← Table of contents
Boesman-Stories, Deel 4. Gemengde Vertellings, mees van 'n Awontuurlike Aard

Note 1 — Uit die Breekwater huis-toe.

Reading edition

“Ek moet eers ’n bietjie rus om my arms te koel, sodat die moegheid daaruit kan gaan; want ek sit hier tevergeefs op ’n storie te wag. Ek sit met al my ore te luister en sit stil om te wag op ’n storie. My naam gaan vooruit; my drie name1 vlie voort padlangs na my huis toe; ek voel ek gaan daar sit, en draai eers my gesig na die plek waar my hakskene was: ek gaan mos terug. Net soos die wind sweef ’n storie na ’n ander plek toe; dan gaan ons name dwarsdeur die ander mense—hulle dink aan ons, al sien hul ons nie. Want ons name, swewende, bereik ’n ander plek. Al lê berge tussen die twee plekke, nogtans, ons naam gaan oor al die berge heen. Die naam waarmee hy terugkeer, dié gaan vooruit. Hy ken die pad reguit huis-toe. Die mense wat op ’n ander plek woon, hulle ore gaan luisterend die naam van die man tegemoet. Die teruggekeerde man ondersoek sy ou plek. Die bome van die plek lyk so mooi; want hul het intussentyd baie gegroei en is groot. Al die tyd het die man van die plek, toe hy weg was, hul nie gesien om onder hulle in hulle skaduwee te stap nie. Al die tyd was hy op ’n ander plek, het daar gewoon—dit was tog nie sy plek nie. Hulle het hom na die ander plek geneem om daar te gaan werk. En hy is die een wat huis-toe verlang.

Explore with AITake your curiosity a little further.

Reading settings