Goue Gode
Reading edition
I Dis heuwels, heuwels, heuwels net sover 'n mens se oog kan speur; dis of voorheen 'n monsterploeg die wêreld hier wou stukkend skeur. Ja, God se ploeg het hier geloop in wentelkrag van vloed en vuur toe heel die hoogland omgekeer is in die aard' se wordings-uur. Die reuse-sooi van daardie ploeg 'n berg was of 'n hoë rand; en elke voor daaragter was 'n vrugbre moot of akkerland. God se almagtige Hand het toe daaroor gegaan met groot geswaai, sodat 'n ganse goudveld is in die aard se boesem uitgesaai. Daarna het Hy die eeugety stil oor sy akkerveld laat duur, sonder dat een die geelblink vrug versamel in sy voorraadskuur. Geen Babilon se reusebeeld is uit die goudsaad saamgesmelt; geen wêreldstad se grootheid het geskitter oor die heuwelveld. Net Kaffervoete 't daar gegaan wanneer hul hordes vlug of veg; en die ondier het gelaer waar die skatte van die wêreld leg.
II Die taal van berge en rante is oud. Ek sien die letters voor my staan, die skeure omlaag, die kranse omhoog; maar dis 'n skrif wat nooit vergaan. Die taal is geskrywe met letters van kranse en klowe en rif; dit lê oop en bloot op die wande, ... maar niemand ontraadsel die skrif. Die kranse en klowe is woorde tot reuse-sinne vereen, en die stippels en strepe daartussen is tot massas rotse versteen. Dit is die taal van skeppings-dae, die taal ook van die sondvloed-tyd, waarby die late mens verbysterd staan klae van onwetendheid... Spreek daardie taal van hoë waters teen hoë bergwand uitgeslaan, en van opdrifsels eeue later tot kransversténing oorgegaan? Of spreek die taal van vuur se werking, van vreselike wêreldbrand toe berggevaartes op kom rys het uit die aard se vuurge ingewand?... Die sleutel van pylskrif-figure en hiërogliewe is gevind; maar hier staan al die wyse same onwetend soos 'n kind. So swyg ook stil die Rand se rante. Ja, die skeppingstaal is al te oud!... Of spreek hier gryse lettermerke miskien al lank die woord van: Goud?...
III Nou loop 'n loper oor die Rand wat rooi is in sy aangesig; hy sien niks van die skone land, maar hou sy oog omlaag gerig. 'n Kaffer sukkel agter hom en dra sy loodswaar pak: 'n vysel, stamper, pikswart kom met goeters in 'n goiingsak. Hoor! dis geen vooros-klok gewis wat lui op die anders stille Rand! Die klankgeluid is anders, dis die stamper op die vyselkant. Bo stugge rots—nog nooit getref as deur die slag van donderweer— word nou die hamer opgehef en mokerslag daal dreunend neer. Die rots word gruis; die gruis word stof; die wasbak spoel dit om en om, en delwers-oog speur rust'loos of die goud-en ysterstrepie kom. Daar is dit! en hoe bly is hy! Die goud-aar is oplaas geraak... Die outa sien 'n os wat wei, en dink: "Hoe lekker sal hy smaak." Die rots word nog 'n keer gestamp ... en in die spoelkom omgewas. Die delwer gaan dan na sy kamp ... sy dienaar hurk daar by sy las.
IV Ons sien nou weer die loper loop. 'n Tolk en hy het keer op keer met omhaalwoorde geprobeer of hul oom Gert se plaas kan koop. Oom Gert was na Pretoria: hy het hom met sy sorg gewénd na die vaderlike president, en dié het hom geantwoord: Ja. Maar ag, oom Gert se hart is swaar as hy weer kom die bultveld oor; daarbinne moet hy almaar hoor 'n stem so lastig, so onklaar: "My plasie is my Nabots-erf wat met sy weiveld wiegel oor die Rand. Moet ek dit nou verloor vir Agabs, om dan rond te swerf? "Gewetenstem naas lotgeval! Die stem is Jakobs stemklank, maar die lewenslot 's die Esaus-haar, en ek is blind soos Isak al!" So het hy lank gepeins, gewag, tot hy oplaas dink: "Laat maar gaan." Hul bied hom tweemaal duisend aan, en daarmee is die koop volbrag. Oom Gert maak nog sy saak gewis: hy vra net goudgeld en kontant, en dat sy eie predikant sal tel of hulle almal is.
V o Heilige nagte van voorheen as die maanlig skaars in die huisie dring, waar oom Gert lê waak, soos die psalmis sing, om te peins oor God, die nagte nog lank, na skeppings-maak, deur geen kunsglans nog verkort; as die mens nog tyd het om wakker te word en te peins oor God. Die vetkers het maar kort gebrand om te lig oor die oue Skriftuur wat die stof bied in die vroeë uur om te peins oor God. Die siel doen soos die blomkelk dan wat die blaartjies sluit by nag, en stil-alleen op die son staan wag— so peins die siel oor God. Dit doen net soos die voël by nag, wat die vlerk nie vliegend meer wil strek, maar die koppie in die dons gaan dek— so peins die siel oor God. Dis doen en doen en nog eens doen, totdat uit hoër, heil'ger oord verruis die saalge stemmingswoord— as die siel stil peins oor God. Totdat 'n ligstraal na benee val in die oog omhooggehou, en die siel dan weer sy God aanskou— terwyl dit peins oor God. Dan voel dit weer aan wyding ryk en beef stil opwaarts-heen met groot verlange om nog oor God te peins. Maar ag, nóú is oom Gert vol sorg, en sy bed is vuur onder hom: 'n ander god het daar gekom, en die naam van die god is: Goud.
VI Voorheen was in oom Gert se huis 'n sjieling net so skaars te kry as in 'n bedelaar se kluis— en tog was daar geen armoed' by. Oom Gert se huis kos hom geen geld: hy't self die muurtjies opgetrek, die gras gesny op eie veld, en toe met eie hand gedek. Die hout was geelhout wat gesaag is in die Houtbosbergse kuil, vandaar met moeite uitgedraag en oral in die land verruil. Sy meubels is van eie maak, en wie daarop gaan sit die voel: dit is geen goed na vreemde smaak, maar boer se eie bank en stoel. Wat op sy tafel kom is uit sy eie tuin of uit sy kraal— daar's brood en melk, daar's boerbeskuit en vleis, dit is die sober maal. Hul klere kies hul so gering, dat hoë ruil nie nodig is. Die smouse het dit rondgebring: ferweel en tabberdgoed en sis. Ja, geld was skaars en goud was min, maar min ook die onrus en gebrek; daar was geen ryke of arme in die land, niks wat die onrus wek.— Hoe het die wêreld nou gedraai! Hoe word oom Gert se vrees gewek! Hy sien sy goed al opgelaai en hoe sy wa weer noordwaarts trek.
VII "Kom kinders, ons moet trek, want hier kan ons nie bly; as ons hier langer bly, sal hulle ons weer kry. "Ek het my grond so lief, my vrye plaas en werf. Vir hierdie plaas en werf het ek voorheen geswerf. "Kom kinders, ons moet trek, dit is die boer se plan, en daar's geen ander plan. Laat almal trek wat kan!" "Ag, vader, moenie trek," sê Dina, "laat ons bly, want waar ons trek of bly, sal hul ons tog weer kry. "Ons kan nie immer trek, ons kan nie immer vlug, saam met die wild wegvlug vir mensgerug. "Ons woon al lank so stil; laat ons nou maar geniet, met eerbaarheid geniet van wat die wêreld bied." Wat sal oom Gert nou doen om die onheil af te weer as Dina haar verweer, met sagte woord hom keer? "Ek voel 'n ding wat kom, my binneste die werk net soos die miertjies werk wat verweg storm bemerk. "Nou ja, ons sal hier bly, op die uithoek van die plaas, van die ons ontvalle plaas maar vér van stadsgeraas."
VIII Bo-op die grond rys al 'n stad wat op die heuwels skitter-blink; dit was 'n reeks van kampe eers, getimmer uit hout en sink; maar nou 'n wêreldstad meteen, en massas delwers trek daarheen. Oom Gert het so iets nooit gesien: die suiwer lug is troebel-vuil, en helder stroompies van weleer dam nou in donker modderkuil. Die grond voorheen so skoon en rooi is nou met steenkool-as bestrooi. Al bo die stad, en verder, sweef 'n swart-deurrookte deins'righeid; dit lyk net soos 'n veldvuur wat hom uitsprei oor die velde wyd. En saans dan slaan 'n rooi gegloor soos veldbrand al die heuwels oor. In boeredorpe het hul eers 'n kerk gestig op wye plein, waarom vergader, hier en daar, die grasdak-huisies, laag en klein. Maar nou word eers, en wondergou, 'n groot hotel daar opgebou. Daar is geen Son- of Maandag meer; dit vleg en kronkel deurmekaar, en saans, nog lank na middernag, het die gewoel nog nie bedaar. Die wêreld maak oom Gert nou dom wat selde in die stad meer kom. En as hy in die sonlig sien hoedat die stad lê flikker-beef, of saans bemerk die dof-rooi gloed wat opwaarts na die hemel streef, dan dink hy: 's Dit nie wat ek lees van Babilon en van die Bees?
IX Die nuwe wêreldstad die lê tussen die twee families in. Een kant is Willem en oom Gert, en ander kant daar boer oom Koos nog met sy talryke gesin. Die wêreldstad lê tussen hul, want, ja, die vriendskap is geskeur. Is dit miskien die profesie van wat op later dag nog met die hele nasie sal gebeur?... Dina het Engels gou geleer, en ook so mooi leer sing... Sy het verlaas oom Koos besoek om hom saam met sy huisgesin tot vriendskap met die stad te dwing. Sy praat van meegaan met die stroom, van nie so alles te vermy. Maar nee, oom Koos het vas besluit dat hy met sy geslag op die ou-ou boere-pad sal bly. Sy sing oplaas vir hul 'n lied om so hul harte nog te vang. Oom Koos die volg dit met 'n sug en dink aan beter tyd terug wanneer hy hoor die mode-sang:
X "Stad waar die ligte newels swewe, waar ligte luggies skitter-bewe; stad op 'n hoogland uitgebou, ver-sigbaar by die hemelblou— Johannesburg jy's waarlik ja die glorie van Suid-Afrika. "Van digte donkerheid omgewe het Boer en Kaffer hier gelewe; hul kon die goudstraal nie ontdek wat die beskawings-lewe wek; geen boeretent of ossewa kon lig bring vir Suid-Afrika. "Geen trekker bring hier nuwe lewe, maar deur 'n hoër drang gedrewe, kom pionier en delwer aan wat goudvonke uit die rotse slaan. Johannesburg die was weldra die ligpunt van Suid-Afrika. "Johannesburg is hoog van strewe, wat laag is word nie neergedrewe, maar naturel en trekker-boer word uit hul onkunde opgevoer. Johannesburg is waarlik ja die glorie van Suid-Afrika. "Johannesburg is hoog verhewe, die koningin uit lig gewewe; haar goue beeld sal wonders doen, sal immer ophef en versoen. Johannesburg sal steeds hierna die glorie wees van Afrika!"
XI Blink is die saal van lampelig; gloed-helder blink hulle aangesig. Warm is die saal van somergloed; warm en onstuimig die hartebloed. En kringlend sweef daar bont deureen die danseresse op ligte been. Maar Dina is die skoonste as sy haar liggaamskoon in dans uitsprei; en Willem, die gewenste man, sien van die kant die skouspel an; terwyl hom loof 'n kring van mans dat hy só 'n vrou leen vir die dans. Daar word gebuig, gevra, geswaai, die arrems in mekaar gedraai. Dan rus oom Gert, in slaap gesink, waar net Gods sterre in stilte blink. Rus?... Nee, hy sien op donker muur, in helder letters van hemelvuur: "Geweeg, geweeg, te lig bevind!" Dan roep hy: "Ag, my arme kind!" Sy vrou die stoot hom saggies aan, maar berg ook self 'n snik en traan. Dof word én saal én walsgeluid, en langsaam gaan die lampe uit... Leeg is die saal... Op tafelblad staan leë bottels in hul nat. En eind'lik, ná die sondenag, staan weer daarbuite 'n ander dag.
XII [A]
'n Warrelwind, die dagspook wat so plots ontwaak, en plots op straat of in die pad sy dans-swaai maak— is hy nie soms die bode van 'n storm wat naak?
Papiere, blare, voddegoed, van stof deurdring; geswaai, geruk, soos in 'n tregter opgewring, kry skielik lewe en asem, hul dans in 'n kring.
Is dit 'n gees, haastig gedaal uit hoër lug, wat van 'n naadrende onheil bring die voorgerug?... Kyk hoe die loom-lui stof geswind sy voet ontvlug!
Of is dit dalk 'n toorheks wat puur uit 'n grap, op straat al in die rondte wals met ligte stap, en met die voddegoed en stof kalkoentjies trap?...
Rumoer'ge warr'ling langs die stof-vuil straat; binne die sinkgebou staan al 'n mense-plaat, en op die platform staan 'n klomp klaar om te praat.
Uit alle wêreld-oorde saam gewarrelwaai, lyk hul oom Gert soos hane wat staan koningkraai; wanneer hul veg vir stemreg met 'n groot lawaai.
Intussen pak die stormwolk al op Tafelberg; en anderkant die water is 'n leeu vererg wat nog in sagte woorde-klou sy naels verberg.
Oom Gert is moeg van die tumult; ryp is sy plan: hy self met honderd ander storm; gryp pote van die stoele, en slaan op kop en lyf so wat hul kan.
Die helde vlug na alle kant die deurpoorte uit. Van lae galery vlug hul deur vensterruit, totdat 'n al te dikkert daar op half-lyf stuit.
Oom Gert laat hom dit dugtig op sy sitplek voel. Die dikkert skreeu sy buitevriend: "o Pull, John, pull!" Oom Gert die slaan; die dikkert roep: "o Help, John, pull!"
XIII Is 't oorlog?... In oom Koos se huis woel almal net om klaar te kry. Daar word geslag weer en gebak, en buite voor die agterdeur trek reeds die seuns die bokwa reg om op te pak. Die harte voel nie lekker nie, die woorde het angstig-min geword— soos steeds by donker voorbesef, by die vergeefse angsgevraag van hoe en waar die ontwaakte lewenslot sal tref. Lughartig praat 'n enkele seun hoe hy die Engelsman sal skiet, maar moeder maan: My kind, my kind! Die seun wyk willig vir die woord, want, ja, daar was 'n kleinigheid wat hy nog aan sy saal wou bind! Dis amper klaar... Daar kom hul aan, die burgers van die omtrek, want oom Koos die is nog veldkornet... Straks staan hul, teuel in die arm en met geboë hoof, want een gaan voor in smeekgebed. Die vrouens staan effens opsy, met arrems oor mekaar gevou, nou dat hul taak is afgedaan. Nou kan hul eers hul smart besef, en enkle droog met voorskoot-punt al die eerste oorlogstraan. Dan skuif en skok, met gang en draf, die burgers op hul perde weg— dit lyk somaar 'n mengelklomp! Maar tussen hulle flikker-blits geweldig in die lenteson die blinkgemaakte mauser-tromp! Oom Gert wat hom meer tuis voel by dié ruiterskaar—hy het oom Koos sy krygsmansdiens al aangebied— die luister hoe die jongspan in hul oorlogsblydskap sing die klanke van 'n oorlogslied:
XIV Kom, burgers, trek die perde reg: nou vrou en kind goeien-dag geseg! Jongkêrels, los die nôi se hand; en seuns, verlaat jul moeders, want daar gaan 'n strydroep deur die land! Gryp nou die teuels bymekaar— die vierkleur is weer in gevaar! Die regterhand gryp die visier, die bors oorkruis 'n bandelier; die spore in die sonskyn blink, stiebeuels teen mekaar weerklink, die ketel aan die saal rinkink. Kom, burgers, hou nou bymekaar— die vierkleur is weer in gevaar! Laat aan die trippelaar sy pas, maar hou die vuurge hingste vas. Die agterstes moet ingalop tot binne-in die ruiter-trop— die ponie en die bossie-kop. Kom, burgers, ry so bymekaar— die vierkleur is weer in gevaar! Trek burgers, almal nou geteld, al voort maar deur die wye veld, en of jul al omlaag verdwyn of op die heuwels weer verskyn— wys altyd weer die slingerlyn. Kom burgers, trek so bymekaar— die vierkleur is weer in gevaar! Jaag, burgers, jaag oor rant en rots wanneer jul teen die vyand bots. Ruk in, spring af en pos gevat aan die onwrikbre ryperd-blad. Mik fyn, kyk waar die stoffie spat! Staan, burgers, staan dan bymekaar— die vierkleur is weer in gevaar! En moet jul val, val dan met eer, met die oog die vyand toegekeer; val op die grense, man en perd, die oue vierkleur is dit werd, en die eerkroon wink al uit die vert. Val burgers, val dan bymekaar— die vierkleur is weer in gevaar!
XV So sing die jonges vol van vreugde, maar ag, oom Gert se hart is seer as hy straks diep en dieper peinsend gaan langs die slagveld van weleer. Dáár lê Majuba, donker kleurig, sy sye een en al terras; dis of die berg van alle eeue vir wonderdaad geskape was. Daar lê Laingsnek; dis of Gods hande dit vir 'n skanswerk uit wou bou. En daar's Ingogo's kronkelbedding— net om die vyand op te hou. Daar's nog die wonderlike hoeke, net om die vyand vas te keer; maar ag, oom Gert voel nou so anders, sy hart is onverklaarbaar seer. Hy sien nou oral groot kanonne, hy weet nie of die ding sal gaan. Die treine voer nou alle soorte van wapens uit die hoofstad aan. Daar is hom ook so baie mense, en baie goed word aangevoer; voorheen was daar so min maar nodig: 'n ryperd, biltong en 'n roer. Dis nodig, ja, die tyd die vorder, en daarom swyg hy maar en kyk. Maar heel die Amajuba-wêreld, alles wil hom so anders lyk. Tog leef hy weer, die troue krygsman, al trek hy nou maar same net: 'n oorlogsperd die stamp en runnik wanneer hy hoor die krygstrompet!
XVI Verlore!... Die dag van stryd het mooi begin, die burgers trek verwinnend in, en boerename 't binnekort oral 'n glorie-klank geword!— 'n Pragtige môreglore! Maar onder in oom Gert se hart kom effens al, nog diep-verward, 'n fluisterstem na vore: Verlore, verlore! Verlore!... Die dag van stryd begin so goed, Suid-Afrika lê aan hul voet... Die Boer moet Afrika regeer! Gryp gou, voordat die kans kan keer! Buig uit die grense na vore!... Maar nou kom daardie fluisterstem, diep in oom Gert se bors geklem, so duidelik na vore: Verlore, verlore! Verlore!... Rookwolke nader uit die suid en sprei hul oor die aard-breedte uit; oor Drakensberg se veil'ge top skuif swaar 'n donderonweer op; die storm sing in wilde kore! Oom Gert se stemme, in hom bekneld, kom nou daar buite op berg en veld al donderend na vore: Verlore, verlore! Verlore!... Oom Gert die kon nie verder vlug, en sit nou, met sy vrou, te sug agter die ysterplate vas, daar waar hy eertyds vryman was en sy vryheid is wedergebore! Die fluisterstem daarbinne kom nou deur die ysterplaat weerom as huilende windstem na vore: Verlore, verlore! Verlore!... Die dag van stryd hou lank nog aan— dis of die son nou stil gaan staan. Maar eindlik roep hul rond: "Verby! dis vrede, vrede weer, wees bly— al is die vryheid verlore!"... Dan keer die wilde stem as sug weer in oom Gert se hart terug; en dring dan weer altyd na vore: Verlore, verlore!
XVII Die oorlogsfakkel is gedoof, en die oorlogskamp word oopgesluit. Die nuwe tye, hooggeloof, kom met gejubel, lank en luid. Die burgers kom van oral an en raak al met hul lot versoen. Maar net oom Gert, gebroke man, wat sal hy in so 'n wêreld doen? Want ook sy troue vrou is dood— die lewe van 'n handjie meel en van 'n brok genadebrood was haar as boerevrou te veel. Willem, sy skoonseun—hy't vir hom die boerdery eers waargeneem— is skout, en het nie teruggekom. Hy's seker nou totaal vervreem! Oom Koos weer het sy grond verhuur, en trek die hoë Bosveld in, die Randse lewe is hom te duur en skaadlik vir sy huisgesin. Maar Dina—waar is sy en wat? sy die altyd skone boerevrou?... Geheel verslingerd in die stad en will'ge prooi van vreemdes nou! Wanneer oom Gert van Dina hoor, verbysterd al deur smart op smart, dan roep 'n dubb'le stem: "Verloor!" en dubb'le swaard gaan deur sy hart. Geen antwoord is daar op die stem wat vlymend deur sy siel nou gaan; maar as die leed te vinnig klem, roep hy: "Dit het die stad gedaan!"
Dié vaal-wit hopies dek hul bei, / vader en dogter, sy aan sy!
