Note 1 — Uit P. De Neyn se „Lust-Hof der Huwelyken.”
Reading edition
Heelwat minder bekend as Van Riebeeck se Dagverhaal en heel verskillend van aard is die Lust-Hof der Huwelyken van Meester Pieter de Neyn1. Dit het maar gedeeltelik betrekking op die Kaap; maar die enkele bladsye wat oor Suid-Afrikaanse toestande en gebeurtenisse handel, bevat besonderhede wat ons nòg in ander skrywers nòg in die bestuurlike stukke van sy tyd kan kry. So, b.v., sy uitvoerige beskrywing van die manier waarop die destydse Hottentotte gewoond was om ter dood veroordeeldes met stokke dood te slaan. Pieter de Neyn was die seun van Cornelis de Neyn, pensionaris van Alkmaar en raadsheer in die hof van Holland. Hy het gepromoveer in die regte; maar ná ’n kort praktyk as advokaat het hy, teen die sin van sy vader, besluit om sy vaderland te verlaat en sy geluk in die vreemde te gaan beproef. Op grond van sy regskundige kennis en ondervinding het hy die aanstelling verkry tot advokaat-fiskaal van die O.I.K. aan die Kaap. In Februarie 1672 hier aangekom, het hy maar ’n paar jaar die fiskaalsamp uitgeoefen. In Oktober 1674 verlaat hy die Kaap op reis na Batawië, soos hy self sê ten minste, om aldaar promosie te gaan soek. Ook in Batawië het hy egter nie alte lank vertoef nie; want end 1675 keer hy met ’n gebroke gesondheid na Patria terug, volgens sommige, as ’n gevolg van sy losbandige lewenswyse. Hy self gee in die voorwoord ’n gans ander uitlegging van sy siekte (verhitheid en ’n koue bad in ’n rivier); maar die feit dat hy as fiskaal van die retoervloot afgesit word, „om syn gedeboucheert leven” en „onbequaam geoordeelt wert tselve ampt met fatsoen te becleden,”2 skyn wel die bewys te lewer dat sy beskuldigers nie alte ver van die waarheid was nie. Ook die inhoud en toon van sy gedigte, die Vrolycke Uyren, wat in die uitgawe van 1697 ’n vervolg vorm op sy Lusthof, en waarvan party taamlik grof en onkies is, kom hierdie vermoede nog versterk. Dit was ná sy aankoms in Holland dat hy vir tydkorting „iets geneuchelijks” onderneem het, nl. die saamstelling van ’n beskrywing van die huweliksgebruike van die verskillende volke van die wêreld. Dit is ’n louter kompilasie, getrek uit ’n massa van ander werke, veral reisbeskrywinge, en bevat dus maar min wat nuut en oorspronklik is. Alleen die dertien bladsye wat hy wy aan Kaapse aangeleenthede (nie slegs huweliksgebruike nie) berus op persoonlike kennis en regstreekse informasie. Ongelukkig het hy net op sy geheue moet afgaan, want hy vertel ons dat op sy tuisreis sy joernaal en briewe soek geraak het; vandaar sekere onnoukeurighede, wat egter ruimskoots vergoed word deur sy lewendige manier van vertel en sy plastiese wyse van beskrywing.