← Table of contents
Uit ou Reisbeskrywinge

Note 1 — Uit Peter Kolbe se „Beschryving van De Kaap de Goede Hoop.”

Reading edition

Soos ons aangemerk het by die Dagverhaal van Van Riebeeck, het die eintlike invoer van slawe in die Kaap begin in 1658; en sedertdien is daar gereeld meer van daardie koopwaar in die land gebring. Die Kompanjie het daar o.a. spesiaal ’n skip aan die Kaap op na gehou om hulle te gaan inruil op Madagaskar, Mosambiek, die kus van Angola of Guinea; terwyl ander, maar minder in getal, ook verkry is uit Voor-Indië en die Oos-Indiese eilande. Waar die Hottentotte te lui of te onafhanklik was om vir die Kompanjie of vir die koloniste te werk, en waar blanke knegs te moeilik verkrygbaar was en te duur om aan te hou, was dit slegs natuurlik dat in ’n tyd toe slawerny ’n algemeen erkende instelling was, die Kaapse regering die toevlug tot slawearbeid sou neem. Daar is ook geen twyfel aan nie dat die gebruik van slawe heelwat bygedra het tot die ekonomiese ontwikkeling van die land, vernaamlik van die meer intensiewe graan- en wynboerdery van die westelike distrikte. Die aanwesigheid van die slawebevolking, wat spoedig die blanke bevolking oorvleuel het1, het egter nie alleen goeie gevolge aan te wys nie. Onder die „lijfeigenen” was daar egte booswigte wat hulle aan die ergste misdade skuldig gemaak het: moordpartye op die persoon van hulle meesters, aanslae op vroue en kinders, brandstigtings, ens. Andere, weer, het hulself nooit kan versoen met hul nuwe toestand nie en het gedurig probeer om te ontsnap die land in. Dit is ’n paar van dergelike episodes wat ons hieronder plaas uit die pen van Peter Kolbe, die bekende skrywer van wat lank die standaardwerk oor die Kaap gewees het, nl. die Naaukeurige en Uitvoerige Beschryving van de Kaap de Goede Hoop2. Peter Kolbe word nou deur heelwat mense as ’n bedrieër en kwaksalwer beskou; en ná ’n periode van roem het sy reputasie gedurig verbleek sedert die aanvalle wat De la Caille, Le Vaillant en later skrywers op hom gemaak het. Ons is egter van oordeel dat Kolbe nie so fantasties en onbetroubaar is as wat hy soms voor uitgemaak word nie. Op sy uiteensetting van die samestelling en werking van die verskillende regeringsliggame, b.v., is maar bitter min aan te merk. Ook wat hy meedeel oor die lewe en gewoontes van die Hottentotte, waarvoor hy die aantekeninge van die uitstekende inboorlingkenner J. W. de Grevenbroeck tot sy beskikking gehad het, is oor die algemeen geloofwaardig en korrek. Ons kan nie die versoeking weerstaan nie om ook uit daardie gedeelte van sy boek ’n paar uittreksels te plaas.

Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings