ma nou kom!

Sy het haar vergeet. En terwyl sy God dank dat sy aan haar ma die allerdroewigste nuus kan meedeel, ween sy nou, nie vir hom wat daar vir altyd in slaap geval het op die veld van eer en oorwinning nie, maar vir haar wat daar bedaard aangestap kom, terug uit die donker daarbuite, sonder argwaan, na die rand van die afgrond. Sal hierdie laaste slag nie genoeg wees om die ou, swaar-beproefde lewe heeltemal af te breek nie? Tevergeefs soek Paula na ’n ligplekkie. Om haar heers ’n kerkhofrou. Ag, al die sterfgevalle en skeidinge: haar suster Thérèse, dood op twaalfjarige leeftyd; haar vader in sy volle krag afgeknak; haar suster Margriet ’n sendelinge; Etienne en Frans in die kolonies. Sy is nog net hier, heeltemal alleen, om haar ma te help om die alte sware kruis te dra. Maar nou dit nie anders kan nie, sal sy dapper wees en die wankelende ouderdom met haar krag ondersteun.

Sy droog haar trane af en was haar gesig.

—Ek sal haar nog nie nou, nog nie dadelik, vertel nie, sê sy. Sy moet tyd hê om warm te word en te rus. Ek sal haar vanaand vertel dat Marcel siek is. Verlede nag het sy niks geslaap nie. Vannag moet sy ten minste nog slaap. Môre word haar hart verbrysel. By dag is dit gemakliker om pyn te ly as in die nare, graf-donkere nag. Vanaand bly ek nog stil. . . . .

Sy spaar haar moeder die bittere lydensbeker. Uit die verre land, waar sy siel nou in vrede rus, roep haar groot broer haar toe: Spaar haar vanaand! Sy het tog al so swaar gely!

Daar hoor sy voetstappe. Haastig verberg sy die noodlottige telegram.

Marie, die ou bediende, kom binne:

—Daar is mevrou. Ek hoor die rytuig aankom.

III. HAAR LAASTE KIND.

—Goeienaand, ma.

Mevrou Kibert kom binne, ’n bietjie vooroor gebuie, toegedraai in ’n ou mantel waarvan die harebekleding verslete is. Die laaghangende kap oor die lamp verhinder haar om die bleekheid van haar dogter op te merk terwyl sy haar soen. Sy gaan na die vuur toe.

—O, hoe heerlik om tuis te kom! En ’n mens hou tog maar van so ’n ou tuis waar ons die lewe geken het . . . . en die dood! Weet jy nog, Paula, hoe bedroef ons was toe dit gelyk het of ons Maupas sou moet verlaat?

Sy verwarm haar verrimpelde hande by haar huislike vuurtjie. Paula nader haar van agter en haal haar hoedjie af.

—Hou u mantel nog maar ’n bietjie om, ma; u het seker baie koud gehad.

Mevrou Kibert draai haar hoof om en kyk haar dogter aan. Sy glimlag haar teen. En die glimlag, onder haar grys hare, op haar nog frisse wange, in haar vertroulike, rein, blou oë, is lieflik, soos die najaarsrose wat nog aanhou bloei, selfs in die sneeu.

—My liewe kind, as ek jou aankyk, dan maak dit my nog warmer as die vuurtjie wat jy vir my aangemaak het.

Paula staan op haar knieë en vat die ketel aan:

—Ma gaan nou ’n lekker warm pons drink.

Haar ma sien nou meteens dat sy so wit is as was:

—Maar dis jy wat versorg moet word, my kind! Jy is heeltemal bleek en siek, en jy sê my niks daarvan nie. En die ou vrou staan dadelik op van haar stoel.

—Ag, dis niks nie, ma. Moenie ongerus wees nie. Ek het miskien kou gevat buite op stoep. Ek sal na die ete dadelik gaan slaap.

En om die besorgdheid van die moeder tot bedaring te bring, het sy die moed om daar nog laggend by te voeg:

—Ek verseker u, ma, dis glad niks nie.

Sy dink daaraan dat die hanglamp in die eetkamer haar gesig te veel sal verlig—daarom sê sy:

—Laat ons hier eet, ma, voor die vuur: dis beter.

—Maar die tafel is binne al gedek.

—O, dis gou te verhelp, ma sal sien.

—Nou toe dan maar, my kind. Jy is self yskoud. En in die oop rytuig het ek dit ook maar goed gevoel.

Paula het alles reggemaak, en hulle sit aan.

—Jy het niks geëet nie, my kind. Jy is siek. Toe, gaan slaap nou. Ek sal jou bed vir jou verwarm en ’n bietjie tee vir jou maak. Nou sal ek jou weer versorg.

—Nee, regtig, ma, ek het niks nodig nie. Marie sal my ’n kruik warm water gee. En nou moet ma ook maar gaan slaap. Nag, ma. My liewe ou mampie!

Hartstogtelik omhels sy haar moeder en verdwyn dan in haar kamer. Sy kan nie meer nie. Sy pluk haar klere van haar lyf af, maak met een handbeweging haar lang hare los, blaas haar kers uit, en—toegerol in haar kombers—gee sy haar heeltemal oor aan haar heftige droefheid, wat sy te lank onderdruk het. Agtereenvolgens voel sy, daar in die donker, wat neerslagtigheid is, opstand teen die noodlot, en, eindelik, grenslose medelye met al wat mens is.

Sy beween haar broer, haar moeder, haarself. Na die kant van die muur gedraai, begrawe in haar ellende, haar gesig in haar sakdoek, vergeet sy die verbygaande tyd en hoor nie hoe haar ma ook na bed gaan nie.

Mevrou Kibert se kamer is naasaan. Sy maak saggies die tussendeur oop, om haar dogter nie wakker te maak nie, en om in die nag te kan hoor as sy iets nodig mog hê. Dan, soos elke aand voordat sy haar uitklee, kniel sy voor haar bed, en bid. Soos elke aand, versamel sy in haar gebed haar geliefde dode en lewende—oor die hele wêreld verstrooi—om hulle aan te beveel in die beskerming van die Heer; en sy herdink in haar gebed veral die onsekere bestemming van Paula en die gemartelde siel van Marcel.

Haar hardhorigheid en haar toewyding sonder haar heeltemal af van alles. Maar nou sy in haar bed is, verbeel sy haar dat sy ’n snik gehoor het. Sy luister, maar stel haar weer gerus.

—Paula slaap, dink sy. Sy was bleek vanaand. Die arme kind. God behoede haar en make haar gelukkig! . . . . Ou Marie moet seker ook kou gevat het. Haar oë was rooi, en haar hande het gebewe.

Meteens gaan sy orent sit. Nee, nou het sy dit alte goed gehoor: die half-versmoorde snik kom van Paula haar bed. Sy skerp nou haar oor en hoor dat Paula wanhopend ween.

Geweldig verskrik, klim sy uit haar bed. Sy voel somaar meteens dat daar niks aan Paula haar gesondheid makeer nie. Sy dink ook nou daaraan hoe sy die hele aand al ’n treurige stemming in die huis gevoel het. Die ongeluk is haar vooruitgeloop na Maupas en is voor haar die huis ingegaan—’n ongeluk waar almal van weet, net sy nie, en wat wèl erg moet wees omdat dit voor haar weggesteek word. Sy het ’n voorgevoel van die sombere en gehate teenwoordigheid van haar ou kennis, die dood: Wie het hy weer geraak? Watter slagoffer het hy haar nou weer ontneem? . . . .

En terwyl sy tastende en blootsvoets in die donker aanstap, tel sy almal wat afwesig is, Magriet, Etienne, Frans, Marcel . . . . ja, dis Marcel!

Sy voel die geopende deur, sy raak aan Paula haar bed, en oor Paula gebuie, sê sy:

—Paula, sê my wat jy makeer!

Meer durf sy nie te sê nie.

Die meisie, meteens in haar smart verras, laat ’n skreeu hoor van angs en jammer, wat haar hele geheim verraai:

—O my arme ma!

—Marcel—is dit nie so nie? sê mevrou Kibert asemloos. Daar’s slegte nuus van Marcel.

—My ma, my ma! sug Paula.

—Is hy siek, baie siek?

—Ja, ma, hy is siek!

En Paula, half orent, slaan haar arms om die hals van haar ma.

Saggies, maar ferm, stoot haar ma haar weg:

—Hy is dood?!

—O! laat ons tog wag tot môre, ma; dan sal ons tyding kry. Wees sterk, ma; ons weet nog nie.

—Jy het iets gekry, ’n brief of ’n telegram. Wys dit vir my. Ek wil dit sien!

—Maar, ma, bedaar tog! smeek Paula, met ’n gebroke stem waar die hele waarheid in lê.

—Hy is dood! hy is dood! herhaal mevrou Kibert.

Sittende op die rand van die bed, yskoud, voel sy haar hart opegaan en alle lewensmoed daaruit wegstroom. Tevergeefs wend sy haar tot die Heer, haar eerste toevlug in die ure van rou. Sonder trane, en verskrikliker as wanneer sy sou gehuil het, kla sy met luide stem:

—Ag! hierdie keer is dit te veel! Ek kan nie. Nee, daarby kan ek my nie neerlê nie. Altyd het ek my aan U wet onderwerp, my God! Met ’n verbryselde hart het ek U naam nog geprys. Maar nou het ek nie meer krag nie. Ek is ’n arme ou vrou, afgeleef en baie swak, en ek het al meer gely as wat nodig was om my te beproef. Ek kan nie meer nie, ek kan nie meer nie! Marcel, my Marcel!

—My ma! my ma! sê Paula weer, en druk haar vas in haar arms.

Sy voel die koue rillings loop oor die lyf van haar ma, wat onbeweeglik bly in die donker, soos ’n boom in die nag deur die blits getref. Meteens spring sy op, stryk ’n vuurhoutjie aan, en met haar arms om haar weeklaende ou moeder, lei sy haar terug na haar kamer. Sy wil haar in haar bed help. Maar mevrou Kibert—tot dusver volgsaam en gedwee—stribbel nou teë:

—Nee, staande wil ek ly!

Paula kleed haar ma eers haastig aan voordat sy haarself aankleed. Dan bring sy haar na die voorkamer, waar sy die byna dooie kole weer aanblaas. Sy maak ’n groot vuur en sit weer ’n ketel water daarop. Stil en terneergesla loop sy heen en weer in die kamer, in ’n wit kamerrok, bleek onder haar lang swart hare, wat in oorvloed neerhang op haar skouers—sy lyk soos ’n engel van smart en vertroosting.

Sy het haar ma by die vuur gesit, in ’n groot stoel, met ’n kombers oor haar knieë.

Gewond in die heiligdom van haar moederlike bestaan, bly die ou vrou verdoof en roerloos sit, sonder ’n lid te beweeg, sonder ’n traan, in ’n toestand van terneergeslaendheid, erger as die wanhoop self. Sy kla nie meer nie, sy bid nie meer nie, sy kyk net reguit sonder iets te sien, en sy swyg. Deur die noodlot oorstelp, lyk sy nou onverskillig. Sy voel haar gemartelde hart nie meer in haar bors nie. Sy laat haar meegaan met die ontsaglike stroom van haar ongeluk, soos ’n drenkeling hom oorgee aan die bodemlose oseaan.

Geduldig wag Paula af tot die trane die aaklige stilte kom verbreek, soos ’n watervloed meteens ’n dam deurbreek wat hom stuit. Maar haar ma bly nog maar roerloos en stil. Sy wil haar iets laat drink. Sy gaan op haar knieë staan, neem haar hande en roep haar aan:

—Ma, ma! praat van Marcel. Praat tog, ma!

Daar is geen antwoord nie. Nou begin sy bang te word. Dis of sy met die dood alleen is. Buite haarself snik sy:

—Ma! is ek dan nie ma haar kind nie, ma haar laaste kind, haar Paula nie?

Dit lyk of mevrou Kibert uit ’n bedwelming ontwaak. Sy kyk na die gesig vol verdriet wat haar so angstig aanstaar. ’n Lang rilling skud haar hele lyf deurmekaar. Oorwin, strek sy haar arms uit na haar kind, en aan haar bors geleun, ween sy. Dis nou sy wat, in haar swakheid, om hulp smeek.

Lank bly die twee so sit, mengende hul trane en hul ellende, en ondervindende die soete smart van ’n gesamentlike lye in liefde.

As die moeder haar woorde weer kan vind, dan gebruik sy dit om die Heer te dank:

—Paula, my hart, wat het ek netnou gesê? Nee, God is goed: Hy kan my nog meer kasty. In my ellende skenk Hy my ’n engel tot hulp, en die engel is jy. En ek weier om gebroke te wees! O my God, U wil is wreed, maar geprese sy U naam!

Nou sy weer ’n bietjie moed het, vra sy om die noodlottige telegram te sien. Herhaaldelik moet sy haar kragte bymekaarmaak om dit te kan lees, en wenend sê sy aan Paula:

—Hy is geval soos ’n held . . . . Hy herleef nou in die bysyn van sy God.

—Ja, sê Paula, as oorwinnaar is hy gestorwe, in sy voorhoof getref.

Altwee bly stil. Altwee sien die skone voorhoof van Marcel, met bloed bevlek, die hoë voorhoof wat so ’n fiere gees gebêre het.

Mevrou Kibert kry jammer vir Paula:

—Gaan slaap nou. Môre sal jy al jou kragte nodig hê om jou ou moeder by te staan.

—Nee, ek laat ma nie alleen nie, sê Paula.

—Kom, laat ons dan same bid.

Naas mekaar kniel moeder en dogter. Lank duur die gebed van die ou moeder. Paula is uitgeput en gaan sit naas haar. Maar mevrou Kibert hou aan, ondersteun deur ’n bowemenslike krag; oor haar wange rol die trane, wat sy nie meer afdroog nie. Sy smeek.

Illustration from Bang vir die lewe

Naas mekaar kniel moeder en dogter. Lank duur die gebed van die ou moeder.

—Liewe Heer, neem aan die offer van ons droefheid en ellende. Toe U aan die kruis gestorwe het, was U moeder ten minste by U. Maar ek was nie by my seun nie. Skenk my moed om die beproewing te dra. Nie vir my nie, my God, maar vir die taak wat ek nog te vervul het, vir my kinders, vir hierdie een wat U nie gespaar het nie. Sy is nog baie jonk om soveel te dra. Ek het al gewend geword aan pyn en ellende: maar sy—beskerm haar, wees genadig . . . .

Sy keer haar om na Paula en sien dat sy met haar bleek gelaat agteroor lê in die groot stoel. Ondanks haar moed is die jongmeisie in haar trane in slaap geval, haar geswelde ooglede is nog vogtig.

Mevrou Kibert staan op, gaan naas haar sit, en medelydend neem sy die hoof van Paula op haar skoot. Haar mooi swart hare val om haar gelaat en verhoog nog die bleekheid daarvan. So lê die doodvermoeide kind aan slaap, bewaak deur haar moeder.

Haar moeder kyk in haar gesig, op die onbeweeglike, jong gelaatstrekke. En sy sien ook hoe haar seun lê, daar vèr op die woestynsand, ’n gat in sy voorhoof; soos hy daar uitgestrek lê, groter nog as toe hy fier orent in lewe rondgewandel het. Saggies spreek sy hom aan:

—O my kind! my liewe kind! nou weet jy wat die ewige rus en vrede is. Jy is ’n goeie seun vir ons gewees en ’n dapper man. Niks as wat groot is, het jou hart geroer nie. Jy kan ons sien, nie waar nie? Jy sien hoe ons ween en hoe ons harte verbrysel is. Waak oor ons uit die Hemel, oor Paula. Ek is reeds op pad na my graf, na jou, na jou vader. Die aarde trek my aan. Ek voel dit, en jy roep my. Gou-gou sal ek vir altyd by jou wees . . . . My God, wie sal my oë toedruk op my doodsbed as U my al my kinders ontneem?

En met haar arms om Paula, druk sy haar vol liefde teen haar aan en begin weer te bid, smekende aan die noodlot om tog haar laaste kind vir haar te spaar . . . .

Die môreskemer verlig die treurende tweetal. Dit word dag—so ’n wintermôre wat ’n koue lig-rilling oor die sneeu laat dwaal. Die ou vrou bid nog aaneen. Uit God put sy haar onoorwinlike krag. As uitverkorene van die smart, moet sy tot selfs die besinksel van die bittere lydensbeker uitdrink.

Paula word wakker en sien hoe haar ma, bleek en yskoud, haar flou toelag. Sy sê tevergeefs aan haar dat sy rus moet neem en moet eet.

Geboë, en meer dan tien jaar verouderd, gaan mevrou Kibert aan haar skryftafeltjie sit en begin met vaste hand te skrywe aan haar afwesige dogter en seuns, sodat almal kan deel in hul gemeenskaplike beproewing . . . .

IV. ROUBEKLAG.

Gedurende die dae wat volg, beskryf die koerante, tot in alle besonderhede, die treurspel wat daar vér in die woestyn afgespeel is. Aan die roemryke nagedagtenis van die heldhaftige kaptein Kibert word alle eer bewys. Sy portret en lewensbeskrywing kom in die koerante. Sy te korte loopbaan word deur alle harte betreur. In hul eensaamheid, op Maupas, oorstelp van droefheid, ontvang die moeder en dogter in stille gelatenheid die talryke betuiginge van simpatie, wat uit die hele land na hulle toestroom, van die Regering, van die kommando-maats van Marcel, van bekende en onbekende mense. Hulle steun mekaar, om hul verlies beter te kan verstaan en te kan dra; en hul enigste troos vind hul in gebed en in hul wedersydse liefde vir mekaar.

Meteens kom nou die deftige wêreld tot besluit om die voortou te vat in die uiting van algemene simpatie—die deftige wêreld, wat eers die rug toegekeer het aan die famielie Kibert in hul eerlike verlies van hul fortuin.

Mevrou Delourens voel dat sy iets moet doen. Sy haal ou jongjuffrou Sonjon oor—as honorêre presidente van die Rooi-Kruisvereniging—om voor te gaan in die instelling van ’n lykdiens, wat met groot ophef sal plaasvind in die groot kerk van Chamberie. Dis naamlik van belang om die nagedagtenis van die roemryke dode in genadige beskerming te neem, en om deur al die deftigheid uit te blink bo sy burgerlike afkoms. Die outoriteite sal ook uitgenooi word om teenwoordig te wees; hulle sal aan die diens iets vernaams meedeel—en hul afwesigheid sal die koerante van die politieke teenpartye ’n stok in die hand gee! In elk geval sal dit dus goed gaan.

Alles is nou mooi agtermekaar—alles en almal bymekaargesoek, die diens bepaal, die uitnodiginge uitgestuur; mejuffrou Sonjon en mevrou Delourens word offisiëel afgevaardig na Maupas om nou net nog die famielie Kibert se toestemming tot die kerkdiens te vra. Mevrou Marthenay (Alida) gaan saam met haar ma; sy wil haar roubeklag doen—wat sy innig diep voel!—aan mevrou Kibert en aan Paula, en sy het nie gedurf om alleen te gaan nie.

Dis die eerste dae van Maartmaand. Die sneeu smelt op die somber, modderige velde, op die verspoelde paaie. Onder laaghangende, swaar wolke, omring van nakende, swart, verwaarloos uitsiende bome, lê die ou buitehuis daar, droefgeestig en verlate.

—Ek sou my tog nie, jaar-in en jaar-uit, op so ’n plek lewendig wil begrawe nie, sê mevrou Delourens aan mejuffrou Sonjon terwyl die rytuig die verlate boomlaning opry.

—Die kerk is te vèr van hulle af, sê die ou jongjuffrou, met ’n vroom gesig.

Die ou siel het nog nooit uitgevind, dat God oral is nie, en dat sy nie die hele land hoef rond te reis—veral na die plekke waar sy dit lekker het—om Hom te vind nie.

Ou Marie, die bediende, sien die deftige rytuig, en waag dit nie om toegang te weier aan die hoë dames nie, alhoewel sy strenge orders het om niemand toe te laat nie. So gou as haar ou bene haar kan dra, gaan sy sê dat daar mense is. Mevrou Kibert is verdrietig daaroor en sê:

—Maar ek het jou tog gesê ek wil niemand sien nie. Sy draai na Paula: Ek het nie die moed om mense te ontvang nie. Waarom kom mevrou Delourens ons hinder? Ons het niks aan haar nie, wat wil sy hê?

—Ek weet tog nie ma, sê Paula; sy staan op, klaar om uit die kamer te gaan.

—Help my om hulle te ontvang, Paula.

Mevrou Kibert kyk haar dogter aan, en sien hoe haar bleek gesig beef en ’n besliste trek aanneem, aantonende wat daar in haar omgaan.

—Paula, smeek sy, verlaat my nie; ek is bangerig en onhandig, dink daaraan. As ’n mens kwaad gedoen het, is dit gouer vergeet as wanneer ’n mens goed gedoen het. As sy met my oor die verlede praat, sal ek nie weet wat om haar te antwoord nie. Bly by my, Paula.

Paula aarsel nie meer nie en gee ’n teken aan Marie om die mense binne te laat, terwyl sy sê:

—Ek bly hier, ma.

Mejuffrou Sonjon is maar min gewend aan pligpleginge, en laat die woord aan mevrou Delourens:

—Wat ’n wrede slag vir u! sê mevrou Delourens, terwyl sy nader kom na mevrou Kibert—die ou vrou moet aan die skoorsteenmantel gryp om te kan opstaan van haar stoel; dan groet mevrou Delourens ook vir Paula, terwyl sy voel hoe die meisie haar met ’n ferme en vyandige blik aankyk. Sy wens dat Paula uit die kamer is.

—Ja, antwoord Marcel se moeder, God beproef ons.

So gee sy dadelik ’n ernstige en godsdienstige wending aan die gesprek. Mejuffrou Sonjon slaan haar oë op na die hemel, net of sy alleen die vereiste outorisasie het om die goddelike tussenkoms in te roep:

—Hoe algemeen is tog die beklag wat u in u rou ontvang! sê mevrou Delourens weer. Die eenstemmige betuiginge van bewondering vir die heldhaftigheid van die kommandant, die algemene simpatie en rou . . . . In ons dae van volksheerskappy word verdienste nie meer genoeg geëer nie. Dikwels moet die dood eers die volle waarde daaraan toeken; en eers na ’n onherstelbare verlies, betreur ’n mens dit bitter dat jy te laat van die verdienste kennis geneem het.

Mevrou Kibert is bewoë sodra van haar kind gepraat word. Sy dink by haarselwe: Nou wil sy ekskuus maak omdat sy Marcel afgestoot het; eindelik sien sy haar fout in en het daar spyt van; maar mevrou Marthenay moet nie saamgekom het nie: haar teenwoordigheid is pynlik vir ons. Die ou vrou kyk mevrou Delourens aan, en die opheldering in haar smart-verwoeste gelaat lyk soos ’n sonstraal in ’n blaarlose bos in die winter. Maar Paula is nie so maklik te oorrompel nie, hoewel sy daar nie aan kan twyfel of mevrou Delourens heeltemal sonder bygedagte so praat nie.

Nà ’n oomblik stilte, begin mevrou Delourens nou met die doel van haar besoek.

—U sal dit dus heeltemal natuurlik vind dat ons die begeerte voel om eer te bewys aan so ’n waardevolle nagedagtenis. Die hele land neem deel in u rou, maar veral die mense van aansien, tot wie u seun behoor het deur sy famielie en sy verdienste.

Sy skep ’n slaggie asem, en nou sy voel dat sy mooi op stryk raak, swaai sy haar oog snel oor haar toehoorders. Mejuffrou Sonjon staan goedkeurende buiginkies te maak met haar lanklysige, uitgedroogde lyf. Alida, in haarself gesluit, kyk na die bedroefde aangesigte van mevrou Kibert en van Paula—haar ou skoolmaat. Sy voel so sleg, dat sy haar hand op haar bors moet druk: die snikke wat sy inhou, verstik haar. Sy sou haar hele hart uitstort voor die moeder en dogter, maar sy durf nie. Sy probeer om saggies die hand te vat van Paula, wat naas haar sit. Maar beslis trek Paula haar arm weg: sy het nog niks vergeet nie.

Die kragtige stem van mevrou Delourens weerklink weer deur die stille voorkamer:

—Al die vernaamste dames van die Rooi-Kruis en van die hoogste kringe het meteens ’n aansporing gevoel om te vra dat daar ’n plegtige lykdiens gehou sal word in die groot kerk van Chamberie. Al die predikante uit die omtrek het beloof om te kom. Die Regering sal goed verteenwoordig word. Die diens sal so groot en pragtig wees, glo my, mevrou, dat dit die nagedagtenis van die grote dode waardig sal wees.

Sonder ’n woord te praat, het mevrou Kibert haar aangehoor; sy antwoord eenvoudig:

—Ek dank u, mevrou; en bedank asseblief ook vir my al die dames vir hul goeie voornemens. Ons het, na ons eie beurs, ’n klein diens laat hou. Al was dit koud en vèr, ons vriende het almal gekom. Die generaal van die kommando was self ook daar, en ’n groot klomp offisiere. Baie dankie, maar ons het nie behoefte aan nog meer publieke plegtighede nie.

—Ja, mevrou, ek begryp u goed. ’n Famielie hou nie daarvan dat vreemdelinge indring by hul rou nie. Maar dis hier ’n besondere geval. Die dood van kommandant Kibert is ’n publieke ramp. Die verlies van u seun is ’n verlies vir die hele land. Sy lewe en sy dood is die land tot eer. Dit moet u dus nie verwonder as ons hom groot dank betoon nie. Dit spreek vanself dat die geldmiddele van ’n famielie maar beperk is. Maar laat ons dit in hande neem. Ontsê ons nie die plesier nie . . . .

Dadelik slaan sy die ongelukkige losgelate woord dood:

—Die droewige plesier wat ’n lykdiens-gebed ’n mens laat voel. Die plegtigheid is ’n gebed vir ons. U, wat so ’n brawe kristin is—kan u die gebede weier wat ons wil aanbied? Kan u dit oor u hart kry om ons deelneming in u rou van die hand te wys?

—Die kerk stel belang in die plegtighede en oefeninge, sê mejuffrou Sonjon—haar godsdiens is praalsugtig en aristokraties.

Alida het aan die muur ’n vergrote portret ontdek van Marcel; en vir niks het sy nou nog oog nie as vir die fiere jonkman, wat sy so sonder moed liefgehad het.

Onderwyl aarsel mevrou Kibert nie omtrent haar antwoord nie, maar omtrent goeie en beleefde woorde tot inkleding van haar antwoord. Mevrou Delourens kom haar hier ’n verbetering aanbied op haar eie beskeie lykdiensie, wat so sonder praal of pronk of glans was, en nou aangevul moet word deur ’n minder armsalige, deur ’n skitterender en wêreldse vertoning. Dis die rykdom wat die armoede besoek en genadig onder beskerming wil neem. So neem Paula dit op; sy kook inwendig en kyk haar ma skerp aan met haar donker oë, waar lig in flikker—soos blitse in die nag. Maar mevrou Kibert sien in die aanvraag niks meer nie as ’n eerbiedige hulde aan haar kind; en hoewel sy so’n mededinging—wat sy as onnuttig beskou—van die hand wil wys, probeer sy elke woordjie te vermy wat die minste wrywing sou kan veroorsaak.

Paula vrees dat haar ma te beskroomd is, en het ’n halwe gedagte dat sy besluiteloos is—dus waag sy dit om haar voor te spring:

—U plan het ons diep getref, mevrou, en ons stel dit na verdienste op prys; dit spyt ons om so’n guns af te wys. Die nagedagtenis van my broer is al behoorlik geëer. Ons verlang nie na meer publieke roubetuiginge nie as ons reeds ontvang het. God meet Sy seëninge nie af na die maat van die mooiste plegtighede nie.

Mevrou Delourens maak of sy volstrek geen waarde heg aan wat Paula te sê het nie: sy draai na mevrou Kibert. Die ou vrou begryp die beweging en sê:

—Ja, mevrou, dis soos Paula sê.

Mejuffrou Sonjon stik amper, en slaan haar oë hemelwaarts, terwyl die meesteres van Chenée—ongewoon om dwars getrek te word—die aanval hernuwe:

—Ek kan u weiering nie verklaar nie. Ons vra niks meer nie as om u ons simpatie op die mees natuurlike manier te betoon. Al die dames, mejuffrou Sonjon, gravin Lavernay, barones Ambelard, is dit eens met my. Ek verteenwoordig hulle by u. Ons predikant sal ook sy bes doen.

Sy dink om indruk op die ou vrou te maak deur al die hoë adel op te noem. Sy weet nie, en sy kan nie weet, tot wat ’n graad van onverskilligheid die lewe mevrou Kibert gebring het ten opsigte van wêreldse sake en mense nie.

Paula kry jammer vir haar ma in haar verleëntheid. Sy kap nou om daar ’n end aan te maak.

—In Chamberie was dit bekendgemaak dat ons ’n lykdiens sou hou. Al ons vriende het gekom, selfs van verre plekke; daar het selfs onbekende mense gekom om ons te bekla. Maar dis my vertel dat u bank leeg was, mevrou; ek wou dit nie glo nie.

Aan die set voeg sy nog toe:

—As my oudste broer, wat nou hoof van die famielie is, dink dat verdere pligpleginge nog bepaald nodig is, dan sal hy ons dit wel laat weet. Ons sal na sy begeerte handel. My moeder en hy is alleen bevoeg om hierin iets te doen.

Mevrou Delourens sien nou dat alle moeite verniet is; sy staan op:

—Dit spyt my, mevrou, dat ons die misverstand nie kan wegneem nie. Ek het soiets nie hier verwag nie. Maar ek sien dat u dogter groot invloed oor u het.

—Ek is dit heeltemal eens met haar, sê die ou vrou, terwyl ook sy met moeite opstaan.

Sy keur goed wat Paula gesê het, maar sy sou gewens het dat dit alles op minder oorheersende toon gesê was. Sy vrees dat haar besoekers aanstoot sal neem, en dit pynig haar, en ’n kleurtjie vlam op in haar bleek wange. Terwyl sy die dames uitgeleide doen, merk mevrou Delourens die ligte gloed op. Sy soek na wraak, en sy dink dit daarin te vind: met katterige spotsug gee sy die ou vrou ’n steek:

Dag, mevrou. Maar kyk, u sien daar waarlik goed uit! Mooi so! Dit verbaas ons en ons is daar bly om.

Die ou vrou haar oë skiet vol trane: sy is nog maar alte gevoelig vir onregvêrdige beoordeling. Oud, krom en gebroke, soos sy daar is, moet sy elkeen met medelye vervul, behalwe die teleurgestelde vrou van die wêreld. Soetjies sê sy, terwyl die bloed weer uit haar wange wyk:

—Ek hoop die Heer sal my gesond hou! My taak is nog nie op ’n end nie.

Sy dink by dié woord aan Paula; haar onsekere toekoms maak die ou vrou ongerus en laat haar nog vashou aan die lewe. Maar die voorkamerdeur is agter hulle toegemaak. Sy volg die dames tot by hul rytuig, hul gaan sit, maar sien dat Alida agtergebly het.

—Ek sal haar roep, sê mevrou Kibert, en sukkel die treedjies weer op.

Alida het alleen agtergebly by Paula en laat eindelik die vrye loop aan haar verdriet:

—Paula, my liewe Paula, wil jy my toelaat om jou ’n soen te gee? O, ek het ook so baie geween. Kan jy ooit weet? Ek is so bedroef vandat . . . . . vandat hy nie meer leef nie. Ag, jy kan dit nie verstaan nie!

Paula staan onbeweeglik, ongenaakbaar; met verwondering kyk sy die elegante jonge vrou aan, met die rein en skoon gelaatstrekke, wat haar om ’n guns vra; en sy dink aan wat verby is:

—Wat sal dit help? sê sy.

En alhoewel sy sien dat Alida haar oë hol is en haar gelaat asvaal, sê sy nog daarby, tussen haar tande:

—Is dit nie jou skuld, min of meer, dat ons vandag so ongelukkig is nie?

Hierdie swak, verliefde kind het geweier om met haar broer te trou, en daaraan skryf sy dit toe dat hy so na die dood begin te verlang het; nadat hy die laaste keer van Chenée teruggekom het, het sy dit baiemaal opgemerk, in woorde wat hy hom so kalm laat ontval het oor die dood. Sy, wat nou hier by haar staan te huil, het toe net nodig gehad om één woordjie te praat om weer lewenslus op te wek in die vurig beminnende hart van haar broer en daarby ook die vertroue wat selfs die gevaar in bedwang hou. Dié woordjie het sy toe nie uitgespreek nie, hoewel sy hom liefgehad het. Was sy onverskillig gewees vir sy liefde, dan sou sy nou nie skuldig wees nie; maar haar lafhartigheid was sterker gewees as haar liefde.

Alida staan nog maar te snik:

—Ag, ek is nog ongelukkiger as jy.

Dit lyk nou darem vir Paula of Alida haar droefheid regtig diepgevoeld is. Bewoë sluit sy haar ou skoolmaat in haar arms; en—soos in die ou dae by hul grappies—so meng die twee nou hul trane in verdriet.

—Ek het hom liefgehad, fluister Alida.

—Waarom wou jy dan nie toestem nie?

Sy ontboesem haar nou eindelik heeltemal, en so tussen haar snikke deur sê sy:

—Jy, Paula, kan jou trane ’n vrye loop gee. Maar ek moet my vrolik hou terwyl ek die dood in my hart dra . . . . My liewe Paula, mag God jou behoed van ooit te moet dra wat ek nou te dra het! . . . . . En dis my eie skuld, Paula . . . . Ag, dis waar, ek sou vandag liewer sy weduwee wil wees as wat ek nou is.

So kom Paula dan te wete hoe haar vriendin doodgemartel word deur innerlike smart. So op die oog sou jy gesê het dat Alida gelukkig was: die gedoente van die groot wêreld laat hom skaars hoor tot by Maupas. En kyk, nou sien sy meteens die onmiddellike en altyddurende straf wat opgelê word aan dié wat bang is vir die lewe.

Alida leun op Paula haar skouer, net of sy smeek om hulp. Alhoewel sy haar klere aanhet van pels, beef sy oor haar hele liggaam. Paula soen haar, sy neem haar betraande gesig tussen haar hande:

—Alida, ek het tog so jammer vir jou. Maar jy moet moed hou; jy moet vergeet. Dink aan jou kindjie. Maak van haar ’n dapper vrou.

—Ek het hom liefgehad, herhaal sy nog ’n keer saggies.

Mevrou Kibert kom nou binne. Sy sien hoe die twee mekaar omhels; en sy voel waarom hulle ween.

—U ma wag vir u, mevrou.

Sy soek na nog ’n woord en sê saggies:

—Dankie vir die besoek.

Dis ’n woord van vergifnis. Alida neem die ou vrou haar hand en soen dit. Sy droog haar oë af, kyk nog vir die laaste keer na Marcel se portret en loop haastig die kamer uit . . . .

Die rytuig gaan deur die blaarlose boomlaning en uit by die hek.

Mevrou Delourens was ongerus oor die lank wegbly van haar dogter; sy kyk haar nou aan, met besorgdheid, met gehegtheid en jaloersheid. Sy vermy sorgvuldig om haar te bekla oor die weiering van mevrou Kibert en oor die houding van Paula. En terwyl die rytuig by die eikebos uitry, lê sy haar hand op Alida haar arm en sê soetjies, terwyl mejuffrou Sonjon sit en rondkyk:

—Nou sien jy hoe verstandig jou moeder was.

Die jong vrou kyk haar vraend aan. Sy vervolg:

—Natuurlik. Het ek jou toegelaat om met kommandant Kibert te trou, dan was jy vandag weduwee.

Alida antwoord nie. Met skrik ontdek sy dat haar siel in baie opsigte nog heeltemal onontgin is; en sy vra haarself of sy as weduwee nie minder ongelukkig sou wees nie. Die smart wat die noodlot ons oplê, is dieper, maar minder neerdrukkend as dié waaraan ons self skuld het, deur ons swakheid, deur ons lafhartigheid vir die lewe. Die eerste soort breek ons harte, maar reinig en versterk ons daarna. Die laaste soort verslyt ons sonder enige voordeel na te laat, en laat ons langsamerhand laer en laer buk onder slae wat niks veredelends meebring nie. Het sy die beste van die twee gekies? . . . . Die heldhaftige dood te beween van ’n man wat sy bo almal sou verkies—dit lyk vir haar nog ’n aangenamer lot as haar hele lewe lank die veragtelikheid te moet beween van dié man wat altyd haar lewensmaat bly . . . .

V. JAN.

Die famielies wat in die verte deur die ongeluk getref word, wat sou hul nie gee om deur iemand wat ooggetuie was van die bloedige offer, te hoor vertel van hul liewe dode nie, van die besonderhede wat so kort en bondig ontwyfelbare waarhede laat voel in verband met die treurige gebeurtenis, al sou sulke besonderhede ook hul wonde weer oopmaak en hul trane weer laat vloei. Ja, hul is gelukkig selfs in hul ellende, as hul maar die noukeurige waarheid kan hoor, opdat die dood minder duister bly, en die onsekerhede weggeneem word wat by dag ’n kwelling is vir hul gees en snags verander in benoude drome . . .

Verskeie maande is al verloop na die veldslag in die Sahara. Van die twee vrouens in rou op Maupas, het die één nog krommer geword en op haar bleek gelaat het die glimlaggie vir altyd versterwe; die ander een het regop en fier gebly, maar haar jeug versmadend, gee sy haar bitter en hopeloos oor aan haar dae wat verbygaan. Omsluit deur eensaamheid en stilte, gaan hul nie meer dorptoe nie, en stap geen deur meer in nie as van die armoedige huisies waar altyd na hul uitgesien word.

Nietemin, as hul die stap van die brieweman hoor op die sand van die agterplaas, dan gee hul harte nog ’n ruk. Die goeie ou man skep vreugde in die belangryke rol wat hy speel, hy laat hul nie wag nie, op die posseëls kykend roep hy hul al van vèr toe: „Hier is één van Parys . . . van China . . . . van Algiers.”

—Dankie, Ravet; Marie is in die kombuis, laat sy vir jou iets te drinke gee.

In die briewe lê nou die hele plesier wat die huis nog ken. Daar kom nou meer as anders. Uit die verre lande wedywer die kinders van mevrou Kibert met mekaar om haar droewige ou dag met hul liefde te verlig. Die briewe uit Afrika is van Jan Berlier; hulle vertel net van Marcel en van sy roemryke dood. In sy laaste brief skryf Jan dat hy teen die end van Meimaand huis-toe kom. Dis nou Meimaand: alles is éne sonlig en blomme. Met verlange kyk hul al uit op Maupas of daar nog nie iemand aankom in die verlate boomlaning nie, waar die kastaiingbome trots hul wit bloeiselpluime in die lug dra . . . .

Die jonkman wat stadig teen die bult opstap, onder die bome wat om die ou huis groei, is nie meer die galante vryer van Isabella Orlandi nie. Hy het darem nog altyd sy mooi skraal postuur en sy ligte dog vaste stap. Maar sy gebruinde gelaat het iets manlikers, en dit lyk of sy oë elke ding meer besonderlik raaksien. Sy sorglose jonkheid het oorgegaan in ’n leeftyd van nadink en wilskrag.

Hy het die aand vantevore aangekom. Vroeg vanmôre het hy die rosevilla van sy oom verlaat. Hy asem die lug in van sy ontwakende geboortegrond, van die herlewende natuur. Die veld lyk nog kouerig, en is hier en daar oordek met violet en purper dampe, soos ’n jongvrou wat langsaam haar ooglede opslaat, haar uitrek, en haar sluierbedekking afskuiwe. So verras Jan die ontwakende lente, die lewensvreugde wat met die daglig begin. Hy bewonder die tere groen wat in Meimaand die velde en bome oorwaas, en hy ruik die lug van die sagte jong blaartjies in die heinings. Hy soek na die welbekende kerktorings teen die hang—die een byna in die groen bome begrawe, die ander teen ’n bos van kastaiingbome, soos ’n grysaard wat die koelte soek. Selfs die kranse van die berge het in die môrelig hul dreiende aansien verloor. Onder die heldere lug glimlag die hele natuur, en skyn vertroulik haar bevalligheid en betowering aan te bied, belofte te gee van vrug en oes.

Jan draai hom om en sien in die verte, soos ’n plaat pêrelmoer en goud, die meertjie lê, slapende nog in die môreson. Onder die strelende sonstrale begin die water wellustig te rimpel. Die jonkman stap aan. Teen die bult staan die villa Chenée, met oop rame in die môrewindjie. Hy dink met plesier terug aan sy vyf-en-twintig-jarige leeftyd en aan Isabella met haar mooi rooi lippe—net so klaar om te soen as om te babbel. Hy dink terug en sê verwonderd:

—Amper vier jaar het ek hierdie plek, en vir haar, nie gesien nie. Dit lyk my baie langer. Ek was toe maar ’n kalfie, wat met die lewe gespeel het. Maar hy dink nie lank aan haar nie. In die eikebos hoor hy ’n meisie sing wat die skape oppas: dis ’n ou liefdeliedjie:

Bo-op die berg sing die voëltjies so. Ek neem my roer met my mee na bo. Vier wou ek skiet, maar weggevloë is almal nou, en geen één het ek, o!

Die stem klink so helder soos fonteinwater. In ’n draai van die pad sien hy die skape, agter hulle die meisie, donker teen die lug, in die omlysting van die bome wat oor die pad in mekaar groei. Dis ’n dogter van vyftien of sestien jaar so gesond en fris as net ’n mooi boerenoointjie kan wees. Sy sing weer verder:

My liefie se hartjie het ek geraak. O, het ek my liefie nou seergemaak?

Sy stap verby Jan; hy glimlag.

—Dag, meneer Jan, sê sy, en buig met haar hoof.

—Ken jy my dan? vra hy, verbaas.

—Maar seker. Ek is die dogter van die boer op Maupas.

—Jeannette?

—Ja, om u te dien.

—Maar jy was so hoog soos my kapstewel, en nou is jy langer as die koringhalme.

Daar is niks wat ons so laat voel hoe die tyd verbygaan nie as die kinders wat groot word en wat ons maar min sien. Die meisie voel gevlei en begin te lag, en haar vreugde werk aansteeklik. En terwyl sy verder aanstap, sing sy weer die laaste versie:

My liefie se hartjie het ek geraak. O, het ek my liefie nou seergemaak?

En tot by die jonkman, wat nog altyd onbeweeglik bly staan by die eikebome, dra die windjie die laaste, flou-gehoorde woorde aan:

’n Bietjie maar net— maar dit maak my dood! O, soen my net éénkeer— en weg is die nood.

Hy slaan sy oë in die rondte op die vorme van die natuur, wat hom omring, op die jong boomblare, op die golwende gras van die weilande, op die jongmeisie, wat haar jeug dra soos die oorlopende wynbeker. Hy asem die geure in van die veld en die môrelug van die bosse. En die lug van die ou tuisplek maak hom weer vol lewenslus.

Nou dat hy ondervind het dat skone dae verbygaande is—nou wil hy daar ten volle van geniet. Jongmense stel nie waarde op hul bestaan nie as hul gedagteloos hulle plesier, ligsinnigheid en verstrooiing najaag, en alles wat die tyd maar versnel en doodmaak gelyk. Dis lewensgevaar, dis hartstog, dis liefdesmart of die aanblik van die dood, dis diepe droefheid wat hulle meteens tot stilstand bring voor die ontmaskerde gesig van die lewe—soos ’n mens aan die end van ’n tuinpad meteens ’n koue grafsteen sien onder rose verberg—dié wat die nag nie ken nie, sal hy met dieselfde gretigheid as ons die bedreigde prag van lig geniet en die vorme wat weer in die donker verlore sal gaan?

Op die hoogtepunt van sy jonkheid aangeland, begryp Jan dit nou beter. ’n Ander, meer donkerblou hemel, ’n ander dor en kaal land het sy gevoeligheid geskerp en volmaak gemaak. En veral het ander, droewiger aandoeninge sy hart by herhaling getref, net soos die beitel van die beeldhouer ’n klip tref en die onnodige stukke laat wegspat om ’n beeld te laat ontstaan. ’n Gevoel van dankbaarheid laat hom die volle en opwekkende gevoelens wat hierdie voorjaarsmôre hom gee, in verband bring met die bloedige môre toe sy vriend geval het. So ’n doodval van sy aanvoerder ná die oorwinning, so’n deurboorde voorhoof waarop die verstand sy setel gehad het, so’n verkilde hart wat vol liefde was, soveel werkkrag en moed, afgebreek soos ’n boom in bloei—kyk, dis dit wat ons wys op die nietigheid van die mens en as teenstelling—die dag meer lig gee! Daar, voor die bleek gesig van Marcel, uitgestrek op die grond, skoon, ernstig en vreedsaam in sy onbeweeglikheid—’n skoonheid, so stil tevrede, so kalm, dat hy dit nooit sal vergeet nie, so roerend in die omgewing en in die omstandighede—daar het hy die lus gevoel om te lewe, met sy hele hart en sonder vrees, en die behoefte om die ewige werk van die dood teen te spreek.

Die ou hek van Maupas staan oop, soos altyd. Jan loop op in die kastaiinglaning. Hy asem die geur van die bloeisels in. Hy weet dat daar in ’n oomblik weer trane sal vloei, pynlik maar weldadig, en dat hy die droewige verdienste sal hê van ou wonde weer oop te maak. Die gruis kraak onder sy voete.

Mevrou Kibert sit op stoep te werk—met stram vingers—in die koel môrelug. Sy staan op en kyk wie die besoeker is. Sy sien die jonkman.

—Jan, is dit jy? Ek het tog so na jou verlang!

Met die eerste oogopslag sien hy die spore van haar beproewing op haar. Sy het krommer geword, en gryser. Maar met verwondering herken hy ook op haar vermaerde gesig die vreedsame uitdrukking van vroeër.

—Mevrou, o, mevrou!

Haastig storm hy die treedjies op, en, net of dit natuurlik so kom, buig hy oor haar en gee haar ’n soen.

Sy probeer vergeefs om nie te huil nie en fluister die naam van Marcel.

—Kom binne, sê sy. In die voorkamer kan ons beter van hom praat.

Sy loop sukkelend vooruit. Sy maak ’n deur oop en roep:

—Paula, hier is Jan Berlier.

—Ek het gisteraand gekom, sê die jonkman. En ek kom al vroeg vanmôre omdat ek u graag gou wil sien.

—Dis baie goed van jou. Ek het wel geweet dat jy gou sou kom. Verskeie dae al het ons oë die pad opgepas.

Paula kom binne en gee Jan haar hand. Haar mooi swart hare laat haar mat-bleek gelaatskleur uitkom. Daar is geen vuur meer in haar donker oë nie. Nog meer fier en regop as vantevore, dra sy trots haar verbryselde hart. Alhoewel Jan heeltemal besig gehou word deur die treurige storie wat hy vertel, verbaas dit hom om in die jong, ernstige gelaat en in die stywe houding so’n lewensgeringagting te sien, Sy is verbaas om ’n verandering in hom te ontdek: met die jare het hy ’n beslister en fermer houding aangeneem—iets soos Marcel.

En in die klein voorkamer van die buitehuis—waar ’n sonstraal deur die geslote luike kom—roep die getuie van sy dood die held weer op uit die harde Afrikaanse grond waar hy rus, waar hy vir sy land geval het, en bring hom terug in sy famieliekring. Jonk lyk hy, groot, skraal en gespierd, sy hoof omhoog, gebiedend, begaaf met die meerderheid wat sy verskyning laat voel, die aanvoerdersgees, die gewilde kalmte wat ’n hoofman uitwys.

Op die piano sien Jan sy roos-omkranste portret.

Hy praat van hom soos hy dit sou verlang het: op eenvoudige en waardige wyse. Hy het ’n mooi, waar manier van vertel. Sy woord verjaag alle swakheid en wanhoop, hy bemoedig en vertroos en weet selfs die dood voor te stel as voltrekking van ’n bestemming. Die twee vrouens het geween by sy aankoms, maar aangenaam is sy verhaal nou vir hul harte.

Hy het sy maat nie sien val nie. Dit was net dagbreek toe die geweerskote hom laat opspring het; hy het sy manskappe dadelik bymekaargeroep. Die kommandant het, ’n entjie daarvandaan, die vyand dadelik aangeval. Die sersant, wat by hom was, het my vertel hoe hy gesterwe het. Ek was op die linkervleuel, hy in die middel. Hy het hulle uit hul posiesie geskiet en toe agternagesit. Teen die rooi môrelug het ek sy swart skadubeeld gesien. Die sersant het hom gewys op ’n duikie in die grond, waar miskien nog van die vyand kon skuil. Hy gee ’n stap vooruit, voel meteens aan sy voorhoof, bly nog ’n sekonde regop staan, en val toe met ’n slag teen die grond.

Mevrou Kibert bêre haar gesig in haar hande, en daar is trane in Paula haar oë, alhoewel sy probeer om haar te bedwing.

—Hy het nie meer geroer nie, sê die kaptein verder—hy het geen pyn te ly gehad nie. Die dood het hom getref in die setel van sy gedagte: reg voor sy voorhoof. En hy het aan sy vaderland gedink, en aan julle.

—En aan God, nie waar nie? fluister die arme moeder.

—Ja, aan God. Ek moes bevel voer in sy plek. Maar hy het die hele oorwinning al behaal. Toe ek hom eindelik kon soek, het hulle hom ’n entjie opsy gedra, onder ’n palmboom. Vergeefs het ek my oor hom heen gebuig. Ons dokter het my droefgeestig aangekyk—hy het hom al ondersoek. Ons samelewe het broers van ons gemaak. Ek het hom liefgehad soos julle hom liefhet. En daar het ek hom beween soos julle, in jul naam. En ek het gesien—dié droewige vreugde mog julle nie smaak nie—ek het die kalme, stille vrede gesien wat hy in die dood gehad het. Dit het hom ’n uitdrukking gegee van ewige skoonheid. As ek hom so sien in my herinnering dan kry ek net gedagtes aan sieleadel en krag. Die aand vantevore het hy nog met my meegegaan na my slaapplek. Dit was ’n heldere sterrenag. Ons het baie oor die ou tuis gepraat. Hy het gepraat oor u en oor Paula, hy het julle kort vantevore nog gesien. Hy het geen droewige voorgevoel gehad nie, maar vir die dood het hy geen vrees gehad nie. In sy baadjiesak het hy hierdie brief gehad, wat ek u gebring het—dit het sy laaste hartslae gevoel.

Mevrou Kibert herken haar eie handskrif; sy kyk op—haar gelaat vol moedersmart. As sy haar woorde kan kry, sê sy:

—En nou, nou rus hy in die vrede van God. Jan, sê my, waar is hy begrawe?

—Op die slagveld, mevrou, tussen twee ander offisiere van laere rang; aan sy voete lê die gesneuwelde soldate.

Paula sê:

—Ons het inligtinge gevra omtrent wat daar gedaan moet word dat hy oorgebring kan word na Chamberie. Hy sal hier rus in ons famielie-grafkelder, by my vader, wat, net soos hy, op die veld van eer neergeslae is, by my sustertjie Thérèse.

Jan kyk haar aan. Hy weet dat die famielie Kibert maar arm is. Vertroostend, oortuiend, byna gebiedend wil hy hul die kosbare en nuttelose plan afraai:

—Waarom hom terug te haal? Die plek waar hy lê, dra die naam van sy oorwinning, daar het hy getriomfeer. Watter graf sou hom beter pas? Sou hy ooit ’n beter monument kon verlang het?

—Hulle sal hom daar gou vergeet.

—Nee, Paula, dis tog nie so nie. Al die grafte het opskrifte en word goed versorg. Op syne staan sy naam, sy rang en die drie oorwinninge wat sy lewe kenmerk.

Paula kyk weg en dink na, en Jan se oë is op haar fyn sy-gesig. Nog altyd trou aan haar broer, sê sy weer:

—Ons sou hom so graag digteby ons wil voel, om op die steen te kan kniel wat hom bedek.

—Julle besit tog sy nagedagtenis, sy gedagte. Wat van Marcel oorbly, is tog iets anders as sy stoflike oorskot.

—Ja, sê mevrou Kibert, dinkend aan sy onsterflike siel.

Die suster van Marcel dring nie verder aan nie. Maar Jan merk dat die trane oor haar wange rol.

—Hy was ons trots en my lewe, snik sy; en met sagter stem laat sy daarop volg: Hy het al lank ’n voorgevoel gehad van sy lot.

—Dit was die Heer Se wil, sê haar moeder. Ons ken Sy weë nie. Somtyds lyk Hy vir ons so wreed, dat ons lus het om te murmureer. Nogtans is Sy goedheid grensloos.

Jan is bewoë. Hy neem in sy hand die bewende, gekerfde ou hand, en, vol eerbied, soos Marcel ook eendag gedaan het, druk hy daar ’n soen op. Hy staan op en, die twee vroue aansiende, spreek hy met ernstige stem nog hierdie laaste lofrede uit op die dode—miskien sal dit nog iets uitwerk op Paula, wat nog die minste getroos en die mismoedigste is:

—Ja, sy kort loopbaan was kompleet. Deur sy wil, sy moed, het hy dit tot ’n blywende voorbeeld gemaak. Moet ons hom nie liewer beny in plaas van hom te bekla nie? Sonder vrees het hy die dood tegemoet getree. Weet ons waar of wanneer die dood ons afwag? Hy kan ons elke oomblik ontmoet. Dit alleen is van belang: sonder vrees en sonder ophou steeds al ons kragte in te span tot bereiking van ons bestemming. Ons moet die dode eer, dog ook vertroue behou in die lewe.

Met haar donker oë, wat weer opvlam, kyk Paula die jonkman aan; hy gee haar nuwe moed. Is hy dan nie meer die ligsinnige, jong offisier wat gekheid maak met flirterige meisies nie? As sy terugdink, dan vind sy dat sy hom altyd behandel het met ’n soort van geringagtende verdraagsaamheid, miskien was dit ’n vae gevoel van ongeopenbaarde hartseer. Syself, in haar trots, het gedink dat sy baie sterk was; nou voel sy dat, as sy die respek van haarself en dié van Jan wil verdien, sy sonder swakkerigheid die bitterheid en opstandigheid uit haar hart moet ruk wat vir hulle daar opgehoop het soos dooie blare in ’n bos in die winter.

—Gaan jy nou al weg? vra mevrou Kibert, half verdrietig.

Jan wil haar troos, deur met haar te praat oor al die bande wat haar nog aan die lewe bind. Hy doen navraag na haar ander kinders: Magriet, wat sendelinge is, en haar seuns in Asië.

—Hoeveel kinders het Etienne al?

—Die derde word verwag. Ek ken nog geeneen van hulle nie, maar o, ek het hul lief, as die laaste blydskap wat God my nog skink. Hul name is Mouritz en Francina, na my man en na my genoem. Dié wat kom, sal Marcel genoem word.

—En as dit ’n dogtertjie is?

—Dan Marcella. Kyk, hier is die portret van die twee oudste.

—Is hulle nie fraai nie? sê Paula.

—Ja, die meisie lyk na jou, sy het jou swart oë.

—O, sy sal baie mooier wees.

—Dit glo ek nie, sê die jonkman, terwyl hy die portret aan mevrou Kibert teruggee; en met die mooi glimlag, wat sy gesig so jonk laat lyk, sê hy nog daarby:

—Is dié dan nie mooi genoeg nie? Jy is moeilik tevrede te stel.

Onwillekeurig kry Paula ’n kleur, nuwe lewe vlam op in haar bleek gelaat en gee haar ’n ander aansien—so maak ’n sonstraal met ’n diamant. In haar wanhoop het sy reeds alle besef van haar skoonheid uit die oog verloor, en met vreugde vind sy dat sy dit nou weer besit.

Jan is bly om te sien dat die twee hul smart ’n oomblik vergeet, so hou hy aan met vra omtrent die seuns, en waar hul eintlik woon.

—Ag, sê mevrou Kibert, ek kan al die vreemde name nie onthou nie; Paula kan dit beter doen as ek.

En Paula vertel hoe haar broers daar aangaan. Dit gaan goed, maar hul het te baie werk, en niemand uit die ou vaderland wil hulle kom help nie.

Eenvoudig en duidelik het sy alles vertel. Jan is opgetoë:

—Hier is geen toekoms meer vir ’n man nie, ek gaan hulle help.

—En jou militêre loopbaan? sê mevrou Kibert, terwyl die jonkman opstaan om weg te gaan.

—Ek het daar nie so ’n lus in soos Marcel nie; ’n mens verlies so baie tyd en krag. Maar nou klets ek, mevrou.

Hulle stap uit op die stoep; die front van die huis is toe onder die blare en blomme van kamperfoelie, rose en meelkruid. Hulle leun teen die stoeptralies. Hierdie lentemôre is ’n fees vir alle oë wat op haar skoonheid rus. Die lug is deurskynend en yl. ’n Blouagtige waas—teken van mooi weer—verdowwe sag die grillige vorme van die berge. Onder in die laagte skuil die kerktorinkie van die dorpie weg in die skaduwee van die kastaiingbome. Naderby het die veld die fris-heldere groen kleur wat net in die voorjaar gesien word. Die halme van die jong gesaaides tril in die windjie wat verbydwaal; in die vrugteboord het die bome die grond al bestrooi met die wit- en rosesneeu van hul fyngeurende bloeisels, en glimlag nog uit al die botsels aan hul takkies. Twee lindebome, in die hoek van die agterplaas, versprei hul geur in die lug, en die kastaiingbome van die laning versier hul donkergroen gebladerte met wit blomtrosse.

Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings