← Table of contents
Bang vir die lewe

DEEL II. (continued 2)

Jan F. E. (Jan François Elias) Celliers translation

Hulle hoor hiervandaan die ewige lied van die weergeboorte; hulle is getuie van die onophoudelike belofte van die vrugbare aarde aan die werksame mens.

Voor hulle en om hulle heen is die jonkheid van die jaar—’n beeld van die bestendige lewe self. Swyend kyk hulle alles so aan; aldrie dink aan Marcel, en hierdie alte skone dag maak hul droefgeestig.

Gebuig en moeg, neergedruk deur haar herinneringe, laat mevrou Kibert haar dogter met die kaptein meegaan na die hek. Sy sien hul aanstap, dink in stilte aan wat miskien kan gebeur, vertrou die toekoms van Paula toe aan God, en gaan na binne om in eensaamheid die gebeurtenisse nogmaals voor haar gees te haal waarvan Jan vertel het.

Paula en Jan groet mekaar aan die end van die laning. Die jonkman draai nog ’n keer om en volg met sy oog die slank-buigsame gestalte wat tussen die bome deurgly. Op dieselfde oomblik kyk Paula ook om. Die toeval jaag ’n kleur in haar gesig. Om hom nie te laat dink dat sy dit ekspres gedaan het nie, draai sy om en stap dapper na hom terug.

—Jan, sê sy bewoë, ek dink net daaraan: ek het jou nie genoeg bedank nie, vir my broer, wat ook min of meer ’n broer vir jou was, vir my moeder wat jou briewe en jou besoek tog so aangenaam gevind het in haar droefheid. Jy is baie vriendelik gewees vir ons. Ek het gevoel dat ek jou dit nog moes sê, daarom het ek teruggekom na jou.

Haar ontroering maak haar skoonheid meer menslik en treffend.

—Ag nee! antwoord die jonkman, moenie so danig bedank nie; was ek dan nie Marcel se maat nie. En vóór ons was ons vaders ook al maats.

Sonder nog meer woorde te kan kry, bly hulle mekaar so staan en aankyk. Hulle voel ’n wonderlike verleëntheid, hulle wil daar ’n end aan maak, maar wil ook nie. Jan sien op Paula se wange die skaduwee van die lang ooghare, neergeslae oor haar vlammende oë, wat na die grond kyk.

—Luister, sê hy eindelik. In Marcel se baadjie was net één brief: die laaste een van jou ma. Maar hierdie portret was daarby. Ek het gedink dat ek dit maar aan jou moes gee.

Hy gee haar ’n half-verweerde kaartjie waarop sy sien, tussen die bome van Maupas, twee klein meisies van tien of twaalf jaar—die één blond, die ander bruin, die één het ’n soet gesiggie en kyk alles verwonderd aan, die ander lyk of sy in beweging was: dis Alida en Paula self.

—Ag! sê Paula. En met dowwe stem vra sy:

—Het hy nooit met jou gepraat oor haar nie?

—Nee, nooit.

Die kaartjie ontglip aan haar hand en val met ’n droë tikkie op die sand van die pad. Sy hou haar nou nie meer in nie, sonder enige trots in haar houding beween sy die onverbiddelike lotsbestemming van haar broer—deur die liefde na sy dood gelei, en hy het dit geweet.

Jan neem haar hand.

—Ja, daar vèr in Afrika het ek baiemaal gedink: hoe verkeerd en dom gaan die noodlot tog te werk—waarom nie vir my geneem nie, in plaas van Marcel? Oor my sal tog niemand getreur het nie.

Wat kan sy antwoord? Daar skiet net ’n vlam uit haar oë. Sy tel die kaartjie self op, voordat Jan kan buk om dit te doen:

—Dankie, Jan; kom gou weer; jy bewys ons daar ’n weldaad mee.

Hy kyk haar ’n oomblik aan en stap dan weg. Sy gaan langsaam die tuin deur, huis-toe. Sy hou van blomme, sy pluk ’n roos af, en, vir die eerste keer vanjaar is dit vir haar ’n bietjie aangenaam om aan ’n roos te ruik. Die dood van haar broer het vir haar ’n ander en onverwagte aansien gekry; en by haarself herhaal sy die woorde van Jan, terwyl sy die opwekkende les daarvan voel:

—Ons moet die dode eer, dog ook vertroue behou in die lewe.

Dié woorde, is hul nie die kort samevatting nie, die aansporing tot ware lewe, wat die loopbaan van helde samevat as in ’n kosbare kragaftreksel? Die is groot wat nie suinig is met die moeite wat hul moet gebruik nie, en wat op hul kort of lang loopbaan ’n afdruksel maak van hul siel—vry van alle vrees en swakheid. So put sy dan bevrediging en vertroosting uit die aandoening self wat haar in verwarring bring. En terwyl sy die fyn geur opruik, sweer sy by haarself om van nou af dapper haar swaar te dra, sonder bitterheid en sonder te murmureer. Haar afgeskeepte jonkheid sal nie nutteloos wees nie as dit hom aan die wêreld gee soos ’n vrywillige offerande. En as sy by haar moeder kom, wat die blomme van Marcel water gee, omarm sy die arme ou vrou, asof sy die ouderdom wil beskerm wat aan haar sorg toevertrou is, asof sy die belofte van nuwe moed met ’n seël wil bekragtig en wil toon dat sy dit meen met haar nuwe lewensopvatting.

VI. ISABELLA.

Vooraan in ’n hokkie of „loge” van die eerste rang, in die konsertgebou, sit mevrou Marthenay (Alida) en mevrou Landeau (Isabella). Aan al die oë en brilletjies wat op hulle gerig is, bied hulle so hul skoonheid te kyk aan—eersgenoemde met bedeesheid, laasgenoemde ekspres en beslis. En die teëstelling in hulle skoonheid val goed in die oog. Isabella dra ’n aandrok van dun, geel sy, met ’n punt laag toelopend van voor, sodat haar volmaak-skone, dunne hals goed te sien is; en, om die blankheid van haar hals nog meer te laat uitkom, dra sy ’n swart ferweellint daar om, met ’n diamant daarin van die helderste water. Die sagte Alida dra ’n rok van swart kant, sonder ’n enkele juweel; en die sombere kleur—wat sy ekspres gekies het om nie in die oog te val nie—pas goed by haar fyne blondheid.

Agter die dames sit graaf Marthenay, meneer Landeau en kaptein Jan Berlier. Die stuk wat vanaand gespeel word, is „Iphigenie in Tauris,” van Glück. Op die eerste mate van die orkes, soos snel opmekaarvolgende golwe, stilte en aandag in die saal verspreidende, verdwyn Marthenay stilletjies deur die agterdeurtjie van die „loge.” In ’n oomblik is hy in die dobbelsaal. Toe sy vrou omkyk, sien sy dat hy weg is. Alleenstaande in haar ongeluk, en terwyl sy die vriend van Marcel so by haar sien, dink sy met weemoed aan wat sou kan gewees het, maar wat nie is nie. Isabella wag nou met die geduld en gespanne aandag van ’n kat haar kans af om eindelik haar begeerde prooi te bemagtig, en sy gee haar bekoorlikheid tyd om sy werk te doen, want sy voel agter haar blote nek, waar haar swart hare opgeborsel is, die asem van die jonkman wat agter haar sit. Meneer Landeau voel hom geslinger tussen twee gedagtes, tussen die begeerte om in die nabyheid te toef van sy verfynd-wrede, skone vrou, en die lus om na die leessaal te loop en in die koerante na te gaan hoe die geldmark staan—die toneel van sy eindelose worstelinge.—Hy gaan.

Alleen gelaat, geniet Jan nou van die hemelse musiek—eenvoudig en rustig, soos die lyne van ’n Griekse tempel. Wat hy hoor, is die roerende smeekbede aan die kuise Diana gerig deur Iphigenie: vraende aan die godin om haar tog liewer genadiglik te laat sterwe as haar te verban na die woeste kuste van Tauris. Deur die voorwaartse beweging van haar jong liggaam, haar uitgestrekte arms, die reglynige en harmoniese plooie van haar wit gewaad, die adel in haar houding en haar suiwer-skone gelaat, verteenwoordig die sangeres—maar in lewende lywe—die outydse marmerbeelde, waarvan die onbeweeglik vaste vorme altyd nog aandoening wek in siele wat gevoelig is vir skoonheid, en waarvan die invloed nog altyd aangroei met die tyd. Half begrypende die hoë besieling van hierdie kuns, juig die mense geesdriftig toe.

Isabella kyk om en sien met verbasing dat Jan se oë skitter van opgetoënheid—hy kyk oor haar heen na die toneel. Sy fluister hom toe, sodat hy vooroor buig en die geur kry van haar huid.

Ná die eerste bedryf het Alida lus om die kaptein te vra om haar na die dobbelsaal te bring en haar man te gaan haal. Het sy hom nie iets te vra nie? Maar sy durf nie en neem maar die arm van meneer Landeau. Dat almal nou weg is, is net na Isabella haar sin, en sy wink vir Jan om naas haar te kom sit.

—Weet jy, sê sy, dat ek jou dood al beween het?

—My dood? Maar dan was jy ’n bietjie haastig daarmee.

—Ja, die dood van kaptein Kibert is bekend gemaak geword; en jy was mos daar by hom. Hoe kon ek weet dat dieselfde lot jou nie getref het nie?

—Het die mooi oë my waarlik beween?

—’n Hele aand.

—Hulle brand en skitter so, dat hul jou trane wel moet laat opdroog.

—Hulle is bly om jou weer te sien, Jan. En brutaalweg kyk sy hom aan met brandende, smagtende oë. Oombliklik geluk dit haar om tussen hulle twee te herstel die vryerige verhouding wat vir hulle vroeër so aangenaam was. Sy sien dat hy sy handskoen uit het. Sy trek hare ook uit, en haar vingers vol goue ringe, strengel sy deur dié van haar ou maat.

—Jy hou van edelstene, sê hy, en by die lig beskou hy die dun uitlopende vingers en rose naels van haar blanke hand.

—Ja, antwoord sy, dan het ek ’n gedagte dat ek, in klein, al die skatte van die wêreld by my dra.

Om sy mond speel ’n twyfelagtige glimlag.

—Die wêreld is baie groot, mevrou, om dit in u handjie te kan hou.

—Kyk hoe mooi is die groen van hierdie smarag, Jan.

—Ek hou meer van die veld-groen.

—En die helder-blou van hierdie saffier.

—Dis nie so skoon as die hemelblou nie.

—En hierdie robyn.

—Bloed is mooier.

—En hierdie pêrels.

—Ek hou meer van trane.

—Nou ja, dan kan jy tevrede wees, want trane het ek vir jou gestort.

—En die trane, mevrou, was hul ook van die eerste water, net soos die diamant aan u hals?

—Is dit nie ’n mooi diamant nie? Die vonke wat dit uitskiet, is enig.

Hulle glimlag van pret oor hul verliefderige skermutseling—soos twee sabelskermers wat mekaar met die wapen groet. Net of sy geniet van ’n ruiker blomme, so asem die jong vrou gretig die jong lewe in. Haar boesem gaan op en neer onder haar keurslyf van sagte sy, wat haar volle vorme goed laat veronderstel, en op haar blanke huid kan Jan die fyn vertakking van blou aartjies sien tot waar hul verdwyn onder die sye stof. Die onberispelike snit en hang van haar kleed laat goed sien wat ’n volmaakskoon liggaam daarin sit, gekroon met die fiere koninklike gelaat en pikswart hare. Hy hoef maar te buk om die skoon blom te kan pluk—die seldsame, lewende orgideeblom. Die steel na hom toe gebuig, die blaartjies uitgesprei—trillende in die lou aandwindjie—bied die blom hom aan. Waarom sou hy dit nie pluk nie? Weet hy dan die skoonheid nie op prys te stel nie, en die jeug, wat deur die plesier opgefleur word? Maar as hy dit nie waardeer nie, dan sou hy nie in teenwoordigheid van die vreugde die uitdrukking hê van diepe droefgeestigheid nie, wat alleen ontstaan as ’n mens met die dood bekend is.

—Ek het tog so lank vir jou gewag, sê sy, met ’n veranderde stem, waarin hy ’n toontjie van verlange ontdek.

—Het jy regtig vir my gewag?

—Ek wag nog vir jou.

Die orkes begin te speel vir die twede bedryf. Alida en meneer Lavernay kom terug in die „loge”—meneer Landeau het sy plek aan meneer Lavernay afgestaan omdat hy liewer in die leessaal bly by sy beursoordinkings dan te luister na die droefgeestige musiek wat hy tog nie verstaan nie, en wat so anders is as die operettedeuntjies.

Langsaam word die outydse drama op die toneel afgespeel. Maar die musiek—opvoedster van kalme en reine siele—kan Jan nou nie meer bekoor nie. Vlak voor hom, tussen die swart ferweellint en die keurslyf, sien hy die blanke vlees van Isabella, en hy stel hom voor hoe sag dit moet wees. Sy kyk half opsy en hy sien haar sy-gesig: met sy oog volg hy die skone lyn van haar neus tot sy blik gevestig bly op haar rooi lippe—skone lippe, slaafs tot sy diens bereid. Want het sy nie gesê nie: Ek wag nog vir jou? Waarvoor wag hy nog? Het hy dan meteens onverskillig geword vir die tallose verleidinge van die lewe, in hierdie vrou samegevat in haar buitengewone skoonheid, soos die soort oosterse reukflessies wat in één druppeltjie die aftreksel bevat van duisend rose? Het die Afrikaanse son dan sy bloed koud gemaak in plaas van daar gloed in te giet? Hy is nog jonk en ongetroud, by wie sou hy meer kan geniet van sy jonkheid en vryheid?

Die skone hoof, wat so sy aandag boei, draai nou weer na voor, en nou is sy oog gevestig op haar hare—waarvan hy die gewig skat—op haar hals en skouers. Dit duisel in sy hoof: ’n oomblik sluit hy sy oë en sweer dat hy die vurige begeerte sal tevrede stel wat hom verteer.

Op die oomblik van oorgawe laat die musiek hom die akkoorde hoor van diepe en aanhoudende gemoedsontroering—statig en bedaard, selfs by die heftige smart wat hul moet vertolk. Sy oorspanne senuwee tril. Sy gevoeligheid, vertienvoudig deur die uitsig op genot, drink die hemelse musiek met graagte in, soos ’n verdroogde blom die dou.

Op die toneel betwis Orestes en Pylades mekaar die voorreg om, die een vir die ander, te sterwe—dewyl op die somber kuste van Tauris een van hulle as offer geëis word. Dis ’n diep-droewige worsteling waarin die weldadige vriendskap die innigste liefde nog oortref.

Jan probeer om teëstand te bied aan die ontydige invloed van die musiek en toneel, want dis heeltemal in stryd met sy opgewekte hartstog. Maar sy wil is verlam en kan nie lank weerstand bied nie. Hy het die lewe, in al sy uitinge van skoonheid, te lief om weerstand te kan bied aan so’n volmaakte kuns, wat hy begryp en bewonder, waarvan die reine besieling alle lae begeertes, alle haat en beuselagtigheid uit ons harte losruk, soos onkruid uit ’n tuin uitgetrek word, sodat die oneindig kosbaarder plant beter mag bloei: die heilige begeerte na liefde en toewyding.

Hy voel nou dat hy reeds verhewe is bo die aanbidding van die éne vrou. ’n Begeerte gryp hom aan om, as die ware, verskillende lewens gelyk te lewe. Van ’n lae wellusteling is hy in ’n held verander; hy wil terug, maar voel hom dan weer opgehef. Met onweerstaanbare mag dring sy verlede lewensloop hom aan sy herinnering op: Hy is weer saam met sy vriend Marcel, op die woestyntog, waar hy, in eensaamheid en gevaar, by gebrek en strewe, gevoel het wat die lewe beteken in al sy grootheid, want hy het toe besef wat die rigting en waarde daarvan is. En van die broer dwaal sy gedagtes af op die suster. Van die begin af het hy vanaand elke gedagte aan Paula verban. Het hy haar, ’n oomblik gelede, selfs nie heeltemal vergeet nie? Waarom verskyn sy nou meteens weer in sy gedagtes, en waarom sou dit wees dat die kuise musiek wat hy hoor, so bevorderlik is aan haar ontydige koms in sy herinnering? Hy probeer om haar beeld te verdrywe, maar hy het daar berou oor.

—O! dink hy, waarom is sy tog nie net so mooi soos hierdie een nie?

En weer is sy oog op die skone hals en skouers, dis net of daar lig uitstraal wat hom aantrek. Maar met stille genoeë, dog sonder te dink aan die growwe ongepastheid van sy vergelyking, erken hy darem:

—Paula het mooier hare; as dit los is, moet dit seker tot by haar knieë kom.

Isabella draai haar hoof om en lag met hom.

Paula het mooier oë ook, dink hy weer. En in sy gedagte sien hy hoe die swart oogappels, met hul blitsligte, hom weer aankyk. Maar daar’s ’n verwyt in dié oë, en hy verstaan goed wat hul sê: Waarom dink jy aan my met so min respek? skyn Paula hom te vra. Het ek miskien probeer—net soos hierdie een by jou—om jou te verlei met vertoning en aanloklike maniertjies? Het dit my, in jou teenwoordigheid, al ooit ontbreek aan sedigheid en waardigheid? As jy my nie liefhet nie, laat my dan met vrede in my eensame bestaan; moenie my reine jonkheid onteer deur die beeld daarvan te maak tot ’n voorstelling van jou laere begeerlikheid nie. En as jy my liefhet, o! as jy my liefhet! waarom is jou liefde dan nie sterk genoeg om jou los te ruk van ’n bekoring waarvan jy nie weet of dit jou lewe uit die goeie koers sal stuur nie. Kom tog na my toe terwyl jy nog vry en onskuldig is. Laat my op jou voorhoof en in jou oog niks ontdek wat laag en gemeen is nie. Ek weet nie of ek mooier is nie, maar ek het jou lief, so innig, dat hierdie vrou nooit ’n begrip daarvan kan hê nie.

Hy behoor reeds nie meer tot dié jongkêrels wat deur die lewe gaan met oogklappe aan nie. Dié soort jongkêrels kan nie die ontsaglik groot velde sien wat naas die smalle pad van hul harstogte lê nie, en wat aldag die vrugbare saad ontvang van menslike strewe. Nadat Jan nou eers net sy oog gehad het op die begeerte van die oomblik, sien hy meteens die kaart van sy hele bestaan voor hom uitgesprei, en hy lees daarop—uit sy afkoms en sy verlede—die openbaring van sy toekoms. So beskou, kry die liefde vir hom ’n ander betekenis. In plaas van die wellus, stel hy hom voor die bekoring van ’n gemeenskap van gedagtes, en van die innerlike krag wat voortspruit uit vrede van die gemoed en uit ’n kalm, huislike bestaan. In plaas van verbygaande, heftige opbruisinge, stel hy die genot van duursame geluk en die welsyn van die ras.

In die drie weke wat hy nou al terug is, het Jan al baiemaal na Maupas gegaan. En dit was nie net maar om twee bedroefde vroue te troos nie. Deur haar fierheid, deur haar ernstige en diepe gevoel, deur haar jeug, waarvan die skone ingetoënheid vir hom duidelik word, oefen Paula ’n onweerstaanbare aantrekking op hom uit. Ná elke besoek moes hy tot eie verbasing beken dat die teruggetrokke en verstandige noointjie ’n hart vol lewe besit, net so klaar om die lewe met geesdrif te geniet, as sy die smart gedra het sonder te beswyk. Op die treffende manier van liefhebbende harte, wat daar plesier in het om hul liefde terug na te gaan dat hul kan sien hoe die tyd dit aangebring het, so vergelyk hy die teenwoordige bekoring wat Paula op hom uitoefen met die vae herinneringe van vroeër dae toe hy nog rond gespeel het met ’n wilde, uitgelate Paulatjie. Vergetend dat hy haar self vergeet het, verbeel hy hom dat dit ’n ou neiging is wat die kinderjare oorleef het. Met die heldersiendheid van die instink, bowenal voel hy dat sy toekomstige krag en ’n normale verloop van sy lewe dáár te soek is, en nêrens anders nie. So bemin hy dan die jong nooi, soos ’n mens op dertigjarige leeftyd bemin: met vertroue en teerheid. Haar bekoorlike teenwoordigheid het sy hart vervul met nuwe vrede.

Nou kom die hartstogtelike Isabella weer tussenin. Ná haar huwelik vir geld, oorstelp sy haar „flirt” van vroeër dae met al haar onbevredigde sinlike begeertes, met al die storme van haar gemartelde hart. Sy het baie trouer gebly aan Jan as aan haar eie man, meneer Landeau. Sy het uitgekyk na sy terugkoms. En toe sy hom weer sien, was sy nog meer aangetrek deur die erns en diepte op die gesig van die jongman te lees, as deur sy sorgloosheid en vrolikheid van vroeër dae; sy het by haarselwe gesê dat sy nie meer sal wag nie, en om hom te behaag, hang sy haar skoonheid voor hom uit soos ’n vlag.

Wel, sonder te weet, is dit haar ook geluk om hier in die „loge” van die konsertgebou enige oomblikke oor hom te triomfeer. Die hele aand het sy al getwyfel of haar middeltjies om die mooi jong offisier te vang, iets uitgerig het—hy is maar terughoudend, en ook maar versigtig met sy woorde.

Daar val die gordyn, die bedryf is uit; nou sal sy die kans waarneem om die afgebroke gesprek weer aan te knoop.

Brandend van ongeduld, kyk sy dadelik om na hom, en, ekspres so vooroorbuiend dat hy mooi langs haar welgevormde hals kan kyk, vra sy:

—Waaraan het jy so gesit en dink? Ek het gemerk dat jy nie na die musiek geluister het nie.

—Ek het aan twee mooi vrouens gedink.

—Dis één te veel.

Met haar twee oë, skerp soos pyle, probeer sy om die harde voorhoof te deurboor en daarin te lees.

Ongeduldig en dorstig na haar geluk, waarvan sy haar wil verseker, staan sy op en sê:

—’n Mens stik hier van die warmte. Kom, kaptein, bring my na die wandelsaal.

En as sy aan die arm van Jan uitstap, kyk sy die vryerige Lavernay aan met ’n blik wat sê: gefop oudjie! want hy sit haar en oppas. En as hul uitstap in die gang, leun sy, met die hele gewig van haar wulpse liggaam, op die arm van Jan.

Hy bly nog maar stil, en sy vra, met bevallige bedeesdheid:

—Jan, is ek dan nie meer mooi nie?

—Kyk om u heen, mevrou, wat sê die oë van die mense?

Ja, die oë van die hele deftige skaar in die wandelsaal is op hulle twee gerig. Vrouens wat verbykom, kyk na haar rok en bereken die snit en waarde daarvan; en haar bekoorlike blote arms en hals trek die aandag van almal. Sy tik met haar waaier op Jan se vingers en antwoord.

—Jy, wat jy sê alleen, is al wat ek vra.

—En die ou oppasser van jou, daar in die „loge”? vra Jan, laggend.

—Hy doen my boodskappe.

Gesteund deur sy gedagte aan Paula, maak hy of hy die toenadering nie merk nie, en nie sonder ’n seker ontroering nie, voel hy die ronde arm van die verleidster op syne. Die hoogrooi kleur op die gesig van die jong vrou bedek maar half ’n uitdrukking van teleurstelling.

—Onthou jy nog, Jan, die eikebos by Chenée?

—Ja, sê hy, en hy dink daaraan hoe die lot van Marcel daar beslis is.

—Ek sou so graag weer met jou daarnatoe wil gaan. Jan, sê my nou reguit: as ek nog ’n jong meisie was, sou jy dan meer van my hou?

—Jy is nou mooier, maar anders. Ek sien altyd jou man agter jou.

—Jou grappies is laf, Jan, sê sy, nou sy sien dat meneer Landeau nie daar is nie. Sy sê weer:

—Is jy dan bang vir hom?

—Glad nie!

—Vind jy hom onaangenaam?

—Ja.

— Moet hy dan aangenaam wees as jy met my wil . . . . „flirt”?

Hy lag en sê:

—Natuurlik.

—Maar dis snaaks.

—Ja, sy is tog sy vrou.

Nou lag sy weer; met haar gesig half agter haar waaier, sê sy:

—Ja, so op ’n manier.

—Hou op.

Sy maak die stemmetjie na van kinders wat knor gekry het.

—Ek sal dit nooit weer doen nie, hoor.

Hy kyk haar aan soos sy daar voor hom staan, heeltemal aan hom oorgegee. Waarom sal hy nog weerstand bied aan die oproeping van die plesier, in so’n skone vorm gehul?

—Isabella! fluister hy.

Op haar beurt kyk sy hom nou weer in sy oë aan, en, stralende van genoeë, lê sy haar sagte hand in die hand van die jonkman.

—Jan! my liewe Jan!

’n Oomblik verlustig altwee hulle in die saligheid van beloofde genot en in die bedwelmende betowering wat die jonkheid aanbied. Daar lui die bel: die voorstelling begin weer. Swaar weeg hul geluk op hulle, spraakloos en langsaam stap hul terug na die konsertsaal. Bo-op die marmere trap bly hulle staan om asem te skep. Haar triomf dwing haar die bekentnis af:

—Jy weet nie hoe jy my van ongerustheid laat bewe het nie, Jan. Ek het waarlik al geglo wat die mense sê.

Vaag-ongerus, en met halfbeklemde hart, vra hy:

—En wat sê die mense dan?

—Dat jy Paula Kibert liefhet.

Hy laat die arm val wat op syne leun, en vra, met veranderde stem:

—Wie vertel jou dit?

—O! sê sy, ontsteld en bleek, asof sy aan sy voete die puinhope sien van haar geluk. Net deur die towerkrag van één naam is sy verslae. En dié naam, in haar onnoselheid moes sy dit self uitspreek. Dis genoeg dat sy Jan net aankyk om te besef hoe groot haar nederlaag is; en woedend omdat sy so meteens uit haar hemel geval het, vererger sy nog haar dwaasheid:

—Ja, die hoogmoedige klein ding, met haar prinsesmaniertjies, het jou wel weet te vang; dit moes ek geweet het. Ek wed dat sy haar speletjie al lank met jou gespeel het. Soos alle ou-jong-nooiens is sy op die mannejag. Loop maar na haar toe: sy wag vir jou.

Nou die verleidster self hom aan sy ware liefde teruggee, sien hy haar met medelye aan:

—Isabella, dit het vroeër net van jou afgehang om my vrou te word. En vanaand nog het jy kon opmerk hoe swak ek en hoe sterk jy is. Dit betaam jou nie om so te praat nie.

Sy antwoord niks. Die op-en-neer-gaan van haar bors toon aan wat ’n storm daar in haar woel. Met haar allesoorwinnende skoonheid gee sy die stryd op, erken haar nederlaag en gee haar oor aan haar verdriet. Die neerlaag vind haar onvoorbereid. Te lank al het sy altyd mog reken op die geluk van haar oorwinninge. Haar flirterige, sinlike liefde weet net van geesdriftige verheffinge of wanhoop, en is onmatig in ’n liefdeskermutseling.

Hulle bly alleen staan op die balkon, bo die trap; die mense is al almal die konsertsaal in. Die leegheid van die wandelsaal lyk bowemate groot vir Isabella. Sy vat met haar hande aan haar keel asof sy wil stik, en hef eindelik haar oë op na Jan; dit maak sy hart seer om die smart te sien van dié skone wese. Nou dat sy innig verdriet het, voel sy niks laags of gemeens meer nie.

—Jan, snik sy, met ’n nouliks verstaanbare stemmetjie, jy het dit goed gesien: daar is geen vrou wat jou liefde so verdien as Paula nie. Jy sal gelukkig wees, en ek baie ongelukkig . . . .

Sy kan nie meer sê as dit nie, maar vooroorbuigend neem sy die hand van die jongman en druk ’n soen daarop. Hy voel ’n traan op sy hand val, en, as sy weer haar hoof ophef, sien hy die trane langs haar wange afrol. Sy herstel haar genoeg om te kan sê, met ’n armsalige glimlaggie:

—Is dit nou pêrels, Jan?

—Jou trane is duisendmaal meer werd.

Hy neem haar in sy arms en soen haar op haar oë. Die onversigtige afskeidsomhelsing laat hulle amper weer beswyk. Hoeveel paartjies is daar nie al aanmekaargeketen geraak nie ten gevolge van so ’n paar sekondes van vertedering en jeugdige ontroering? In die liefde is oral gevaar; ons vlees is so swak en ons wil so wankelend . . . . ’n Deur wat oopgaan, is hul redding. Hulle gaan terug in hul „loge.”

—Omdat ek bang was, het ek my lewe misgeloop, sê sy.

Vir die res van die aand vergeet sy heeltemal wat ’n krag sy in haar skoonheid besit, sy is droewig in haarself gekeerd, sy haat haar mooi rok en haar juwele, en sou liewer die heerlike armoede van ware liefde besit. Vir die res van die aand het haar oorwinnaar—onderdaniger en kragteloser as ’n oorwonnene—sy oog nog op die skoonheid, wat nooit syne sal word nie. Voordat die vlam van sy begeerte uitgaan, brand dit hom nog. Voordat hy met vaste stap op die reguit pad van sy bestemming gaan, kyk hy nog ’n slag om na die wellus—en nie sonder ’n suggie nie.

Toe sy uitstap by die deur om huis-toe te gaan, help hy haar nog met die wit symantel wat sy om die blanke naaktheid van haar hals en skouers slaan. En nou eers dat sy weg is, voel hy bly dat hy haar baasgeraak het, en dink hy ongedwonge en vry aan die reine, fiere jongnooi wat sy hele hart vervul—die hart wat so vol moed is en tog so swak.

Alida het maar min met Jan gepraat die hele aand. Hy het haar besig gesien met haar man. Daar word gefluister dat Marthenay belangryke verliese gely het by die dobbelspel en dat hy so opsigtelik aan die gang is met ’n seker dame van die deftige wêreld. Sonder teenstribbeling onderwerp Alida haar aan haar droewige bestaan, met ’n hart wat al vooruit die ergste verwag. Wat help haar nou haar groot fortuin? Sy verwag geen geluk meer nie. Haar natuur is te fyn en gevoelig om hom te kan troos met die genoeëns van die wêreld, terwyl daar verlatenheid is in haar huis en leegheid in haar hart. Haar dogtertjie alleen hou haar nog terug van wanhoop. Sy maak haar groot met oordrewe liefde, en weet nie dat sy haar ook ontwapen vir haar toekomstige lewe nie.

Maar vanaand het die teenwoordigheid van Jan haar weer met pynlike helderheid laat terugdink aan die gebeurtenis daar in die eikebos van Chenée toe sy te swak was om haar geluk te gryp ten koste van ’n gemaklike selfoorwinning of selfs maar ten koste van ’n belofte om te wag en geduld te hê. Sy wou Jan nog gevra het om haar iets te vertel omtrent die dood van kommandant Kibert. Maar dié vraag het nie oor haar lippe gekom nie: is dit nie reeds ontrou van haar as sy so’n vraag sou doen nie? Nougeset, laai sy dié nuwe smart ook nog maar op haar innerlike weduweeskap.

So kom sy dus nooit te wete nie dat Marcel, op die oomblik van sy dood, die portret by hom gedra het van ’n blonde blouoog-meisie, wat hom gebring het tot die fiere minagting van die dood.

VII. DIE GEHEIM VAN PAULA.

Jan het ’n ope rytuig in die dorp gaan haal en help sy oom daarin. Die oubaas is opgeskik in swart manel en keil, borshemp, hoë boordjie en pêrelgrys handskoene, en in sy hand sy goudknop-wandelstok.

—Ek voel bra ongemaklik in al die deftigheid, sê hy aan sy neef.

Hy het spyt dat hy sy tuinklere moes uittrek. En ’n mens sou sê hy gaan weg op ’n lang reis, want Jan moet allerhande raadgewinge aanhoor in verband met sy agterblywende roosboompies.

Jan stel hom gerus daaromtrent.

—Maar, oom, vergeet veral nie u boodskap nie.

—Verbeel jou! sê die ou mannetjie, opwippend. Ek sal jou boodskap goed oorbring, al sou my beste rose ook verlep solank as ek weg is.

Die oom gaan na Maupas om aan mevrou Kibert die hand van Paula te vra vir sy neef Jan. Die rytuig verdwyn om die draai. Jan is ongeduldig en opgewonde; in plaas van binne-toe te gaan, stap hy langsaam die pad langs, agter die rytuig aan. Op dié manier sal hy sy oom gouer ontmoet as hy terugkom; en miskien sal hy dan voor die aand tyd hê om self nog na Maupas te gaan en te praat met haar, wat dan sy verloofde sal wees. Hy kyk na die son, wat sonder die minste haas na die berge daal, en hy verwens die vervelende lang somerdae.

Ná die aand van die komedievoorstelling het die gevoel in die jonkman se hart nog inniger geword. Hy het Paula lief om haar moed en haar fierheid, en ook om die geheimsinnige onverklaarbare aantreklikheid wat op ons uitgeoefen word deur die gelaatstrekke, die kleur van die oë, die sware hoofhare, die gestalte, en al die bekoorlikhede van die vrou in wie ons vooruit die versekering en die blydskap van ons toekoms lees, of van ’n toekoms vol rampsalige dog genotvolle kwelling. Die verstandige jongnooi, met haar vlammende oogopslag, het sy hart vervul met tere liefde; bowenal het sy hom daartoe gebring om die ware doel van ons menslike bestaan na te streef—die doel wat nie daarin lê dat ons die begin en die end van alles in onsself soek nie, maar daarin, dat ons onbaatsugtige en werksame skakels uitmaak tussen voorgaande en nakomende geslagte. Waar sou hy ooit ’n edeler metgesel kan vind, dapperder, standvastiger, beradener? Sy het groot geword soos ’n jong plantjie wat krag put uit vrugbare grond. Haar famielie is ’n waarborg vir haar deugsaamheid. Net ’n bietjie son het haar ontbreek om tot volle wasdom te kan kom. Sou liefde haar nie met die warmte en lig kan bedeel nie? En wat ’n vreugde om te sien hoe sy opegaan soos ’n blom, om te voel dat ’n mens daar ’n bietjie oorsaak van is, om aan die alte swaar beproefde jonkheid weer smaak te gee in die dag wat verbygaan, om haar te laat wens dat dit nie so gou verdwyn nie!

Sy sal hom liefkry; miskien het sy hom reeds lief. Sou hy verkeerd gesien het, of het hy haar nou en dan betrap op ’n klein verrassing van haar geheime jongmeisies-gevoel, ondanks die waardigheid en terughoudenheid wat al haar beweginge bestuur? Het sy oog nie nou en dan ’n blossie gevang op haar wange nie, ’n alte snelle knip van haar oë, en veral die manier van aankyk, die blik, so rein, so trouhartig, so vas, so onwillekeurig vriendelik op hom gerig? En nou, as hy terugdink, lyk dit dan nie vir hom of hy ook gedeel het in die afkeer wat sy by alle geleenthede laat blyk het teen Isabella Orlandi nie? Isabella Orlandi—hy het haar nog nie weer gesien nie; hy sal haar ook nooit weer sien nie; hy voel nog ’n soort van bygelowige vrees vir haar, en hy verban die alte skone beeld uit sy gedagte; dit verneder hom en herinner hom wreed aan sy swakheid. Maar as geliefde van Paula Kibert voel hy sterk genoeg om die gewig van die hele wêreld te kan dra. Is dit nie ’n teken van ware liefde nie, as dit al ons kragte verhoog en ons soveel selfvertroue gee?

Ander bedenkinge het nog by die gevoel van sy hart gekom. By ’n huwelik skei ’n liefhebbende hart hom nie af van die stoflike en maatskaplike lewe nie; en juis daardeur, deur die moeilikhede wat in die weg kom, leer die liefde verstaan wat die menslike bestaan in die algemeen beteken, en dat dit beskerm moet word; die hartstog, daarenteen, probeer om dit te vergeet of te verniel. Die famielie Kibert is nie ryk nie, en wat hy self moet erwe, is ook maar min. Alhoewel hy die militêre diens liefhet en nie sonder hartseer daarvan sal afskeid neem nie, voel hy nie die beroepsaansporing—soos Marcel by voorbeeld—wat ’n mens as dit ware by die skouers gryp en dwing om ’n pad te gaan waarbuite hom net ongemak en ongeluk te wag is. En hy moet rekening hou met die stoflike behoeftes van sy aanstaande huishoue.

Sonder moeite het hy sy lewensplan uitgewerk: hy gaan as kolonis na Frans en Etienne Kibert in Asië. Hulle het al so dikwels aan hul moeder geskrywe dat hulle hulp nodig het om hul werk behoorlik uit te brei. Hy is ’n kind en kleinkind van landbouers, en daar is ’n verlange in hom na die vrye, vreedsame buitelewe. Sy vroutjie sal nie bang wees om met hom oor die see te gaan nie: sy sal hom sterk maak vir ’n lewe van stryd en avontuur. Die bloed van ou dokter Kibert—onverskillig vir gevaar—die bloed van die ou moeder—met haar onoorwinlike geloof, wat alle beproewings vir haar draaglik maak—dié bloed vloei ook in die are van die meisie wat hy bemin.

Met die selfsug wat ’n minnaar kenmerk, vergeet Jan net één persoon, by al sy toekomsplanne; of liewer, sonder daaraan te dink, maak hy nou ’n plan om dié één te beroof van haar enigste soetigheid in ’n bitter bestaan. Die dapperheid van mevrou Kibert is vir hom ’n sterk waarborg van Paula se moed, sy is so’n moeder waardig; maar hy besef nie dat hy van die arme vrou haar grootste opoffering gaan verlang nie: haar laaste kind, dié wat sy so angstig-beminnend in haar arms druk, en wat God haar nog gespaar het.

Terwyl hy so op die pad van Maupas aanstap, sy geluk tegemoet, in die skemer en die heerlike lug van die someraand, maak ou Marie die deur oop vir sy oom. Sy laat hom in die voorkamer, en terwyl sy haar nooi gaan roep, dink sy:

—Wat is die ou se planne—met sy swart manel en keil?

Die ou bly stilstaan voor ’n blompot met rose wat in die middel van die tafel staan. Hy bekyk hulle so digteby dat dit lyk of hy hul wil opruik, en meteens lig hy sy hande op in die grootste verbasing. So kry mevrou Kibert hom daar staan. Hy groet haar nouliks, dog wys dadelik na die blomme en roep uit:

—Daardie een! Sien u dit?

—Ja, sê sy, verwonderd.

—Waar het u dit gekry?

—Ag, ek weet nie meer nie, meneer.

—Onmoontlik! U moet weet. Antwoord!

En ’n bietjie minder brutaal sê die ou rosegek dan weer:

—Asseblief tog, mevrou. Dis baie belangryk.

Mevrou Kibert probeer nou om haar geheue te ondervra:

—My seun het die steggies uit Siena meegebring. Ons het dit hier geplant en dit dra mooi.

—A! het ek nie geweet dis ’n Sinese roos nie! En die naam weet u natuurlik nie. Niemand ken hier die name van blomme nie.

Mevrou Kibert beken glimlaggend dat sy die naam nie weet nie.

En daar begin die ou uit te vaar, wel ’n halfuur lank, oor die skandelike verwaarlosing van die plantkunde by die onderwys.

Mevrou Kibert, dinkende aan iets anders, kan skaars ’n woordjie hier en daar inbring. Sy verseker hom dat sy van name niks weet nie, maar darem baie van blomme hou.

Maar die ou is nou heeltemal opgewonde, en nie meer in te hou nie. Hy vertel haar die geskiedenis en name van rose in vreemde lande. Mevrou Kibert voel wel wat die doel van sy onverwagte besoek is: hy wat net vir sy plante lewe en sy medemense veronagsaam, dit moet wel iets belangryks wees wat hom uitgedrywe het, dit kan niks anders wees nie as ’n aanvraag ten huwelik. Bewoë dink sy aan Paula, wat nie tuis is nie en so gelukkig sal wees as sy terugkom. Die ou vrou probeer om sy woorde op ’n ander koers te lei:

—Hoe gaan dit tog met Jan? Ons het hom al ’n paar dae nie gesien nie, hy kom te min hier.

Maar die ou blommegek is nie haastig met sy boodskap nie. Hy is eindelik so ver dat hy die roos uit die blompot het.

—O, met Jan gaan dit goed, sê hy onverskillig, en dan dadelik weer:

—Ja, hierdie soort is, so te sê, onbekend hier. Ek sal dit ’n naam gee. Mag ek hierdie een saamneem, mevrou?

—Seker, meneer, sê mevrou Kibert. Sy vrees al dat sy mis gesien het omtrent sy boodskap.

—Baie dankie, mevrou, ek wil met hom werk voor hy verlep is.

Hy is weg met die blom. In die deur bly hy staan, en op ’n geheimsinnige toon, wat haar laat ontroer, sê hy:

—Ek sal u ’n geheim vertel: deur oor en weer ent het ek ’n nuwe roos laat ontstaan. U sal dit sien. Dit het nog nie ’n naam nie. Ek sal dit na u dogter noem: Mevrou Paula Berlier. My neef sal dié naam tog alte mooi vind.

En sonder sy boodskap op ’n ander manier te laat blyk, is die wonderlike ou snuiter weg—sy roos in sy hand en sy oë daarop.

Mevrou Kibert kan ’n glimlag nie onderdruk nie:

—Die arme ou! Hy vergeet ons almal vir ’n blom.

Jan kom die pad op, sy oom tegemoet, en is al byna by die eikebos. Hy hoor die wiele van die rytuig op die gruis, en daar sien hy dit, deur die takke van die bome. Hy hardloop, al is dit opdraans:

—Wel, oom?

Jan voel gerus, want die ou hou die blom in die lug, soos ’n oorwinnaar.

—Kyk, kyk, hierdie roos het nog makeer aan my versameling!

—Wat raak dit my! sê Jan kortaf. Sê sy ja of nee?

Die ou laat somaar die roos val en slaan sy hande wanhopend aan sy hoof:

—O my vadertjie! Ek is stapelgek. Ek het heeltemaal vergeet om te vra!

Jan kyk hom medelydend aan:

—Ek gaan nou terug, nou-nou.

—Nee, ek gaan self; gaan maar terug na u blomme, oom, hulle sal u weer tot bedaring bring.

En so gaan Jan na Maupas.

Die ou kyk hom na tot hy verdwyn agter die draai van die pad. Dan droog hy sy gesig af en sê die koetsier moet maar aanry. Vir die eerste maal in sy lewe kom hy sonder plesier tuis in die Rosevilla.

Jan kry mevrou Kibert in die tuin van Maupas. Sy glimlag as sy hom sien; en hy voel gerus as hy die vriendelikheid gewaar van die edele vrou.

—Dag, Jan. Jou oom was hier, weet jy daarvan?

—Ja, mevrou, hy was die draer van my lewenshoop, en hy het versuim om dit aan u te sê.

—O, vergeef hom dit. Hy leef in drome, en sy drome is bloemryk.

Met bevallige huiwerigheid neem sy die hand van die jonkman.

—Maar stel jou gerus. Ek verstaan die taal van die blomme.

Hulle gaan sit by die kliptafeltjie onder die bome. Jan soen haar hand. Hulle het mekaar al verstaan.

—Dus weet u dat ek haar liefhet? sê die jongman, bewoë.

En met vaster stem voeg hy daar by:

—Hoe sou ek haar nie kan liefhê nie, mevrou?

—Sy is dit werd, sê Paula haar moeder. En sy dink aan haar nuwe toekoms.

—Ek glo ek het haar altyd liefgehad. Net, ek het my eie hart nie geken nie. As ’n mens nog te jonk is, kan jy die betekenis van die lewe nog nie goed onderskei nie . . . . En ek het haar ook lief vir altyd.

—Ja, sê sy ernstig. Voor ’n mens hom bind deur ’n ewigdurende belofte, moet jy seker wees van jouself. En ek het vertroue in jou.

—In Paula vind ek die moed van Marcel terug, en sy fierheid. Sy is so mooi daarby. Ek sal die lotsbestemming seën as dit so is dat sy vir my bewaar is.

—Dis God wat jy moet seën, Jan. Van Hom alleen kom ons krag. Ja, Paula is ’n goeie kind. Al is ek haar moeder, ek kan dit met trots sê. Met vreugde gee ek haar aan jou. Jy was maar altyd so deurmekaar met my eie kinders, en vir Marcel was jy ’n broer.

—O, mevrou, dis my aangenaam om u so te hoor praat . . . . Maar syself?

—Moenie ongerus wees nie, Jan, Paula sal jou neem. Maar jy moet haar dit self vra . . . . Maar jy het seker al goed nagedink oor jul bestaan? Jy weet, ons is nie ryk nie. As Paula toestem om jou vrou te word, sal my seun Etienne en ek die opbrings van Maupas aan julle afstaan. Nadat die wingerd afgesny is, bedra dit nie veel nie; maar dis al wat ons het.

Sy gee alles, en maak nog verskoning daarvoor.

—Nee, mevrou, sê Jan.

—Laat my nou uitpraat: Kyk, ek wil my uit alles terugtrek. Ek het min nodig om te lewe. Etienne, wat dit kan doen, stuur my ’n gereëlde toelae; ek het hom al gevra om dit minder te maak, maar hy wil nie. Jy moet dink aan jou toekomstige famielie, Jan.

—O, mevrou, waar’s die geld wat gelyk staan met die skatte wat in Paula haar hart lê. Maar moenie glo ek sal u alte edelmoedige aanbod aanneem nie. Ek het al gedink aan ons toekoms. Etienne het iemand nodig om hom te help in die kolonies. In al sy briewe sê hy dit. Nou wel, ek bied hom my samewerking aan. Ek het hom verlede maand al daaroor geskrywe.

—O, so! dan wil jy jou vrou wegneem daarnatoe!

Op dié oomblik sien Jan Paula op die stoep—sy het net tuisgekom. En hy merk nie hoe die oë van mevrou Kibert vol trane skiet nie. As hy haar weer aankyk, is sy reeds bereid vir die nuwe offer wat God van haar verg, en met ferme stem antwoord sy hom:

—Dat God jou planne seën! Daar is my dogter, Jan. Te lank het sy in eensaamheid en ellende gelewe. Sy het behoefte aan geluk. En hoe gelukkig sal sy tog wees met jou liefde! Haar jonkheid, wat sy al vergeet het, sal sy weer voel herlewe. Ek gee jou permissie, Jan, om haar te sê dat jy haar liefhet.

En, dewyl Paula al naby hulle is, sê sy fluisterend daarby:

—Ek gee jou my laaste en my liefste kind.

Haastig stappend en regop kom Paula oor die agterplaas na hulle toe, onder die skaduwee van die kastaiingbome. ’n Bietjie styf in haar swart rok, groet sy die jonkman, wat haar tegemoet kom. ’n Ligte rooi verlewendig haar gelaatskleur terwyl haar donker oë verhelder. Sy soen haar moeder:

—Ek kom van die boer. Môre sal ons eiers en botter kry.

Mevrou Kibert vat altwee same in haar moederlike blik. Sy staan op van haar stoel:

—Ek gaan die ete klaarmaak. Ekskuseer my, Jan. Dis ’n mooi aand. Julle kan nog maar ’n bietjie rondwandel tot die son ondergaan. Loop tot na die bos van die waterval, en kom dan gou weer terug, kinders.

Ontroerd, en vol vertroue, kan sy nie nalaat om hulle haar kinders te noem nie. Naas mekaar en lig van stap sien sy hulle gaan, die boomlaning in.

—Hoe lank is sy! sê mevrou Kibert by haarself.

Hy is net ’n halfkop langer. En tog lyk hy groot. Hulle is ’n mooi paar.

Hul verdwyn onder die bome. Langsaam, want haar hart voel swaar, stap die ou vrou na die huis. Sy maak haar klaar vir haar grootste opoffering, en sê by haarself:

—Paula, my liefste, nou vir my verlore . . . . ek wens dat jy gelukkig mag wees; as ’n goeie kind het jy dit wèl verdien. Wees gelukkig—dis alles wat ek vra van God . . . .

Jan en Paula stap aan in die voetpaadjie van die populierbos, hy agter en sy voor.

—Laat ons loop tot by die dennebos, sê sy, deur die takke kan ons dan die aandrood op die berge sien.

Hy bly staan:

—Sal ons nie liewer hier bly nie?

En hy wys haar ’n ou boomstam wat as sitplek kan dien. Sy het laas daarop gesit met Marcel, op hul laaste wandeling, vóór sy vertrek. Sy dink aan dié dag terug en is half huiwerig om te gaan sit. Sy merk niks uit die woorde van Jan nie. Weinig gewend om oor haarself te dink, getroos in haar armoede en in die vooruitsig om agtergelaat te word, het sy geen gedagte meer aan liefde of aan ’n huwelik nie. Sy dink dat sy vir altyd die gevoelens van vroeër dae stil gemaak het, wat haar so baie verniet laat ly het, en sorgvuldig bewaak sy haar verstote hart. Sy laat haar oorhaal om te gaan sit. ’n Oomblik sit hulle so, spraakloos naas mekaar.

Die son is al weggesak agter die berg. Hulle het ’n gevoel of daar iets heiligs en geheimsinnigs in hul nabyheid is: die aandstilte, aanswewend oor die landskap. Aan hul voete golf die ryp graan van die lande saggies op en neer in die windjie—soos ligte golfies langsaam wegsterwende op ’n seestrand. ’n Entjie verder, swaargeblaard en vol majesteit, val die groot bosse reeds in slaap. En vèr, op die horison, trots dat hulle die daglig nog in die oog het, gloei die laaste kranse in al die prag van hul rose en violette tinte.

Die kalmte van die natuur is vir Jan ’n gelukkige voorteken, en versnel die slae van sy hart. Hy kyk na haar wat naas hom sit, en verheug hom in wat hy haar te sê het, want nogmaals herken hy in haar die bevalligheid van haar jonkheid, en die fierheid van haar hele famielie.

Pynlik duidelik herinner sy haar nog die tere woorde van Marcel, hier op dieselfde boomstam uitgespreek, die aand van sy vertrek na Afrika: Paula, moenie ongerus wees nie; ééndag sal jy nog gelukkig wees. Vandat Jan terug is, het sy haar in haar lot geskik, sonder bitterheid en sonder swakheid. Ja, sy voel wel ’n soort gelate geluk, waarmee sy haar tevrede stel na soveel skokke. Is dit die geluk wat Marcel bedoel het? En die vreedsaamheid van die aanduur word weer in haar wakker, die onbestemde verlange na ’n ander soort saligheid. Maar sy weet nie dat die uur nou gekom het nie.

Jan besluit nou om te praat:

—Paula, ek het aan jou ma vertel wat my planne vir die toekoms is.

Sy kyk hom aan met haar swart oë.

—Is jou verloftyd al verby? Gaan jy gou weer weg?

—Ek gaan nie terug na my kommando nie.

Verbaas wag sy op nader uitleg.

Haar oë blits:

—Ek gaan bedank.

—Jy, Jan! O, dis verkeerd van jou. Jy is nog nie dertig jaar oud nie, jy het al ’n ereteken, en jy gaan jou loopbaan weggooi! Wat sou Marcel daarvan gesê het?

—Marcel sou dit goed gevind het, Paula, want ek sal my land nog dien, op ’n manier wat nie minder nuttig is nie. In plaas van soldaat, word ek kolonis. Ek het aan jou broer Etienne geskrywe; hy kan àl sy werk nie alleen klaar kry nie, daar in Asië. Ek gaan hom help.

—Ag! sê sy, sal hulle nie bly wees nie! Hulle weet hoe lief jy vir Marcel gehad het. Jy sal vir hulle van hom vertel soos jy ons vertel het. Jy sal kennis maak met my nefie en niggie, wat ek nog nie eens ken nie.

’n Skaduwee versprei hom oor die vlakte, en begin op te klim teen die hang van die berge. Op die meertjie in die verte sweef ’n purperkleurige waas, geleidelik oorgaande in die rose en goudkleur van die aandhemel. En die vrede van die aand daal neer op die onbeweeglike dinge van die aarde, soos ’n hemelse seën.

Jan staan op en bly so voor haar staan.

—Jou broers sal nog blyer wees as hulle weet wat my ander plan is. En met neergeslae oë sê hy, op sagter toon:

—Dis ’n plan wat vir my van baie groot betekenis is. Jou ma weet al daarvan.

Hy kyk haar aan en merk, tot sy verbasing, dat sy hom nog nie verstaan nie. Dat sy haarself so vergeet, is vir hom mooi; en eindelik, met diepe erns en gevoel, spreek hy die beslissende woorde uit:

—Paula, ek het jou lief. Wil jy nie my vrou word en met my saamgaan oor die see nie?

Spraakloos, staan sy nou ook op, en word doodsbleek. Daar is ’n druk op haar bors, dit gaan op en neer, en toon aan wat ’n storm in haar hart losgebreek het. Maar sy bly stil.

Hy gaan aan:

—Ek het jou lief, Paula. Het jy dit nie geweet nie? Toe ek van Algiers teruggekom het, het ek jou teruggevind, so dapper . . . . . en so mooi. Nee, moenie jou hoof skud nie. In die woestyne, ek weet dit nog, het Marcel my baiemaal vertel hoe jy die steun was van jou moeder. En daar, in die wildernis, as ek een of ander beeld of steun nodig gehad het om my kragte aan te wakker, om my moed in te fluister, dan is dit aan jou wat ek gedink het. Ek sien dit wel, ek het jou altyddeur al liefgehad, van ons kindsdae af, toe ons saam gespeel en gelag het. My geluk lê in jou hande, Paula, wil jy my dit nie gee nie?

Sy antwoord nie. Sy is so bleek asof al haar bloed uit haar are teruggedring is. Hy neem haar hand. Sy trek dit nie terug nie. Hy wag vol vertroue, kalm, sy hart swellend van hoop.

Sonder iets te sien, is haar oog op die vreedsame landskap gevestig. Die kranse weerkaats nie meer die gloor van die ondergegane son nie. Die hele natuur gaan skuil in die skaduwee wat die slaap voorafgaan.

Is dit dan nie dié geluksaligheid wat Marcel haar voorspel het nie, hier op dieselfde plek, op net so’n kalm aand?

Terwyl sy nog maar stil bly, voel Jan ’n ontsaglike beklemming om sy hart. Sy stem klink anders as hy die derde maal herhaal:

—Paula, ek het jou lief. Waarom praat jy nie? Ek smeek jou, antwoord my.

Saggies trek sy haar hand uit syne, terwyl sy sê:

—Nee, nee, ek wil nie!

Snikke verstik haar stem, en hardlopend vlug sy huis-toe.

En nou voel hy die nag binnedring tot in sy hart. Hy verag die lewe, wat hy liefgehad het, en hy beny Marcel waar hy rus, in die sand van Afrika—Marcel, wat reeds die uiteindelike vrede smaak.

VIII. MEVROU KIBERT.

Mevrou Kibert wag haar kinders af, op stoep. Haar arms is gekruis op die tralie. Haar hoof is gebuig. Haar lippe prewel ’n gebed. ’n Diepe vrede, soos dié wat saans op die lande neerdaal ná ’n skone dag, is nou ook op haar gelaat te sien, wat nog nat is van haar trane. ’n Paar rose loer tussen die half-verlepte klimop uit, en beweeg in die windjie, wat hul blaartjies verstrooi en hul geur in grypies wegsteel.

Sy sien Paula terugkom, ontsteld en snikkend, en probeer tevergeefs om haar staande te hou met die woorde:

—Paula, wat makeer? vertel my . . . . .

Sonder te antwoord is sy binne-toe en in haar kamer.

Mevrou Kibert gee ’n paar stappies agter haar aan. Maar sy dink na, en bly weer staan. Sy gooi ’n tjalie oor haar skouers, stap die treedjies af, en so hard as haar bewende ou stappies haar wil dra, gaan sy die boomlaning in. Sy gaan staan by die groot hek aan die pad, en sê by haarself:

—Hy kan nog nie verby wees nie. Paula het so vinnig huis-toe gestap.

Sy kyk die pad op. Rondom hoor sy net die skel eentonige klaaggeluid van die kriekies, en nou en dan die geskuifel van die sware kastaiingblare in die windjie. In ongeduld wag sy ’n paar oomblikke en sien dan die swart skadubeeld van Jan in die verte. Hy loop met geboeë hoof en liggaam. As hy naby haar kom, sien sy dadelik op sy gesig dat hy bedroef en wanhopend is. Versink in sy leed, merk hy nie dat sy daar staan by die pilaar van die hek nie. As hy verby wil stap, roep sy hom:

—Jan!

Verbaas om sy naam te hoor roep, kyk hy op en gewaar die ou vrou; sy glimlag hom droefgeestig toe. Hy groet en kom nader.

—Ag! sê hy, net asof hy kla by sy moeder. Ek is baie ongelukkig.

Sy steek haar hand uit.

—Jan, gee my jou arm. Laat ons binne-toe gaan. Dit word al donker en koud.

Moedeloos gehoorsaam hy:

—Mevrou, u weet dat dit my nie pas om ooit weer hier binne te gaan nie. Maar ek sal u tot by die deur bring.

Aaneen klink die kriekiesgesang op uit die velde. En deur die stamme van die bome sien hy in die lug die laaste goudglim van die verdwene son. Hardnekkig hou die dag die stryd vol teen die nagskaduwees.

Spraakloos stap hul aan, naas mekaar. By die treedjies wil hy afskeid neem, maar sy sê:

—Kom binne. Ek wil met jou praat. Paula is nie in die voorkamer nie.

Hy wil weier. Onverskillig gee hy dan maar toe en volg haar. Hy voel soos ’n veroordeelde wat maar min glo aan die trooswoorde van sy weldoener, maar dit darem tog aanhoor.

Binnegekom, draai sy om na hom, neem sy twee hande in hare, kyk met haar sagte oë in syne, en sê:

—Het sy geweier om jou vrou te word?

—Sy het wenend weggehardloop.

—Jan, my liewe Jan, jy het haar nie verstaan nie.

Die vriendelike bejeëning is balsem op sy smart, maar knak die bietjie krag wat hy nog oorhet. Hy is klaar om in trane los te bars.

—Ag, dit is so! sê hy. Sy het my nie lief nie, en ek hou tog so baie van haar.

Sy laat die hande van die jonkman los, en leun nadinkend op die tafel. Wat sy nou wil waag, is iets ernstigs. Mag sy beskik oor die hart van haar dogter? Is sy, as moeder, wel seker dat sy haar goed deurgekyk het?

Sy beskou die jonkman, wat sy graag haar seun sou wil noem, en sy dink aan sy trou en moed. Bowenal dink sy aan Paula haar brandende hart en aan haar toekoms. Sy voel nou seker van haar saak, kyk Jan glimlaggend aan, en sê eindelik:

—Jy het dit mis, Jan, Paula het jou wèl lief.

Hy skud sy kop.

—Nee, nee, mevrou. Ek vra geen verklaring nie. Laat my nou gaan.

—Sou die moeders dan teenwoordig nie meer weet wat daar omgaan in die harte van hul dogters nie?

Sy dink eers weer na, en vul dan aan:

—Paula het jou lief. Jy het nie verstaan dat sy haarself opoffer vir my nie.

—Vir u? Hoe so?

En oplettend kyk hy mevrou Kibert aan. Sy jeug kan sy neerlaag nie verdra nie, en hy voel reeds ’n nuwe roering van hoop. Intussen verbaas dit haar nie dat hy haar gedagtes nie kan lees nie, en dit klink byna soos ’n ekskuus uit haar mond as sy sê:

—Het jy haar nie vertel dat jou plan is om na Asië te gaan nie?

—Ja.

—Sy wou my nie alleen laat agterbly nie, Jan. En daarom het sy gehuil en weggeloop. Maar sy het jou lief: is haar trane nie bewys daarvan nie?

Hy sien nou in hoe hy net aan homself gedink het; sonder ’n woord staan hy daar voor die ou vrou, wat hy heeltemal verbygesien het, vir wie hy besig was ’n eensame en treurige bestaan vóór te berei, vir haar, wat ’n uurtjie gelede selfs geen klag laat hoor het nie toe hy haar gevra het om haar laaste kind aan hom te gee.

Terwyl hy nog altyd stilbly, gaan mevrou Kibert voort, kalm en bedaard:

—Sy wou my nie eensaam laat agterbly nie.

En met ’n droefheidverbergende glimlaggie, voeg sy daarby toe:

—Verbaas dit jou, Jan?

Hy bly nog maar stil en probeer om hom sterk te maak teen die diepe ontroering wat hom aangryp. Maar die ou vrou gaan aan, met sagte maar besliste stem:

—Dis verkeerd van haar, Jan. Sy het my liefgehad voordat sy jou liefgehad het. Vandag hou sy meer van jou as van my, maar sy weet dit nog nie. Sy is my vreug gewees, my hele krag selfs. Later sal jy ondervind wat die toewyding van hierdie kind beteken. Sy is so aan my geheg dat sy haarself daarvoor wil opoffer. Maar dit wil ek nie hê nie. God wil dit ook nie hê nie.

Die jonkman ween. Sy neem sy hand:

—Sy kyk agtertoe, maar in die lewe moet ’n mens vorentoe kyk. Vaders en moeders kan vir hul kinders lewe, maar nie omgekeerd nie. Dis die wet van die natuur. Dis die wil van God. Moenie bedroef wees nie, Jan, sy sal jou vrou word. Ek gaan haar haal vir jou. Maar beloof my eers weer dat jy haar sal liefhê, dat jy altyd vir haar mooi sal oppas, dat jy haar gelukkig sal maak. My Paula verdien dit tog so.

Jan probeer nie meer om sy trane in te hou nie. Dis trane van diepe veréring vir so’n wonder van selfverloëning. In sy eerbiedvolle en liefderyke bewondering, maak hy byna geen onderskeid tussen moeder en dogter nie, mekaar so waardig in wederkerige opoffering van hul geluk.

En hyself, verblind deur sy liefde, het daar nie aan gedink nie dat die liefde—wreed, soos eertyds die gode—’n offerande eis, die versoenende offerande van ’n edele hart wat verskeur word.

Skielik buig hy voorover en druk sy lippe op haar hand, met ’n beweging asof sy ’n heilige is.

—Ek sou voor u wil kniel, fluister hy. Wees geseën onder al die vroue.

—O Jan, wat sê jy daar?

Hy gaan aan:

—Maar ek neem u offerande nie aan nie. Ons sal hier in die moederland by u bly. Paula sal u nie hoef te verlaat nie.

Maar mevrou Kibert is al weggestap. Aan die end van die voorkamer maak sy ’n deur oop. Op die drempel draai sy om en sê aan hom:

—Wag daar tot ek weer kom.

Sy loop deur haar eie kamer en bereik die kamer van haar dogter, sonder geluid te maak. Gedra op die geure van die tuin, sluip die sterwende, geheimsinnige aandgloed deur die venster in en word in die spieël teruggekaats, tesame met die boomblare wat nou, soos ’n swart skaduwee, teen die lig afsteek. In die halflig sien sy Paula sit op die voetenent van haar bed, gekromd oor haar eie skoot, bewenende haar verlore geluk. Vrywillig en sonder swakheid het sy dit verloor . . . . En mag sy dit nou nie beskou as ’n skone, verre, beloofde land, waar sy nooit sal binnegaan nie? En sy geniet van haar leed, van haar ou, vurige liefde, waarvan niemand ooit iets sal weet nie—haar liefde, waarvan sy gedink het dat sy dit al lank verstik het, en wat nou in haar verdriet herleef. Sy geniet só, dat sy amper lus kry om maar nou te sterwe.

Sy skrik uit haar droefheid op, want sy voel ’n kus van haar moeder op haar hare.

—Paula, waarom huil jy? Jy moet dapper wees in die liefde, soos jy dit gewees het by beproewinge.

Die dogter spring op, en, wetende dat die skemer die tekens van haar ontroering half verberg, verdedig sy dadelik haar gedrag:

—Ma, ma weet nie wat daar gebeur het nie. Ek het hom nie lief nie . . . . Sy voorstel het so onverwags gekom, dit was so snaaks vir my, dat dit my ’n bietjie dof geslaan het. Ma, dis die eerste keer, verstaan ma . . . . Maar lief het ek hom nie, ek verseker ma dit . . . . . ek kan nie anders nie.

Haar ma kyk haar met innige liefde aan asof sy die volle maat wil begryp van die jonge, standvastige toewyding, wat nie wil beken nie, en tot in die wanhoop daarin wil volhard.

—Kom saam met my, Paula, sê sy eindelik. Jan het jou nie alles vertel nie. Jy het te gou weggehardloop. Hy het nie tyd gehad om jou te sê dat ek saam gaan met julle twee nie.

Soos blomme waarop, na ’n reënbui, die water-druppeltjies skitter soos edelgesteentes, so straal daar meteens ’n glans van blydskap uit die betraande gelaat. Sy slaat haar arms om die hals van haar moeder. As mevrou Kibert nog sou getwyfel het aan Paula haar geheim, dan is hierdie skielike verandering in Paula wel genoeg om alle sekerheid te gee.

—Ma, is dit waar? Hoe gelukkig sal ons daar tog wees! . . . . . Ek het ma tog so lief.

Mevrou Kibert glimlag, sy begryp wel dat die laaste woorde vir iemand anders bestemd is.

—Ek het wel geweet, sê sy saggies, terwyl sy Paula haar wang streel, soos vanmelewe toe sy nog klein was. Met ontroering aanskou sy die ontluikende geluk, waartoe die Voorsienigheid haar ’n kans gegee het om iets by te dra. En stilletjies dank sy die Heer dat Hy haar wens vervul het.

Skamerig, en sonder haar ma aan te kyk, vra Paula:

—Is hy al weg?

—Hy is nog daar.

Sy bloos, maar die skemering verberg dit vir die oog van haar ma.

—Kom, ons gaan terug na hom toe, sê mevrou Kibert. Sy neem Paula haar hand en lei haar binne in die voorkamer:

—Jan, hier is jou vrou.

Self lê sy hulle hande in mekaar. Hulle kyk mekaar nie aan nie. ’n Heerlike ontroering swel in hul boesem en vul dit met die genade en skuheid van die lewe—die geheime kenteken van goddelike krag.

Jan is die eerste wat sy oë opslaat en die geliefde voorwerp van sy saligheid aankyk. Paula haar trane van flus het haar skoonheid verminder, maar het haar uitdrukking van trots ook getemper en haar bedeel met ’n onderdaniger, aandoenliker menslikheid, wat ook spreek uit haar houding van oorgawe. Om haar vrouweswakheid kry hy haar nog meer lief.

—Kan ek nou glo aan my geluk? sê hy eindelik.

Met ’n sug van verligting antwoord sy:

—O, ja!

—Paula, ek het jou lief.

In ’n byna onhoorbare suggie sê sy die woorde na:

—Jan, ek het jou lief.

Nou kyk sy hom ook aan, en hulle glimlag met mekaar. Maar dadelik soek sy die oog van haar moeder, en, seker nou van haar geluk, sê sy:

—Ma gaan met ons saam na Asië. Daar oorkant sal ons almal bymekaar wees, behalwe suster Magriet, die sendelinge.

Jan verstaan nou watter kragargument mevrou Kibert gebruik het om die hart van haar dogter te leer ken. En hoewel hy twyfel aan die saamgaan van die ou vrou, en vanself begryp dat dit maar ’n leuentjie is uit ’n goeie hart, maak hy maar of hy net so bly is as hulle.

—My kinders, my liewe kinders! sê mevrou Kibert. God skenk ons groot blydskap. Dat Sy seën op julle daal, op julle huis en famielie! Jan, omhels jou verloofde!

Hy druk sy lippe op haar nog traanvogtige wang. So is reeds by hul eerste omhelsing die spore van smart teenwoordig, as om aan te dui dat hul lewens één is, in smart sowel as in vreugde.

Aan die ander end van die kamer kyk mevrou Kibert na die portret van Marcel. Maar dis al so donker dat sy meer in haar verbeelding dan op die portret sy gelaatstrekke gewaar. Jan en Paula kom nou by haar:

—Marcel sal tevrede wees, sê hy. Ek glo nou dat hy al my hart geken het voordat ek dit self geken het.

En Paula onthou haar broer se woorde: Moenie ongerus wees nie: eendag sal jy nog gelukkig wees.

Hy, wat toe reeds op sy voorhoof die teken van die dood gedra het, en die dood tegemoet gegaan het met ’n ferme stap—het hy toe in die toekoms gesien met oë wat reeds geopen was vir ’n ander wêreld; en moet ’n mens van die lewe afgeskei wees om die verwantskap van siele te deursien en die geheim van hul bestemming? . . . . Haar susterlike gehegtheid aan haar broer maak dit vir haar aangenaam om hom in verband te bring met haar liefde vir Jan.

—Nou gaan ek huis-toe, sê Jan aan Paula.

Sy voel dadelik bedroef. Terwyl sy reeds al haar gedagtes gee aan haar toekomstige man, veroorsaak die eerste skeiding al pyn.

Mevrou Kibert kom tussenbei:

—Dis al laat. Bly maar by ons, Jan, en eet saam. Jy sal met min tevrede moet wees. Na die ete kan jy teruggaan na jou rosevilla.

Hy aarsel:

—Ek kan nie, mevrou. My oom sal ongerus wees. Ek het hom flus ’n bietjie kortaf behandel op die pad, en ek wil hom nie nog meer las aandoen nie.

—Bring hom môre saam om by ons te eet, sê mevrou Kibert. Sê aan hom ons sal ons mooiste rose op tafel sit.

As Jan Maupas verlaat, is dit al nag in die eikebos. Vrolik en sonder haas stap hy die skuinste af, asof dit die reguit en maklike pad is van sy toekomstige bestaan. Dis dieselfde skuinste wat Marcel een nag opgehardloop het—sy bors gloeiende van liefde en die voorproef van gevaar op sy droë lippe . . . .

Paula val laat eers in slaap. Sy ontvang die liefde met ’n ferme hart, met roerende erns, wat vir haar glad nie ’n verslapping in deug is nie, maar ’n versterking. Sy het dit opdraans gehad in haar jeug, stryd voerende met stoflike moeilikhede en siele-smarte, soos bokke wat ’n steilte uitklim en vlokkies wol aan die bossie agterlaat. Nou voel sy of sy in die vlakte wandel—met sagte gras onder haar blote voete. Voor haar uit is daar net lig op die horison. En wat sou haar afskrik as sy weer eendag moet klim? Steun sy dan nou nie op ’n sterk arm nie, en voel sy haar eie moed dan nie hernuud nie?

Maar sy is al lank aan slaap geval as haar ou moeder nog waak en bid:

—My God, fluister die arme ou vrou, vir die eerste keer in my lewe het ek ’n leuen vertel. Vergewe my. Ek moes die twee kinders tog aan mekaar gee. U het hulle vir mekaar geskape. Gaan hul geluk nie voor myne nie? Ek is te oud om met hulle saam te gaan. Ek kan my dode nie verlaat nie. Die aarde trek my ook al aan; weldra roep U my ook. Hier wil ek die ure van U koms afwag. Maar gee my tog krag, o my God, om die laaste afskeid met kalmte te dra. Ek het my so gewend gemaak aan Paula haar liefderyke sorge; en deur my my enigste aardse vreugde te ontneem, herinner U my daaraan dat ons nie vir ons onherroeplik moet heg aan die sake van die wêreld nie. As sy weggaan, neem sy my hart saam, wat U so vol geluk gemaak het voordat U dit breek. Vooraf bied ek U reeds my smarte aan, opdat U U oorvloedigste seën uitstort op my seuns, Jan ook daarby, en op my dogters, dié wat lewe en dié wat gestorwe is. . . .

Sy bid nog lank so. In haar geloof vind sy eindelik berusting; en as sy uiteindelik aan slaap val, dan is dit in vrede.

IX. HAAR LAASTE KIND.

Die grond is bedek met sneeu, sodat die voetstappe van die mense onhoorbaar is—soos skimme gaan hulle daaroor, hierdie wintermôre, op pad na die kerk in Chamberie. Instappend in die kerk herken vriende mekaar en groet swyend met ’n hoofknikkie.

Stappie vir stappie, want sy is bang om te gly op die bevrore grond, laat mevrou Kibert die ander maar verbystap wat sterker is as sy. Tog is sy nog een van die eerstes, want sy hou nog haar ou gewoonte om altyd baie te vroeg op ’n plek te wees. Sy gaan heeltemal apart sit, en sonder haarselwe daar af in gebed. Sy voel groot behoefte aan die goddelike beskerming, en smeek dit af met haar hele hart. Vandag nog sal sy haar bittere eensaamheid moet ingaan. Die oomblik het gekom dat sy haar laaste kind moet afgee, die enigste wat sy nog in haar arms het en wat God tot dusver gespaar het. Om drieuur sal Paula en haar man vertrek van Chamberie om na hul broers te gaan in Asië.

Die huwelik is ’n paar maande gelede voltrokke. Die jong gehude paar het toe die eerste weke van hul huwelikslewe gaan deurbring in die onvergelyklike skone gedeelte van die land—die fris-groen vlakte van Chablais, aan die meer Leman, omgewe deur hobbelige hoë berge, tot aan hul toppe met bos begroeid—verderaf skerpgepunte koppe, bedek met ewige sneeu, helder-wit afstekend teen die klaarblou lug, saans nagloeiend in die lig van die ondergaande son. Daar, in die geseënde oord, waar die lug helder deurskynend is, skenk die fyne kleuroorgange van die natuur ’n lieflike bekoorlikheid aan die dae, wat tog alte gou verbygaan. Die siel moet daar wel tot homself inkeer. Die hemelgewelf spieël hom af in die water van die meer, wat nou bleekblou en dan weer donkerblou is. Die grond aan die oorkant lyk huiwerig om water en lug te skerp van mekaar te skei en werp ’n ylblou missluier op om die skeidingslyn te versag. Veral die najaar verleen ’n roerende skoonheid aan hierdie towerland, wat die byna wegsterwende tinte harmonies laat samesmelt, tot tempering van die somervreugde, wat te oorvloedig daarop uitgestort word; en die skaterlag van water en weilande, vlaktes en berge, word omgesit in die pynlikverlangende glimlag van die wellus wat hom swak voel en darem nog wil geniet, en nie ontsien om in ’n wrange en bedwelmende mengsel die lus tot lewe en liefde saam te vat met die voorgevoel van die naderende dood nie.

Paula en Jan ondervind die betowering van die najaar. Hulle asem die wrede bekoring daarvan in. Hulle sien hoe die blare van die bome duisende skone verbygaande kleure aanneem, hoe die wingerde tot aan die waterkant ’n opskik van goud aantrek, om in ryke skoonheid te sterwe. So is hul jeug reeds gewaarsku, hulle voel hoe onstandvastig die liefde is wat haar doel in haarself soek, en, deur liefkosing te beskou as dagtaak, haar duursaamheid nie weet te grondves op ’n samelewing van wedersydse vertroue en ’n begeerte tot stigting van ’n gesin nie.

Hulle keer terug na Maupas as die oeste af is en die lande en vrugteboorde die mense verlos van landbousorge. Paula hou vas aan haar moeder, as om ’n dreiende toekoms te vergeet. En die toekoms weeg swaar op die weinige ure wat die twee nog verenig. Mevrou Kibert moes haar dogter wel vertel dat sy besluit het om tuis agter te bly. Jan is so goed om sy hele plan van vertrek te wil opgooi. Die karakter en bekwaamheid van die jongman, die geeskrag van die jongvrou, die geldelike omstandighede van hul famielie weerskante—alles wys daarop dat hulle na die kolonies moet gaan om hul kragte behoorlik te kan ontwikkel en ’n nuwe tuis te wen. Etienne hou ook altyd meer en meer aan dat hulle moet kom, dat sy onderneminge goeie gevolge het en ’n groot sukses waarborg. Hy smeek sy suster om hul moeder ook mee te bring, om daar, as voorwerp van hul gesamentlike sorge en liefde, ’n gelukkige oudag te slyt. Beleef maar beslis weier mevrou Kibert. Ek is tog alte oud, sê sy as Jan en Paula by haar aanhou. Ek wat nog nooit verder gegaan het nie as tussen Maupas en Chamberie, hoe sal ek so ’n lang seereis kan verdra? Ek sal net lastig wees vir julle. Ek bly hier, en beurt om beurt kom julle by my kuier. Julle sal my vertel van my kleinkinders wat ek nie ken nie, en wat ek liefhet, soos ek my eie kinders liefgehad het voor hul geboorte. En dan glimlag sy om hul aandag af te trek van haar oë wat vol trane is. Maar in stilte dink sy by haarself: Ek voel dat God my roep. Nou, nou eers is my taak volbrag. Ek is digter by die dode as by die lewende. As ek alleen is, sal ek meer my man opsoek en my klein Thérèse: hulle wag vir my in die kerkhof. Veral ook sal my hart aan Marcel dink, wat daar vèr in Afrika rus. Nee, ek sal nog net één reis maak, en dit sal wees om by dié te kom wat ek liefhet. Dié wat nog lewe, het my nie meer nodig nie. Van vèr sal ek vir hulle bid—eers van hier en dan daar bo. Ek kan niks anders meer doen nie . . . .

Paula doen al wat sy kan om haar ma elke dag liefde te bewys. Hulle het tog so lange jare saam hul brood met trane geëet. Die jongvrou maak haar byna ’n verwyt van haar eie geluk, nou dat sy op vertrek staan; en haar ma wil haar maar altyd die geluk nog meer laat voel.

—Ek merk waar jy aan dink, sê Jan, as hy trane sien in Paula haar oë.

—Ek het jou lief, Jan, antwoord sy, ek het jou lief bo alles in die wêreld. Maar sy . . . .

Hy kus haar, en antwoord:

—Ek is nie jaloers nie, Paula, en ek begryp jou smart so goed . . . .

Jan het self ’n plan gemaak omtrent die ou vrou haar woning as hulle weg sal wees: in die winters sal sy op kamers gaan woon in Chamberie: sy sal daar minder afgesonderd wees as op Maupas. Sy het teen-gestribbel, en gesê:

—Julle moenie uitgaaf aan my hê nie.

Namate die dae verbygaan, voel Paula haar moed sak, terwyl die moed van mevrou Kibert al groter word. As ’n soort van verheerliking dra sy nog op haar diep-gerimpelde voorhoof, in haar helder oë, op haar bleek wange, die afglansing van haar siel. Saans praat sy met die twee kinders oor hul toekoms, en stort in hul harte ook haar eie vertroue op God—die vertroue wat heeltemal aan die Voorsienigheid oorlaat al wat voorbereid is met beslistheid, moed en deug. Altyd sal hulle wel dink aan hierdie lering, deur eie edele voorbeeld so aanskoulik gemaak.

So teen mekaar aangedruk, soos reisigers deur ’n onweer bedreig, smaak hulle nog die geluk van hul laaste samesyn, tot die droewige afskeidsure aanbreek.

Jan en Paula slaap nog toe mevrou Kibert stilletjies uitgaan om by haar God die hoogste krag te gaan soek wat sy netnou nodig sal kry.

So sit sy dan in die kerk. Sy het meer behoefte aan moed as aan kalmte. Voor die uur van smarte slaan, soek sy krag en geduld by Hom Wat alle menslike ellende gedra het sonder kla.

Mevrou Kibert sit ’n bietjie apart in ’n donker hoekie, verlore in haar eie oordenkinge. In gedagte gaan sy die laaste jare van haar lewe weer oor, en vind soveel om die Heer voor te dank. Het Hy haar nie die seën geskenk waar sy so lank met besorgdheid om gesmeek het nie—die geluk van haar dogter? Paula, haar eie Paulatjie—sy het haar wel nie die liefste van al haar kinders nie, maar sy is die sagste, en was haar steun in die beproewinge van haar oudag; hoe dikwels het sy nie die Here Se seën op haar afgesmeek nie, want op Paula veral het die verdriet van die famielie neergekom! En om haar dogter nou die afgebede seën te skenk, verskeur die Heer die hart van die moeder. Maar dewyl die Heer dit nou vir so’n prys wil doen, hoe sou sy so laf kan wees om te murmureer teen Sy wil en weldaad, hoe kan sy dit regkry om die eensaamheid te verwens wat sy vanaand sal ingaan soos in ’n vroegtydige dood? En sy sê in haar gebed:

—Nee, nee, ek sal myself nie beklaag nie; ons is tog maar te gou om soiets te doen tot verontskuldiging van ons swakheid. My God, U ondersteun my in my behoefte. Vanaand wil ek sterk wees. Hulle sal my nie sien ween nie. Ek sou tog nie met hulle kan saamgaan nie. U het my gewaarsku dat my kragte uitgeput is; en dan, my werk is gedaan. My kinders sal dit voortsit beter as ek kan. Ek dank U dat U my, in U goedheid, nog die geluk van my dogter laat sien het. Ek dra haar op aan U beskerming gedurende die lang seereis, en ook haar man, wat ook my kind geword het . . . . Ek dra ook aan U hoede op, my God, ’n ander lewentjie wat nog in duisternis en onsekerheid verkeer, die lewentjie van ’n klein wesentjie wat nog moet kom, wat my oë nooit sal sien nie, wat my hande nie sal verwelkom in die wêreld nie. Gee daaraan ook gesondheid, verstand, wilskrag, en onderwerping aan U heilige wil. Gee hom ’n lang lewe, opdat hy U lank en goed kan dien. Laat hom volhardend en sterk wees in wat goed is; laat hom nie bang wees om te lag nòg om te ween nie; laat hom werklustig wees; en laat hom word vir sy moeder wat sy vir my gewees het . . . .

As mevrou Kibert haar hoof ophef van haar hande, waarop sy vooroor geleun het, sien sy dat die priester klaar is om die diens te sluit. Sy verwyt haar dat sy nie na die preek of gesang geluister het nie. Maar sy vind dat sy in haar gebed die kalmte en vrede gevind het wat sy kom soek het.

Die mense staan op van hul sitplekke en verlaat langsaam die kerk. Mevrou Kibert stap ook uit op die sneeu, in die triestige winterdag, wat haar sal sien terugkom van die stasie . . . . alleen.

As sy terugkom op Maupas, en deur die gang stap, wat vol kiste en koffers is, vind sy haar ou meid Marie besig met die ete klaar te maak.

Meneer het uitgegaan, sê sy, om ’n rytuig te bespreek.

—Sonder te eet? vra mevrou Kibert—sorgsaam soos altyd.

—Hy wou nie.

—En mevrou?

—Watter mevrou? Ag ja, juffrou Paula. Ek kan tog nie gewend word om haar mevrou te noem nie . . . . is dit nie snaaks nie? . . . . die juffrou is in haar kamer . . . . As ’n mens oud word, dan vergeet jy ook alles, en ek is niks meer werd nie.

—Dit kan ook nie anders nie, Marie: ons is altwee oud.

Maar albei vergeet wat hulle te doen het en dink aan die vertrek wat op hande is; die ou bediende haal haar bril af en stryk haar hand oor haar oë.

Met haar bewende hande wil mevrou Kibert nog vir die laaste keer haar dogter haar sjokolade klaarmaak soos sy daarvan hou. Dan gaan sy luister aan die kamerdeur, en hoor Paula sug. Sy klop, stap saggies binne, en vind Paula in trane.

—Ma, ag ma, moet ek regtig weggaan! Ek het geen moed meer nie.

Mevrou Kibert sit die koppie neer, en lê haar gerimpelde hand op die voorhoof van haar dogter:

—My liefste, ek wou jou vanmôre nog bedien, en ek het van hierdie broodjies laat kom, wat jy so graag eet.

Sy buig vooroor, en terwyl sy Paula kus, sê sy saggies:

—Hou moed, Paula, God wil dit so! Die liefde van jou man gee my die versekering dat jy gelukkig sal wees. En moenie oor my ongerus wees nie.

Maar die trane hou maar aan. Jan kom binne, en sien die twee in mekaar se arms. Hy dink dat dit Paula is wat moeite doet om haar ma te troos.

—Ons kom weer, ma, sê hy. Ek beloof u, ons kom weer. Ander jaar kom Etienne en sy vrou kuier, en dan kom ons die jaar daarna.

Maar as die ou vrou opkyk, merk hy met verbasing dat sy nie ween nie, en dat dit sy is wat moet troos.

—Waar sal ek in dié twee jaar wees? dink sy. En kalm en ernstig antwoord sy:

—Jan, jy moet jou vrou tog baie liefhê. As julle vèrweg is, dan sal dié gedagte my krag gee. God is goed en Hy waak oor ons. Die skeiding sal die band tussen ons hegter maak. Ons gedagtes en ons harte bly één. As daar sekerheid van liefde is, dan beteken afstand tog maar min.

Met dié plegtigheid, wat sy waarskynlik nie opsetlik aan haar woorde gee nie, gaan die ou moeder aan:

—Bemin mekaar trou. Moenie jul liefde maak tot ’n vervelende en verswakkende tederheid nie. Put daaruit, en uit jul wedersydse vertroue, die wilskrag en die volharding vir jul lewe. Kyk vooruit. As julle agteruitkyk na ons dode, na my, moenie dat dit julle ontmoedig nie, maar laat dit strek tot beter begrip van jul jonkheid en van al wat God daarvan verwag.

Jan en sy vrou het haar hande geneem en haar spraakloos aangehoor.

—Ja, sê sy nog daarby, asof sy in die toekoms sien, kyk vooruit, na jul planne, na jul toekomstige kroos. Gee aan jul seuns en dogters dapper harte, en laat hulle ook voor hulle uitkyk, met oë wat uit jul eie verlede krag sal put om te sien.

Hulle ween albei, terwyl die ou moeder doodkalm bly. En sy besluit:

—Ek seën julle. Vir jou, Paula, om jou vrome waaksaamheid oor my, en om jou sorg vir jou broers. En vir jou, Jan, om jou vriendskap vir Marcel, en om al die geluk wat ek in daardie twee oë lees, al is hulle vol trane . . . .

Mevrou Kibert gaan met hulle saam tot by die stasie. Hulle ontmoet daar bowendien nog ’n paar vriende wat die jong vertrekkende paar kom groet. Jan se oom is siekerig, maar hy het die bediende gestuur met ’n ruiker blomme. Alida staan opsy—bleek en skraal, hoewel sy ’n dik pelskleed aan het: sy wag op ’n geskikte oomblik om Paula te groet. Paula sien haar staan, en gaan na haar toe; ’n oomblik aarsel die twee, en dan is hulle in mekaar se arms. Paula sien hoe haar ou skoolmaat lyk, en vra saggies:

—Nog altyd so verdrietig?

—Altyd nog. Maar jy Paula?

Terwyl hul saam na die kant van mevrou Kibert stap, vra Paula snel aan haar:

—Alida, bewys my tog ’n vriendskap: gaan tog af en toe na ma toe, hou ’n oog op haar, en skryf my hoe dit met haar gesondheid gaan.

—Ek beloof jou dit.

Alida bly alleen staan, en bewoë stap Paula terug na haar ma en Jan. Soos altyd as die oomblik van afskeid kom, is die laaste woord van die ou vrou ’n gebed:

—Dat God julle beskerm!

Maar as die trein wat hulle wegneem, verdwyn het, raak sy haar voorhoof aan en voel dat dit yskoud is, en sy dink:

—Dit was hoog tyd. My moed was op.

Sy is verplig om op die bank te gaan sit, in die derdeklas wagkamer. Die reisigers wat kom en gaan, is besig met hul reiskaartjies en hul koffers en sien nie eens die ou vrou in haar rouklere wat daar alleen sit en huil nie.

Sy het weer geword ’n arme, swakke, lydende sterfling. Maar sy het darem die krag besit om tot die laaste oomblik haar wanhoop verborge te hou vir haar kinders.

In die trein druk Jan sy wenende vroutjie aan sy bors. Sy leun haar hoof teen die hart waaraan sy haar heeltemal oorgegee het, en laat aan haar trane ’n vrye loop. Hy begryp dat hy maar stil moet bly. Hy streel net saggies haar wang met sy hand, en nou en dan buig hy vooroor om ’n eerbiedige kus te druk op die oë waarvan hy die trane nie kan stuit nie. Sy lig nou haar hoof op, en Jan verseker haar:

—Ons kom eendag terug, Paula.

Sy skud haar hoof, twyfelagtig, of wil nog nie vertroos word nie.

—Jy is my alles, Jan, fluister sy; en dan begin sy weer te ween.

Hy begin nou oor haar ma te praat:

—Paula, wat ’n voorbeeld gee sy ons van moed en selfopoffering. Dat ons dit tog nooit vergeet nie! En as ons dit haar miskien moet nadoen, dat ons dan steeds aan haar terugdink. O, dat dié wat uit jou gebore word, soos sy mag wees! Dat hy ’n ferm en dapper hart mag besit! Dat hy sy bestemming aanvaar sonder sy hande slap te laat hang, opdat hy, deur nie bang te wees vir die lewe nie, die dood ook nie vrees nie: dis net onvrugbare siele wat terneergeslae word deur die gedagte aan die dood. Dat God ons kind beskerm, en ook haar vir wie ons daar agterlaat met verskeurde hart.

—Ja, antwoord sy nou, dis ook my gebed. Dis God wat aan ma die tevredenheid en berusting gegee het wat sy op my wou oorbring.

Haar jong lewe het menige uur van smart en rou geken. Maar sy dink dat hierdie nog die swaarste is. Sy dink dis die dood wat sy voel. Maar dis die lewe—die lewe in sy verhewenste roering—wat sy voel in die diepste van haar siel. En dis dié hoogste lewe wat haar liefde louter, en dié heilige vlam van moederlike opoffering waarvan sy die krag meer en meer sal ondervind. Eendag sal sy verstaan dat die edelste, innigste, volste lewe bestaan in algehele oorgawe van eie hart, en in selfopoffering.

Die trein stoom verby die eikebos van Maupas; en Jan en Paula kyk nog ’n keer uit oor die welbekende ou landskap. Die takke van die bome dra sneeuvlokkies, soos klein wit blaartjies wat die ondergaande son tempteer; en die ryp op die wingerdstokke blink in die aandstrale soos skitterende kantwerk.

Dáar, en nêrens anders, het sy haar lewe deurgebring totnogtoe, dáar het sy kennis gemaak met die lewe, met die dood, met die liefde. En sy dink aan ’n jong, trotse dingetjie wat ’n hoë borsie opsit omdat sy haar ma oppas.

—Soen my, sê sy aan haar man.

Hy omarm haar, en voldoen aan haar wens. En dié kus verwek ’n heilige ontroering in hul wese, want hulle voel daarin nie alleen ’n tere vereniging van hul liggame en siele nie, maar ook haar lange, vrome toewyding aan haar moeder; hulle voel ook die geheimsinnige vooruitsig op die betekenis van hul vereniging vir hul ras en nasie; dit vermeerder hul lewenshoeveelheid en deel aan hul liefde iets onsterfliks mee . . . .

X. KALME BERUSTING.

Met moeite staan mevrou Kibert op van die bank waar sy gaan sit het om te huil. Sy sien al die vreemde mense heen en weer verbystap, en wil haar droefheid vir hul oë verberg. Sy dink by haarself:

—Hier kan ek tog nie veel langer bly nie.

Sy staan eindelik op, en moet aan die muur vashou om te bly staan. Sy vra haarself of sy wel ooit nog krag genoeg het om die huis te bereik. Sy voel nou eers haar swakheid en ouderdom soos ’n sware drag op haar skouers. Sy dink terug aan die dag toe sy aangesukkel het in die eindeloos-lange laning van Chenée. Aan die deur van die stasie, dink sy met swarigheid aan die lang ent pad huis-toe. Gewend om nooit koste vir haarself te maak nie, dink sy daar nie eens aan om een van die huurrytuie te neem wat daar staan nie.

Stadigies begin sy aan te stap, leunend op haar sambreel, voetjie vir voetjie, om nie te gly op die sneeu nie. Die moeite wat sy haar moet gee, trek haar aandag van haar droefheid af. Maar elke keer as sy ’n oomblik stilstaan, fluister sy die naam van Paula—Paula, wat haar nooit meer tot steun sal wees nie. In gedagte volg sy haar twee geliefde reisigers, wat haar geluk wegdra.

—Hulle is nou al dáar of dáar . . . .

As sy oor die bruggie gaan van die troebele, wild-tuimelende spruitjie, bly sy ’n oomblik staan en leun teen die brugreling om asem te kry. Daar hoor sy ’n sagte stem roep:

—Mevrou, wil u my toelaat om met u mee te gaan?

Dis Alida, wat gesien het hoe die ou vrou aarselend en sukkelend die pad van die stasie ingeslaan het, huis-toe; sy het nie geweet of sy die ou vrou moet help nie—volgens haar belofte aan Paula—dan of sy haar maar ongesteurd moet laat in haar diepe smart. Maar nou sy sien dat mevrou Kibert nie meer kan nie, kom sy nader.

Mevrou Kibert is so gedaan, dat sy somaar die arm neem van die jongvrou. Sy stap bedruk en spraakloos aan. Alida is by-die-hand genoeg om haar op ’n mooi manier te troos deur haar te vertel hoe bly haar kinders sal wees as hulle mekaar daar in Asië ontmoet. Aan die deur bedank Paula haar moeder haar hartlik vir haar moeite.

—Maar ek sal u ook nog die trap ophelp, sê mevrou Marthenay.

—Dis baie goed van jou, dankie.

En as hulle bo kom, sê mevrou Kibert:

—Bly nog ’n oomblik om uit te rus. Ek het swaar op jou arm geleun, die hele pad.

Daar lê iets smekends in haar gedoofde oë, wat die treurige verlatenheid van haar huis aanskou. Dit maak Alida verdrietig, en sy antwoord dat sy ’n bietjie sal sit.

Sy volg die ou vrou in haar slaapkamer, wat oordag ook as voorkamertjie dien—’n skerm is voor die bed geplaas.

Ou Marie, nog bedroef oor die vertrek van die juffrou, bring ’n telegram binne:

—Hier is ’n telegram, sê sy; en stuurs kyk sy die deftige mevrou Marthenay aan.

Met moeite, want sy beef, maak mevrou Kibert die telegram oop. Die rooi papiertjie, wat die dood kan inhou, maak sy nooit meer oop sonder angs nie. Maar haar gelaat helder meteens op. Solank as sy lees, kyk Alida onwillekeurig rond na die armlike meubels—byna kloosterlik eenvoudig. En daar val haar oog op ’n vergrote portret van Marcel. Sy gaan nader om te kyk. Die portret was geneem na sy terugkoms van die woestyn, as kommandant; hy het die strenge kyk van ongenaakbaarheid in sy oë. En duidelik sien sy weer die dag terug toe hy met haar gepraat het in die bos van Chenée.

Mevrou Kibert lig haar hoof op van die telegram en sien hoe Alida daar voor die portret staan. Sy het nou spyt dat sy haar daar in die kamer gebring het. Maar as sy omdraai en na die ou vrou terugkom, bars Alida meteens in trane uit.

—Wat makeer?

—Mevrou, o mevrou!

En die jongvrou snik haar geheim uit voor die moeder van Marcel.

—Ek het hom liefgehad. As u kon weet hoe lief ek hom gehad het!

Met groot medelyde kyk mevrou Kibert die jongvrou aan, wat haar seun moeg gemaak het vir sy lewe. Paula het haar vertel dat Marcel, op die oomblik toe hy gesneuwel het, in die binnesak van sy baadjie die portret gehad het van ’n blonde meisiekind. ’n Meisiekind, ja, dit is sy, ’n swak kind, wat die uitverkorene was van die manhaftige siel!

—Arme kind, sê sy, terwyl sy met haar hand die wang streel van Alida, wat uitgeput op ’n stoel neergesak het.

Die ellende wat die ou vrou nou te vertroos het, laat haar haar eie smart vergeet, en oombliklik het sy haar teenwoordigheid van gees en haar moed terug.

—Alida, my kind, bedaar!

Maar mevrou Marthenay snik aaneen. Eindelik bring sy die woorde uit, wat al eenkeer oor haar lippe gekom het, en wat ’n samevatting is van haar hele ongelukkige bestaan.

—Waarom is ek nie sy weduwee nie? Dan sou ek minder ongelukkig gewees het as nou.

Mevrou Kibert sê saggies:

—Maar jy wou nie sy vrou word nie.

—O, ja, ek wou wél, want ek het hom liefgehad; maar my ouers was teë daarop.

Sy beskuldig haar ma nie alleen nie.

Maar die ou vrou skud haar kop, en naderbykomend, sê sy nog sagter, terwyl sy altyd nog Alida haar wang streel:

—Arme kind! Jy het nie geweet wat dit beteken om lief te hê nie.

Alida wil teëpraat, maar die ou vrou gaan aan:

—Nee, jy het nie geweet wat liefde is nie. As ’n mens jou hart weggee, dan is dit vir altyd. En liefde skenk krag, geduld en lydsaamheid. Jou ma het jou geluk gesoek—maar op háar manier. Sy het gedink dat sy goed doen deur jou af te keer van my seun. Beskuldig haar nie: beskuldig net jouself. Ongetwyfeld sou mevrou Delourens toegegee het as jou liefde onherroeplik gebly het. Want sy het jou liefgehad en sy sou geleer het om in te sien dat die voorwerp van jou liefde haar goedkeuring werd was. Nee, jy wou nie die vrou word van Marcel nie.

Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings