Note 2 — DEUR DIE STRAAT VAN BELLE ISLE
O. G. P. (Otto Gottlob Paul) Grosskopf translation
Twee dae lank was ons so-te-sê die hele tyd tussen ys. Kapt. Bob sê dit is die ysveld van Labrador. Een oggend het ek wakkergeskrik van ’n skok deurdat ons teen ’n stuk ys gestamp het. Die boeg van die skip word uit die water gelig en kom dan met sy hele geweld op die ys neer en verpletter dit, of anders ry ons feitlik ’n end daarop totdat dit losbreek. In alle geval is dit lekker om te weet dat die Morrissey van goeie soliede eikehout gebou is, en dat daar bowendien nog ’n valse kiel van groenhout2 buite-om is om hom ’n bietjie teen die ys te beveilig.