Note 1 — Verhaal van die Skipbreuk van die groot galjoen, Sint Johannes, by die Land van Natal in die jaar 1552.
Reading edition
Die verhaal van die skipbreuk van die Sint Johannes bevestig hierdie opvatting1. Die skip word deur lekkasie onveilig gemaak en strand in Junie 1552 êrens op die Suid-Afrikaanse kus naby die 31ste suidelike breedtegraad. Dit was volgens die berekening van die skipbreukelinge; maar die instrumente waarmee destyds die hoogte van die son gemeet is, was taamlik primitief; en aangesien die geselskap op hulle noodlottige tog na Delagoabaai blykbaar geen melding maak van die Oemsimwoeboe-rivier nie, kan ons met Theal aanneem dat die reis oos van die rivier begin het. Opvallend is nou dat die skipbreukelinge wekelank voortsukkel voordat hulle ’n belangrike Kaffer-hoof aantref. Hulle praat wel van Kaffers, maar dan moet daaraan herinner word dat die Portugese hierdie naam ook aan die Hottentotte gegee het; en buitendien was dit veral die „onbeskryflike woestheid” van die land wat die sterkste indruk op die reisgeselskap gemaak het.