Note 1 — ’n Leeu-awontuur uit Starrenburg se Joernaal.
Reading edition
Die plaaslike regering van die O.I.K. het van die begin af sy bes gedoen om met die binnelande van die Kaapse gebied in aanraking te kom en die moontlikhede daarvan op kommersiële, landbou- en mynboukundige gebied te ondersoek. Met daardie doel voor oë het die goewerneurs van die Kaap tal van sogenoemde landtogte uitgestuur—meestal in noordelike, maar ook in oostelike rigting—, wat gelas was vertroubare gegewens te versamel aangaande die aardrykskunde van die land, sy dierlewe, sy plantegroei, sy inwoners, sy natuurlike hulpbronne. Ander togte, weer, was meer spesiaal ingerig met die opdrag om slagvee (skape en beeste) in te ruil van die inboorlinge vir die behoeftes van die amptenare en die garnisoen van die kasteel en die bemanning van die verbygaande skepe. So het ons die ekspediesies van Jan Wintervogel, Willem Muller, Abraham Gabbema, Jan van Herwaerden, Jan Danckaert, Pieter Cruythoff, Pieter Everaert, Pieter van Meerhoff in die tyd van Jan van Riebeeck; van Jonas de la Guerre in die tyd van Zacharias Wagenaar; van Jeronimus Cruse in die tyd van Jacob Borghorst. Ná ’n mislukte tog onder Oloff Bergh het in 1685 goewerneur Simon van der Stel self hom aan die hoof gestel van ’n verkenningsonderneming na Namakwaland en het daarin geslaag tot aan die Buffelsrivier deur te dring en die ryk ertslae van die koperberge sorgvuldig te laat ondersoek. Sy seun Willem Adriaen het in 1705 opdrag gegee aan Johannes Starrenburg, die landdros van Stellenbosch, om ’n nuwe landtog na die noorde te organiseer en daarvan die leier te wees saam met Jan Hartog, baas-tuinier van die Kompanjie. Die voorgegewe doel was om die land te verken en o.a. plantkundige ondersoekinge te doen; die ware doel was om vee in te ruil vir die goewerneur—nie slagbeeste nie trouens, wat tot dan toe op daardie soort togte altyd die gewilde koopwaar gewees is, maar trek- en werkosse, wat Willem Adriaen op sy plaas kon gebruik. Die rapport oor die reis deur Starrenburg is handig opgestel, sodat ’n oningewyde leser moeilik daaruit sal kan aflei dat Beëlzebub, soos Adam Tas die landdros genoem het, nie die tog onderneem het in die belang van die Kompanjie nie. Tog het die goewerneur die bewoordinge van die verslag nog te gevaarlik gevind, want o.a. sou daaruit kan geblyk het hoe sy handlangers soms nie geaarsel het nie om dwang op die inboorlinge uit te oefen en hulle met die toorn van Willem Adriaen te bedreig in geval van onwilligheid om hulle beeste af te staan. Toe hy dan ook die rapport opneem in sy verdediging teen die aanklagte van die koloniste (die „Korte Deductie”), het hy versigtigheidshalwe ’n aantal volsinne daaruit weggelaat1.