← Table of contents
Bang vir die lewe

DEEL II. (continued 3)

Jan F. E. (Jan François Elias) Celliers translation

Illustration from Bang vir die lewe

Arme kind, sê sy, terwyl sy met haar hand die wang streel van Alida, wat uitgeput op ’n stoel neergesak het.

Alida snik wanhopend:

—Ek het hom nog lief.

Buite haarself van verdriet, hou sy nog vas aan haar nuttelose liefde.

Op ferme toon gaan mevrou Kibert voort:

—Jy was bang vir die lewe. Jou ouers was bang vir die lewe vir jou. Die lewe, Alida, is nie die tydverdryf en ydele gedoente van die wêreld nie. Om te lewe is om te voel dat jy ’n siel besit, en dat jy dit heeltemal besit. Dis om lief te hê, lief te hê met al jou kragte, vir altyd, tot aan die end, tot aan selfopoffering. Daar moet geen vrees bestaan vir moeite, nòg vir groot vreugde, nòg vir groot verdriet: dis alles net openbaringe van ons menslike natuur. Uit die dae wat verbygaan, moet ’n mens die goeie opvang, wat nooit verbygaan nie. ’n Meisie wat gaan trou, neem aan om deelgenoot te word van arbeid en van gevare, en nie om groter gemak te soek of beuselagtige genot nie. In haar toewyding self sal sy groter behae skep. Dit weet jy nie.

Alida luister nou aandagtig, en sy dink by haarself:

—Dit het niemand my nog ooit gesê nie.

Mevrou Kibert gaan aan:

—Op hierdie oomblik selfs, dat my hart verbryseld is, kan ek nie anders nie as God dank vir sy oorvloedige weldade. Jy verbaas jou daaroor, my kind, dat ek jou, op so’n dag as hierdie, nog van my geluk vertel. En tog is dit waar: ek is gelukkig. As God my sou vra om weer met my lewe te begin, ek sou weer begin. En nogtans het ek gesigte wat my die liefste was, koud en beweegloos gesien; en ek het die dood geken in sy wreedste gedaante vir ’n moeder: as hy haar kind wegneem wat vèrweg is van haar. Maar in my man, in my seuns en dogters, het my hele hart geleef, en het ek alles gesmaak wat die goddelike goedheid ’n mens kan gee. My lewe was vol omdat ek verbind was aan hul lewe. Myself het ek nooit beween nie. En nou voel ek ook nie eensaam nie. My dode hou my geselskap, en dié wat leef, verlaat my nie. Kyk, hierdie telegram het ek netnou van Etienne gekry. Hy weet dat Paula vandag van my weggaan; en uit naam van almal spreek hy my moed in. Ek het dit nodig gehad.

—Mevrou! sê Alida, en soen haar hand.

—Ja, my kind, ek het my lewe liefgehad, ek het die lewe liefgehad. En ek kan sterwe, selfs in eensaamheid, selfs as vreemde hande my oë sal moet toedruk: God het my ’n skone deel toegemeet. En die dood sal my volgsaam en tevrede aantref as hy kom.

Daar skitter ’n vreemde verrukking in haar helder oë. Alida is nou kalm en kyk haar aan vol eerbiedige bewondering.

—Praat nog so met my, smeek sy as mevrou Kibert ophou.

Die ou vrou kyk haar lank en teer aan. Dan streel sy weer haar wang, en sê:

—My kind, jy moet my iets belowe.

—O mevrou, alles wat u wil.

—Moenie meer aan Marcel dink nie. Jy het nie reg daartoe nie. Neem jou teenswoordige lewe op, in sy geheel en sonder wroeging, God wil sien dat jy moed genoeg toon om vroeëre bande los te maak. Dit was verkeerd van jou om jou man sy betrekking te laat neerlê. Werk is die adel van ons dae. Spoor hom aan om iets te soek waarmee hy hom kan besig hou, opdat jou fout weer goedgemaak word.

—Hy het my verlaat, mevrou.

—Niksdoen was miskien oorsaak daarvan. Probeer om hom dit te vergewe. Gaan met jou hart te rade. Laat hy self sy landerye bestuur, laat hy deelneem aan gemeentebelange—so is daar nog veel waarvan ek nie weet nie. En dan sal jy sien dat alles beter sal gaan. Jy kan nog gelukkig word. Jou dogter sal jou daarin te hulp kom. Is ’n vrou wat ’n kind het, ooit te bekla? Kweek deug aan in die jong lewe, en bevalligheid en standvastigheid. Jy moet haar liefhê, nie in jou belang nie, maar vir haar welsyn. En die vrede van die Heer sal op jou neerdaal.

—Ag, sê Alida, ontroerd, as u wil toestem om my af en toe hier by u te ontvang, en so met my te praat, dan sal ek seker weer nuwe moed skep.

Sy dink daar nie aan dat haar teenwoordigheid ’n pynlike nagedagtenis oproep by mevrou Kibert nie. Die ou vrou aarsel nie langer as ’n enkele sekonde nie: is dit nie God wat haar vra om hierdie arme swak skepsel ook nog te help nie?

—Kom so dikwels as jy nodig het, is haar eenvoudige antwoord.

As mevrou Marthenay weg is, neem sy die portret van Marcel en sit dit agter die skerm, naas haar bed, terwyl sy dink:

—Hier is hy nader by my, en kan Alida hom nie meer sien nie. As sy haar hele plig dapper wil volbring, dan is dit nodig dat sy sy beeld nie meer sien nie.

Dan kniel sy, en bid:

—Vader, U Wat my sterkte is, help my. Ek het nou aan U afgegee alles wat ek liefhet. Ek het nou niks meer om U te gee nie as my smart. Neem dit van my aan. En beskerm almal wat ek liefhet, die dode wat in U vrede rus en die lewende wat hul plig doen as mense . . . .

As sy opstaan om ou Marie te help tafel dek, dan is daar ’n glans van heilige vrede op haar gelaat—die vrede van dié wat die dood sonder vrees tegemoet gaan nadat hulle die lewe aanvaar het sonder swakheid.

EINDE.

Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings